Handelinge 18:24-28
Binne die eerste twee jaar van my vriend se bediening het ’n vrou sy prediking gekritiseer. ‘Ek is is nie hier om geleer te word nie,’ het sy gesê. Die Bybel sê jy is hier om geleer te word. Anders sou God nie die gawe van lering gegee het nie.
1. Hy was welsprekend (v.24)
Apollos was ’n Jood afkomstig van Aleksandrië in Egipte (v.24). Sedert die stigting van die stad deur Aleksander Grote (356-323 v.C.) het die Jode daar gebly.1 Die stad was ’n groot leersentrum in die antieke wêreld met ’n biblioteek van meer as 200 000 volumes.2 Sowat 200 jaar v.C. het 72 geleerde Jode ’n Griekse weergawe van die Ou Testament (die Septuaginta of lxx) daar saamgestel.3
Volgens oorlewering het die evangelie Aleksandrië deur Markus bereik. Hy was ook die eerste leraar.4 Dit mag selfs wees dat die evangelie Aleksandrië kort na Pinkster bereik het. Hand. 2:10 sê immers daar was Egiptiese Jode wat na Petrus se preek geluister het.
Na die vestiging van die kerk in Aleksandrië het ’n ryk geskiedenis gevolg. Kerkvaders soos Clemens (150-215), Origines (185-254) en Athanasius (296-373) was van Aleksandrië afkomstig. Die oudste Nuwe Testamentiese tekste wat die basis vir vertalings soos die English Standard Version en 2020 Vertaling vorm, is in Aleksandrië gevind.5
Sekerlik het Apollos op een of ander manier tot die sukses van Aleksandrië se geskiedenis bygedra. Lukas beskryf hom as ’n uitstaande man; welsprekend en geleerd (v.24, Gk. logios).6 Sulke predikers boei hulle gehoor se aandag, sodat die waarheid tot hulle kan deurdring. Die mense sit vasgenael. Moderne voorbeelde hiervan is Rex Mathie, John MacArthur en R.C. Sproul. Mense luister aandagtig as hulle hulle monde oopmaak.
Duidelik is goeie inhoud alleen nie genoeg nie. Wat help dit jy preek die waarheid as jy dit vervelig doen en mense aan die slaap raak? Ek het dit eerstehands beleef (en myself bye tye daaraan skuldig gemaak!). Tydens ’n predikante konferensie was een van die sprekers eentonig en vervelig. Hy het vir ’n uur en twintig minute aangehou. Na die preek het ’n ou man gesê: ‘He just carries on regardless.’ Die prediker se inhoud was Bybels, maar sy eentonige aanbieding het die mense verveel. Hy kort ’n bietjie van Steve Lawson se medisyne: ‘If you want to bore people, bore them with Shakespeare; don’t bore them with the Bible!’
2. Hy was bevoeg (v.24)
Vir ’n Bybelse leraar is God se Woord sy brood en water; sy hele lewe (sien Psalm 119). Hy wy homself aan gebed en die studie van die Woord: “En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” (Hand. 6:10). “Esra het hom immers daarop toegelê om die Wet van die Here te bestudeer en dit te gehoorsaam en om die voorskrifte en reëls in Israel vir mense te leer.” (Esra 7:10). “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2Tim. 2:15, Ou Vertaling).
Goeie inhoud is belangriker as om goed te praat. Wat help ’n elegante styl as jy vals lering verkondig? Ek wil liewer soos Paulus of Moses stotter en die waarheid verkondig (Eks. 4:10, 2Kor. 10:10, 11:6) as wat ek soos T.D. Jakes elegant spreek en dwaling verkondig.7
3. Hy is opgelei (v.25)
Die Grieks vir onderrig ontvang (katēcheō) beteken letterlik Apollos het akkurate mondelinge instruksie ontvang.8 Iemand het hom in die Weg onderrig (v.25). Die Weg sinspeel op Jesus se woorde in Joh. 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe...” Die vroeë kerk het as die Weg bekend gestaan (9:2, 19:23, 24:22).
Elke goeie leraar moet soos Apollos opleiding in die Weg ontvang. Akademiese teologiese opleiding vol menslike teorieë doen skade. ’n Sekere jong leraar se opleiding was so. Toe sy Ou Testament dosent na ’n geruime tyd nie by die Bybel uitkom nie, toe vra hy: ‘Wanneer gaan ons die Bybelteks bestudeer?’ Na die derde week toe sê sy dosent: ‘Ons is nie ’n Bybelkollege nie, maar ’n teologiese kollege.’
