Handelinge 8:4-8
Tydens ’n Sondagskoolkamp in 1988 het ek ’n vals bekering gehad. ’n Onderwyser het die kinders gevra wie hulle lewe vir die Here wil gee. Toe ek en ’n paar ander kinders ons hande opsteek, het hy ons vorentoe genooi en vir ons gebid. Ek verbeel my ons het agter hom aan gebid, maar kan nie onthou nie.
Eers toe ek in die bediening kom, het ek geleer Charles Finney (1792-1875) het hierdie metode populêr gemaak. Finney het geglo God is nie soewerein nie, die sondaar se wil is. Die Heilige Gees is magteloos, totdat die sondaar besluit om Hom in te laat.1 Dit lyk nie so as ek na Paulus se bekering kyk nie (Handelinge 9). In sy brief aan die Romeine sê hy: “Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.” (Rom. 9:16).2 Hy kry dit by Jesus: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies” (Joh. 15:16).
Finney se teologie en metode van evangelisasie is onbybels. Nooit het Jesus, Petrus, Paulus of enige evangelis in die Bybel ’n altar call gemaak nie. Inteendeel, mense het die prediker onderbreek en gesê: “Wat moet ons doen, broers?” (2:37).
Natuurlik kan mense waarlik tot bekering kom deur ’n altar call. Maar die feit dat iets somtyds werk, beteken nie dit is reg nie. Buitendien produseer hierdie sisteem tien keer meer vals bekerings as ware bekerings. Mense dink hulle harte is nuut net omdat hulle voete beweeg het, of omdat hulle ’n sekere gebed opgesê het. Die Heilige Gees nie ’n altar call nodig om mense tot bekering te lei nie.
Hand. 8:4-8 beskryf hoe evangeliste die goeie nuus van Jesus Christus versprei: “Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. En Filippus het na ’n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die onrein geeste in baie mense het met ’n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers.”
In 7:51-53 het Stefanus die Joodse leiers as volg beskuldig: “Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!”
Hiervoor het Israel se leiers hom gestenig (7:54-60). Dit het ’n hewige vervolging ontketen (v.1-3). God het dit vir die goeie laat uitwerk. Saam met die vlugtelinge het die evangelie versprei: “Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig.” (v.4). Thomas Watson (1620-86) sê:
‘The blood of the martyrs has watered the church, and made it more fruitful. Exod i 12. “The more they afflicted them, the more they multiplied.” The church is like that plant which Gregory Nazianzen speaks of, it lives by dying, and grows by cutting.’3
Volgens v.4 het die evangelie deur gewone Christene versprei (vgl. 11:19). Tog roep en begaaf die Here ook evangeliste soos die verse hieronder aandui:
“En Filippus het na ’n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig.” (v.5).
“Nadat hulle [Petrus en Johannes] kragtig getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in talle Samaritaanse dorpe verkondig.” (v.25).
“Filippus, egter, is in Asdod gevind. En soos wat hy rondgereis het, het hy die evangelie in al die stede verkondig, totdat hy in Caesarea aangekom het.” (v.40).
“...die evangelis Filippus...” (21:8).
“Jesus sê toe vir hulle: ‘Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.’ ” (Mark. 1:17).
“En Hy het...ander as evangeliste...gegee” (Ef. 4:11).
Filippus het nie net vir Jode gepreek nie, maar vir Samaritane (v.5). Soos Paulus en Barnabas (11:20-24, 13:1-2), het hy God se hart vir die wêreld gehad (Joh. 3:16, 4:42). Daarom het hy die evangelie met die Samaritane en ’n Etiopiër gedeel (v.5, 27). Hy het die groot opdrag geken: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde... Gaan dan en maak dissipels van al die nasies...” (1:8, Matt. 28:19).
Elke getroue evangelis wil mense van Jesus vertel. Almal moet Hom ken en weet wie Hy is! “[Paulus] het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die Seun van God is.” (9:20). “So he [Paul] reasoned in the synagogue with the Jews and the devout persons, and in the marketplace every day with those who happened to be there.” (17:17, esv).
Die evangelis se passie om mense van Jesus te vertel, oorheers hom: “Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (20:24).
