Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 November 2023

Die gawes van die Gees: Profete*

Efesiërs 2:20

Een van my vriende het onlangs gesê: ‘Ek glo nie die bonatuurlike gawes het opgehou toe die laaste apostel dood is, of toe die Nuwe Testament voltooi is nie.’ ‘Hoekom nie?’ het iemand hom gevra.

As iemand my dit moes vra, sou ek sê: ‘Want die historiese rekord wys die bonatuurlike gawes het nie opgehou nie.’

Maar wat van tekste soos Ef. 2:20?

1. Efesiërs 2:20 en die gawe van profesie

God se nuwe tempel is die kerk. Die Bybel sê: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ’n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.” (v.19-22). “Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk... Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?” (1Kor. 3:9, 16).

Deur die gawes wat God aan mense gee en deur hulle diensbaarheid in die gemeente, bou Jesus sy nuwe tempel (Ef. 4:7-8, 11-13, 16, Matt. 16:18). Die apostels en profete het die fondasie gelê (v.20). Hul is nie fondasie nie, maar dit net. Wie of wat is die fondasie? Jesus Christus. Paulus sê: “Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos ’n bedrewe bouer ’n fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie—dit is Jesus Christus.” (1Kor. 3:10-11).

Wie Jesus se woorde gehoorsaam, word as ’n lewende steen op die fondasie gelê: “Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos ’n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.” (Matt. 7:24). “en laat julle as lewende klippe opbou tot ’n geestelike huis” (1Pet. 2:5).

Hoe het die apostels en profete die fondasie gelê? Hulle het God se woorde gepreek en geskryf. ’n Apostel se woorde is nie sy eie nie, maar God s’n. Ons sien dit in die volgende verse:

“Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek ’n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. Aan my, minder as die geringste van al die heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig” (3:3-8). 

“Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14:26).

“Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.” (Joh. 16:13-15).

“En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as ’n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God—dié Woord wat werksaam is in julle wat glo.” (1Tess. 2:13).

“Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ’n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1Tess. 4:8).

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here” (1Tess. 4:15).

“En beskou die lankmoedigheid van ons Here as ’n geleentheid tot verlossing, soos ook ons geliefde broer Paulus, volgens die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai—soos hulle ook met die ander geskrifte maak.” (2Pet. 3:15-16).  

Paulus, Petrus en die ander apostels en profete het die fondasie gelê (v.20). Niemand kan dit herlê nie; dit is gedoen: “In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.” (Heb. 1:1-2). Ons kan niks by die apostels en profete se woorde voeg of iets wegvat nie. Die apostel Johannes sê: “Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: ‘As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg. En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.’ ” (Op. 22:18-19).

Dit beteken die gawe van profesie voeg geen nuwe lering by die Bybel nie. Wat ons nodig het om reg te lewe, is in die Bybel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2Tim. 3:16, Ou Vertaling).

Die Skotse hervormer, George Wishart (1513-46) het dit verstaan. Hy het ’n buitengewone gawe van profesie gehad, sodat mense hom ’n profeet genoem het.1 Hy het byvoorbeeld een aan opgestaan om te bid. Toe sy vriende, William Spalding en John Watson, hom sien opstaan, het hulle hom gevolg. In die donker het hulle gesien hoe hy voor die Here huil. Voor hy klaar was, het hulle na hulle kamer toe teruggekeer. Toe hy ’n rukkie later in die kamer kom, toe vra hulle hom hoekom hy so ernstig met die Here gepraat het. Hy wou nie sê nie. Die volgende dag toe vra hulle hom weer. Uiteindelik het hy gesê: ‘Die Here het my gewys dat die einde naby is. Ek moet sterf. Na my sal God iemand anders opwek. Onder hom sal daar ’n herlewing wees. Die kerk in Skotland sal opgebou word en God se heerlikheid sal oor die land skyn. Maar as die mense ondankbaar raak, sal daar verskriklike oordele volg.’

