Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 August 2023

Die Heilige Gees: Geesvervulde aanbidding

Filippense 3:3

Wat is Geesvervulde aanbidding? Iemand het gesê dit is wanneer jou gees in tale met die Heilige Gees praat. ‘Dit is gees tot Gees aanbidding en die hoogste vorm daarvan.’

Is dit wat dit beteken om God in gees te aanbid; moet almal van ons in tale bid? Glad nie. Die Bybelse opdrag om God in gees te aanbid is nie tot tale-sprekers beperk nie—dit is vir elke Christen.

         Wat beteken dit prakties om God in gees te aanbid?

 

1. Geesvervulde aanbidding kom uit ’n besnede hart

’n Groep vals leraars in die eerste eeu n.C. het gesê redding kom deur geloof in Christus plus die besnydenis (Hand. 15:1, 5). Die apostels het gesê redding is uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen (Rom. 3:28, Ef. 2:8-9). Die besnydenis van die liggaam is simbolies van die besnydenis van die hart (v.2-3, Deut. 30:6, Rom. 2:25-29, 1Kor. 7:19, Gal. 5:6, 6:15, Kol. 2:11). Geesvervulde aanbidding ontspring uit ’n nuwe- of besnede hart (v.3). Sonder ’n nuwe hart is aanbidding slegs uiterlik: “Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My… U is naby hulle monde, maar ver van hulle binneste af” (Jes. 29:13, Jer. 12:2).1 Soos ’n handpop sê jy die regte woorde, maar jou hart is dood. Jy sing, bid, hoor God se Woord en gebruik die nagmaal, maar jou gedagtes is aan die etenstafel, in die winkel, by jou vriende, studies, sport, viswaters of werk. Teny jy ’n nuwe hart ontvang, sal jy gesamentlike aanbidding by jou gedagtes wil aanpas. Jy sal ’n gemeente met ’n kort erediens soek wat nie jou Sondagplanne omkrap nie. Of jy sal eenvoudig wegbly, omdat die gesamentlike aanbidding inmeng met wat jy wil doen. Sodoende blus jy die Gees wat ons lei om die Vader deur die Seun te aanbid (1Tess. 5:19).

         Party mense gee nie om vir ’n lang erediens nie, solank dit hulle vleeslike begeertes pamperlang. Hulle soek ’n gemeente wat voorspoed, genesing en rykdom belowe; ’n gemeente met ’n lekker atmosfeer, preke wat die selfbeeld opbou, goeie musiek en genoeg humor. Sulke aanbidding is mensgerig en spreek van ’n onbesnede hart. ’n Besnede hart se aanbidding is Godgerig: “Daarom, terwyl ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ’n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad ’n verterende vuur.” (Heb. 12:28-29).

         Godgerigte aanbidding soek nie sy eie voorkeure nie. Dit probeer nie ouers met klein kinders tevrede stel nie, maar vra wat die Here behaag. Dit aanbid God volgens die waarheid van die Woord (Joh. 4:23) en nie volgens menslike idees. Toe Nadab en Abihu ongeoorloofde vuur in die heiligdom inbring, het God hulle doodgemaak (Levitikus 10). Ussa het vir sy sonde gesterf toe hy sy eie reëls opmaak, die ark op ’n ossewaai laai en daaraan raak (1Kronieke 13, 15). Dit is die soort aanbidding waarteen Matt. 15:9 waarsku: “tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.”

Mense doen dit nog steeds. Nêrens sê die Here ons moet voor ’n kruisbeeld buig of dit soen nie. Dit is ’n mensegemaakte instelling. Die Bybel sê ook nie ons moet toneeltjies tydens die erediens opvoer, ’n skildery verf, ’n vlag waai, oosterse kontemplasie beoefen, deur ’n vuurtonnel loop, biddend deur ’n doolhof loop, op ’n ramshorings blaas om demoniese magte te verslaan, mense se voete salf of in massa-tale praat nie.

         Party ongelowiges aanbid volgens die Boek, maar hulle harte is onbesnede. In die week lewe hulle in sonde en op ’n Sondag wil hulle God aanbid (Spr. 7:14, Jes. 1:12-15, 58:2-4, 1Tim. 2:8, Jak. 3:9-10). Dit is onaanneemlik vir God wat wil hê ons moet Hom in gees en in waarheid aanbid (v.3, Joh. 4:23-24).

 

2. Geesvervulde aanbidding is geestelik meer as uiterlik

Baie Christene verwar aanbidding met sang. Hulle onderskei tussen sogenaamde praise en worship liede. ’n Praise lied is opgewek en vrolik, terwyl ’n worship lied stadig en stemmig is. Of hulle sal sê: ‘Vrydag het ons ’n praise & worship aand by die kerk.’ Hulle bedoel daar is ’n sangdiens sonder ’n preek.

         Talle mense verstaan aanbidding verkeerd. Aanbidding sluit sang in, maar is nie daartoe beperk nie. ’n Christen se hele lewe is aanbidding. Paulus sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” (1Kor. 10:31). Wat gesamentlike aanbidding betref, sluit dit gebede, samesyn, voorlesing, prediking, lofgesange, die doop en die nagmaal in (Matt. 6:9-13, Hand. 2:41-42, Kol. 3:16, 1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2).