Een van my vriende is so. Hy kan nie vir meer as twee ure ’n preek voorberei nie, maar sê: ‘Daar is verlore mense buite. Ek moet hulle van Jesus vertel.’ Soos elke goeie evangelis is hy nie ’n droë geleerde nie; hy verkondig Jesus wat vir ons sondes gekruisig is en weer opgestaan het, en bied God se vergifnis vir almal wat hulle bekeer (v.5, 12, 35, Luk. 24:46-47, 1Kor. 2:2).
Die feit dat hy nie ’n dooie akademikus is nie, beteken nie hy is onkundig nie. As hy sy sout werd is, ken hy die Bybel goed. Hy het ’n stewige teologie. Toe die Etiopiër Filippus uit Jesaja vra, kon hy die verse uitlê en die profesie verduidelik (v.30-35).
Apollos was ’n evangelis van die kaliber (18:24-28) en Paulus was dit by uitstek. Sy teologie in Romeine 1-11 is van die hoogste gehalte. Tog is dit nie koue akademie nie. As ’n goeie evangelis is hy begeersterd, warm en prakties (Rom. 11:33-15:7). Sy aktiewe intellek, brandende ywer en gloeiende hart spruit uit ’n lewende verhouding met God. So was dit met Petrus en Johannes: “Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was.” (4:13). So was Filippus ook: vol van die Heilige Gees, geloof en van wysheid (v.29, 6:3, 5).
Die evangelis wat die Here ken, wil hê almal moet Hom ken: “...vir almal het ek alles geword, sodat ek ten minste sommige kan red.” (1Kor. 9:22). Hy’t God se hart “wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.” (1Tim. 2:4). Hy wil nie hê hulle moet net tot bekering kom nie, maar hulle moet God beter leer ken. Daarom onderrig hy nuwe bekeerlinge. Hy volg op en kyk hoe dit met hulle gaan. In gemeentes wat hy geplant het, stel hy ouderlinge aan. Hy volg die apostels se voorbeeld:
“Hierna het Barnabas na Tarsus vertrek om Saulus op te soek. Hy het hom opgespoor en hom na Antiogië gebring. Hulle was ’n hele jaar lank saam met die gemeente en het ’n aansienlike skare onderrig.” (11:25-26).
“’n Paar dae later het Paulus aan Barnabas gesê: ‘Kom ons gaan terug en besoek die broers in elke dorp waar ons die woord van die Here verkondig het, en gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’ (15:36).
“want ek het nie daarvan teruggedeins om die volle heilsplan van God aan julle te verkondig nie.” (20:27).
“maak dissipels van al die nasies, deur...hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt. 28:19-20).
“en het ons Timoteus gestuur, ons broer en medewerker van God vir die evangelie van Christus, om julle in julle geloof te versterk en te bemoedig” (1Tess. 3:2).
“Hiervoor het ek jou in Kreta laat agterbly: dat jy onafgehandelde sake kan afhandel, en in elke dorp ouderlinge kan aanstel, soos ek aan jou opgedra het.” (Tit. 1:5).
Wat my betref is dit sending. Sending is nie om die armes in Equitorale Afrika van gratis mediese sorg te voorsien nie. Teoloog, filosoof, musikant, filantroop, outeur en mediese dokter Albert Schweitzer (1875-1965) het dit gedoen. Hy was alles behalwe ’n sendeling, aangesien hy die Godheid en opstanding van Jesus ontken het.4
’n Sendeling is iemand wat die groot opdrag van Matt. 28:19-20 uitvoer: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Sosiale opheffing sonder die evangelie gee wel vir mense skoon water, maar hulle bly sonder die lewende water. Hulle het medisyne sonder die hemelse Geneesheer, ’n beter lewensgehalte sonder die ewige lewe. Evangeliste is nie weglaatbaar nie, maar is noodsaaklik vir die mens se ewige welstand.
Die ongelowige wêreld sien dit nie so nie. In baie lande vervolg hulle God se evangeliste (v.1-3). “Hulle sê vir God, ‘Bly weg van ons af! Om u paaie te ken, pas ons nie. Wie is die Almagtige nou eintlik dat ons Hom moet dien? En wat baat dit ons as ons biddend by Hom pleit?’ ” (Job 21:14-15).
Partykeer gebruik die Here wonders en tekens om hulle ore te spits: “Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die onrein geeste in baie mense het met ’n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees.” (v.6-7). Mense wat voorheen die evangelie geïgnoreer het, sit kiertsregop. Hulle wil hoor wat die evangelis te sê het.
