Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 June 2015

Christene en egskeiding

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Broken marriage

Ons het omtrent 75 lidmate, waarvan 16 (21%) al geskei was.  Dieselfde is seker waar in baie kerke.  Daarom is 1 Korintiërs 7:10-16 se lering oor Christene en egskeiding baie relevant.

Reëls as jy met ‘n gelowige getroud is (v.10-11)

Jy het seker al die ou illustrasie van egskeiding gehoor?  Egskeiding is soos iemand wat twee papiere aanmekaar plak en die gom laat droog word.  As jy die twee uitmekaar skeur, is daar stukke van beide papiere wat aan die ander kant vassit.

Jy verloor iets van jouself as jy skei.  Mense wat geskei is sal vir jou sê:  ‘Dit voel of iemand dood is.’  God se reëls vir egskeiding is nie gegee om plesier te verhoed nie, maar pyn.  Dít is onder andere die rede vir die reëls in v.10-11.

Paulus praat hier met getroude gelowiges (v.10-11).  In v.12-16 sal hy sy fokus verskuif na gelowiges wat aan ‘n ongelyke juk trek.  In v.10 sê hy dat die Here, en nie hy nie, die volgende opdrag gee.  Sy bedoeling is dat Jesus in Matteus 19 lering oor dié onderwerp gegee het.  In v.10-11 haal hy dus vir Jesus aan.

Die opdrag is dat die vrou nie van haar man moet skei nie (v.10, Maleagi 2:16, Matteus 19:3-9).  Die Griekse woord wat in v.10 met ‘skei’ vertaal word, verwys nie na mense wat ‘van-bed-en-tafel’ geskei is nie, maar na egskeiding.  Ons weet dit omdat v.11 sê die persoon is ‘ongetroud,’ en omdat dieselfde woord in Matteus 19:6 van egskeiding gebruik word.  Ek sê dit, omdat daar mense is wat moderne ‘separation’ uit dié vers probeer regverdig.

As die vrou reeds geskei was toe sy Paulus se brief gelees het, moes sy ongetroud bly of met haar man versoen raak:  ongetroud as hy reeds met iemand anders getrou het; versoen as hy nog ongetroud was (v.11).  Paulus sê dat die man ook nie sy vrou met ‘n skeibrief moes wegstuur nie (v.11).  Die enigste gronde vir skei en hertrou onder gelowiges vind ons in Matteus 19:9:  seksuele sonde.

Reëls as jy met ‘n ongelowige getroud is (v.12-16)

Baie van julle het die Christelike film, Fireproof gesien.  Die film gaan oor ‘n huwelik wat op die rotse is.  God het die man se lewe verander, sodat die vrou deur sy getuienis tot bekering gekom het.

Hoeveel huwelike ken jy waarin een maat tot bekering gekom het, en die ander een deur sy of haar getuienis gered is?  Een predikant het geglo dat sy vrou gered is.  Sestien jaar later het hulle besef dat sy nie gered is nie, en het sy tot bekering gekom.  Dieselfde het onlangs gebeur met ‘n man in ‘n plaaslike Baptistekerk.  Dít is Paulus se les in v.12-14.

Paulus praat nou met die res.  Hy verwys hier na Christene wat met ongelowiges getroud is.  Paulus keur nie gemengde huwelike goed nie (v.39).  Die Christene in dié vers was seker ongered toe hulle getroud is, en het intussen tot bekering gekom.

Paulus sê nou dat hy, nie die Here nie, die volgende lering gee.  Hy bedoel nie dat hy net sy opinie gee nie.  Nee, sy lering is gesaghebbend (v.40).  Wat hy bedoel is dat hy nie nou vir Jesus aanhaal soos wat hy in v.10-11 gedoen het nie.  Jesus het vir Jode gepreek en dus nooit gesê wat in ‘n geval gebeur waar ‘n gelowige met ‘n heiden getroud is nie.  Paulus is die apostel na die heidene en sal dus nou lering hieroor gee (v.12).

As die ongelowige party heelhartig instem (Gk.) om met die gelowige saam te leef, dan moet die gelowige nie skei nie.  Só ‘n ongelowige is die tipe wat nie sy of haar Christen-huweliksmaat sal verbied om kerk toe te gaan, Bybel te lees, of te bid nie (v.12-13).  In baie gevalle sal die ongelowige hierdie dinge saam met die gelowige doen.

