Die Christelike lewe is ‘n lewe van seën. Die Nuwe Testament begin hiermee (Matteus 5:3-12). In Genesis 26 vind ons hierdie seën in storievorm.
God belowe seën (v.1-5)
Genesis 26 is byna ‘n herhaling van Genesis 20. Dit het egter ‘n honderd jaar later gebeur (v.34, 21:5, 25:26). In hoofstuk 20 het Abraham Gerar toe getrek. Hy was bang dat die inwoners van die land hom sou doodmaak om sy mooi vrou te kry. Hy het gejok en gesê dat Sara sy suster is. In hoofstuk 21 het hy ‘n verbond met Abimeleg en Pigol gesluit. In hoofstuk 26 gebeur presies dieselfde dinge met Isak. Toe die hongersnood in Abraham se tyd tref het hy Egipte toe getrek (hfst.12). Daar kon hy darem kos en water kry langs die lewegewende Nyl. Die Here het vir Isak gesê om nie dieselfde te doen nie. Hy moes in die land bly, want dít was die land wat God aan hom en sy nageslag sou gee. Ten spyte van die droogte het God belowe om hom te seën (v.1-5).
Die Here se kinders is nie aan hulle omstandighede onderworpe nie, maar aan Hom. Selfs wanneer daar ‘n droogte is kan die Here ons seën. Wanneer die resessie slaan kan die Here sy kinders aan die lewe hou. Wanneer jou baas net die helfte van jou salaris betaal, sal die Here jou versorg. Wanneer werk skaars is, sal jou Vader na jou omsien. Wanneer jy kliënte verloor, sal die Here jou help. Wanneer jy ‘retrench’ word, sal die Here by jou wees en jou ondersteun. Wanneer jou salaris gesny word, sal die Here jou onderhou. Wanneer jy ‘n klein pensioen kry, sal die Here sorg dat dit met jou goed gaan. Jy mag miskien nie rykdom hê nie, maar die Here sal gee wat jy nodig het. Die Bybel sê: “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.” (Psalm 33:18-19). “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.” (Psalm 37:18-19). Wees egter versigtig dat jy nie seën tot materiële dinge beperk nie. Efesiërs 1:3 sê: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”.
Isak betwyfel seën (v.6-11)
Isak was bang dat die mense van Gerar hom sou doodmaak om sy mooi vrou te kry. Soos Abraham het hy gejok en gesê sy is sy suster (v.6-7). Hy het nie die belofte van v.3 geglo nie: “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën”. Hoe kon hulle hom doodmaak as die Here belowe het om hom te seën?
Abimeleg het deur sy venster gekyk en gesien hoe Isak met sy vrou speel. Die Hebreeuse woord is eintlik ‘lag’, en sinspeel op Isak se naam (Isak beteken ‘lag’). Die woord impliseer ‘n intieme verhouding. Abimeleg het geweet dat ‘n man nie sy suster soen nie! Abimeleg het vir Isak bestraf en sy onderdane met die dood gedreig indien enige van hulle iets aan Isak of Rebekka sou doen (v.8-11).
Was jy al, soos Isak, ontrou? Het jy al God se beloftes betwyfel, sodat jy nóú sê: ‘Ek verdien nie die Here se seën nie’? Niemand van ons verdien sy seën nie – al lewe jy ook hóé goed. En as jy ontrou is, bly die Here getrou (2 Timoteus 2:13). Die Here seën jou en vervul sy beloftes omdat Jesus goed is, nie omdat jy goed is nie (2 Korintiërs 1:20). As jy bang is betwyfel jy God se goedheid en dink jy dat Hy nie die beste vir jou in gedagte het nie. Jy betwyfel sy getrouheid en dink Hy kan nie sy beloftes nakom nie. Jy betwyfel sy wysheid en dink Hy moes dit anders gedoen het. Jy betwyfel sy almag en dink Hy kan jou nie uit hiérdie een help nie. Bely jou vrees as sonde, en vertrou op Hom.
Filistyne beny seën (v.12-22)
God het sy belofte nagekom en vir Isak geseën: “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.” (v.12-14). God het bewys dat rykdom uit sy hand kom, en nie as gevolg van die mens se kundigheid of vaardigheid nie (Deuteronomium 8:18, 1 Samuel 2:7). God kan ‘n mens ryk maak in hongersnood.
