Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 April 2023

Die donker kant van beproewing

Jakobus 1:12-15

Het jy al die prent van die haas en die eend gesien? Party mense sien ’n haas en ander ’n eend. Dit hang af hoe jy kyk. Net so kan dieselfde situasie ’n beproewing en ’n versoeking wees. Die Grieks vir beproewing en versoeking is dieselfde woord (v.2, 14, peirasmos, peirazō). Uit God se perspektief is dit ’n beproewing of ’n toets. Satan bedoel dit as ’n versoeking. Vir ’n gelowige is die versoeking self ’n beproewing. Heb. 2:18 sê Jesus het gely toe Hy versoek is. Elke gelowige verstaan die bloedige stryd as die duiwel jou versoek. Dit is erg as versoeking soos ’n Australiese bosbrand binne jou woed en wil uitbreek. Jakobus beskryf hierdie stryd en leer ons om Bybels daaroor te dink.

 

1. Langdurige beproewing (v.12)

Johannes 5 vertel ons van ’n man wat 38 jaar lank verlam was. Joni Eareckson Tada is al vir 56 jaar verlam. Ongeag van die detail van jou beproewing; hoe lank die beproewing duur is op sigself ’n beproewing. Jy geseënd en gelukkig as jy daardeur vasstaan en volhard; as jy jou onder God se hand verneder, die situasie deur gebed vir Hom gee en op Hom wag (v.12, Gk. makarios, 1Pet. 5:6-7). Dit wys jy is geestelik volwasse. Die onvolwasse Christen raak histeries en kyk angstig rond. As dinge goed gaan, lyk hy sterk. Beproewing haal egter sy grootmens masker af en wys hy is ’n geestelike baba: “If you faint in the day of adversity, your strength is small.” (Spr. 24:10, ESV). Die Here laat juis beproewing toe dat jy kan leer om te volhard en sodat jy goeie karakter kweek, groei en geseën word (v.2-4, 12). Jou beproewing is ’n toets soos mens ’n muntstuk of edelmetale vir egtheid toets (v.12, Gk. dokimos, Spr. 17:3, 1Pet. 1:6-7).

Van die begin af het God die mens so getoets: “Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: ‘Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.’ ” (Gen. 2:15-17).1 Die boom van die kennis van goed en kwaad sou nie vir altyd in die tuin wees nie—dit was ’n toets. Adam moes die toets slaag, dan sou God die boom wegvat en ons Adam se geregtigheid erf. Ongelukkig het die teenoorgestelde gebeur: hy het die toets gedruip en nou sit ons met die nare gevolge. Deur Adam se sonde het sy hele nageslag sondaars geword wat die dood verdien: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie ’n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is ’n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom.” (Rom. 5:12-14).

Millennia na Adam se mislukking het Jesus as die laaste Adam aarde toe gekom. Hy het nie gesondig nie, maar die toets deurstaan (Matt. 4:1-11, Fil. 2:8, 1Pet. 2:22). Deur geloof erf ons Christus se geregtigheid en sy lewe (Rom. 5:15-19, 1Kor. 15:45-49). Ons verdien nie die ewige lewe omdat ons die versoeking weerstaan nie. Jesus het dit vir ons verdien. Ons volharding wys eenvoudig ons geloof en liefde vir God is eg: “Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet.” (v.12). Die vals gelowige neem die Here met ywer aan, maar as hy vir die evangelie versoek of beproef word, val hy weg (Matt. 13:21). Die ware gelowige staan vas en ontvang die kroon van die lewe (v.12, Op. 2:10).

Voel dit vir jou jy kan nie meer nie en wil opgee? Moenie opgee nie. Dink aan die beloning wat wag (v.12). Vra jouself of jy die Here liefhet. Indien wel, sal jy volhard (v.12). Dink aan jou bittere spyt op die oordeelsdag as jy opgee en die sonde kies.

