Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 May 2013

Aanskou jou Koning!

Psalm 93 wave

1 Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed.  Die HERE is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegord.  Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. 2 Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U.  3 Die riviere, o HERE, het verhef, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas! 4 Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte! 5 U getuienisse is baie betroubaar. Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!” (Psalm 93:1-5).

 

Vandag word baie lande demokraties regeer.  In antieke tye het konings soewerein regeer.  Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons Psalm 93 lees:  God heers soewerein oor alles en almal:  “Die Here is Koning” (v.1a).  “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (103:19).  Die Messias sal as Koning oor die nasies regeer:  “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting...Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.” (2:8, 22:29).

 

In die evangelies lees ons hoe Jesus selfs tydens sy aardse bediening soewerein was oor alles.  Hy het die wind en die golwe beheer.  Die duiwels het sy opdragte uitgevoer.  Hy het gered wie Hy wou (sien Lukas 10:21-22).  Hy het mag gehad oor siekte en kon mense gesondmaak.  Hy het dooies opgewek en het in sy opstanding die dood oorwin.  Hy was soewerein oor sy vyande:  Toe hulle besluit het om Hom nie tydens die Paasfees gevange te neem nie, het Hy besluit dat hulle dit tydens die Paasfees móés en sóú doen om die Skrif te vervul (Matteus 26:5).  Jesus is soewerein oor die toekoms.  Hy het oor sekere toekomstige dinge geprofeteer, en dit het presies gebeur soos wat Hy voorspel het.  Jesus is soewerein oor konings.  Toe Hy nuus ontvang dat Herodes Hom wou doodmaak, het Hy duidelik gemaak dat Hy eers sý planne sou volbring, en self die tyd van sy dood sou bepaal:  “En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê:  Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.  En Hy het vir hulle gesê:  Gaan vertel daardie jakkals:  Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.” (Lukas 13:31-32).  Hy is soewerein oor sonde.  Dit het Hy bewys deur daarmee af te reken aan die kruis.

 

Omdat Hy in beheer is kan ons harte gerus wees – al lyk dit vir jou of jy, die regering of jou omstandighede buite beheer is; al is daar mense wat sê dat die duiwel los is.  Die psalmis gee vir ons ses beskrywings van die soewereine Hemelkoning.

 

Sy majestieuse kleed (v.1a)

Salomo se koninklike heerlikheid en majesteit word in die Ou Testament vermeld.  Geen koning was ryker as hy nie.  Maar die Messias se koninklike kleed en majesteit is sonder gelyke.  Hy is met hoogheid bekleed (v.1a).  Jesaja beskryf Hom as die verhewe Koning; die een wie se soom van sy kleed die hele tempel vul (Jesaja 6).  Johannes beskryf Hom en sy heerlikheid as volg:  “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel.  Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters.  En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.” (Openbaring 1:12-16).  Charles Spurgeon sê:  “He is not [clothed] with emblems of majesty, but with majesty itself, everything which surrounds him is majestic.” (Treasury of David, kommentaar op Psalm 93:1).

 

Die Psalmis herhaal in v.1 die woord ‘bekleed’ om God se majesteit te beklemtoon.  Ons weet dat Christus aan die kruis geen kleed aangehad het nie – sy klere was verdeel.  Maar nou is Hy bekleed met majesteit en 'n gordel van sterkte (v.1a).  Die gordel het 'n soldaat se wapenrusting aanmekaar gehou.  Dit was die plek waar hy sy swaard in die skede gebêre het.  Die feit dat die Hemelse Koning 'n gordel van krag het, wys vir ons dat Hy 'n Koning is wat oorlog maak en oorwin.  Die Psalms beskryf dit elders so:  “Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (110:1).  En Jesaja sê van die Messias:  “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” (Jesaja 11:5).

 

Trek hierdie wapenrusting aan wanneer jy teen die duiwel en sy magte staan.  Saul se wapenrusting het nie vir Dawid gepas toe hy teen Goliat moes veg nie.  Maar Jesus se wapenrusting sal jou pas.  Daarom praat Efesiërs 6 van die volle  wapenrusting van God wat ons moet aantrek.  Hou goeie moed in jou stryd teen sonde en Satan, en stry in die Here se krag.  Die oorwinning oor die vyand is immers reeds behaal aan die kruis (Johannes 19:30, Kolossense 2:15).

 

Sy onbeweeglike werk (v.1b)

In die laat 1990’s (as ek die dekade reg onthou) het die media ons bang gemaak deur te sê dat daar 'n meteoriet is wat die aarde gaan tref.  Hierdie idees kom van films soos Armageddon af, en nie van die wetenskap nie.  God se troon staan vas (v.2).  Hy regeer (v.1a).  En daarom staan die aarde ook vas (v.1b).  “Sê onder die volke:  Die HERE is Koning!  Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.  Hy sal die volke regverdig oordeel.” (96:10).  Omdat hierdie dinge so is, hoef ons nie bang te wees vir die propaganda van globale verhitting, vir meteoriete, of vir 'n derde wêreld oorlog wat die aarde gaan uitwis nie.  Die God wat alles gemaak het, onderhou dit en sal dit eendag herskep (Kolossense 1:16-17, Openbaring 21:1).