In die kerkvader Quadratus (oorl. 129 n.C.) se tyd het evangeliste deur die Gees se krag wonders gedoen. Dit het daartoe gelei dat groot menigtes die Skepper van die heelal se godsdiens met die eerste aanhoor van evangelie omhels.’5
Volgens Irenaeus (130-202) het wonderwerke, genesings, profesieë en ander bonatuurlike gawes daagliks in sy tyd plaasgevind. Anders as Simon die Towenaar (v.18-19) en moderne prosperity predikers, het geen gelowige sy gawe misbruik om geld te maak nie. Hulle het Jesus sê woorde onthou: “Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. Julle het dit verniet gekry—verniet moet julle dit uitdeel.” (Matt. 10:8). Die vroeë kerk het niemand uitgebuit nie, maar hulle gawes tot voordeel van die nasies gebruik.6 Dit is tog waarvoor God die gawes gegee het: om mekaar op te bou en die evangelie vinniger onder die nasies te laat versprei.
’n Dokument uit 380 n.C. bevat Hippolytus (170-235) se lering oor die gawes. Volgens hom het die apostels bonatuurlike gawes soos wonderwerke, genesing, tale en profesie ontvang. Daarna het dié wat deur die apostels se getuienis gered is, dieselfde gawes ontvang. Hierdie tekens het baie ongelowiges oortuig waar argumente nie kon nie. Nie elke ongelowige is oortuig nie, maar dié wat waardige was om die ewige lewe te ontvang: “En as hulle dit waardig is, skenk julle vrede aan hulle; maar as hulle dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.” (Matt. 10:13).7
Iemand sal sê God se Woord en die evangelie is voldoende om mense tot bekering te bring; ons benodig nie wonderwerke nie. Hul sal die volgende verse aanhaal: “As hulle na Moses en die Profete [die Skrifte] nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.” (Luk. 16:31). “Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek.” (Rom. 1:16).
Ek hoor jou, maar Paulus sê ook: “Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie—deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum.” (Rom. 15:18-19, eie beklemtoning).
Soos die apostels en kerkvaders sê ek nie wondertekens red nie. Maar dit spits vir seker mense se aandag op Jesus en die evangelie. Dit het die Samaritane se aandag gekry (v.6-12). Toe Petrus en Johannes die verlamde man genees, het dit die Jode se aandag getrek (3:1-4:4). Dit het die goewerneur van Siprus laat regop sit. Hand. 13:6-12 vertel wat gebeur het:
“Hulle [Paulus en Barnabas] het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle ’n sekere Joodse towenaar aangetref het, ’n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor. Maar die towenaar Elimas—want so word die naam Barjesus vertaal—het hulle teengestaan, omdat hy die prokonsul van die geloof wou weghou. Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees, gesê: ‘O, kind van die Duiwel, vyand van alle geregtigheid, en vol allerlei listighede en elke soort bedrog—sal jy nie ophou om die reguit paaie van die Here te verdraai nie? Maar kyk, nou gaan die hand van die Here jou tref en jy sal ’n ruk lank blind wees en die son nie sien nie.’ Onmiddellik het 'n mistigheid en duisternis hom oorval en hy het rondgestrompel en mense gesoek om hom aan die hand te lei. Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy, verstom oor die leer van die Here, gelowig geword.”
Dit het nie net in Paulus se tyd gebeur nie. In die 1970’s is ’n sekere mev. Song van Kambodja se seun deur ’n dodelike adder gepik. Die pyn was ondraaglik. Die mense van die dorpie het hom na sy ma se huis toe geneem en die plaaslike toordokter ontbied. Toe mev. Song die man se beswerings en toorwoorde hoor, het sy hom uit haar huis uit gejaag en gesê: ‘Ons is Christene! Ons aanbid die lewende God!’ Die mense van die dorpie was woedend:
‘Wil jy hê jou seun moet doodgaan!’
‘As hy sterf, gaan hy na Christus toe en as hy gesond word, is dit God se genade.’
Hierop het mev. Song almal laat uitgaan. Deur die nag het sy langs die liggaam gekniel en tot die Here gebid. Nason se bene het begin swart word en sy liggaam het gebewe. Sy ma het aangehou bid.