Hoekom moet die gelowige nie van só ‘n ongelowige skei nie?  Die Christen mag dalk bang wees dat eenheid met ‘n ongelowige hom (haar) of sy (haar) kinders geestelik sal besmet.  Paulus sê egter dat die teenoorgestelde kan gebeur.  Ter wille van die gelowige sonder God die Christen se ongelowige maat en kinders af,[1] sodat hy (sy) hulle vir Jesus kan wen (v.14, 1 Petrus 3:1, Maleagi 2:15).

Ek was eenkeer moedeloos en depressief.  My vriend het my gebel en ek het my sorge met hom gedeel.  Hy het sê:  ‘So, jy gaan deur hiérdie pyn en my vrou het my gelos.’  Wat!?  Ek het amper op my rug geval toe hy dit vir my sê.

Wat gebeur het is dit:  hy het by die huis gekom, en gesien dat sy vrou die goed gepak het en getrek het.  Wat was haar rede?  Sy wou nie met ‘n predikant getroud wees nie.  Na ‘n baie moeilike tyd het my vriend ‘n goeie Christen vrou ontmoet.  Vandag is hy dol gelukkig getroud.  Dít is die toegewing waarvan Paulus praat in v.15.

In v.1-4 praat Paulus oor seks in die huwelik, en in v.5 gee hy ‘n uitsondering op die reël.  In v.6-8 praat hy oor enkelskap, en in v.9 gee hy ‘n uitsondering op die reël.  In v.10-14 praat hy oor egskeiding, en in v.15 gee hy ‘n uitsondering op die reël.

Wat is die uitsondering?  God laat egskeiding toe as die ongelowige party wil skei, omdat hy of sy vir Jesus haat.  In só ‘n geval moet die gelowige nie weier om die skeibrief te teken nie (v.15).  As jy weier sal die ongelowige altyd deel van jou lewe wees.  Daar sal dan altyd trane, vrees, en bakleiery vir jou en jou kinders wees.  Dit hoort nie so nie, want God het jou tot vrede geroep (v.15).  Daarom laat Hy toe dat jy vry is van die huweliksband en weer kan trou (v.15, vgl. Romeine 7:1-3).

Dalk dink jy:  ‘Ek wil nie die skeibrief teken nie, want dalk kan ek my maat vir die Here wen?’  Hoe weet jy of jy dit sal regkry (v.16)?  Gaan jy vir altyd aan die onstuimige huwelik vashou vir ingeval jou maat dalk gered word (v.16)?

Volg die Skrif se reëls vir egskeiding.  Elke senario is nie in die Skrif nie, maar die beginsels is duidelik.  Volg die Skrif en nie die wêreld se raad wat jy in boeke en tydskrifte lees, of by sielkundiges hoor nie.  Volgens die wêreld is egskeiding normaal.  Hoeveel kinders by die skool se ouers is nie geskei nie?  Baie wêreldberoemdes, dominees, en kerkmense is ook geskei.  Hollywood, kollegas, familie, en vriende hits jou aan om vir enige rede te skei.

God haat egskeiding en beskou dit as ‘n aaklige sonde.  Tog het die Here twee uitsonderings gemaak:  enige vorm van seksuele sonde (Matteus 19:9), en die ongelowige party wat wil skei (v.15).

Maar wat van die volgende gevalle:

[1] Pornografie:  Jesus sê mos dat wellus gelyk aan egbreuk is (Matteus 5:27-28)?  Antwoord:  Jesus sê dat woede gelyk aan moord is, en tog stuur ons nie iemand tronk toe omdat hy bitter is nie (Matteus 5:21-22).  Net so is wellus nie ‘n grondige rede vir egskeiding nie.

[2] Misdade wat die doodstraf verdien, waarvoor iemand lewenslank in die tronk sit (bv. moord)?  Antwoord:  Vir alle praktiese doeleindes het dié persoon sy of haar maat versaak, en is die gelowige vry om weer te trou (v.15).

[3] Drank, dwelms, dobbel, aanranding?  Antwoord:  Party keer is hierdie gevalle van praktiese versaking (v.15).  Ons moet aan die regering onderdanig wees (Matteus 10:23), maar as ons lewe in gevaar is moet ons vlug (Romeine 13:10).  Net so moet ‘n vrou aan haar man onderdanig wees, maar as lewe in gevaar is moet sy vlug.  As die Christen se lewe nie bedreig word nie, moet hy (sy) nie die huwelik opgee nie, maar die ongelowige deur sy (haar) heilige optrede wen (1 Petrus 3:1-2).

