Lukas 19:41-48
John Piper se pa was ’n rondreisende evangelis. Piper onthou stories wat sy pa hulle vertel het; stories van mense wat in motorongelukke gesterf het voor hulle met die Here kon regmaak. Die storie wat Piper die meeste aangegryp het, was van ’n ou man wat tot bekering gekom het. Die man het met sy gesig in sy hande gehuil, terwyl hy sê: ‘I’ve wasted it! I’ve wasted it!’ Hy was spyt dat hy sy beste jare op sonde gemors het en die Here eers op ’n laat ouderdom leer ken het. Hoekom het hy die Here nie vroeër in sy lewe gedien nie?1
Die ergste sal wees as jy op die oordeelsdag voor Jesus staan en dink: ‘As ek maar net...’
Wie sy lewe mors is nie soos iemand wat sy besigheid, huwelik, opvoeding of geld mors nie. Jy kan laasgenoemde terugkry of weer probeer. Maar as jy jou lewe mors kry jy nie nog ’n kans nie.
1. Verwoestende ongeloof (v.41-44)
Jesus het op ’n donkie in Jerusalem ingery (v.28-40). Toe Hy die massas sien wat vir die jaarlikse Pasga vergader het, het Hy gehuil (v.41, Joh. 11:55, vgl. Ps. 119:136, Jes. 22:4, Jer. 9:1, 10, 13:17, Esra 10:1, Neh. 1:4, Rom. 9:2-3). Die meeste van hierdie mense was godsdienstig, maar verlore. Hulle het dit so verkies. Daarom het verwoesting vir hulle voorgelê (v.42-44).
Ek weet nie van jou nie, maar ek huil selde oor mense se verlorenheid (v.41, Jes. 16:9, Fil. 3:18). Is dit dalk die rede hoekom ons so min bekerings sien? “Dié wat met trane saai, sal met jubelkrete maai. Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra.” (Ps. 126:5-6).2
Daar steek baie waarheid in wat Joel Beeke eenkeer ’n preek gesê het: ‘We will never see more sinners saved till we love sinners more.’ Ek bedoel nie ons kan God met trane manipuleer nie. Tog wys trane ons erns wanneer ons vir ons eie en ander se siele bid. Laat ons die Here vir trane vra as ons dit nie het nie. Dit sal Hom behaag: “Offers aan God is ’n gebroke gees, ’n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie.” (Ps. 51:19). “Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God.” (Heb. 5:7).
Trane is nodig, want party mense sal nie vir hulleself treur nie. Israel het nie. Hulle moes, maar hulle het nie. Meer as enige nasie op aarde moes Israel geweet het God het die Messias gestuur om vergifnis en vrede vir hulle te bring. Dit is wat Jesus in v.42 bedoel: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring!”
Israel het politieke vrede gesoek (v.38). Min het hulle verstaan dat Jesus vrede tussen God en mens kom bring het (2:14, Jes. 40:1-2, 53:5, Sag. 9:9-11). Ongelukkig het Jerusalem, die stad van vrede, God se vrede in Christus gemis (v.42). Mense mis dit nog steeds. Hulle soek vrede in chemiese middels, verhoudings, godsdiens, die natuur, werk en plesier, terwyl hulle God se vrede in Christus, die Prins van vrede, mis (v.42, Jes. 9:5).
Ontbreek sy vrede in jou lewe? Kom vind dit deur geloof in Christus. Paulus sê dat “Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis.” (Kol. 1:20). En weer: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.” (Rom. 5:1). Die Jode het hierdie vrede verwerp. Daarom het God dit van hulle af weggevat:
“Maar nou is dit vir jou oë verberg.” (v.42).
“Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!” (Jes. 6:10).
“Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies.” (Hand. 13:46).
“soos daar geskryf staan: ‘God het aan hulle ’n trae gees gegee, oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie, tot op die dag van vandag.’ ” (Rom. 11:8).
Dit is uiters dwaas om te sê: ‘Ek sal later.’ God se uitnodiging is nie ’n spesiale aanbod by Checkers nie. Later is dalk te laat soos die volgende storie illustreer:
Randy Pope is ’n Amerikaanse prediker. Hy vertel van ’n student met wie hy gereeld oor die Here gepraat het. Elke keer het die student gesê: ‘Ek sal later.’ Op ’n dag het die student spoorloos verdwyn. Aanvanklik het mense gedink hy is huistoe.
Tot die hysbak in sy koshuis opgehou werk het.
Toe ’n tegniese span uitkom om die hysbak te herstel, het hulle die student dood in die skag aangetref.
Gebruik die kans terwyl jy dit het. Moenie jou lewe mors nie. Slaan ag op wat die Hebreërskrywer in Heb. 3:7-15 sê:
7 Daarom, soos die Heilige Gees sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
8 moenie julle harte verhard,
soos tydens die opstand
die dag van versoeking in die woestyn,
9 toe julle voorouers My versoek
en beproef het nie,
al het hulle my dade gesien—
10 veertig jaar lank.
