Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 February 2024

Dae van vergelding

Lukas 21:1-9

By ’n preekseminaar het die spreker ons gevra om vlugtig deur Lukas 21 te lees. ‘Waaroor gaan dit?’ het hy gevra. ‘As jy sê die wederkoms het jy nie eksegese ordentlik gedoen nie.’ Ek stem met hom saam. Hopelik sal my uitleg van Lukas 21 jou oortuig.

 

1. Hoekom het God die Jode gestraf? (v.1-4)

Volgens vers 1 het “Jesus...opgekyk en gesien hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi.” Die offergawekis was in die binneplein vir vroue. Die onderstaande sketse wys Jerusalem, die tempelterrein, die tempelgebou, die binneplein vir vroue en die offergawekis:

Dit was glad nie verkeerd vir die volk om tiendes te gee nie. God het dit van hulle verwag: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,’ sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie.’ ” (Mal. 3:10).

Die probleem was mense se verkeerde ingesteldheid. Die alsiende Christus (Joh. 2:24-25, Op. 1:14) het geweet hulle lewe in sonde, en probeer deur finansiële bydraes God se guns wen (Amos 4:4, Jer. 7:9-11). Maar ’n individu of gemeente met baie geld beïndruk die Here glad nie. Die aarde en alles daarop is Syne (Ps. 24:1, 50:12, Hag. 2:8).

Wat Jesus van ons vra is finansiële bydraes uit ’n rein hart en met suiwer motiewe (Op. 2:23, 2Kor. 9:7). Wat vind Hy by jou” Beroof jy Hom deurdat jy glad nie vir sy werk bydra nie (Mal. 3:8)? Dra jy by om gesien te word en maak seker jou naam staan op die EFT (Matt. 6:2)? Of gee jy as’t ware onder die radar om die Here te behaag (Matt. 6:3-4)? Gee jy uit ’n dankbare hart wat Hom liefhet, sodat jy jouself eers aan die Here gee (2Kor. 8:2, 3, 5, 8, Ps. 50:14-15)?

God se opdrag was om die weduwees te versorg (Deut. 14:28-29, 24:19-21). Israel se leiers het die teenoorgestelde gedoen en die weduwees beroof (v.1-2, 20:47). Dit het hulle nie in die minste gepla dat die arm weduwee twee lepta bydra. Dit was al haar besittings. ’n Lepton is 1.5% van ’n denarius, of ’n arbeider se dagloon:1

Israel se herders het nagelaat om die skape te voed, en hulle geslag (Eseg. 34:3). Van sulke herders—herders wat mense se geld steel—moet jy wegvlug (2Pet. 2:3, 14). Prosperity predikers sal sê: ‘Jesus het die weduwee se offergawe geprys; ons volg sy voorbeeld.’ God sien inderdaad wat jy terughou eerder as wat jy gee (2Kor. 8:12). ’n Bydrae van R6000 is kleingeld as jy R150 000 verdien. In so ’n geval gee die arm weduwee baie meer as jy (v.4). Tog het die Here dit nie geëis. Israel se geldwolwe het die arme weduwee ’n rat voor die oë gedraai.

 

2. Hoe het Hy hulle gestraf? (v.5-9)

[a] Hy het die tempel verwoes

Toe een van die dissipels die tempel se pragtige stene en versierings uitwys, het die res dit beaam (v.5, Mark. 13:1, Matt. 24:1). Dit het Herodes 46 jaar gevat om die gebou op te rig (Joh. 2:20). Hy het die tempel van wit marmer laat bou en die vooraansig met dik goue plate versier. Volgens Josefus (37-100 n.C.) het die wit stene soos sneeubedekte berge gelyk. As die son opkom, het die goue plate so geglinster dat mens dit nie met die blote oog kon aanskou nie. Die tempel se stene was 15 x 4.25 x 6.4 meter. Party van hulle was tot 24 x 2.7 x 3.2 meter! Die tempel was 45 meter of 14 verdiepings hoog.2

Die tempel is met gewyde gawes en tappiserie versier. Josefus maak melding van ’n goue wingerd waarvan een druiwetros so groot soos ’n volwasse man was.3

Geen wonder die dissipels het die gebou so bewonder nie (v.5). Die glansryke en weelderige tempel was ’n weerspieëling van God se verhewe heerlikheid en majesteit (1Kron. 22:5, Jes. 57:15a). Tog kon dit Hom nie bevat nie: “Maar kan God werklik op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie—hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het?” (1Kon. 8:27).