Goeie teologiese opleiding vind plas as jy die Bybel leer tot dit by jou ore uitkom: “...be a good servant of Christ Jesus, being trained in the words of the faith and of the good doctrine that you have followed.” (1Tim. 4:6, esv, Gk. entrephō).
Party Christene dink enige teologiese opleiding is ongeestelik en sê die Gees alleen moet ons leer. Hierdie mense wil ander onderrig, maar wil by niemand leer nie. Van hulle sê Charles Spurgeon: ‘It seems odd, that certain men who talk so much of what the Holy Spirit reveals to themselves, should think so little of what he has revealed to others.’9 Blykbaar het hulle vergeet lering is een van die gawes van die Gees (1Kor. 12:28). As hulle dit onthou het, sou hulle nie skroom om by ander te leer nie.
4. Hy was Geesdriftig (v.25)
Deur gebed en oordenking blaas die Heilige Gees sy vuur in die leraar se gees aan. Daarom sê die Ou Vertaling Apollos was “vurig van gees” (v.25). Sy karakter en lering was ’n illustrasie van Rom. 12:11: “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here” (Ou Vertaling).
Elke leraar moet dit onthou: “Om hierdie rede herinner ek jou om die genadegawe van God, wat in jou is, deurdat ek jou die hande opgelê het, opnuut aan te vuur. God het ons tog nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:6-7).
Geesdriftige prediking beteken nie mens skreeu nie. Party leraars praat sag, maar die mense luister na hulle. Hoekom? Want hulle probeer niemand vermaak nie, maar is bloedernstig en gee vir mense ’n sin van God. J.I. Packer het dit van Martyn Lloyd-Jones se prediking gesê: ‘[I] never heard such preaching. [It came to me] with the force of electric shock, bringing to at least one of his listeners more of a sense of God than any other man’.10
5. Hy was noukeurig (v.25)
Apollos het “deeglike onderrig gegee oor die dinge wat op Jesus betrekking het” (v.25). Hiervoor moet ’n leraar deeglike eksegese (Skrifuitleg) doen en sy bevindinge met die res van die Bybel vergelyk. Die gemeente moet sy onderrig aan die Bybel meet en kyk of hy die waarheid praat (Hand. 17:11). Dit is misleidend en gevaarlik om te sê: ‘Die Here sê’ as dit die leraar of ander mense idees is. Daarom het Apollos nie sy eie woorde verkondig nie, maar Jesus s’n (vgl. 1Kor. 4:6). Ja, sy kennis was beperk: “...alhoewel hy net die doop van Johannes geken het.” (v.25). Maar hy was oop vir inspraak en bereid om by ander te leer (v.26). Hy het ’n leerbare gees gehad.
Die toepassing is maklik: elke leraar moet aanhou studeer. Ek praat nie van formele nagraadse studies nie, alhoewel dit kan help. Ek bedoel hy moet hom voortdurend in die Woord, gebed en goeie geestelike boeke verdiep. “As jy ophou, my seun, om na vermaning te luister, dan is dit net om te dwaal—weg van die woorde van kennis.” (Spr. 19:27). ‘As jy nie lees nie, gaan jy uitgepreek raak’ het een van my dosente gesê.’ Vandag weet ek wat hy bedoel.
6. Hy was manmoedig (v.26)
Apollos “het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek” (v.26). Dit was moontlik, omdat hy nie sy eie woorde gepreek het nie, maar God s’n. Om dieselfde rede preek John MacArthur met groot gesag. Hy verkondig nie sy eie woorde nie, maar lê hom daarop toe om die Bybel vers vir vers te preek.
Wie sy eie of ander mense se woorde preek, het geen gesag nie. Hy is soos die liberale professor wat ’n Christelike byeenkoms uit ’n gewone boek geopen het. Hy wou wys dat die Bybel geen spesiale gesag dra nie, maar dat dit soos enige ander boek is. Sy leë woorde sonder impak het die teendeel gewys.