 

2. Sataniese versoeking (v.13)

Wie God liefhet (v.12), blameer Hom nie vir versoeking nie: “Laat niemand wat versoek word, sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie” (v.13). Moenie sê: ‘Ek kan nie help ek is gay of transgender nie; die Here het my so gemaak... Ek is kwaad vir die Here; hoekom het Hy nie gekeer dat ek sondig nie?... Hoekom sit die Here my in ’n situasie waar Hy weet ek sal sonde doen?... Ek raak geïrriteerd en wil die mure uitklim, want die Here het my ’n moeilike lewensmaat gegee (Gen. 3:12)... My rooi hare en Franse voorsate is die oorsaak van my kort humeur.’ Jy lieg. God is nie die outeur van sonde nie. Sonde het sy oorsprong by Satan (1Tim. 3:6, 1Joh. 3:8). Toe die duiwel Adam en Eva versoek, het sonde in die wêreld ingekom (Gen. 3:1-7, Rom. 5:12). God het geen sonde nie (Spr. 8:13, Ps. 5:5-6, Rom. 3:4, 2Tim. 2:13, Heb. 6:18, 1Pet. 2:22, 1Joh. 1:5, 3:5). Hy is rein en heilig (Job 4:17-18, 15:15, 25:4-6, Ps. 99:3, 5, 9, Hab. 1:13). Niks in God neig of trek Hom na sonde toe nie (v.13). Hy weet alles, daarom kan geen mens of demoon Hom verlei, asof Hy nie hulle motiewe ken nie (Ps. 139:1-4, Spr. 15:3, Heb. 4:13).

Maar het Satan God nie in Job 1-2 versoek en Hom teen Job aangehits nie? Eintlik het God die gesprek aan die gang gesit—Satan het Hom nie versoek nie. Selfs as God uit Homself besluit het om Job se besittings en sy lewe te neem, kon Hy dit doen. God is die gewer van lewe en van elke goeie gawe. Ons verdien niks goed uit sy hand nie. As Hy wil, kan Hy alles wegvat. Dit sal nie sonde wees nie (Job 1:21-22, 2:10).

As God nie versoek kan word nie, hoekom is Jesus in Matteus 4 versoek? As God kon Jesus nie sterf nie (1Tim. 6:16). Hy het as ’n mens gesterf (Joh. 19:31-42). Net so is Jesus as mens versoek, sodat Hy medelye met ons kan hê (Heb. 4:15). As God kan Hy nie versoek word nie (v.13). Selfs in sy versoeking as mens het die versoeking van buite af gekom en nie uit enige sondige begeerte in Hom nie (v.14-15, Heb. 7:26). “God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” (v.13). Die Koran noem Allah die grootste bedrieër—Hy is so bedrieglik soos oneerlike mense (Sura 3:54, 7:99, 8:30, 27:50, Arab. makr). Volgens die Bybel is Satan die bedrieër (Joh. 8:44, Op. 12:9). Ons God is nie so nie. Hy kan wel vir sondaars en die duiwel toestemming gee om mense te versoek, maar self bedrieg Hy niemand nie (v.13, Gen. 50:20, 2Sam. 24:1, 1Kron. 21:1, 1Kon. 22:19-23, Job 1-2, Eseg. 14:9, Matt. 4:1). Hy is die eerste oorsaak van alle dinge, maar nie altyd die direkte oorsaak nie. Dit is soos as die president sê jy mag na middernag in die strate rondloop. As skelms na middernag by jou huis inbreek, is dit nie die president se skuld nie. Hy is die eerste oorsaak wat gesê het jy kan na middernag buite wees, maar hy is nie die direkte oorsaak van die misdaad nie.

Moenie die Here vir enige versoeking blameer nie. Blameer jouself dat jy vir die duiwel geluister het en die Here nie in jou benoudheid aangeroep het nie (Ps. 50:15). Blameer jouself dat jy sonde begeer het (v.14). Blameer jouself dat jy jou in ’n situasie geplaas het waar jy geweet het jy sal sondig (Rom. 13:14). Jy kan nie teen seksuele versoeking bid, terwyl jy in ’n strip klub sit nie. Vermy daarom die versoeking en bid daarteen. Leer by John Bunyan om nie net vir vergifnis te vra as jy gesondig het nie (Matt. 6:12), maar om daagliks te bid dat die Here jou teen die bose bewaar (Matt. 6:13, 26:41).2

 

3. Sondige begeertes (v.14)

Jakobus sê versoeking kom van binne af (v.14). Adam, Eva en Jesus het geen sonde gehad nie. Satan kon aan niks vashou nie. In hulle geval het die versoeking slegs van buite af gekom. In ons geval kom dit van binne en van buite af. Satan kry ’n houvas op ons sondige begeertes; hy gryp dit soos ’n los ent om ons te ontrafel (v.14-15). Die duiwel en sy magte ken jou swak plekke. Hulle versoek jou nie met drank, geld of vroumense as jy dit nie begeer nie. Hulle weet menslike lof of skinder werk beter met jou.