Die dissipels was geskok toe Jesus v.6 sê: “Dit wat julle hier sien—daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” Sowat 40 jaar later het die Romeinse generaal Titus die tempel afgebrand en dit gesloop.4

Jesus haat uiterlike godsdiens wat op homself fokus en die armes se geld steel (v.1-4, 20:45-47). Hy haat enige godsdiens wat God se Woord met mensgemaakte reëls vervang (Matt. 15:7-9). Hy haat ’n godsdiens wie se leraars op trone sit, die duurste klere dra, luukse karre ry, met private stralers vlieg, massiewe katedrale bou, wat mense met rookmasjiene en gekleurde ligte vermaak.

Jesus bou ’n nuwe tempel (Joh. 2:19-22, 1Kor. 3:16, Ef. 2:19-22, 1Pet. 2:5). Soos met die ou een wil Hy hê die nuwe tempel moet God se heerlikheid weerkaats (Matt. 5:16, 1Pet. 2:9). Hy sal die nuwe tempel bou tot dit die hele aarde vul (Jes. 11:9, Dan. 2:35, Mal. 1:11, Op. 21:10).

Toe Jesus die verwoesting van die kliptempel voorspel, toe vra die dissipels: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” (v.7). In die res van die hoofstuk gee Jesus die antwoord. In v.32 sê Hy: “Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Dit bevestig Lukas 21 beskryf nie die wederkoms nie, maar die verwoesting van die tempel in 70 n.C. Sekere tekens sou die verwoesting van die tempel voorafgaan. Voor die wederkoms sal daar geen tekens wees nie, maar dit sal skielik en sonder waarskuwing gebeur (17:26-35). Jesus kom as jy dit die minste verwag (Matt. 24:44). Jy moet altyd gereed wees en nie net na sogenaamde tekens van die tye nie: die Covid enstof, aardbewings in Morokko en Turkye, een geldeenheid in Europa, toenemende vervolging in die Weste.

 

[b] Hy het hulle oor aan dwaling oorgegee

Die wederkoms sal so universieel wees soos weerlig wat die hemel ophelder (17:24). Geen vals messias kan dit naboots nie. Daarom waarsku Jesus die dissipels: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie.” (v.8).

Toe die Jode die ware Messias verwerp, het hulle vir vals messiase geval (v.8, 2Tess. 2:11). Hand. 21:38 en Josefus praat van ’n Egiptiese vals profeet wat 30 000 Jode mislei het. Hy het hulle na die Olyfberg toe gelei en gesê op sy bevel sal Jerusalem se mure platval en kan hulle deur die Romeinse beleg (Eng. siege) breek. Felix het 400 van hulle doodgemaak en 200 gevange geneem. Die res het saam met die Egiptenaar gevlug.

Josefus sê baie vals profete het die Jode in die woestyn ingelei en wonderwerke belowe. Felix het hulle egter agterna gesit en hulle gestraf.5 Tussen 67-70 n.C. het die Romeine baie vals profete omgekoop om die Jode te mislei. Een van hulle het die volk oortuig om bo-op die tempel te klim en ’n teken belowe dat die Here hulle gaan red. So is duisende van hulle saam met die tempel verbrand, terwyl die res tot hulle dood geval het.6

Die dissipels moes waak dat hulle nie vir die ketters val nie (v.8). As Jesus kom, sal niemand Hom vir ’n towenaar misken nie. Met trompetgeskal en die stem van ’n aartsengel sal Hy met vuur en vlam in die heerlikheid van sy Vader met al sy heilige engele uit die hemel neerdaal (1Tess. 4:16, Matt. 25:31, 2Tess. 1:7-8). Sy dissipels sal Hom as die Seun van God en die seun van die mens bewonder (2Tess. 1:10, Ps. 45:3). Sy oë soos ’n vuurvlam en sy gesig soos die son wat op sy helderste skyn is statig en vol masjesteit (Op. 1:12-16). Met ’n woord sal Hy die dooies opwek en daarna die wêreld oordeel (Joh. 5:27-29, Op. 20:11).