 

Sy ewige troon (v.2)

Aardse konings het voorgangers.  En aardse konings sterf en het opvolgers.  God se troon staan van ouds af en Hy sal vir ewig regeer (v.2).  Sy troon het geen voorgangers of opvolgers nie.  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (45:7).  “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (90:2).  Al die werkwoorde in v.1a staan in 'n perfektum, en wys vir ons dat dit 'n afgehandelde saak in die hede is:  God is Koning en Hy regeer.  Geen vyand kan God onttroon en sy kroon steel nie.  Erken God se heerskappy.  Buig voor sy troon (ook in gebed).  Moenie jou hand in rebellie teen sy troon oplig nie.  Bid eerder met respek:  “Laat U Koninkryk kom” (Matteus 6:10).

 

Sy onvergelykbare mag (v.3-4)

In Noag se tyd het God 'n vloed gestuur wat die hele aarde verwoes het.  God het sy mag by die Rooi See gewys toe Hy die Israeliete droogvoets daardeur laat trek het.  Ons sien nou nog God se mag in tsunami’s wat stede platvee.  God heers oor die see en sy magtige waters.  Die drievoudige ‘verheffing’ van die waters in v.3 beklemtoon hierdie mag.  God is magtiger as die sterke see:  “Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte!” (v.4).  “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.” (29:10).  “U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.” (89:10).

 

God heers ook oor die nasies wat soos die see in sy ore raas, maar niks aan Hom kan doen nie.  Sy vyande is soos honde wat blaf maar nie byt nie.  “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!  Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.” (2:1-4).  “Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! ...Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.” (46:4, 7).  Psalm 65:8 praat van die Here “wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke”.  Jesaja sê:  “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” (Jesaja 57:20).  Verlede jaar het Julius Malema baie geraas gemaak en moles veroorsaak.  Waar is hy nou?  Moet dan nie mense vrees nie, maar die God wat magtiger is as die geraas van die golwe en die rumoer van die nasies.

 

Sy betroubare getuienisse (v.5a)

Ons sê van ‘n vaste verordening dat dit so vas is soos die wet van die Meders en die Perse.  God se getuienisse is nog vaster as dit (v.5a).  Alles wat God bepaal doen Hy.  Niks kan Hom keer nie.  “Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.” (135:6).  “En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Daniel 4:35).  Paulus sê dat God “alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).

 

Ook as die Here iets profeteer, gebeur dit in die fynste detail soos Hy gesê het.  Sy getuienisse is waarlik baie betroubaar.  God is getrou, waaragtig en onveranderlik.  Sy getuienisse en verbond is vir ons 'n Boek neergeskryf:  die Bybel.  Psalm 19:8 bevestig dat hierdie getuienisse baie vas en betroubaar is.  As God se getuienisse dan so betroubaar is, kan jy glo dat die beloftes van die Bybel waar is.  En as die dinge wat God oor die Messias se eerste koms voorspel het alles gebeur het, beter jy die Skrif se beloftes oor die wederkoms glo – dit sal gebeur!  Moenie die betroubare Bybel betwyfel, of jou eie ondervindings en redenasies bo die Bybel stel nie.  Petrus het gesê dat die Skrif meer betroubaar as sy eie wonderlike ervarings was (2 Petrus 1:16-21).

 

Sy heilige huis (v.5b)

Nadab en Abihu het rondgespeel voor die wierookaltaar (Levitkus 10:1).  Hulle het uit hulle eie besluit om iets te offer (in oortreding van Eksodus 30:9).  Dit mag selfs wees dat hulle dronk was (Levitikus 10:8-9).  God het hulle doodgemaak hiervoor (Levitikus 10:2).  Waarom die drastiese optrede?  “Toe sê Moses vir Aäron:  Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê:  In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.  Maar Aäron het stilgebly.” (Levitikus 10:3).  God het die Korintiërs siek laat word en doodgemaak toe hulle dronk geword het van die nagmaalwyn, en so die nagmaal ontheilig het (1 Korintiërs 11:30).  God is heilig; uniek.  Ons moet dan ook heilig wees wanneer ons Hom aanbid.  Doen afstand van jou sonde wanneer jy bid, sy Woord lees, die nagmaal gebruik en lewe (1 Timoteus 2:8, 1 Petrus 1:15-16, 2:1-2).  “Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!” (v.5b).  “Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!” (29:2).

 

Heilige aanbidding pas nie net by die Ou Testamentiese tempel nie, maar ook by gelowiges wat deel uitmaak van die Nuwe Testamentiese tempel:  “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (1 Korintiërs 3:17).  Wees ook vir ewig heilig voor God in sy hemelse huis – tot in lengte van dae (v.5b, 23:6).  Ons kan nie die Here op 'n lawwe manier aanbid nie.  Ons lewe en aanbidding moet 'n refleksie wees van Sy heiligheid.  Aanbid Hom as die verhewe Here.  Ook ons liede en hulle wysies moenie oppervlakkig wees nie, maar laat ons met eerbied, ontsag, vrees en respek kom – meer as voor die grootste koning op aarde.  En as jy onheilig is met sonde, kan jy nuut en heilig word deur die Heilige Gees en die bloed van Jesus Christus:  “En dit was sommige van julle (vuil sondaars); maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.  (1 Korintiërs 6:11).

Kategorieë