Coram Deo Cover Image

Coming soon...

31 August 2018

Christene in beproewing

Boat on stormy sea

Oor die afgelope vier maande het ek met verskeie Christene gepraat wat deur moeilike beproewings gaan. In ons eie gemeente is daar sonde. Ek het ook binne ses weke drie roudienste gehou (daar is maar net 70 mense in ons gemeente).

Ek ken meer as een predikant wat op die oomblik teenkanting van die gemeente kry, en weet ook van gemeentes waarin die mense links en regs bedank. Ek weet van sendelinge wat baie sukkel om visums te kry, en wat ook ernstige konflik beleef het met ander Christene.

‘n Skelm besigheidsman het R10 000 by een van my familielede gesteel en spoorloos verdwyn. ‘n Skoolkind het my swaer (wat ‘n onderwyser is) met ‘n yster geslaan. Volgens die Departement van Onderwys mag hulle die kind nie skors nie. Vandag het kinders by dieselfde skool ‘n juffrou met ‘pepper spray’ gespuit. Daar is nie gevolge vir hulle optrede nie. Suid-Afrika is ‘n drukpot wat wag om te ontplof: boere word op hulle plase vermoor, die regering wil grond gryp sonder vergoeding, ens.

Die punt is dat ons beproewing nie kan keer nie, maar dat ons dit moet verwag. Die vraag is wat jy met die beproewing gaan doen? Sal jy ongehoorsaam reageer soos Israel? Of sal jy gehoorsaam wees soos die Messias? Jes. 50 leer ons om beproewing reg te hanteer.

 

  1. Twee voorbeelde van beproewing (v.1-9)

 [A] Israel (v.1-3)

‘n Geskeide man het vir my gesê: ‘Egskeiding is die ergste ding wat ek nog ooit deurgemaak het.’ ‘n Ander een het vir my gesê: ‘As jy skei, voel dit of iemand doodgaan.’

Toe Israel in Babilon was het dit vir haar gevoel of God haar skei. Maar sy was verkeerd. Sy het nie ‘n skeibrief gehad om dit te bewys nie (v.1, Deut. 24:1). Dit het vir haar gevoel of die Here haar verkoop soos ‘n pa wat sy kinders verkoop om die skuldeiser te betaal. Maar niemand het van buite af druk op Hom geplaas toe Hy die volk verkoop nie (v.1). Hoekom het die Here haar dan Babilon toe gestuur? Hy het die volk vir haar sonde as ‘n slaaf verkoop (v.1). Hy was van plan om haar terug te koop (hfst. 53, 1Pet. 1:18-19). Hy het haar nie geskei nie, maar tydelik weggestuur a.g.v. haar egbreuk (v.1, Hosea). Alles was dus nie verlore en onherstelbaar soos sy gedink het nie.

Moenie soos Israel in jou beproewing dink dat die Here jou vergeet het nie. Die beproewing is tydelik (Job 7:7, Ps. 77:8-10). Dit sal nie altyd donker bly nie; die son sal weer opkom (Ps. 30:6, 42:6, 12, 103:9).

Israel het die Here vir haar lyding blameer, maar eintlik het die skuld by haar eie deur gelê. Toe die Here mooi na haar geroep het, het sy Hom geïgnoreer (v.2, 2Kron. 36:15-16, Spr. 1:24). Hoekom het sy so gereageer? Was dit omdat die Here se hand te swak en te kort was om haar te help (v.2, 59:1)? Verseker nie. Hy het haar dan uit Egipte gered: Hy het die Rooi See oopgekloof, die Jordaanrivier laat opdroog, die visse in die Nylrivier laat vrek, en Egipteland donker laat word (v.2-3).

Ons is soos Israel. Ons luister nie wanneer die Here mooi praat nie. Ons onthou nie sy krag nie en vra nie gereeld sy hulp nie. Soms moet dit eers moeilik gaan voor ons ore oopgaan en ons Hom deur gebed aanroep.