Wat van versoekings tot dinge wat jou nie aantrek nie? Twintig jaar gelede is my vriend versoek om die Here vieslik te laster. Kort daarna is ek tot diefstal en moord versoek. Ek ken ’n tannie wat emosioneel stabiel is. Toe sy egter eenkeer bo-op ’n berg staan, is sy tot selfmoord versoek. ‘Spring af!’ het ’n onsigbare stem vir haar gesê.

Bogenoemde versoekings kom van Satan. Hy versoek jou en daarna beskuldig hy jou dat jy aan sulke dinge dink. Hoe weet jy hierdie versoekings kom van Satan af en nie uit jou eie hart nie? As die duiwel jou versoek, tref dit jou uit die bloute. Jy was besig met niks verkeerd nie toe lasterende gedagtes jou skielik soos rioolwater oorspoel. Jou hart neig nie daarna nie. Jy haat die versoeking en bid daarteen; dit bedroef jou dat jy sulke dinge dink.

Tog is daar kere wat jou hart soos Judas saam met die duiwel werk. Die versoeking trek jou begeertes soos ’n magneet yster trek. Jou hart sê: ‘Jy verdien ’n bietjie plesier. Die Here wil hê jy moet gelukkig wees. Jy kan altyd weer vergifnis vra. Niemand sal weet nie. Dit is ’n klein sonde; daar is mense wat erger dinge doen. Toegewyde gelowiges doen dit.’ Moenie daarvoor val nie. Dit is leuens. Toe Adam deur sy vrou vir die duiwel luister, het hy geval. Ons sit nou nog met die gevolge. Wat was die uiteinde van Dawid se sonde? Die Here het hom vergewe, maar sy lewe was nooit weer dieselfde nie. Waar het Petrus se sonde hom gelaat? Sy gewete het hom gery. Die duiwel kan nie jou redding steel nie (Joh. 10:27-28), maar die Here kan hom toelaat om jou te skeur, sodat jy vir die res van jou lewe mank sal loop (vgl. Psalm 32, 38). As Dawid, ’n man na God se hart kon val, moet jy nie dink jy staan nie (1Kor. 10:12, Gal. 6:1).

Sien die hoek onder die wurm van versoeking en die strik onder die blare (v.14, Gk. exelkomenos kai deleazomenos). Sien Satan, die dood en die hel agter die vrou op die skerm, langs die oorvriendelike man, in die bottel brandewyn, agter die skinderstorie en in die oneerlike transaksie. Leer om jou begeertes te verdink (v.14, Spr. 28:26). Moenie jou hart volg soos die wêreld sê nie; dit sal jou bedrieg (Jer. 17:9). Lewe volgens die Woord en die Gees eerder as volgens jou emosies en begeertes. Selfs al volg jy die Woord moet jy versigtig wees. Die duiwel kan dit verdraai (Gen. 3:1, Luk. 4:9-11). Moenie iets glo net omdat jou gunsteling outeur of prediker dit sê nie. Meet dit aan die Skrif (Hand. 17:11). Onthou dat Satan jou deur vriende en geliefdes kan versoek (Gen. 3:6, Job 2:9, Miga 7:5, Matt. 16:21-23, Gal. 2:11-13).