Toe dit dag word, was die dorpie se mense buite die huis. Hulle het vroeg opgestaan om Nason se graf te grou. Mev. Song het by die huis se deur uitgekom en geglimlag. Nason is volkome genees. Die mense kon hulle oë nie glo toe hulle hom normaal in die huis sien rondloop nie. Skieilik wou hulle meer van mev. Song se God weet. Toe dit aand word, het sy hulle in haar huis verwelkom en die Bybel vir hulle gelees.8
’n Langtermyn sendeling in China het ons van sy besoek aan Tibet vertel. ’n Groep sendelinge het ’n dorpie in die Himalayas besoek. Hulle het die evangelie met die mense gedeel. Voordat hulle hulle reis voortgesit het, toe sê die dorpie se hoofman: ‘Sal julle asseblief vir my vrou bid; sy word eenvoudig nie gesond nie? Sy was al by baie dokters, maar niemand kan haar help nie.’
Die sendelinge het vir die vrou gebid en daarna vertrek. Intussen is die vrou ten volle genees. Toe die sendelinge na ’n geruime tyd weer terugkom, toe sê die hoofman: ‘Ek wil ’n Christen word.’ ‘Hoekom wil jy ’n Christen word?’ wou die sendelinge weet. ‘Julle God is baie kragtig. Hy het my vrou gesond gemaak. Vertel my meer van julle God.’
Party mens soek tekens, maar ignoreer Jesus op wie die tekens dui. So het Simon Filippus se wondertekens beskou (v.13). Hy het geen belang in die Here gehad nie (v.18-23).
Vandag sien ons dit op TV: massas mense stroom agter wonderwerke aan. Van nederigheid, sondeberou, bekering, heiligmaking, die ewige lewe, die hemel en die hel weet hulle niks. Hierin het die Here nie ’n behae nie. Die Bybel sê: Toe het sommige van die skrifkenners en Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag ’n teken van u sien.” Hy het hulle geantwoord: “’n Bose en owerspelige geslag vra ’n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie.” (Matt. 12:37-38).
Die fout lê nie by wonderwerke nie, maar by mense se harte. Daarom is dit glad nie verkeerd as ’n Godvresende gemeente 4:29-30 bid nie: “En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.”
Ons kort dit veral in onbereikte gebiede. Rou heidene moet Jesus se oorwinning en krag oor hulle vals gode sien (v.9-12, Kol. 2:15). ’n Storie oor ’n groep sendelinge op ’n eiland aan die suidkus van China illustreer dit. Ek haal die storie in sy geheel aan:
Op 9 Januarie het Broer Wu, ’n jong bekeerling, en ’n paar ander sendelinge met ’n groep toehoorders gesels in een deel van die hoofdorp. Op een stadium het Broer Wu vir hulle gevra: ‘Hoekom wil nie een van julle glo nie?’ Hulle antwoord was onmiddellik: ‘Ons het ’n god; een god en hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Ta-wang is ’n effektiewe god.’ ‘Hoe weet julle dat julle hom kan vertrou?’ het Wu gevra. Hy het uitgevind dat daar elke jaar vir die afgelope 286 jaar, ’n dag in Januarie voorspel is waarop dié god deur sy volgelinge geëer is. Elke jaar was die aangewese dag perfek: sonder reën of selfs ’n wolkie.
Toe vra Wu: ‘Wanneer is die prosessie vanjaar?’ ‘Dit is vasgestel op die 11de Januarie om 08h00,’ was hulle antwoord. ‘Dan,’ het Wu ewe voortvarend gesê, ‘verseker ek julle dat dit sekerlik vanjaar op die 11de Januarie sal reën.’ ‘Genoeg—niks geprekery meer nie! As dit op die 11de reën, is julle God God!’ het die toehoorders geskree.
Op daardie tydstip was Watchman Nee9 in ’n ander deel van die dorpie. Toe hy dus hoor wat gebeur het, het hy geweet die saak was ernstig. Die nuus het natuurlik soos ’n veldbrand deur die dorp versprei en kort voor lank het meer as 20,000 mense geweet wat gebeur het.
Watchman Nee se volgende vraag was: ‘Wat staan ons te doen?’ Die antwoord was natuurlik vir hom duidelik. Hulle het onmiddellik opghou met preek en begin bid. Hulle het God gevra om hulle te vergewe as hulle oortree het. Hulle was doodernstig.