7. Hy was leerbaar (v.26)
In die vroeë tot mid-90’s het my vriend ’n gemeente geplant. Hulle het ’n baie goeie prediker beroep. Na een preek toe vra die leraar my vriend of die boodskap behulpsaam was. My vriend het gesê: ‘Die preek was goed, maar jy moet waak dat jy nie arrogant voorkom nie.’ Hiervoor het die leraar hom vervolg. Die gemeente se leiers het my vriend ontbied om verskoning te vra. Al het my vriend aan elke versoek voldoen, het hulle hom daar uitgewerk.
Goeie inhoud sonder ’n leerbare gees deug nie. God vereis ’n leerbare gees soos Apollos s’n. Priscilla en Akwila het die waarheid oor Jesus se waterdoop en doping met die Heilige Gees by Paulus geleer (v.1-3, 18, Matt. 3:11, 28:19). Toe hulle die waarhede aan Apollos oordra, het hy dit in ’n nederige en sagmoedige gees ontvang (v.26).
Dit is alles goed en wel, maar is dit reg dat ’n vrou Apollos onderrig het? Die Bybel sê immers: “Laat die vroue in die gemeentes swyg, want hulle word nie toegelaat om te praat nie, maar moet hulleself onderwerp, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hulle eie mans daaroor uitvra, want dit is ’n skande vir ’n vrou om in die gemeente te praat.” (1Kor. 14:34-35). “’n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid. Ek laat nie toe dat ’n vrou onderrig gee, of oor ’n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. Adam is immers eerste geskep, daarna Eva. En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het ’n oortreder geword.” (1Tim. 2:11-14).
Het Priscilla God se skeppingsorde oortree. Glad nie. Sy Apollos nie in die openbaar reggehelp nie. Saam met haar man het hulle Apollos eenkant geneem en persoonlik met hom gepraat. Priscilla was nie op haar eie nie, maar saam met haar man. Haar optrede was heeltemal toelaatbaar.
Net so mag ’n vrou ander vroue en kinders onderrig (Tit. 2:4, Spr. 31:26). Sy kan selfs in die gemeente profeteer (1Kor. 11:5), aangesien profesie nie lering insluit nie, maar betrekking het op die toekoms en die openbaring van mense se harte.
8. Hy was prysenswaardig (v.27)
Iemand met die gawe van lering is nie die enigste een wat so dink nie. Ander mense bevestig dit: “Toe hy na Agaje wou afreis, het die broers hom aangemoedig en vir die dissipels geskryf om hom gasvry te ontvang.” (v.27). “Moenie die genadegawe in jou verwaarloos wat deur profesie aan jou geskenk is toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het nie.” (1Tim. 4:14).
Daar bestaan nie so iets soos ’n selfaangestelde leraar nie. Dit is onbybels. So iemand is soos die man wat ’n paar jaar gelede op SA idols gesing het. Die arme man kon nie sing om sy lewe te red nie. Blykbaar het sy ouers, vriende of iemand anders gesê hy kan sing. Die beoordelaars het nie so gedink nie. Selfs na hulle dit vir hom gesê het, het hy daarop aangedring hy kan sing.
Luister, as ’n paneel van professionele sangers vir jou sê jy kan nie sing nie, is die kanse klein dat jy kan. Net so is die gemeente se opinie belangrik as dit by die gawe van lering kom. Dit help nie jy dink jy kan preek, maar niemand daag op nie.
9. Hy was instrumenteel (v.27)
God het niemand se samewerking nodig om ’n sondaar te red nie. Hy werk alleen: “Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.” (Ef. 2:8-9). Nie eers geloof kom uit onsself nie—ons het “deur die genade gelowig geword” (v.27).
Met geestelike groei werk die gelowige saam met God: “werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.” (Fil. 2:12-13). God gee ons verskeie middele waardeur ons moet groei. Prediking is een van hulle. Daardeur was Apollos “van groot hulp vir diegene wat deur die genade gelowig geword het” (v.27). Die Bybel is God se instrument waardeur Hy ons laat groei: “Heilig hulle deur die waarheid—u woorde is die waarheid.” (Joh. 17:17). Wie die prediking van God se Woord afskeep, kan nie maksimaal groei nie.
10. Hy was Skrifgetrou (v.28)
Eenkeer het ek ’n predikant hoor sê: ‘Ek weier om negatief te preek. Ek preek nie sonde nie, maar die vergifnis van sonde.’