Hoekom laat die Here toe dat Satan jou sondige begeertes uitlok en jou versoek? Hy wil jou oorlog leer (Rigt. 3:1-2). Hy toets jou om te wys wat in jou hart is (2Kron. 32:31). Hy wil jou van die verkeerde pad af weghou (Ps. 119:67). Hy wil jou na die Woord toe lei en jou wonderlike dinge leer (Ps. 119:71). Hy wil jou leer om na die hemel te verlang (Rom. 7:24, 8:23). Hy wil jou leer om sy beloftes te vertrou (1Kor. 10:13). Hy wil jou die duiwel se taktieke leer (2Kor. 2:11). Hy wil jou nederig maak en jou leer om sy krag eerder as jouself te vertrou (2Kor. 12:7-10). Hy wil jou leer om medelye te hê met ander wat versoek word (Heb. 4:15, 5:2).

 

4. Dodelike gevolge (v.15)

Versoeking begin by die begeertes (v.14). Dit is nie genoeg om te sê: ‘Ek moet ophou baklei, vloek, egbreuk pleeg, pornografie kyk, lieg of steel nie.’ Wie dit doen, smeer Peaceful Sleep. Die muskiete is nie dood nie. Hulle lewe nog en sal terugkom. Jy moet die nes uitroei. Maak die slegte begeertes in jou hart dood. Begeer God meer as enigiets (Ps. 73:25), dan sal sonde jou nie aantrek nie. Besef dat sonde jou nie versadig nie, maar die Here alleen kan jou dors les (Jer. 2:13, Joh. 4:14).

As jy jou sondige begeertes nie doodmaak nie, sal dit in skandelike sonde uitbreek. Jy flous jouself as jy dink jy kan sondige gedagtes koester en dit sal daar bly. Êrens sal dit ’n uitlaat vind (v.14-15). Mense sal geskok wees. Waar het dit vandaan gekom? Jy ken egter die waarheid. Die sonde was vir maande en jare in jou gedagtes. Dit het nou eers sigbaar geword. Wil jy dit vermy? Dan moet jy sonde doodmaak. Moenie net heilig wees waar mense jou sien nie, maar wees heilig waar net die Here sien. Gebruik die wapenrusting wat Hy jou gee (Ef. 6:10-18). Vra die Gees se hulp om sonde dood te maak (Rom. 8:13). Haat en vermy versoeking soveel soos sonde, want dit lei daartoe soos konsepsie na geboorte lei (v.15, Ps. 7:15). Sonde begin in die hart. Dit vind nie eers plaas as jy die daad pleeg nie. Die begeerte self is sonde (vgl. Matt. 5:27-28). Aborteer die baba van sonde; wees geweldadig daarteen (Matt. 5:29-30). Dit is die enigste goeie aborsie.

Party mense wil dit nie doen nie. Hulle maak die mak leeu van sonde groot. Eendag sal dit omdraai en hulle doodbyt. Hulle oortuig hulleself dit sal nie met hulle gebeur nie; dit gebeur net met ander mense. Maar tensy jy sonde doodmaak, sal dit jou doodmaak (v.15, Rom. 6:23). Jy sal soos die res in die hel eindig.

Vrees jy sonde het te ver gevorder en daar is geen terugkeer nie? Jesus kan die diepste vlekke van sonde uitwas (Jes. 1:18, Luk. 23:43, Joh. 8:11, 1Kor. 6:9-11). Moet sy guns nie deur selfkastyding of goeie werke probeer terugwen nie. Bely eenvoudig jou sonde en aanvaar sy oorvloedige vergifnis (Jes. 55:6-7, Spr. 28:13, Joh. 1:29, 1Joh. 1:7, 9). Sien sy hart vir jou. Hy het jou lief. Versoeking se greep oor jou trek sy hart nog meer na jou toe. Thomas Goodwin vergelyk dit met ’n siek kind. Jy haat nie die kind nie, maar bejammer hom. Of as jou eie liggaam siek is: jou hele liggaam veg teen die siekte. Net so bejammer Christus jou as jy onder versoeking ly (Heb. 2:18, 4:15): ‘...your very sins move him to pity more than to anger.’3 Laat Christus se deernis en liefde jou dryf om jou sonde te bely, Hom te prys en die hemel te begeer waar daar geen versoeking is nie (Op. 22:3).


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993), 137-9.

3  Thomas Goodwin, The Heart of Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2011, 2021 [1651, 1862]), 115-6.

Kategorieë