Lukas 13:31-35
Jonathan Edwards het ’n boodskap oor Jesus as die Leeu en die Lam uit Op. 5:5-6 gepreek. Op een plek sê hy: ‘And in nothing has Christ appeared so much as a lion, in glorious strength destroying his enemies, as when he was brought as a lamb to the slaughter. In his greatest weakness he was most strong’.1 Lukas 13 beskryf hierdie uitnemende Christus en sy hart vir sondaars.
1. Christus die Leeu (v.31-33)
’n Buikspreker is iemand wat ’n handpop laat praat. Die buikspreker beweeg nie sy lippe nie, sodat dit lyk of dit die pop is wat praat. Herodes en die Fariseërs was buiksprekers. Hulle het deur hom gepraat en hom teen Jesus aangehits. Hy het deur hulle gepraat en gesê hy gaan vir Jesus doodmaak (v.31).
Die Fariseërs het vir Jesus gehaat. Hulle was kwaad dat Hy hulle tradisies minag (v.14, Mark. 7:1-13), hulle skynheiligheid uitwys (11:37-54) en meer volgelinge as hulle wen (Joh. 4:1, 11:47-48). Om Hom in hulle kloue in Jerusalem te kry, wou hulle Hom bangmaak, sodat Hy uit Herodes se jurisdiksie in Galilea Jerusalem toe sou vlug (v.31, 3:1). Maar Jesus was nie bang vir Herodes nie. Hy het geweet Herodes Antipas is ’n jakkals en moordenaar soos sy pa, Herodes die Grote (v.31-32). Toe Jesus ’n baba was, wou Herodes die Grote Hom doodmaak (Matt. 2:13-16). Herodes Antipas het Johannes die Doper toegesluit en in die tronk laat onthoof (3:19-20, Mark. 6:14-28). Nou wou hy Jesus ook doodmaak (v.31). Maar die Leeu was nie bang vir die agterbakse jakkals nie: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel.” (v.32). Met ander woorde: ‘Geen mens bepaal my koers nie. Ek en my Vader besluit wanneer my bediening afgehandel is en Ek sterf (vgl. Joh. 7:30, 8:20, 10:18, 12:23, 13:1, 17:1). Tot dan dryf Ek demone uit en genees siek mense (v.32).’
Let op dat Jesus die kruis as die klimaks van sy werk op aarde beskou het: “...op die derde dag bereik Ek my doel.” (v.32, 18:31, Joh. 4:34, 17:4, 19:30). Dit was die groot rede vir sy koms: “Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is.” (1Tim. 1:15). Jesus was vasberade om die Vader se wil deur die redding van sondaars te volbring (v.33, 22, 9:51, 12:50). Hy het geweet dit moes in Jerusalem gebeur, aangesien die Paaslam daar geslag was (v.33, Deut. 16:5-6). Herodes kon Hom nie in Galilea doodmaak nie. Die tyd en plek van sy dood was onder sy eie en die Vader se beheer.
Hoekom het Jesus gesê ’n profeet kan nie buite Jerusalem sterf nie (v.33)? Hy het tog geweet dat Abel, Moses, Elisa, Isebel se slagoffers, Johannes die Doper en ander profete buite Jerusalem gesterf het. Hy self het gesê: “Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg.” (Matt. 23:34, eie beklemtoning).
Volgens v.34 verwys Jerusalem na die inwoners meer as na die mure en stene. As die hoofstad van Israel, het Jerusalem die volk verteenwoordig. Hulle het die profete doodgemaak (Matt. 23:35-37). Groot besluite is deur die Joodse Raad of Sanhedrin in Jerusalem geneem (Deut. 17:8-11). Hulle het die profete doodgemaak. Toe die Romeine aan bewind was, kon die Sanhedrin nie die doodstraf uitvoer nie. Maar hulle kon die Romeine vra om iemand tereg te stel (Joh. 18:28-32).2
Die Sanhedrin het Jesus as ’n vals profeet beskou (Mark. 14:61-64, Joh. 9:13-17, 24, 19:7) en wou Hom dood hê (Deut. 13:5). Jesus was die groot Profeet van wie Moses geskryf het (Deut. 18:15, 18, Joh. 6:14, 7:40, Hand. 3:22). Hy kon nie buite Jerusalem sterf nie (v.33). Dit beteken nie Hy kon nie buite die stadsmure sterf nie (Joh. 19:17, 20, Heb. 13:12), maar dat Hy nie weg van Jerusalem in ’n ander dorp kon sterf nie. Jesus kon nie buite die Jerusalem-Sanhedrin se besluit sterf nie.