Kon die God wat Israel uit Egipte gered het haar nie uit Babilon red nie? En kan Hy jou nie van jou sonde red of ‘n sondige gewoonte van baie jare breek nie? Kan Hy jou nie uit die beproewing red nie? Kan Hy ons land nie van oorlog red nie? Kan Hy jou geliefdes nie red en hulle verander nie? Die vraag is nie of Hy dit kan doen nie, maar of jy jou sal bekeer, Hom sal vertrou en sonder ophou daarvoor sal bid?

[B] Die Messias (v.4-9)

Beproewing toets ons gehoorsaamheid soos wat vuur goud toets. Toe God die Messias deur lyding toets, was Hy nie ongehoorsaam soos Israel nie (v.1-2), maar ten volle gehoorsaam (v.4-9). Dalk sê jy: ‘Maar vir Hom was dit maklik, omdat Hy God is.’ Dit is nie waar nie. Alhoewel Jesus God is, het Hy ook ten volle mens geword soos ek en jy. Hy moes die Bybel leer soos ons. Hy het nie sonde gedoen nie, maar moes gehoorsaamheid leer (Heb. 5:8). Hy het nie uit sy Goddelike natuur ‘getap’ om dinge vir Homself makliker te maak nie, maar het op sy Vader gewag (sien bv. Matt. 4:3-4).

Die Vader het Hom daagliks deur die Woord en gebed geleer (v.4). Hy het geleer soos iemand wat die beste opleiding ontvang het (v.4). Hy het nie net geleer om dit beter te ken nie, maar sodat Hy dit met groot effek kon gebruik om ander te bemoedig (v.4, Matt. 11:28, Luk. 24:27, Joh. 4).

Die Vader het Hom geleer om die presiese woorde te sê wat elke mens benodig (v.4, Joh. 12:49-50). Die Vader het Hom in die oggend wakker gemaak vir sy stiltetyd (v.4, Mark. 1:35). Dit was o.a. sy daaglikse gemeenskap met God wat aan Hom die krag gegee het om sy lyding te verduur.

En as Jesus ‘n stiltetyd nodig gehad het, hoeveel te meer het ons dit nie nodig nie? Laat ons sy voorbeeld volg (1Joh. 2:6). Jou stiltetyd is een van die middele wat die Here jou gee om deur beproewing te kom. Waar moet jy begin?

Vra vir vergifnis as jy verslap het. Jy het elke dag nuwe krag en genade nodig (v.4, Klaagl. 3:23, 2Kor. 4:16). Bid vir selfdissipline en neem ook stappe om te verander.

[a] Kies vir jou ‘n tyd. Party mense verkies die aand, maar dit is goed as jy die dag met God begin (v.4, Ps. 5:3). In die oggend is jy vars, terwyl jy na ‘n dag se werk moeg is. Dit is ook goed as jy stil raak met die Here, voordat jy ander mense en die las van die dag se werk in die gesig staar.

In the morning deep calls to deep

In the morning, you quietly speak.

In the morning, you find those who seek,

In the morning.

In the morning, I bring my request.

In the morning, each care is confessed.

In the morning, you quiet unrest

In the morning.

In the morning, I listen and wait.

In the morning, faith anticipates.

In the morning, you make my way straight,

In the morning.

-Steve Green-

[b] Kry genoeg slaap. Probeer om elke aand dieselfde te tyd te gaan slaap. Vra die Here om jou te help om op te staan wanneer jou wekker afgaan (v.4). Moenie bly lê wanneer jy wakker word nie, want anders sal jy dalk weer aan die slaap raak. Staan op en was jou gesig of stort as dit jou help om wakkerder te voel. Stap en bid hardop as dit jou help.

[c] Begin dalk met ‘n kort oordenking. Charles Spurgeon se Morning by Morning is gratis beskikbaar op die internet. Dit sal jou aan die gang kry en jou hart warm laat voel.

[d] Bid kortliks dat die Here jou oë sal oopmaak om te verstaan wat jy in die Bybel lees (Ps. 119:18).

[e] Kies ‘n gedeelte. Moenie rond en bont lees nie. Werk deur ‘n boek of onderwerp in die Bybel.

