Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 November 2023

Die gawes van die Gees: Apostels

Verskeie Tekste

Op ’n strand in Victoria, Australië is daar twaalf losstaande rotspilare. Dit word die twaalf apostels genoem. Op Campsbaai naby Kaapstad is daar twaalf apostels in die berg wat oor die see kyk.

Baie mense weet van Jesus se twaalf apostels, maar eintlik is daar in die Nuwe Testament meer as twaalf apostels. Wat leer die Bybel ons oor die gawe van apostelskap?

 

1. Apostels van Christus

In Johannes 1 het Jesus sy eerste leerlinge of dissipels geroep. In Markus 1 het hy Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus amptelik as predikers of vissers van mense geroep. Mettertyd het Jesus baie dissipels geroep.

Een nag het Hy bo-op ’n berg gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Toe dit dag word, toe roep Hy sy dissipels na Hom toe. Uit hulle het Hy twaalf gekies en hulle apostels genoem (Luk. 6:12-16). Hulle was sy eerste getuies aan die wêreld. Deur die verkondiging van Jesus het hulle die fondasie van die kerk gelê: “Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos ’n bedrewe bouer ’n fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie—dit is Jesus Christus.” (1Kor. 3:10-11).

Dit is ook wat Matt. 16:15-18 beteken: “Hy sê toe vir hulle: ‘Maar julle, wie sê julle is Ek?’ Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’ Jesus antwoord hom: ‘Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie.”

Jesus bou almal wat Hom bely op die oorspronklike fondasie van die apostels se belydenis: “gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen.” (Ef. 2:20). “Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: ‘Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer, ’n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.’ ” (1Pet. 2:4-6).

Niemand kan die fondasie herlê of die leer van die apostels wysig nie: “Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: ‘As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is,

aan hom toevoeg. En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad

waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.’ ” (Op. 22:18-19).

Daarom het Ignatius van Antiochië (35-107) gesê hy is nie ’n geïnspireerde apostel nie: ‘I do not, as Peter and Paul, issue commandments unto you. They were apostles; I am but a condemned man: they were free, while I am, even until now, a servant.’1

In Handelinge 1 lê Petrus die vereistes vir ’n apostel neer:

21‘Daarom moet een van daardie manne wat die hele tyd saam met ons onderweg was terwyl die Here Jesus onder ons gekom en gegaan het, 22 van die begin af, van die doop van Johannes af, tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is, saam met ons as ’n getuie van sy opstanding optree.’ 23 Hulle het toe twee voorgestel: Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias. 24 Daarop het hulle soos volg gebid: ‘U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het”. 

Vers 21 sê ’n apostel moet ’n man wees. Van die begin tot die einde van Jesus se bediening (drie en ’n half jaar) moes hy deur Hom onderrig wees (v.22). Hy moes ’n ooggetuie van die opgestane Jesus wees (v.22). Jesus self moes die apostel aanstel (v.24).

Met verwysing hierna het iemand eenkeer by ’n Bybelstudie gesê: ‘Een van my dosente op Bybelskool het gesê Petrus was oorhaastig. As hy op die Here gewag het sou hy nie vir Mattias aanstel nie, maar gewag het tot Hy vir Paulus aanstel.’

Was die dosent reg? Nee, want in v.24 bid Petrus en die res: “U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het” (eie beklemtoning). In v.26 lees ons: “Toe het hulle geloot, en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg.”

Die lot verwys nie na geluk nie, maar na ’n beslissing van die Here: “Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.” (Spr. 16:33). “Therefore Saul said, ‘O Lord God of Israel, why have you not answered your servant this day? If this guilt is in me or in Jonathan my son, O Lord, God of Israel, give Urim. But if this guilt is in your people Israel, give Thummim.’ And Jonathan and Saul were taken, but the people escaped. Then Saul said, ‘Cast the lot between me and my son Jonathan.’ And Jonathan was taken.” (1Sam. 14:41-42, ESV). Net so was Mattias se aanstelling nie die besluit van mense nie, maar Jesus self het hom gekies.