Dit is ’n vals onderskeid. Vir iemand om onder oortuiging te kom, moet ’n mens sonde preek. Dan eers kan ’n mens vergifnis van sonde preek. Apollos het dit verstaan. Sy prediking was nie net positief nie, maar negatief. Ons lees dat “hy die Jode kragtig in die openbaar teengespreek het, terwyl hy uit die Skrifte bewys het dat Jesus die Christus is.” (v.28).
Soos Apollos promoveer Paulus positiewe en negatiewe prediking: “Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. Want daar kom 'n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.” (2Tim. 4:2-4). Van ’n ouderling sê hy: “Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys.” (Tit. 1:9).
Om die heiliges toe te rus en hulle teen ketters te beskerm, benodig hulle negatiewe prediking sowel as positiewe prediking (v.27-28, Ef. 4:11-14).
11. Hy was Christo-sentries (v.28)
Van Apollos sê Lukas dat “hy uit die Skrifte bewys het dat Jesus die Christus is.” (v.28). ’n Bybelse leraar sê saam met Paulus: “Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1Kor. 2:2).
Soos Apollos wil ek uit die Ou Testament bewys dat Jesus die Christus is. Ek doen dit uit Jesaja 53. Jesaja sê die Messias is vermink (52:14). Hy was onaantreklik (53:2). Mense het Hom verwerp (53:3). Hy het vir ons sonde gesterf (53:4-6). Mense het gedink God straf Hom vir sy eie sonde, maar dit was vir ons s’n (53:4, 10). Mense het Hom geslaan en gewond (53:5). Hy was stil voor sy aanklaers (53:7). Hy het deur die ongeregtigheid van mense gesterf (53:8). In Hom was daar geen onreg nie (53:9). Hy is in ’n ryk man se graf begrawe (53:9). Hy lewe weer (53:10). Deur sy dood het Hy ’n groot nageslag verkry (53:10-11). Hy het saam met misdadigers gesterf (53:12). Hy het vir sy vervolgers gebid (53:12).
Jesus het al hierdie dinge vervul en onteenseglik bewys dat Hy die Messias is. Onthou dat Jesaja se woorde meer as 700 jaar v.C. geskryf is. As dit jou nie oortuig dat Jesus die Messias is en die Bybel waar is nie, sal niks jou oortuig nie. Die vraag is of jy in Hom en sy Woord glo. Indien nie is jy blind. Indien wel moet jy die daad by die woord voeg. Bewys dat jy God se Woord glo deur gereeld onder Bybelse lering te sit. Anders is jy soos iemand wat sê hy het sy vrou lief, maar nie tyd maak om na haar te luister nie.
1 Flavius Josephus, Complete Works: The Wars of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 12.1, p. 245, footnote.
2 Letter of Aristeas 9-10. Toegang verkry op 21 November 2023, https://www.sefaria.org/Letter_of_Aristeas.10?lang=bi. Sien ook https://www.internationalstandardbible.com/A/alexandria.html; https://www.worldhistory.org/alexandria/; https://www.latimes.com/archives/la-xpm-2004-may-09-fg-alexandria9-story.html
3 Septuaginta (Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft, 1935, 1979), LVI.
4 John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 7 en Eusebius of Caesarea, Church History, 2.16.1. Toegang verkry op 22 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/250102.htm
5 Toegang verkry op 22 November 2023, https://www.worldhistory.org/article/1974/new-testament-text-types/. Sien ook F.F. Bruce, The Books and the Parchments (London: Pickering & Inglis ltd., 1963 [1950]).
6 Toegang verkry op 22 November 2023, https://biblehub.com/greek/3052.htm en https://www.studylight.org/commentaries/eng/rwp/acts-18.html (A.T. Robertson, Robertson’s Word Pictures, Acts 18:24).
7 T.D. Jakes verwerp die drie-Eenheid. Hy glo aan modalisme, naamlik dat God slegs in drie vorme verskyn. Soms is Hy die Vader, soms is Hy die Seun, soms is Hy die Heilige Gees; Hy is nooit al drie gelyk nie. Toegang verkry op 19 Desember 2023, http://thepottershouse.org/explore/belief-statement/; http://www.equip.org/article/concerns-about-the-teachings-of-t-d-jakes/.
8 Toegang verkry op 22 November 2023, https://biblehub.com/greek/2727.htm
9 Michael Haykin, Rediscovering the Church Fathers (Wheaton, Illinois: Crossway, 2011), 14.
10 Toegang verkry op 23 November 2023, https://www.desiringgod.org/articles/god-set-his-sermons-on-fire