Daarom het my toorn ontvlam
teenoor hierdie geslag,
en het Ek gesê,
‘In hulle harte is hulle altyd
op ’n dwaalspoor,
en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’
11 So het Ek in my toorn gesweer,
‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ”
12 Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit ’n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie. 13 Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. 14 Ons het inderdaad deelgenote van Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue—15 soos gesê word:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
moenie julle harte verhard,
soos tydens die opstand nie.”
Ek sê nie God gee mense net een kans nie. Jerusalem het baie kanse gekry. Vir honderde jare het God die profete na hulle toe gestuur (2Kron. 36:15-16, Jer. 7:25-26). Selfs nadat die Jode vir Jesus gekruisig het, het God hulle veertig jaar gegee om hulle te bekeer. Sy opdrag aan die dissipels was “dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin” (24:47, eie beklemtoning).
Toe die Jode hulleself verhard, het God Jerusalem in 67-70 n.C. deur die Romeine verwoes. Meer as ’n miljoen Jode het gesterf en 97 000 is gevange geneem.3 Jesus het dit gesien kom: “Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie” (v.43-44).
Volgens Jesus sou die Romeine Jerusalem totaal verwoes en met die grond gelyk maak. Nie een klip sou op ’n ander bly staan nie (v.44, vgl. 21:5-6). So het dit gebeur. Die Romeine het selfs die fondasies opgegrawe, sodat verbygangers moes dink die stad het nooit bestaan nie.4
As die Here wil, kan die klippe sy lof besing (v.40). Of hulle kan sy wraak teen ’n ongehoorsame volk uitgeroep (v.44, 21:22)! Die Romeine het die Jode en hulle kinders geslag (v.44, vgl. Ps. 137:9). Jesus het Hom nie hieroor verbly nie, maar gehuil (v.41). Vir honderde jare het Jerusalem die profete en uiteindelik die Messias verwerp (20:10-15, Hand. 7:52). God was in hulle midde, maar hulle het Hom nie herken nie (v.44, Joh. 12:37).
Hulle was soos die vrou wat haar huis opgeruim en ete voorberei het, omdat Jesus by haar sou kuier. Toe ’n arm gelowige haar vir kos vra, het sy hom weggewys: ‘Ek kan jou nie vandag help nie. Jesus kom vir my kuier. Kom môre terug, dan help ek jou.’ Toe ’n weduwee en ’n siek persoon haar vir hulp vra, toe sê sy: ‘Nie nou nie. Jesus kom by my kuier.’ Toe Jesus na donker nie opdaag nie, toe bid die vrou om te hoor wat aangaan. ‘Ek het drie keer na jou toe gekom, maar jy het My nie herken nie,’ het Hy geantwoord.
“Want Ek was honger, en julle het My nie iets te ete gegee nie, dors, en julle het My nie iets te drinke gegee nie. Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie as gas verwelkom nie, nakend, en julle het My nie geklee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.’... Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’ ” (Matt. 25:42-43, 45).
Moet Jesus nie miskyk nie. Hy gee Homself aan jou op ’n skinkbord. Wie die skinkbord uit sy hand klap, sal swaar gestraf word (12:47). Dit sal veral erg wees as jy elke geleentheid onder die son gehad het; as jy die evangelie gehoor het; as jy weekliks onder Bybelse prediking gesit het; as daar tonne goeie preke op YouTube was en jy dit botweg geïgnoreer het. Wie vanuit ons land of ’n Bybellerende gemeente verlore gaan, sal in die diepste hel sink.
2. Geldgierige godsdiens (v.45-48)
Jesus het nie sy koel verloor toe Hy mense uit die tempel uitdryf nie (v.45-46). Volgens Mark. 11:11-12, 15 het Hy eers in die tempel rondgekyk, vir ’n nag daaroor gedink en mense die volgende dag uitgedryf. Toe Hy by die tempel inkom en dit reinig, het Hy Mal. 3:1-2 vervul: “...dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.” (Ou Vertaling).
Volgens Joh. 2:13-17 het Jesus die tempel aan die begin van sy bediening gereinig. An die einde van sy bediening het Hy dit weer gedoen (v.45-46). Toe Hy sy asem uitblaas, het God die tempelgordyn van bo na onder geskeur. In 70 n.C. het God die einste tempel deur die Romeine verwoes (21:6).
Hoekom het Jesus die tempel gereinig? Was Hy kwaad dat die mense handel gedryf het? Sommige Christene dink so. Toe ’n sekere gemeente Christelike boeke teen kosprys by die kerk verkoop, toe sê iemand: ‘Ons moenie handeldryf in God se huis nie. Dit is hoekom Jesus mense uit die tempel verdryf het.’