Dit is ook waar van Paulus. Alhoewel Jesus hom later as die res aangestel het, voldoen hy aan al die vereistes van ’n apostel: “Paulus, ’n apostel—nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het” (Gal. 1:1). “Is ek nie ’n apostel nie? Het ek dan nie Jesus, ons Here, gesien nie?” (1Kor. 9:1). “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie ’n menslike saak is nie; want ek het dit nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur ’n openbaring van Jesus Christus.” (Gal. 1:11-12).

Blykbaar het Jesus menigmale aan hom verskyn: “hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn.” (Hand. 26:16). Gal. 1:17-18 dui aan dat hy vir drie jaar in die woestyn was. Wat het hy daar gedoen? Is dit moontlik dat Jesus hom vir drie jaar geleer het? “Ook het ek nie na Jerusalem opgegaan na hulle wat vóór my apostels was nie, maar ek het wel na Arabië gegaan, en toe weer na Damaskus teruggekeer. Eers later, ná drie jaar, het ek na Jerusalem opgegaan...”

Buiten vir Paulus en die twaalf was Jesus se halfbroer Jakobus ook ’n apostel. Volgens 1Kor. 15:7 het Jesus na die opstanding aan hom verskyn. Gal. 1:19, 2:9 noem hom ’n apostel en leier of pilaar van die kerk.

Hand. 14:4, 14 noem vir Barnabas ’n apostel. Silas was ’n profeet en vername leier van die vroeë kerk (Hand. 15:22, 32, 40, 1Pet. 5:12). 1Tess. 1:1, 2:7 laat dit klink of hy ook ’n apostel was: “Paulus, Silvanus en Timoteus, aan die gemeente van die Thessalonisense... alhoewel ons as apostels van Christus eise kon stel.” Ons weet Timoteus was nie ’n apostel nie. Beteken die meervoud (apostels) dan Silas was ’n apostel? Miskien. Maar dit is waar dit stop. Daar is nie ander geïnspireerde apostels nie.

Party mense beskou hulleself as apostels op die vlak van die Nuwe Testamentiese apostels. Sulke mense is vals apostels. Paulus waarsku: “Ek reken inderdaad dat ek in geen opsig terugstaan by die sogenaamde super-apostels nie... Want sulke mense is vals apostels, slinkse werkers, terwyl hulle hulleself vermom as apostels van Christus. En geen wonder nie; want selfs Satan vermom hom as ’n engel van die lig!... ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. Dit wat ’n apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade.” (2Kor. 11:5, 13-14, 12:11-12).

Soos die gemeente in Op. 2:2 moet ons die vals apostels uitken: “Daarom het jy daardie mense wat sê dat hulle apostels is, maar nie is nie, getoets, en hulle as leuenaars uitgewys.” Daar is baie van hulle. Kathryn Krick sê ’n profeet van Tanzanië (GeorDavié) het haar as ’n apostel uitgewys. Die hoofapostel van die Ou- en Nuwe Aposteliese Kerk kies sy opvolger, asook die laer apostels. Volgens die Mormone se Doctrine & Covenants (18:37) het Oliver Cowdery en David Whitmer die twaalf apostels herstel. Die Mormone se President verkies ’n kworum van twaalf apostels en die kworum kies hom (vir my klink dit na ’n deurmekaar spul). In die New Apostolic Reformation stel die apostels hulleself aan. Van tyd tot tyd kies die Rooms-Katoliekekerk se Kollege van Kardinale ’n nuwe Pous as die apostoliese opvolger van Petrus.

Volgens die Nuwe Testament is al hierdie mense vals apostels.

 

2. Apostels van die kerk

In 2Kor. 8:23 lees ons van apostels van die kerk: “Wat ons broers betref, hulle is gesante (Gk. apostoloi) van die gemeentes, ’n eer vir Christus.” Fil. 2:25 noem Epafroditus ’n apostel: “Ek ag dit noodsaaklik om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant (Gk. apostolos), my helper in nood, na julle te stuur.”