Die Filistyne het vir Isak beny. Hulle het die putte toegestop en vir Isak weggestuur omdat hulle hom gevrees het (v.14-16). In v.7 het hy húlle gevrees, maar nou het hulle hóm gevrees. Isak wou nie nuwe putte grawe en die kans staan om niks te kry nie. Daarom het hy die ou putte oopgegrawe; hy het geweet daar sou water wees. Hy het baie diere gehad en het dus baie water nodig gehad. Rykdom kom teen ‘n prys. Hy het water gekry, maar die Filistyne het sy putte gesteel. Hy het nie baklei nie, maar aanbeweeg om nóg water te soek (v.17-21, 1 Petrus 2:23). Toe hulle dit óók vat het hy nóg ‘n put gegrou. Hulle het nie daaroor baklei nie. Nou kon hy in vrede lewe. Daar was genoeg plek vir almal. Daarom het hy die plek Rehobot genoem – dit beteken ‘ruimte’ (v.22).
Partykeer wonder ons hoekom dit goedgaan met ongelowiges, terwyl ons, die kinders van die Here, so sukkel. Jy het die Fontein wat nooit opraak nie. Moet dan nie jaloers wees oor die ‘Filistyne’ se strome wat gou droogloop nie (cf. Psalm 73).
God bevestig seën (v.23-25)
Wanneer dit lyk of alles teen jou is (die Filistyne steel jou putte), bevestig die Here sy seën: “Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba. En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg. Toe bou hy daar ‘n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar ‘n put gegrawe.” (v.23-25). Is baie dinge teen jou in die lewe, sodat jy die Here se beloftes begin betwyfel? Laat die Here opnuut sy seën aan jou bevestig:
- Gaan dit so sleg dat jy wonder of die Here jou liefhet? Sy Woord sê: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3).
- Het jy ver afgedwaal en wonder jy of die Here jou sal vergewe? Sy Woord sê: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9).
- Wonder jy of die Here jou wil red? Sy Woord sê: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13).
- Sukkel jy finansieel? Lyk dit of die Here nie uitkoms gaan gee nie? Sy Woord sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:33).
- Is jy fisies, emosioneel of geestelik moeg? Sy Woord sê: “maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:31).
- Is jy bang? Sy Woord sê: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jesaja 41:10).
- Is jy moedeloos omdat jou gebede nie beantwoord word nie? Sy Woord sê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Matteus 7:7).
Moenie met vrees reageer op die Here se belofte van seën nie. Dit is wat Isak in v.7 gedoen het. Reageer eerder met aanbidding soos wat Isak in v.25 gedoen het.
Abimeleg beaam seën (v.26-33)
Abimeleg het beaam dat die Here vir Isak geseën het. Hy het vir Isak gevrees. Hy het in v.16 vir Isak weggestuur, maar het gesê dat dit in vrede was. Hy wou ‘n verbond met Isak sluit om te verseker dat Isak hom nie kwaad sou aandoen nie. Hulle het ‘n verbondsete gedeel en toe beloftes uitgeruil. Dieselfde dag het Isak se slawe die put wat Abraham in v.21 gegrawe het (Berseba) weer oopgegrou en water gekry (v.26-33).
As die wêreld sien dat jy jou lyding met vrede en vertroue verduur, sal hulle beaam dat Here met jou is. Hulle sal vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15). As die wêreld sien dat jou lewe en boodskap ‘n kragtige getuienis is, sal hulle beaam dat die Here met jou is. “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” (Sagaria 8:22-23). “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).
Esau bedreig seën (v.34-35)
God sal bitter dissipline in jou lewe bring, sodat jy die dinge los wat sy seën terughou. Isak het vir Esau voorgetrek (25:28) en so die belofte van 25:23 geïgnoreer: “die oudste [Esau] sal die jongste [Jakob] dien.” Omdat Isak dit nie wou aanvaar nie, het die Here hom getugtig: “Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet. En hulle was vir Isak en Rebekka ‘n bitter verdriet.” (v.34-35).
Is daar dinge in jou lewe wat die Here se seën terughou; dinge wat jy moet los? ‘n Geheime of gunsteling sonde? ‘n Sekere vriendskap? Liefde vir geld en besittings? Iets wat vir jou belangriker geword het as die Here? ‘n Christelike boek of TV kanaal wat ongesonde lering gee? Iets waaraan jy verslaaf is? Die Here wil jou seën en sal jou tugtig, sodat jy die dinge los wat sy seën verhinder.
“Die HERE sal jou seën en jou behoed;
die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees;
die HERE sal sy aangesig oor jou verhef
en aan jou vrede gee.”
(Numeri 6:24-26).