Deut. 14:24-26 wys anders. God se volk moes jaarliks die feeste in Jerusalem bywoon. Iemand wat van ver af gekom het en baie skape en beeste vir die Here wou offer, kon dit nie alles tot in Jerusalem bring nie. Die Here het gesê hy kan sy offers verkoop en dit weer in Jerusalem aankoop. Ongelukkig was die wisselkoers in Jerusalem buitensporig hoog. Iemand wat byvoorbeeld twintig skape verkoop het, kon net twaalf aankoop. Sodoende het die geldgierige tempelhandelaars mense uitgebuit en God van sy offers beroof. Die armes het die ergste daaronder gely. Hulle kon ’n duif of tortelduif bekostig (vgl. Lev. 12:8), maar in Jerusalem was alles te duur. Om sy misnoeë hiermee bekend te maak, het Jesus die tafels met duiwe omgegooi (Joh. 2:17).
Die tempel moes ’n huis van gebed vir alle nasies wees (v.46a, Jes. 56:7, 2:2-3, Sag. 8:22-23, Mal. 1:11). Israel moes die lig skyn en die nasies na God toe trek. Hulle het hopeloos misluk en die tempel in ’n rowersnes verander, sodat die nasies niks met God te doen wou hê nie (v.46b, Jes. 64:7, Jer. 7:11, 9-10, Eseg. 36:21, Rom. 2:24, Ps. 79:6).
Vandag sit sommige kerke ongelowiges af, omdat hulle leraars die kerk as ’n kitsbank beskou eerder as ’n plek waar mense God aanbid. Die kerk bestaan nie om geld te maak nie, maar om mense tot gebed te lei. Elke voorlesing, preek, nagmaaldiens en samekoms moet mense lei om die Here aan te roep, Hom te aanbid, Hom te bewonder, hulle sonde te bely, vir mekaar te bid en lofgesange te sing. Gemeente bidure is veral die platvorm waar ons v.46 toepas: “My huis sal ’n huis van gebed wees”. As die bidure platval dan is mense eerder as God sentraal. Iemand het gesê: ‘Die bywoning van die oggenddienste wys hoe populêr die gemeente is. Die bywoning van die aanddienste wys hoe populêr die predikant is. Die bywoning van die bidure wys hoe populêr Jesus is.’ Waar ’n gemeente nalaat om te bid, sal Christus die gemeente suiwer (v.45).
Het jy die kerk rondom jouself begin sentreer, sodat jy sê: ‘Wat doen die kerk vir my? Ek kry niks uit die prediking nie. Die sang is dood. Daar is niks vir die kinders nie.’?
Gee jy meer om oor die gemeente se begroting as oor die bidure? Dan is geld en nie God nie, jou fokus (v.46). Jesus sal so ’n gemeente tug en dit toemaak (v.45).
Die oplossing is maklik: bely jou sonde en wend ’n daadwerklike poging aan om die Here saam deur gebed te soek (v.46). Hier leer Jesus ons om dit reg te doen soos Hy Israel die laaste week voor sy dood geleer het (v.47, 21:37). Die volk se leiers wou dit nie hoor nie. Hulle was kwaad toe Jesus hulle geldgierigheid en skynheiligheid uitwys (v.46, vgl. 16:14).
Weens Jesus se populariteit het die Joodse leiers volgelinge en geld verloor (Joh. 11:48, 12:10-11). Hulle moes ’n plan beraam om Hom dood te maak (v.47, 22:2, Joh. 11:53). Daarom het hulle Hom in Lukas 20 met strikvrae probeer uitvang.
Doen jy dieselfde? Word jy kwaad en verdedig jouself as ’n broer of suster jou aanspreek, of as ’n preek jou sonde blootlê? Moet jou nie vir die operasiemes vervies nie. Dank God wat die siekte wil uitsny om jou te genees. Moenie soos party mense wegloop en die kerk verlaat nie. Meer as ’n dekade gelede het ’n paartjie in ons gemeente dit gedoen. Toe ek hulle hoekom hulle die kerk verlaat toe sê hulle: ‘Want die preke laat ons skuldig voel.’
Dit is nie die oplossing nie. Bekeer jou as die Here jou aanspreek (2Sam. 12:7, 13). Die Joodse leiers wou nie, maar wou vir Jesus doodmaak (v.47). Die skare het aan Jesus se lippe gehang (v.48, Matt. 7:28-29, Mark. 12:37), daarom moes die leiers ’n ander plan maak om Jesus om die lewe te bring.
Wat het dit met jou te doen? Niemand kan Jesus vir lank ignoreer en neutraal teenoor Hom bly nie. Wie Hom nie as God aanbid en Hom gehoorsaam nie, sal Hom later openlik weerstaan en ’n vervolger word. Jy moet nou kies aan wie se kant jy wil wees. Wie Jesus nie met sy hele hart kies nie is teen Hom (11:23). En wie teen Hom kies, moet die skrikwekkende gevolge dra: “Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op.” (Ps. 2:12).
Hoekom sal jy teen Jesus uittrek as Hy sy hand uitstrek om jou te red? Dit is soos om ’n reddingsboei te weier as jy verdrink.
1 John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2003), 11-2.
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Flavius Josephus, Complete Works: The Wars of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 6.9.3, p. 587.
4 Ibid., 7.1.1, p. 589.