Laasgenoemde apostels is nie geïnspireerde Bybelskrywers soos die apostels van Christus nie. Hulle is apostels in die sin dat Jesus hulle deur die kerk met ’n spesiale boodskap op ’n missie na die onbereiktes toe stuur.2 Ons kan sê dat hulle ’n apostoliese of apostel-tipe bediening uitoefen. Vat Clemens van Rome (c. 35-99) as ’n voorbeeld. Hy het die apostels persoonlik geken. Tog onderskei hy homself van hulle.3 Nogtans noem Clemens van Alexandrië (150-c. 215) hom ’n apostel.4

Clemens van Rome was nie ’n geïnspireerde apostel soos die twaalf nie, maar ’n baanbreker-sendeling en apostel van die kerk. Paulus noem hom ’n medewerker: “Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan.” (Fil. 4:3). Irenaeus identifiseer hierdie Clemens as die leraar of biskop van Rome.5

Nick Needham beskryf Howell Davies (1717-70) van Wallis as ’n apostel van die kerk: ‘...his open-air evangelism now met with phenomenal success, gaining him the nickname “the apostle of Pembrokeshire”... Davies’ preaching was marked by tremendous emotional force, especially the attractive sweetness of his proclamation of God’s saving love in Christ, which so moved his hearers that many fainted away.’ (eie beklemtoning).6

Die geskiedenis beskryf talle baanbreker-sendelinge as apostels. Columba (521-97) van Ierland is die apostel na Skotland, die Hooglande of die Pikte (Eng. Picts).7 Weens sy sukses na die Skotse Hooglande het Robert Bruce (1554-1631) vir hom die naam, ‘pioneer apostle of the north’ gewen.8 John Eliot (1604-90) staan as die apostel na die Noord-Amerikaanse Rooihuide bekend.9 Robert Moffat (1795-1883) is die apostel na die Bechuana stam van Suider-Afrika.10 John Paton (1824-1907) ken ons as die apostel na die New Hebrides eilande.11 My vriend Seth Meyers (1978-) sien homself as ‘the apostle to the Tsonga people of South Africa’.

So tref die Bybel en die geskiedenis ’n duidelike onderskeid tussen die geïnspireerde apostels van die Nuwe Testament en die pioneer sendeling-apostels van die kerk. Laasgenoemde verkondig nie hulle eie lering nie, maar die leer van die eerste apostels: “Hulle het bly volhard in die leer van die apostels... Maar selfs al sou ons, of ’n engel uit die hemel, ’n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees!” (Hand. 2:42, Gal. 1:8-9).

Beide die apostels van Christus en die kerk verkondig nie hulleself nie, maar hulle “let noukeurig op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis” (Heb. 3:1). Hom het God as die groot Apostel en Sendeling uit die hemel gestuur om mense uit elke stam, taal, volk en nasie te red en by Homself te vergader:

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:16).

“En Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” (Joh. 10:15-16).

“En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” (Joh. 12:32).

“Toe sing hulle ’n nuwe lied: ‘U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie.” (Op. 5:9).

“Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ’n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. Hulle het met ’n harde stem uitgeroep: ‘Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!’... Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam.” (Op. 7:9-10, 14).

Na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, het Hy die apostels op ’n missie na die wêreld toe gestuur (Hand. 1:4-5, 8, 13:2-3). Vandag strek die evangelie oor die hele aarde. Tog bly baie mense nog onbereik, nie alleen oorsee nie, maar in jou familie, woonbuurt en land. Ons missie is dieselfde as die eerste apostels s’n: bid vir die uitbreiding van God se koninkryk en maak dissipels van al die nasies (Matt. 6:10, 28:19-20).