Watchman Nee het baie vrae gehad: ‘Wat het ons gedoen? Het ons ’n ernstige fout gemaak, of durf ons God vra vir ’n wonderwerk?’ Nee het gesê dat ’n mens dit kon bekostig om in ’n geskil met God betrokke te raak as jou geloof in ooreenstemming was, andersins nie. Hulle het geweet dat dit ’n einde van die Evangelie-getuienis op die eiland sou beteken as God nie hulle gebede sou hoor en beantwoord nie—en Ta-wang sou dan vir altyd oppermagtig heers.
Die manne se ernstige, opregte gebed was: ‘Wat moet ons doen? Moet ons nóú weggaan?’ Tot op daardie stadium was hulle bang om te bid vir reën. Maar toe het die woord Nee soos ’n weerligstraal getref: ‘Waar is die God van Elia?’ Dit het met soveel duidelikheid en krag gekom, dat hy gewéét het dit kom van God af. Hy het met vertroue aangekondig: ‘Die Here sal reën gee op die 11de!’
Die sewe mans het God saam gedank en vol lof uitgegaan—en dit aan almal vertel. Daardie aand het die bossiedokter hulle verseker dat die vissermanne van daardie dorpies uit lange ervaring twee tot drie dae vooruit behoort te weet wanneer dit nie sal reën nie. Dit het die sewe mans ontstel.
Tydens hulle aandgebed het hulle almal gebid dat dit moes reën—nou! God het hulle berispe: ‘Waar is die God van Elia?’ Toe het hulle geweet dat hulle moes rus in die voltooide oorwinning van Christus. Hulle het weereens hulle sondes bely. ‘Here, ons het nie reën nodig tot die oggend van die 11de nie,’ het hulle gesê en toe gaan slaap.
Die 10de Januarie is hulle na die naburige eiland toe vir ’n dag se prediking. God was genadig en drie gesinne het hulle na Christus gewend, Hom openlik bely as Here en hulle afgode verbrand. Die manne is moeg, maar verheug bed toe.
Warm sonstrale het Nee die volgende oggend wakker gemaak… Dít was nie reën nie, en dit was reeds ná 07h00! Hy het neergekniel en gebid: ‘Asseblief, Here, gee vir ons reën!’ Die woorde: ‘Waar is die God van Elia?’ het weereens in sy ore weerklink. Hy het die trappe in nederige stilte voor God afgegaan. Agt manne het aangesit vir ontbyt (hulle gasheer ingesluit)—almal doodstil. Daar was nie ’n wolkie te sien nie, maar hulle het geweet God is betroubaar.
Toe hulle buig om die seën te vra voor ontbyt, het Nee gesê: ‘Ek dink dit is tyd. Dit moet nou reën. Ons kan die Here daaraan herinner.’ En hulle het. Die antwoord was sonder enige teregwysing: ‘Waar is die God van Elia?’ Voordat hulle ‘Amen’ kon sê, het hulle die reën op die dakteëls hoor drup. Dit was ’n stewige bui en hulle het God daarvoor gedank en gevra vir nóg harder reën. Die reën in emmervol neergesak. Teen die tyd dat hulle hul ontbyt klaargemaak het, was die straat reeds vol water—die drie trappe by die huis se deur was onder water.
Reeds toe die eerste reëndruppel geval het, het van die jongmense op die eiland begin sê: ‘Daar is God! Daar is geen Ta-wang meer nie! Die reën hou hom weg.’ Ta-wang is op ’n stoel uitgedra—om die reën te stop! Toe begin dit nóg harder reën. Drie van die draers het gestruikel en tien tot twaalf treë verder geval. Die stoel, en Ta-wang saam daarmee, het geval. Die afgod se kaak en linkerarm het afgebreek.
Die manne was egter vasbeslote, en het Ta-wang op een of ander manier gly-gly halfpad deur die dorp gesleep, maar toe het die vloed die oorhand gekry. Van die oudstes van die dorp, tussen 60 en 80 jaar oud, het geval en was in ernstige moeilikheid. Die prosessie is gestop en die afgod is in ’n huis ingeneem.
Daar is weer ’n voorspelling gemaak: ‘Vandag was die verkeerde dag. Die fees moet op die 14de gehou word, met die prosessie om 18h00.’ Watchman Nee en die manne by hom was onmiddellik seker dat God reën sou gee op die 14de. Hulle het gaan bid en God gevra vir reën om 18h00 op die 14de Januarie. Hulle het ook gevra vir vier sonnige dae tot dan.