Wishart se profesie is vervul toe John Knox hom opvolg en daar ’n wonderlike tyd van hervorming aanbreek. Na Knox het ’n duisternis van vervolging oor die land toegesak.2 Wishart se voorspelling was akkuraat, maar hy het geweet die Bybel bly ons maatstaf vir geloof en lewe. Hy sou Dr M’Crie se woorde beaam:

‘The canon of our faith, as Christians, is contained in the Scriptures of the Old and New Testament; we must not look to impressions or new revelations as the rule of our duty; but that God may, on particular occasions, forewarn persons of some things which shall happen...is not, I think, inconsistent with the principles of either natural or revealed religion... Some of the Reformers were men of singular piety; they “walked with God;” they were “instant in prayer;” they were exposed to uncommon opposition, and had uncommon service to perform; they were endued with extraordinary gifts, and I am inclined to believe, were occasionally favoured with extraordinary premonitions with respect to certain events which concerned themselves, other individuals, or the church in general.’3

Die Montaniste in die 2de eeu n.C. het dit vergeet en nuwe regulasies by die Bybel gevoeg. Teenstrydig met 1Timoteus 4:3-5 het hulle gesê mens mag nie trou of wyn drink nie, en net gedroogte kosse eet.4 Montanus, Priscilla en Maximilla het gesê hulle is die vervulling van Jesus se belofte van die Heilige Gees in Joh. 14:16, 16:12-13. Oënskynlik het niemand voor hulle die Heilige Gees gehad nie!5

Maximilla se uitlating dat daar na haar geen profesie sal wees nie, maar die wederkoms, druis lynreg teen Jesus se lering in: “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen... Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” (Matt. 24:36, Hand. 1:7). Natuurlik het die wederkoms nie op Maximilla se dood gevolg nie!

Ek vind dit ironies dat die Montaniste na Maximilla se dood geen meer profete gehad het nie, terwyl profesie in res van die kerk voortgeduur het. Eusebius van Caesarea (260-339) sê in sy kerkgeskiedenis: ‘For the apostle (Paul) thought it necessary that the prophetic gift should continue in all the Church until the final coming. But they (the Montanists) cannot show it, though this is the fourteenth year since the death of Maximilla.’6

Ons glo nie in nuwe profesieë soos die Montaniste nie. Ons meet die profetiese gawe aan die geïnspireerde Woord en finale gesag van die apostels en profete: “gebou op die fondament van die apostels en profete” (v.20). “Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel... As enigeen meen dat hy ’n profeet is of dat hy geestelik is, behoort hy die dinge wat ek aan julle skryf, as ’n opdrag van die Here te erken. Maar enigeen wat dit misken, word misken.” (1Kor. 14:29, 37-38). “Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (1Joh. 4:6).

Daar is nie meer geïnspireerde apostels en profete soos in v.20 nie. Kultusleiers dink hulle profesieë is geïnspireer en kom met die gesag van die Bybel. Met verwysing na ‘profetes’ Ellen G. White sê die Sewendedag Adventiste: ‘Omdat sy die boodskapper van die Here is, is haar geskrifte ’n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid...’7 Die vader van die Mormone, Joseph Smith, het sy profesieë in ’n bundel saamgevat en gesê: ‘I told the brethren that the Book of Mormon was the most correct of any book on earth...’8

Die Nuwe Testamentiese gawe van profesie voeg geen nuwe lering of regulasie by die Skrif nie, maar bestaan uit akkurate toekomsvoorspellings en die openbaring van mense se harte:

“In daardie tyd het daar profete uit Jerusalem na Antiogië gekom. En een van hulle, met die naam Agabus, het na vore gekom en deur die Heilige Gees voorspel dat ’n swaar hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Dit het in die tyd van Claudius gebeur.” (Hand. 11:27-28).

“Terwyl ons ’n hele paar dae daar oorgebly het, het ’n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: ‘So sê die Heilige Gees, “Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.” ’ ” (Hand. 21:10-11).

“Maar indien almal profeteer en ’n ongelowige of ’n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: ‘Werklik, God is in julle midde.’ ” (1Kor. 14:24-25).

Die geskiedenis ondersteun hierdie definisie. Een Sondag tydens ’n preek het Spurgeon skielik gestop, in ’n sekere rigting gewys en gesê: ‘Jong man, die handskoene wat jy aan het is nie gekoop nie, maar jy het dit by jou werkgewer gesteel.’ Na die diens toe kom ’n tranerige jong man na hom toe en sê: ‘Moet asseblief nie vir my ma sê ek het die handskoene gesteel nie. Dit sal haar hart breek om te hoor haar seun het ’n dief geword. Ek sal dit nie weer doen nie.’9 Spurgeon se profesie het die jong man se hart blootgelê.