Dit was Succat—beter bekend as Patrick (385-461)—se missie onder die Iere. Hy is in Brittanje gebore en het die evangelie by sy ouers geleer. Toe hy 16 was, het hy en sy sussies eendag op die strand gespeel. ’n Groep seerowers het hulle ontvoer en Ierland toe gevat. Patrick moes varke oppas. Hy het die evangelie wat sy ouers hom geleer het onthou, die Here aangeroep en tot bekering gekom. ’n Tyd later het hy ontsnap en na sy tuisland toe teruggekeer. ’n Paar dekades later het hy gedroom hoe ’n man van Ierland hom roep: ‘Kom wandel weer tussen ons en vertel ons die goeie nuus van jou God.’

So het die veertigjarige Patrick na Ierland toe teruggekeer. Die plaaslike heidene (Druids) het hom sterk teengestaan. Op ’n dag het hulle hulle gode aangeroep om ’n digte mis te laat toesak. Patrick het openlik teen hulle gebid en die Here gevra om die son te laat skyn. Toe die Here Patrick se gebed verhoor, het die koning sy ruiters beveel om op Patrick af te pyl en hom gevange te neem. Toe Patrick hardop bid dat die Here sy vyande neervel, het die ruiters dood neergeslaan. Hierop het Patrick die koning bestraf en gesê: ‘Erken dat Christus die ware God is! Jou gode kon Hom nie teenstaan nie.’ Die koning en al die mense saam met hom het Christus as die enigste en ware God erken.

Oor die bestek van ’n paar dekades het Patrick 300 gemeenes geplant en 120 000 mense gedoop.12 So het hy die naam, die apostel na die Iere gewen.13

Soos Patrick, die ander baanbreker-sendelinge en Nuwe Testamentiese apostels pleit ek as jy ore het: ongeredde, skuldbelaaide, ongehoorsame en afgedwaalde—laat staan jou sonde en word deur Jesus met God versoen!

“Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ’n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.” (2Kor. 5:20-21).


1  Ignatius of Antioch, Epistle to the Romans, ch. 4. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0107.htm

2  https://biblehub.com/greek/652.htm en Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 33.194, 53.74, pp. 410, 542.

3  Clement of Rome, Letter to the Corinthians, ch. 42. Toegang verkry op 4 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/1010.htm

4  Clement of Alexandria, The Stromata, 4.17. Toegang verkry op 4 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/02104.htm

5  Irenaeus, Against Heresies, 3.3.3. Toegang verkry op 4 November 2023, https://www.newadvent.org/fathers/0103303.htm

6  Nick Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Volume 5 (Fearn, Ross-shire: Christian Focus, 2023), 220, cf. 130.

7  F.A. Forbes, The Life of St Columba: Apostle of Scotland (Potosti, WI: St Athanasius Press, 2014); Adomnán of Iona, Life of St Columba (London: Penguin Books, 1995); https://www.monergism.com/thethreshold/sdg/howie/The%20Scots%20Worthies%20-%20John%20Howie.pdf (Introduction).

8  Iain H. Murray, A Scottish Christian Heritage (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2006), 55, cf. 120 note 6, 121 note 32, 237 note 1.

9  Ola Elizabeth Winslow, John Eliot: Apostle to the Indians (Boston: Houghton Mifflin Company, 1968); https://www.bu.edu/missiology/missionary-biography/e-f/eliot-john-1604-1690/; https://www.americanheritage.com/apostle-indians#1

10  Robert Moffat, A Life’s Labours In South Africa: The Story Of The Life-work Of Robert Moffat, Apostle To The Bechuana Tribes (London: John Snow & Co., Paternoster Row., 1871).

11  Ralph Bell, John G. Paton: Apostle to the New Hebrides (Butler: Highley Press, 1952).

12  J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England: Vol. 1 (London: The Banner of Truth Trust, 1962 [1853]), 26-9. Peter Hammond, Victorious Christians Who Changed the World (Cape Town: The Reformation Society, 2011), 7-13.

13  James Henthorn Todd, St. Patrick: Apostle of Ireland (Dublin: Hodges, Smith & Co., 1864); https://www.newadvent.org/cathen/11554a.htm; https://www.britannica.com/biography/Saint-Patrick; https://www.historyireland.com/st-patrick-the-legend-and-the-bishop/

Kategorieë