         ’n Verkeerde definisie van aanbidding lei tot ’n oorbeklemtoning van sang, sodat jy vir ’n uur sing en vir 15 minute preek, want ‘mense kan nie so lank konsentreer nie; musiek raak die mens se hart, terwyl prediking slegs sy intellek stimuleer.’

         Dit is ’n wanbegrip van hoe lofgesange, die waarheid en menslike emosies saamwerk. Jare gelede het iemand vir my gesê: ‘As die worship goed was, gee ek nie om oor die preek nie.’ Die waarheid is as musiek sonder die waarheid jou emosies opwek, is dit onegte aanbidding. ’n Saterdag by FNB Stadion of Loftus kan jou dieselfde gevoel gee. Die kerkvader Augustinus het gesê: ‘...when it happens to me to be more moved by the singing than by what is sung, I confess myself to have sinned criminally, and then I would rather not have heard the singing.’2

         Ware aanbidding begin by ’n besnede hart wat die waarheid verstaan en daarna die wil en emosies beweeg. Toe Esra God se wet vir die volk voorlees en dit verduidelik, het hulle God gevrees, hulle sonde bely en geween (Nehemia 8-9). Psalm 100 se blydmoedige lofgesange (Ps. 100:1-2, 4) begin by ’n korrekte verstaan van God se karakter (Ps. 100:3, 5). Ek het dit in die praktyk gesien. Toe ek eenkeer uit Romeine 8 preek, was ’n ou tannie in ons gemeente diep aangeraak. Na die preek toe sing ons In Christ Alone. Met groot volume het die gemeente die Here geprys. Na die diens, toe sê die tannie vir my: ‘Dit is baie waar: no power of hell, no scheme of man, can ever pluck me from his hand!’ Die Heilige Gees het haar verstand vir die waarheid geopen en daardeur haar wil en emosies beweeg. Deur die waarheid stimuleer God se Gees ons gees tot aanbidding. Die Bybel sê:

“God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4:24).

“En moenie deur wyn bedwelm raak nie; daardeur ontstaan losbandigheid. Inteendeel: Word vervul deur die Gees, terwyl julle onder mekaar psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, ja, van harte tot die Here sing en psalmsing” (Ef. 5:18-19).

“Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.” (Kol. 3:16).

Let op die ooreenkoms tussen Efesiërs se Geesvervulde lofgesange en en Kolossense se Woordgevulde lofgesange. Paulus beskryf aanbidding in Gees en in waarheid. Die feit dat God se Gees ons aanbidding deur die Woord dryf, beteken dit is geestelik meer as uiterlik. Dinge soos ’n kerkgebou kan ons teen die wind en die weer beskerm, en ’n klavier kan vir ons die wysie gee. Maar die uiterlike elemente van aanbidding is nie noodsaaklik nie. ’n Besnede hart vol van die Gees, samesang sonder instrumente, Bybellering onder ’n mangoboom is heeltemal voldoende. Dit is wat Jesus in Johannes 4 bedoel het. Die Samaritaanse vrou wou weet of ’n mens die Here op berg Gerisim of in Jerusalem se tempel moet aanbid. Jesus het gesê God is Gees. Omdat Hy oral is, word aanbidding nie tot ’n plek beperk nie. Waar mense Hom in gees en waarheid aanbid—nie uiterlik volgens rituele nie—is Hy teenwoordig om hulle te seën (Joh. 4:20-24).

         Prakties beteken dit suiwer aanbidding kom nie uit ’n lewelose kitaar nie, maar uit ’n nuwe hart vol van die Woord en die Gees. Ons prys die Here met instrumente, maar ons, nie die instrumente nie, aanbid die Here (Psalm 150). Gemeentesang uit ’n nuwe hart eerder as ’n kitaar of ’n klavier, is die hoofinstrument wanneer ons die Here loof. Mense se onkunde hiervan maak dat hulle sê aanbidding sonder dromme, ligte, rook en handeklap is dood. Met die regte atmosfeer sing hierdie mense ekstaties. Maar wat beweeg hulle: God se Gees en die waarheid, of die musiek? Dit is nie moeilik om te weet nie. Hoe iemand deur die week lewe, bepaal of sy aanbidding op ’n Sondag suiwer is of nie. Volgens Rom. 12:1 is ’n mens se hele lewe aanbidding: “I appeal to you therefore, brothers, by the mercies of God, to present your bodies as a living sacrifice, holy and acceptable to God, which is your spiritual worship.” (ESV, eie beklemtoning).

 

3. Geesvervulde aanbidding is Christo-sentries

Mensgedrewe aanbidding roem in die uiterlike. Voor sy bekering het Paulus dit gedoen (v.4-6). Vandag doen mense dieselfde as hulle sê: ‘Ek is ’n stigterslid van hierdie gemeente... My voorouers het hierdie kerk gebou... Ons gemeente het vyf voltydse leraars... Ons is 2000 mense op ’n Sondag... Ons jaarlikse inkomste is R12 miljoen... Ons gebruik net professionele musikante... Ons leraar het drie doktorsgrade.’