Terwyl die kerkvader Polycarpus (69-155) besig was om te bid, het hy in ’n visioen ’n kussing onder sy kop sien brand. Hy het na sy vriende toe gedraai en gesê: ‘Ek moet lewendig verbrand word.’ Sy profesie is vervul.10

Vir ’n profetiese voorspelling om akkuraat te wees, moet dit vervul word. Deut. 18:21-22 stipuleer die Bybelse maatstaf: “En as jy jouself sou afvra: Hoe sal ons weet watter woorde het die Here nie gesê nie? As dit wat ’n profeet in die Naam van die Here sê, nie gebeur nie en daar kom niks van nie, dan is dit woorde wat die Here nie gespreek het nie. In vermetelheid het die profeet dit gesê. Jy mag nie vir hom bang wees nie.”

Hoe baie vals profete is daar nie? Toe ons studente was, het my vriend in ’n Christelike boekwinkel gewerk. Een Vrydag toe sê ’n kliënt vir hom: ‘Hierdie naweek gaan die Here Openbaring 14 vervul. Die swart mense se bloed gaan so hoog soos die perde se tooms deur Pretoria se strate vloei.’ Toe die vrou Maandag weer in die boekwinkel kom, toe sê my vriend: ‘Tannie is ’n vals profeet! Die Bybel sê ons moet sulke profete stenig!’ Haar verskoning was: ‘Dit het onsigbaar gebeur.’

Iemand het vir ’n vrou in ons gemeente gesê: ‘Op 43 sal jy ’n man ontmoet en gelukkig getroud wees.’ Dit het nie gebeur nie. Sy was kwaad vir die Here, maar eintlik moes sy die vals profeet kwalik neem.

Gedurende my studiejare het ’n ander gemeente se jeug ons jeug besoek. Tydens die byeenkoms het die besoekende jeugpastoor gesê: ‘Oor twee jaar sal Kemptonpark Baptistekerk verdubbel.’ Twee jaar later toe skeur die gemeente. Moet die pastoor nie verdedig, sodat jy sê: ‘Dit is wat hy bedoel het.’ Pas die Bybelse kriteria toe en toets die geeste!

Dit is waarvoor John MacArthur en Justin Peters skerm. Al stem ek nie saam met hulle oor die gawes nie, het hulle ’n punt beet: ons kort onderskeiding. Kyk gerus Justin Peters se Clouds without water op YouTube. Jy sal geskok wees oor wat in kultusse, die New Apostolic Reformation (Bethel), die Word of Faith beweging (TBN) en baie charismatiese kerke aangaan.

Die feit dat ek glo die gawes duur voort, beteken nie ons moet onderskeiding vir die honde gooi en die deure vir allerhande goggas oopmaak nie. Laat ons alle profesieë aan die Bybel meet: “gebou op die fondament van die apostels en profete” (v.20). “As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof” (Rom. 12:6).

 

2. ’n Bybelse reaksie op die gawe van profesie

Paulus sê ons moet die gawe van profesie begeer: “Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer... Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer” (1Kor. 14:1, 39).

Het jy die gawe ontvang? Meet dit aan die Skrif en waak teen die duiwel se namaaksel. Dit is moontlik dat jy die gawe so begeer, dat jy na enigiets gryp en nie onderskei of dit die ware Jakob is nie.

Aanvaar God se wil as jy nie die gawe ontvang nie en dank Hom vir die gawe wat jy het: “Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.” (1Kor. 12:11).

Doen jou bes om ander se profesieë aan die Bybel te meet. Pasop vir profete wat sê jy bedroef die Gees as jy hulle toets. Hulle is vals profete. 1Joh. 4:1-6 sê ons moet hulle toets:

1 Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. 2 Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus vlees geword het, is uit God, 3 en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is. 4 Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. 5 Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle. 6 Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling. 