[f] Lees die gedeelte. Soek kruisverwysings op. Dink na oor die vers of verse wat vir jou uitstaan. Kies ‘n metode wat vir jou werk. Na ‘n jaar of twee kan jy dalk jou metode verander. Maak notas indien dit jou help. Moenie die Bybel koud en akademies lees nie. Vra dat die Here jou ore sal oopmaak om te hoor wat Hy vir jou wil sê (v.4).

[g] Bid wat jy uit die Skrif geleer het. Bid ook volgens die Onse Vader. Moet dit nie as ‘n rympie bid nie, maar gebruik dit as ‘n patroon. Kom na God toe soos ‘n kind wat na sy pa toe kom. Kom om met respek, omdat Hy die Koning van die hemel is. Bid soos volg:

Laat U Naam geheilig word: Prys en dank die Here vir alles waaraan jy kan dink. Bid ‘n Psalm. Sing lofliede. Gebruik ‘n CD as jy wil: Steve Green, Keith & Kristyn Getty, Stuart Townend, Isaac Watts en Charles Wesley se liede het goeie Bybelse inhoud.

Laat U Koninkryk kom: Bid vir God se werk in jou gemeente. Bid vir jou leraar, evangeliste, sendelinge en herlewing. Bid spesifiek. Bid vir jou geliefdes, kollegas, bure en vyande wat nie die Here ken nie.

Laat U wil geskied: Bid vir insig om die Bybel beter te ken en te gehoorsaam.

Gee ons vandag ons daaglikse brood: Bid vir jou eie behoeftes en arm gelowiges. Bid vir geleenthede om met ander te deel.

Vergewe ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe: Bely jou sonde so spesifiek as moontlik. Vergewe ander teen wie jy iets het.

Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose: Vra dat die Here jou teen die vyand se versoeking sal beskerm.

Maar om net die Bybel te lees en te bid is nie genoeg nie. Die Messias se ore was oop om God se wil te doen (v.5, Ps. 40:7, 9). Hy was gehoorsaam tot aan die einde, en nie rebels soos Israel nie (v.5, 1, Fil. 2:8). Soos die Messias moet jy nie net die Bybel oordink om dit beter te ken nie, maar omdat jy gemeenskap met God wil hê en omdat jy Hom wil gehoorsaam (v.4-5). Moenie rebels wees nie, maar maak jou ore oop (v.5). Dit sal nie die beproewing wegvat nie, maar dit sal help dat jy deur dit kom.

‘n Liefde vir die Vader en ‘n verhouding met Hom het die Messias gehelp om nie rebels te wees en terug te draai nie, maar om deur die lyding van die kruis te kom (v.5). Hy het sy rug gegee dat sy vervolgers Hom gesel, sy wange dat hulle sy baard uitpluk, sy gesig dat hulle Hom slaan en spoeg, eerder as om sy rug op die Vader se wil te draai (v.6, Matt. 26:67-68, 27:26, 30, Joh. 19:1). Om gehoorsaam te wees was vir Hom belangriker as om die pyn vry te spring.

Wees soos Jesus. Moenie ‘n slaaf wees van drank, dwelms of pille, omdat jy die pyn wil vryspring nie. Moenie op onwettige maniere jou sake doen, omdat die regering dinge vir jou moeilik maak en jou nie wil help nie. Bo alles moet jy God se wil doen, al veroorsaak dit ongemak en pyn (Op. 12:11).

Die Vader het die Messias gehelp om die pyn te verduur (v.7). A.g.v. hierdie hulp het Hy vasberade en gefokus kruis toe gegaan (v.7, Luk. 9:51). Sy wenkbroue het gefrons en sy oë het stip vorentoe gekyk, sodat sy gesig so hard gelyk het soos ‘n grys keisteen (v.7). Hy het geweet dat mense Hom sal verneder (v.6), maar op die einde sou die Vader Hom verhoog en sou Hy nie in die skande kom nie (v.7, Fil. 2:9-11, Heb. 12:2).

Wees vasberade soos Hy: doen God se wil in beproewing, al is dit moeilik (Hand. 20:24). Op die einde sal God jou daarvoor beloon en sal jy nie skaam kry nie (v.7).