Omdat Jesus en die Vader die kruis bepaal het, is Jesus se dood nie ’n ongeluk nie. Hy het nie teen sy sin as ’n martelaar gesterf nie. Sy dood was nie ’n plan B, omdat plan A in die tuin van Eden misluk het nie. As dit so was, beteken dit God weet nie alles nie—mense kan sy planne omverwerp (kontra Job 42:2, Ps. 33:10-11). Party mense glo dit. Drie weke gelede het ’n iemand my gebel en bely dat God party dinge nie weet nie. Dit is onwaar. God weet alles. Jesus se kruisdood is voor die skepping bepaal:
“Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak.” (Hand. 2:23).
“Want inderdaad, in hierdie stad het hulle—Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel—saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.” (Hand. 4:27-28).
“maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus—Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle” (1Pet. 1:19-20).
“Onthou die dinge van vroeër, van lank gelede; want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie—Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer’ ” (Jes. 46:9-10).
As Jesus se dood nie bepaal was nie, het Hy teen sy sin eerder as uit liefde gesterf. Die Bybel sê Hy het gewillig en uit liefde vir sondaars gesterf (Rom. 5:8, Gal. 2:20). Die Leeu het besluit om Homself as ’n Lam te gee (v.32-33). “Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.” (Joh. 10:18). Jesus se gewillige dood beteken elke gelowige was in sy hart toe Hy na die kruis toe loop (Jes. 49:15-16). Jy is in sy hart waar Hy in die hemel vir jou bid (Heb. 7:25, vgl. Eks. 28:29). Omdat dit so is, hoef jy nooit aan sy liefde vir jou te twyfel nie.
2. Christus die Lam (v.34-35)
Die feit dat iemand se naam Beauty is, beteken nie sy is innerlik of uiterlik mooi nie. Jou naam kan Victor wees sonder dat jy al ooit oorwin het. So was dit met Jerusalem. Die naam beteken stad of fondasie van vrede, maar daar was nie vrede tussen God en sy volk nie. Hulle het Hom gehaat en sy profete vermoor. As hulle kon, sou hulle Hom doodmaak. Toe God mens word, is dit presies wat gebeur het: hulle het die Outeur van die lewe doodgemaak (Hand. 3:15). Met die hout en yster wat Hy gemaak het, het hulle Hom aan ’n kruis vasgespyker.
Hoe ondankbaar is die mens nie: ons byt die hand wat ons voer en vergeld goed met kwaad. Vir eeue wou Jesus Israel bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke versamel (v.34b, Rut 2:12, Ps. 91:4). Jesus het een profeet na die ander gestuur om Israel tot bekering te roep, maar hulle het die profete gestenig (v.34a, 20:10-12, 2Kron. 36:15-16, Jer. 7:25-26). Duidelik lê die fout by Israel eerder as by Jesus. Hy was gewillig om hulle te red en het oor hulle gehuil, maar hulle het nie belanggestel nie (v.34, 19:41, Joh. 5:40).
Moenie sê die Here wil nie mense red, vergewe of herstel nie. Mense bly ongered, want hulle wil. Hulle kies hulle sonde bo Jesus. Ten spyte van die Jode se weerstand teen die profete het Hy hulle nog steeds liefgehad. Hy het aarde toe gekom om hulle te red. Hulle wou egter nie in Hom glo nie en het Hom vermoor (v.33, 20:14-15, Joh. 1:11). As hulle maar geweet het Hy sterf om hulle van hulle sonde te red (23:34, Joh. 12:50-51).