Vlug vir vals profete wat buite hulleself raak en onbeheersd profeteer. Dit is nie God se Gees wat deur hulle werk nie, maar ’n vals gees. Die kerkvader Origines (185-254) maak melding van ’n vroulike hoëpriester (Eng. pythoness) wat namens Apollo in sy tempel in Delphi geprofeteer het. ’n Demoniese gees het haar gedagtes verduister, sodat sy in ’n beswyming gegaan en buite haarself geraak het.11

Waar God se Gees die gawe van profesie gee, geskied dinge ordelik. Die Skrif sê: “Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel. Indien ’n openbaring gemaak is aan een van die ander wat daar sit, laat die vorige spreker swyg. Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal onderrig en bemoedig kan word. Die geeste van profete is aan profete onderworpe. Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede... Laat alles egter gepas en ordelik verloop.” (1Kor. 14:29-33, 40). “Maar die vrug van die Gees is...selfbeheersing.” (Gal. 5:22-23).

Laat niemand dink profesie is ’n maatstaf vir geestelikheid nie. Die Here kan toelaat dat ongelowiges profeteer (Numeri 22-24, 1Sam. 19:23-24). Wat ek en jy in die eerste plek nodig het, is nie die gawe van profesie of enige ander gawe nie. Ons benodig ’n nuwe hart wat God sal liefhê en Hom gehoorsaam; ’n opregte geloof in Jesus Christus, sodat ons vergewe en gereinig kan word.

Het jy dit? Of soek jy soos Simon die Towenaar gawes, terwyl jy in die bande van sonde is? “Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied, met die woorde: ‘Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.’ Maar Petrus het vir hom gesê: ‘Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry! Jy het geen aandeel of aanspraak in hierdie saak nie, want jou hart is nie opreg voor God nie. Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word, want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik.’ ” (Hand. 8:18-23).

Op die laaste dag tel geestelike kragte niks as jy in die geheim met sonde besig was nie. Jesus sê: “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ” (Matt. 7:21-23).

Beskryf hierdie verse jou? Moenie langer in die donker lewe nie, maar kom na die lig toe. Bely jou sonde, sodat Jesus se bloed jou kan reinig (1Joh. 1:7, 9). Wees dankbaar dat die Gees jou hart met die swaard van sy Woord oopvlek (Heb. 4:12-13). Sien dit as ’n waarskuwing en ’n geleentheid om jou te bekeer. Alexander Henderson (1583-46) het. Toe hy as priester van ’n gemeente in Leuchars verordineer moes word, het sy gemeente die deure teen hom toegehou, sodat hy deur die venster moes klim.

’n Rukkie later toe hoor hy dat Robert Bruce in die omgewing sou preek. Om te keer dat iemand hom herken, het hy suutjies by die kerk ingesluip en in ’n donker hoek gaan sit. Tot sy verbasing het Bruce agter die kansel gaan staan en Joh. 10:1 aangehaal: ‘He that entereth not in by the door, but climbeth up some other way, the same is a thief and a robber.’ Hierdie woorde het soos ’n mes deur Henderson se hart gesny. Die Gees het dit gebruik om sy verlorenheid uit te wys en hom te red.12

God is meer as bereid om jou vandag te red en van jou sonde te reinig. Al wat Hy vra is: ‘Kom na My toe.’

______________________

* Ek het hierdie boodskap in twee dele gepreek. Die video en oudio skakel bevat deel 1. Deel 2 se video en oudio is op YouTube en Spotify beskikbaar.


1  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 18, 30-1.

2  Ibid., 23.

3  Ibid., 31.

4  H.F. Stander, Die Besondere Gawes van die Heilige Gees in die Eerste Vier Eeue n.C. (Garsfontein, Pretoria: Didaskalia Uitgewers, 1986), 59-60.

5  N.R. Needham, 2000 Years of Christ's Power: Part 1 (London: Grace Publications Trust, 1997), 104-6, 9.

6  Eusebius of Caesarea, Church History, 5.17.4. Toegang verkry: 27 Okt. 2023, https://www.newadvent.org/fathers/250105.htm

7  Wêreldkonferensie van Sewendedag-Adventiste, Sewendedag Adventiste Glo... (Silver Spring, V.S.A., geen datum), 230.

8  The Book of Mormon (Salt Lake City, The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints, 1981), introduction.

9  C.H. Spurgeon, Autobiography: Volume 2—The Full Harvest (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 235.

10  The Martyrdom of Polycarp, ch. 5 & 12. Toegang verkry: 27 Okt. 2023, https://www.newadvent.org/fathers/0102.htm

11  Origen, Contra Celsum, 7.4. Toegang verkry: 27 Okt. 2023, https://www.newadvent.org/fathers/04167.htm

12  Howie, ibid., 180-1.

Kategorieë