         Geesgedrewe aanbidding roem nie in mense nie, maar in Christus alleen: “...ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie” (v.3). Dit sê saam met Paulus: “Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word—nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof—en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word”.

         Die verheerliking van Christus is ’n kenmerk van Geesvervulde aanbidding (v.3). Met verwysing na die Heilige Gees sê Jesus: “Hy sal My verheerlik” (Joh. 16:14). Dit doen die Gees deurdat ons die gekruisigde Christus preek (1Kor. 2:2). Ons preek nie boodskappe wat in ’n sinagoge aanvaar sal word nie.

Die Gees verheerlik Jesus wanneer ons die nagmaal gereeld en met ’n dankbare hart vier, en wanneer ons Christo-sentriese liede uit ’n opregte hart sing. So roem ons in Christus en nie in onsself nie (v.3).

Ons roem in Christus wanneer ons Hom volgens die Nuwe Testamentiese volheid eerder as volgens die Ou Testamentiese skadubeelde aanbid. Kol. 2:16-17 sê: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” Dit beteken ons vier die nagmaal, nie die Pasga nie (1Kor. 5:7-8). Ons offer gebede, nie wierook nie (Op. 5:8). Ons bid nie deur ’n menslike priester nie en verhef nie ’n predikant nie. Elke Christen is ’n priester wat geestelike offers bring (1Pet. 2:5). Ons geniet die rus van die nuwe skepping op ’n Sondag, nie die rus van die ou skepping nie op ’n Saterdag nie (Hebreërs 4). Ons verkondig die nuwe geboorte en redding deur geloof in Christus, nie moralisme en redding deur die wet nie (Joh. 3:3, 16). Wanneer ons Psalms sing, sing ons nie van diereoffers nie, maar van Jesus die Lam van God.

         Die Heilige Gees verander ons aanbidding van ’n plig in ’n voorreg en ’n vreugde. Hy verander ons aanbidding van ’n gewone erediens na ’n ontmoeting met die lewende God, sodat ons sê: “ ‘Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!’... ‘Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!’ ” (Gen. 28:16-17). “Werklik, God is in julle midde.” (1Kor. 14:25). “Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” (Jes. 6:5). “My Here en my God!” (Joh. 20:28). “Maar die Here is in sy heilige tempel—wees stil voor Hom, o ganse aarde!” (Hab. 2:20).

So was dit onder die Morawiërs in 1727. In hulle tuisland Tsjeggië is hulle vir hulle oortuiging van regverdigmaking deur geloof alleen vervolg. Hulle het na Herrnut in Oos-Duitsland gevlug waar die Christen Graaf, Nicolaus von Zinzendorf, vir hulle skuiling aangebied het. Daar was reeds ’n Lutheraanse kerk op sy perseël. Die Lutherane het dit moeilik gevind om die Morawiërs se eenvoudige manier van aanbidding te akkomodeer, aangesien hulle eie liturgie meer georden was. Dit het verdeeldheid tussen die groepe veroorsaak.

Na verskeie gesprekke het Graaf Von Zinzendorf eenheid tussen die groepe bewerk. Die Morawiërs kon op hulle eie aangaan, maar op Sondae moes die twee groepe saam aanbid. Toe Von Zinzendorf by een so ’n geleentheid die Here met trane aanroep, toe breek daar ’n herlewing uit. Met trane het die gemeente God se Woord aangehoor en sy heilige Naam besing. Oor die volgende paar weke het mense mekaar besoek om gebroke verhoudings te herstel. Daarna het hulle die nagmaal met blymoedige harte saam gevier.

Massas kinders het tot bekering gekom en baie ’n bose man se siel is gered. Mense het ’n diep honger vir die Woord gehad. Om hulle honger te stil, het hulle drie eredienste per dag gehad. Geregtigheid en heiligheid het in hulle gemeenskap geheers. God se liefde in hulle harte was die samebindende faktor. Hulle het alles met mekaar gedeel.

Hierdie liefde was nie tot hulle gemeenskap beperk nie. Hulle wou dit met ander deel. Oor ’n tydperk van 29 jaar het hulle 226 sendelinge uitgestuur (onder andere die eerste sendeling na Suid-Afrika). Dit was die vrug van aanhoudende gebed. Vir ’n honderd jaar het die Morawiërs 24 uur per dag gebid. Daar was altyd iemand wat die Here êrens met lofgesange, belydenis, voorbidding of smeking aangeroep het.3

Kan die Here dit nie weer doen nie? Mag Hy ons deur sy Gees besoek, terwyl ons Hom in gees en waarheid aanbid.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Augustine of Hippo, The Confessions, 10:33:50. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/110110.htm en The Confessions of Saint Augustine (New Kensington, PA: Whitaker House, 1996), 286.

3  Nick Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Volume 5 (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 2023), 436-53.

Kategorieë