Vir die wat hulle sonde liefhet, sal Jesus se wederkoms ’n dag van duisternis en wolkenag wees (Amos 5:18-20). Vir ons wat in Hom glo, sal daar geen veroordeling wees nie, maar bevryding en verlossing (Rom. 8:1, Heb. 9:28). Aan watter kant staan jy?

[c] Hy het hulle met oorloë geteister

In die konteks verwys v.9 se oorloë nie na die twee Wêreldoorloë, of die oorloë tussen Israel en Hamas, Rusland en die Oekraïne nie. Jesus sê duidelik die oorloë is nie tekens van die einde nie: “Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.” (v.9). Jesus verwys hier na oorloë in die 1ste eeu n.C. Die geskiedenis praat van binnegevegte vir die keiserlike troon, opstande, oorloë en burgeroorloë toe sommige nasies van die Ryk af wou wegbreek.7 So het die Here v.9 vervul en Homself as die God van Jes. 46:9-10 laat ken: “Onthou die dinge van vroeër, van lank gelede; want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie— Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer’ ”.

Dit is onnodig dat enige Christen die Antichris, Armageddon, die finale oorlog van Op. 20:7-10, of oorloë in die algemeen vrees. Die Bybel sê: “Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (12:5). “Die Here, Heerser oor alle magte, Hom moet julle as heilig erken, en Hy is die Een vir wie julle bang en bevrees moet wees.” (Jes. 8:13).

Vrees die ruiter op die wit perd met sy oë soos ’n vuurvlam, ’n skerp swaard met twee snykante, en sy klere gedoop in die bloed van sy vyande (Op. 19:11-16). Maak vrede met Hom: “Of watter koning trek op om met ’n ander koning oorlog te voer, en gaan nie eers sit en oorweeg of hy met tienduisend man opgewasse sal wees teen die ander een wat met twintigduisend teen hom optrek nie? Indien nie, stuur hy, terwyl die ander een nog ver is, ’n afvaardiging en vra voorwaardes vir vrede.” (14:30-31).

“Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing! Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.” (Ps. 2:10-12). Kol. 1:20 sê dat “Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis.” Rom. 5:1 sê: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.”

Verklaar jouself gewillig en sluit aan by die wenkant: “U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag” (Ps. 110:3, Ou Vertaling). “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings—en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.” (Op. 17:14, Ou Vertaling).

Soldiers of Christ, arise,
and put your armour on,
strong in the strength which God supplies
through His eternal Son;
strong in the Lord of hosts
and in His mighty pow’r,
who in the strength of Jesus trusts
is more than conqueror.
 

From strength to strength go on,
Wrestle, and fight, and pray,
Tread all the powers of darkness down,
And win the well-fought day;
Still let the Spirit cry
In all His soldiers, ‘Come!’
Till Christ the Lord descends from high
And takes the conquerors home.8


1  Sien ESV voetnota.

2  Flavius Josephus (37-100), Complete Works: The Wars of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 5.5.6, p. 555, 727-8; Antiquities, 15.11.3, p. 334; https://www.internationalstandardbible.com/T/temple-a2.html (toegang verkry op 16 Januarie 2024).

3  Antiquities, 15.11.3, p. 335; Wars, 5.5.4, p. 555; Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 511.

4  Wars, 6.4.5 & 7.1.1, pp. 580, 589.

5  Wars, 2.13.5, p. 483; Antiquities, 20.8.6, p. 422.

6  Wars, 6.5.2, p. 582.

7  Wars, 4.9.2, p. 540-1; Tacitus (c. 56-120), Histories, 1.2 (toegang verkry op 19 Januarie 2024, https://www.earlychristianwritings.com/text/histories.html).

8  Charles Wesley (1707-88), Soldiers of Christ, arise

Kategorieë