Die Vader was by die Seun en het sy onskuld bewys toe Hy Hom uit die dood uit opwek (v.8, Hand. 2:24, Rom. 1:4, 4:25). Jesus het geen sonde gehad nie en tydens sy verhoor het die Vader Hom gehelp, sodat sy vyande Hom nie kon vastrek nie (v.8-9, Matt. 26:59-60, Joh. 8:46, 2Kor. 5:21, Heb. 4:15, 1Pet. 2:22). Hy het die straf vir ons sonde gedra (53:4-6).

Ons kan nie onskuld pleit soos Hy nie (Rom. 3:10-12, 23). Daarom sal ons verslyt soos klere wat iemand baie dra en was; soos klere wat vol gate is a.g.v. die vismotte (v.9). Tog sal Jesus sy regverdige rekord vir jou gee as jy berouvol glo. As jy glo sal die Vader sy dood in jou plek aanvaar en jou skuld afskryf (Rom. 3:28, 5:1, 2Kor. 5:21, Kol. 2:14). God sal by jou wees om jou te verdedig, sodat niemand ‘n klagte teen jou kan inbring nie (v.8-9, Rom. 8:33-34, Fil. 3:9, 1Joh. 2:1). En as God vir jou is, is enige beproewing draaglik.

 

  1. Twee reaksies op beproewing (v.10-11)

 [A] Geloof (v.10)

‘n Man het blykbaar vir Spurgeon gesê dat hy perfek is. Spurgeon het hard op sy toon getrap om sy reaksie te toets. Pyn het ‘n manier om te wys wat in jou hart is: murmurering, bitterheid, kwaad, vrees, ongeduld, ongeloof, arrogantheid, nederigheid, ‘n sagte hart, geduld, eerbied vir Here, liefde, iets anders?

Hoe reageer jy in beproewing? Vrees jy die Here, sodat jy jou bekeer en onder sy swaar hand neerbuig (v.10, 1Pet. 5:6)? Gehoorsaam jy God se Seun en Kneg (v.10); is jy gehoorsaam soos wat Hy was (v.4-5)? Vra jy na God se wil, omdat jy gehoorsaam wil wees? Volg jy die Here in voorspoed en in teëspoed (v.10, 4-6)?

Vertrou op die Here as dit donker is en jy geen lig sien nie (v.10, Miga 7:8). Hy was self daar en weet hoe om uit te kom (v.6, 42:16, Matt. 27:45-46). Vertrou dat God wys, goed en kragtig is in jou beproewing. Hy weet wat Hy doen en sal jou help. Vertrou sy karakter en weet dat sy lig vir jou die pad sal wys (v.10, Joh. 8:12).

[B] Ongeloof (v.11)

Ek ken ‘n vrou wat gesien het dat sy word oud en nie gaan trou nie. Om haarself uit te help het sy met ‘n man geslaap en ‘n kind gekry. Luister: as jy die Messias se bevele ignoreer, die donker beproewing omseil en jou eie vuur aansteek, sal jy sleg daarvan afkom (v.11). Loop gerus in die lig van jou eie fakkel, maar op die einde sal jy in die donker struikel en val (v.11). God sal jou in die hel straf. Dit is immers waar die pad wat jy vir jouself gekies het eindig (v.11).

Dit help nie jy kies die kortpad om jou lyding te omseil nie, want op die einde sal jy vir ewig in die hel ly (v.11). Volg die regte pad, al is dit nie noodwendig die maklike pad nie. As jy dit kies sal die Here jou help. Maar as jy dit nie kies nie, is jy op jou eie.

Moenie so bang wees vir beproewing nie. Dit is ‘n tipe winter wat nodig is, sodat die lentebloeisels en somervrugte kan uitkom. John Bunyan het gesê: ‘It is said that in some countries trees will grow, but will bear no fruit, because there is no winter there.’ [Aangehaal in https://www.desiringgod.org/messages/to-live-upon-god-that-is-invisible].

Bunyan kry sy idee in die Bybel. In Heb. 12:11 lees ons: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”

Kategorieë