Daardie middag, nadat hulle gebid het, het die lug oopgetrek. Die manne het nou ’n goeie geleentheid gehad om die Evangelie te bring. Die Here het gedurende die drie dae tussen die 11de en die 14de meer as dertig mense in die dorp en op die eiland gered.
Die 14de Januarie was weereens ’n pragtige dag. Hulle het goeie byeenkomste gehad. Teen die aand het die manne weer bymekaargekom. Teen die vasgestelde uur het hulle die saak voor God gebring. Sy antwoord was onmiddellik met strome reën en vloede soos voorheen. Die God van Elia het Satan se mag in die afgod vir ewig gebreek! Ta-wang was nie meer ’n effektiewe god nie. Die redding van siele het gevolg.10
Waar mense hulle afgode en sonde versaak, en Jesus as die enigste Verlosser en Here bely, moet hulle gedoop word en by die gemeente aansluit (v.36-38, Hand. 2:38, 41). Het jy dit al gedoen? Het jy jou al van jou afgode bekeer?
Afgodery gaan oor meer as die aanbidding van beelde. ’n Afgod is enigiets wat jy meer as die Here begeer. Kol. 3:5 praat van “gierigheid, wat afgodediens is.”
Waaroor raak jy depressief, angstig of kwaad? Waarheen vlug jy in ’n krisis? Wat oorheers jou drome, ideale, gesprekke, tyd en begorting; jou hele lewe? Dit is jou afgod. Dit beheer jou hart (Eseg. 14:3). Demone sit agter hierdie afgode; hulle hou jou daaraan verslaaf (1Kor. 10:20).
Jy benodig ’n evangelis wat jou van Jesus vertel; iemand soos John Bunyan se Evangelis in The Pilgrim’s Progress. Die boek gaan oor ’n man (Christen) wat in die Stad van Verwoesting bly. Iewers ontdek hy ’n boek wat sy sonde uitwys. Dit plaas ’n geweldige sondelas op sy skouers; ’n las waarvan hy nie kan ontslae raak nie. Dit maak hom neerslagtig. Toe hy nie langer kan uithou nie, toe ontmoet Evangelis hom. ‘Hoe kan ek van hierdie sondelas ontslae raak?’ wou hy by Evangelis weet. Evangelis het hom na ’n klein hekkie toe gewys. ‘As jy daar kom, sal iemand vir jou sê wat om te doen.’ So vinnig wat hy kon, het Christen daarheen gevlug. So het sy reis na die hemelse stad begin.11
Ek is nie ’n evangelis soos hierdie man nie, nogtans wil ek 2Tim. 4:5 uitvoer: “doen die werk van ’n evangelis” (Ou Vertaling). Ek doen dit sommer dadelik: Bekeer jou en vlug van die komende toorn (Matt. 3:7)! Glo dat Jesus jou van God se toorn kan verlos (Rom. 8:1, 1Tess. 1:10). Moenie vir ’n oomblik dink jy kan jou afgod én die Here dien nie; dit sal nie werk nie: “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matt. 6:24).
“...kies julle dan vandag wie julle wil dien... Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” (Jos. 24:15).
1 Iain H. Murray, Revival & Revivalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1994), 245-6, 250.
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 126-7.
4 Toegang verkry op 18 November 2023, https://www.nobelprize.org/prizes/peace/1952/schweitzer/biographical/ en https://www.equip.org/articles/albert-schweitzer/
5 Eusebius of Caesarea (260-339), Church History, 3.37.3. Toegang verkry op 18 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/250103.htm
6 Irenaeus, Against Heresies, 3.32.4-5. Toegang verkry op 18 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/0103232.htm
7 Apostolic Constitutions, 8.1.1. Toegang verkry op 18 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/07158.htm
8 Don Cormack, Killing Fields, Living Fields (Grand Rapids, Michigan: Monarch Books, 1997), 200-1.
9 Nie alles wat Watchmen Nee glo, is Bybels-behoudend nie.
10 Watchman Nee, Sit, Walk, Stand: Fourth and Revised Edition (Eastbourne: Kingsway Publications, 1962), 57-62. Vertaal deur Esta Jefferies.
11 John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Fearn, Ross-Shire: Christian Focus Publications, 2005), 16-8.