Na die opstanding het Jesus sy dissipels beveel om die goeie nuus in Jerusalem te preek (Hand. 1:8, Rom. 1:16)! Christus het baie van sy moordenaars gered (Handelinge 2-6). Ongelukkig het die meeste van hulle aangehou om Hom te haat en hulle sonde gekies. Jesus het nie ’n ander keuse gehad as om hulle te straf nie: “Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat.” (v.35). Hy geniet dit nie om mense te straf nie (Eseg. 18:23, 32), maar red graag (Joh. 3:16-17, Jak. 2:13).
Party mense sal sê ek preek die evangelie te vrylik: ‘Jy vergeet van uitverkiesing; dat niemand gered kan word as die Vader hom nie trek nie (10:22, Joh. 6:44).’ Ek glo in uitverkiesing en God se soewereiniteit om mense te red. Jesus het die evangelie egter vrylik en sonder kwalifikasie gepreek. Ou Calviniste soos George Whitefield en Charles Spurgeon het dit verstaan en die evangelie vrylik aan almal verkondig. Waar het hulle dit geleer? By Jesus. Ek wil nie anders doen nie, maar begeer meer van die Here se hart: “Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2Pet. 3:9).
God is meer geduldig as ons. As ’n ongelowige familielid my drie keer afjak, wil ek opgee. Maar waar sou ek en jy wees as Christus na derde afjak sy rug op ons gedraai het? Bedoel ek daardeur sy geduld is oneindig? Glad nie. Aan die begin en einde van sy bediening, het Hy mense uit die tempel gedryf, omdat hulle godsdiens vrot was (Joh. 2:13-22, Matt. 21:12-13). God het die tempelgordyn in twee geskeur om te wys Hy is klaar met skadubeelde soos die tempel (Matt. 27:51). Hy sou en het dit in 70 n.C. deur die Romeine verwoes (v.35, Matteus 24). God se heerlikheid het die tempel verlaat (vgl. Eseg. 10:18).
Maar ten spyte daarvan is God nie klaar met die Jode nie. Eendag sal Christus na die Jode toe terugkeer en hulle red (Rom. 11:25-26, 28-29, 32, Hand. 3:19-21). Israel sal bely dat Jesus die Messias is (v.35, Ps. 118:26). Hulle het dit bely toe Jesus op ’n donkie in Jerusalem inkom (19:38). Maar hulle teologie was verkeerd. Hulle het Jesus as ’n politieke en militêre Messias beskou; een wat hulle van Romeinse onderdrukking sou red. Dus moes Jesus v.35 na sy intog in Jerusalem herhaal (vgl. Matt. 23:39). In die toekoms sal Israel die Messias se missie reg verstaan, naamlik dat Hy gekom het om mense van hulle sonde en God se oordeel te red eerder as van die Romeine. Israel se hart van klip sal voor die vloed van Christus se Woord en die Gees se liefde breek (Jer. 23:29, Eseg. 36:26). Jesus breek nou al mense se harde harte. Hy kan jou geliefde se harde hart verander, selfs as jou beste argumente, dreigemente, liefde en gebede nie ’n indruk maak nie. Hou aan bid en moenie moedeloos word nie (Luk. 18:1).
Probeer ek sê mense kan maar teen die Here sondig, Hy sal net aanhou probeer? Nee. Onthou hoe Hy die tempel in 70 n.C. verwoes het (v.35). Onthou hoe miljoene Jode deur die geskiedenis verlore gegaan het. Bekeer jou en volg Jesus vandag. Hoekom sal jy die liefde van die uitnemendste Man in die geskiedenis en die heelal afskuif? Hoekom sal jy uitstel om Hom te leer ken? Jy is soos ’n jong man wat sy kans om met die oulikste vrou in die wêreld te trou, weggooi, omdat hy Xbox wil speel.
1 The Works of Jonathan Edwards: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974 [1834]), 685
2 D.A. Carson, The Gospel According to John (Leicester: Inter-Varsity Press, 1991), 591-2