[4] Die ongelowige loop, maar skei nie formeel nie?  Antwoord:  Die ongelowige het die huwelik versaak (v.15).  Die gelowige kan die papierwerk afhandel.

[5] Die ongelowige wil getroud bly, maar kom nie tot bekering nie?  Antwoord:  Die gelowige mag nie skei nie (v.12-14).

[6] Die vonk in jou huwelik is weg?  Jy voel dat jy en jou maat nie meer ‘compatible’ is nie (soos wat die Afrikaanse sangeres, Nianell onlangs gesê het)?  Antwoord:  Dit is geen gronde vir egskeiding nie.  Die huwelik is nie gebou op ‘n vonk nie, maar op ‘n belofte wat jy aan God en jou maat maak.  Volgens v.39 is enige twee gelowiges ‘compatible’.

[7] Jy en jou maat het nie meer ‘n sekslewe nie?  Antwoord:  ‘n Skoolvriend was vir vier maande getroud.  Sy vrou het gesê dat sy net seks wil hê om kinders te kry.  Hy het haar geskei.  Was hy reg?  Nee.  Hy en sy vrou moes eerder hulp gesoek het.  Indien jou maat nie met jou wil slaap nie, maar seks op ander plekke soek, het jy gronde om te skei (v.5, Matteus 19:9).

[8] Jy het op onbybelse gronde geskei en weer getrou (Bybelse gronde vind ons in v.15, 39, Matteus 19:9), en volgens die Bybel is jy skuldig aan egbreuk (Lukas 16:18)?  Moet jy van jou nuwe huweliksmaat skei?  Antwoord:  Nee.  “Is jy aan ‘n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie” (v.27).  Bely jou sonde en werk hard om van jou nuwe huwelik ‘n sukses te maak.

[9] Jou maat is baie siek, het gestremd geraak, is erg depressief?  Antwoord:  Jou belofte voor die kansel was:  ‘In voorspoed en in teëspoed, in siekte en gesondheid, tot die dood ons skei.’

Doen alles in jou vermoeë om egskeiding te verhoed, om jou vriende en kinders af te raai.  Egskeiding is slegs toelaatbaar vir die toegewings in v.15 en Matteus 19:9.  Gee jou tyd en krag om te werk aan jou huwelik, om ‘n vriendskap met jou maat te bou.  Soek wat die Bybel oor die huwelik sê, lees goeie boeke hieroor, en bid ernstig hiervoor.

Dalk het jy op onbybelse gronde geskei.  In Jesus is daar vergifnis vir jou.  Probeer om met jou eks-maat versoen te raak (v.11).  As jou maat reeds dood is kan jy met ‘n gelowige trou (v.39).  Indien jy met jou maat versoen wou raak, maar hy of sy reeds hertrou het, lyk dit uit v.11, 8-9, 27-28 of jy met iemand anders mag trou.

Hoekom moet jy die Skrif se reëls oor egskeiding volg?  As jy vir jou eie redes skei, sal dit groot pyn en hartseer vir jouself en ander veroorsaak.  Daarby sal God jou nog straf ook.  Jesus se Naam en getuienis sal ook skade ly (sien Efesiërs 5:22-33).

Een studie het gesê dat die skeisyfer onder evangeliese Christene net so hoog, indien nie hoër is, as die skeisyfer onder ongelowiges nie.  Ek glo dit nie vir ‘n oomblik nie.

Baie ongelowiges trou nie meer nie.  As hulle dus opbreek, tel dit nie as egskeiding nie.  Verder is evangeliese kerke deesdae gelaai met ongelowige lidmate:  die skeisyfer onder nominale Christene tel nie vir ware Christene nie.  Die syfer mag dalk ook Christene se egskeidings voor hulle bekering insluit, en tel dus nie.

Christene is nuwe skepsels:  die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword (2 Korintiërs 5:17).  Ook wat egskeiding betref is hulle oortuigings en optrede nuut.

[1] Hierdie vers het niks met die kinderdoop te doen nie.  As jy dít sê moet jy konsekwent wees en die ongelowige huweliksmaat ook doop.

[/column]

Kategorieë