Coram Deo Cover Image

Coming soon...

20 July 2012

Christene en sigarette

Hoekom op dees aarde 'n artikel hieroor skryf?  Daar is twee redes.  [1] Min mense sal 'n artikel lees oor Karl Barth se verstaan van die inspirasie van die Skrif.  'n Artikel met die bogenoemde titel sal baie meer lesers se aandag trek, omdat jy dalk self al hieroor gewonder het.  [2] Ek self moes dié saak in my gemoed uitmaak.  Aan die eenkant hoor ek stemme wat sê:  “Rook is nie sonde nie – daar is geen vers in die Bybel wat daarteen praat nie.”  Aan die ander kant hoor ek:  “Iemand wat rook kan nie 'n Christen wees nie.”  Maar wat sê die Bybel regtig oor rook?

 

Jesus leer duidelik dat niks wat van buite kom jou geestelik onrein kan maak nie (Mark.7:15).  Dit is wat uit 'n mens se hart kom wat hom onrein maak (Mark.7:21-23).  Paulus gebruik ander woorde, maar leer basies dieselfde:  “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.” (Tit.1:15).  Maar wat van sigarette:  kan rook wat van buite af ingeasem word iemand geestelik onrein maak?  Nee.  Die onreinheid kom uit sy hart uit.  Rook is dus nie inherent sondig nie, maar word so...

 

z      Wanneer jy jou liggaam skend.  Die sesde gebod sê jy mag nie moord pleeg nie.  Jy mag nie ander se lewens beskadig nie, en ook nie jou eie nie.  Die teer en nikotien in sigarette beskadig jou longe.  Indien jy nikotien en teer vrye sigarette (as daar so iets bestaan het) rook, is dit nie sonde nie.  Indien jy bittermin rook is dit waarskynlik nie sonde nie.

z      Wanneer jy ander beskadig.  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  'n Swanger ma wat rook beskadig haar ongebore kind en kort naasteliefde.  'n Man wat gereeld voor sy kinders of ander rook, stel hulle gesondheid in gevaar en kort naasteliefde.

z      Wanneer dit jou baas word en jy verslaaf raak.  Die Skrif sê jy moenie 'n slaaf wees van enigiets nie (1 Kor.6:12); nét Jesus moet jou baas wees.

z      Wanneer jy nie meer selfbeheersing uitoefen nie.  Laat sigarette jou kalm of geïrriteerd voel?  Het jy bewustelik beplan om só te voel?  Deel van die Gees se vrug is selfbeheersing (Gal.5:22-23).

z      Wanneer dit vir jou 'n afgod word.  Waarheen wend jy jou wanneer jy stres beleef:  na Jesus of na sigarette?

z      Wanneer jy die wette van ons land breek.  God beveel in Rom.13:1-7 dat ons aan die regering moet onderwerp.  Volgens die wet mag sigarette nie aan persone onder 18 jarige ouderdom verkoop word nie.  Laerskool en hoërskool kinders wat rook sondig summier.

z      Wanneer jy ander laat struikel.  Party Christene glo om enige alkoholiese drank in te neem is sonde.  As jy voor so iemand 'n bier te drink sal sy gewete beskadig en hom laat struikel.  Daardeur sondig jy.  Dit geld ook vir rook (sien 1 Kor.8:13).

z      Wanneer jy geld wanbestee.  Sigarette is duur.  Indien jy dan kla dat jy nie jou gesin kan voed of petrol in jou kar kan gooi nie, maar R1500 per maand aan sigarette spandeer, het ek nie veel nie simpatie met jou nie.  Word wys.

 

Die prinsiepe wat ons op rook toegepas het, geld ook vir eet, koffie drink, oefen, tuinmaak, modes, en veel meer.  Moet dan nie hiperkrities en selfregverdigend wees, sodat jy sommer uit die hand rokers verdoem nie.  Maar moet ook nie vir jouself sê:  “Waar is die hoofstuk en vers wat sê rook is verkeerd?” nie.  Meet jouself aan die Skrif en doen wat dit sê.  Moet dit nie doen omdat jy deur jou werke geregverdig wil word nie.  Doen dit eerder omdat jy God liefhet met alles in jou en jou naaste soos jouself.

Kategorieë