Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 December 2022

2023 en die einde

Hebreërs 12:12-14

Ek bedoel nie die einde van jou lewe of die wêreld nie, alhoewel dit hierdie jaar kan gebeur. Ek verwys na die einde van die wedloop; na die einddoel waarvoor jy hardloop. Wie dit in die oog hou, kry ’n tweede asem in die wedloop en sal vanjaar ’n goeie rondte hardloop.

 

1. Wie die einde voor oë hou, sal genees word (v.12-13)

Die Hebreër-Christene is vir hulle geloof vervolg (10:34, 13:3) en wou die handdoek ingooi. Hulle is versoek om te sê Jesus is nie die Messias nie en wou na die Ou Testamentiese offersisteem toe terugkeer. In hfst. 7-10 het die Hebreërskrywer gewys Jesus is groter as die tempel en tabernakel, die priesters en offers. Dit was alles net skadubeelde, terwyl Jesus die volheid is (Kol. 2:16-17). Kan die skadubeelde jou red as jy die volheid verwerp? Sekerlik nie. Al wat vir jou voorlê is straf, omdat jy die enigste weg tot redding en vergifnis verwerp (10:26, 29). Wat help dit jy spring die vervolging vry, maar mis die hemel en kry die hel? Dit is om uit die vet in die vuur te spring. Is dit nie beter om vir Christus te ly en daarna sy ewige teenwoordigheid te geniet nie? Ja, vervolging en ander tipes lyding vir Christus is erg, maar Hy sal jou deurhelp (v.2, 7:25, 1Kor. 1:8, Fil. 1:6, 1Tess. 5:23-24, 1Pet. 1:5, Jud. 1, 24). Hoe help Christus ons om te volhard? Hy gee die getuienis van ander gelowiges om ons aan te spoor (v.1). Hy vermaan ons om sonde en alles wat ons terughou, af te lê (v.1). Hy herinner ons aan sy eie volharding deur lyding (v.2). In vergelyking met sy lyding, is ons s’n niks. As Hy deur die lyding kon volhard, kan ons ook (v.3-4). Jou en my lyding is God se dissipline om te wys ons is sy kinders (v.6-8). Hy tugtig ons, sodat ons heilig kan word en goeie vrugte kan dra (v.10-11). Wie dit onthou, sal sy slap hande optel, sy lam knieë versterk, en op die reguit pad volhard (v.12-13).

Moenie soos John MacArthur se aflos-spanmaat wees nie. Tydens een wedstryd het hy skielik gestop en van die baan afgeloop. Toe sy spanmaats by hom kom, toe vra hulle: ‘Wat is fout? Hoekom het jy gestop? Jy het goed gehardloop!’ Sy antwoord het hulle frustreer: ‘Ek weet nie. Ek was net nie meer lus om te hardloop nie.’ Moenie so wees nie, maar volhard. Tel jou slap hande op en beur vorentoe (v.12, 5, Jes. 35:3). Kyk na Christus se deurboorde hande en gebruik jou hande in sy diens. Versterk jou lam knieë deur op te kyk (v.2, Fil. 3:13-14); deur gereeld op jou knieë te gaan en te bid (Ef. 3:14, 1Tess. 5:17). Loop die reguit pad (v.13, Matt. 7:14) eerder as die krom paaie van dwaling en sonde (Spr. 4:25-27, Jes. 59:8, Hand. 13:10). Op die reguit pad is jy veilig: “Daar sal ’n gebaande weg, ’n pad wees; die heilige pad sal dit genoem word. Onreines sal nie daarop verbygaan nie; maar dit sal vir dié wees wat op die pad hou. Sotte sal nie daar ronddwaal nie. Daar sal geen leeus wees nie, en roofdiere sal nie daar kom nie; hulle sal nie daar aangetref word nie. Dié wat losgekoop is, sal daarlangs gaan” (Jes. 35:8-9).1 Wie op die krom pad loop, raak mismoedig (v.12). Hy sal sy knieë ontwrig en uitsak (v.13). Hy sal soos Christen en Hoopvol wees toe hulle van die regte pad afgedwaal het. Die klippe op die reguit pad het hulle voete seergemaak. Toe hulle By-Path Meadow se groen gras sien, toe klim hulle oor die heining. Kort voor lank het hulle verdwaal en in ’n storm beland. Hulle het ’n skuiling gemaak en aan die slaap geraak. Die volgende oggend toe vind Giant Despair hulle op sy grond. Hy het hulle gevang en in Doubting Castle toegesluit. Dit is waar jy sal eindig as jy van die reguit pad afdwaal: in wanhoop en vertwyfeling. Bly op die regte pad.

Dit is nie altyd maklik nie, veral as God se dissipline swaar op jou lê en jy mismoedig voel (v.5, 12). In sulke tye versoek die duiwel jou om te dink die krom pad van sonde het minder pyn en probleme as jou beproewing. Hy lieg. Die krom pad het meer klippe. Jy sal jou lam knieë ontwrig en die hemel mis (v.13-14). Bly op die regte pad; op die Weg van Christus (v.13, Joh. 14:6). Luister na die leiding van Christus se Gees deur die Woord (Jes. 30:21). Bly op die weg saam met ander gelowiges wat jou tot liefde en goeie dade aanmoedig (10:24-25, Hand. 24:14).

Hoe weet jy dit is die Gees wat jou lei en dat jy op die reguit pad is? Hoe weet jy dit is nie die duiwel wat jou wil mislei nie (2Kor. 11:14)? Die Heilige Gees lei jou in ooreenstemming met die Woord wat Hy soos ’n flits gebruik om die pad aan te dui (Ps. 119:105). Meet jou uitleg van die Bybel aan die eenparige getuienis van die gelowiges wat voor ons die wedloop voltooi het (v.1). Leer uit die belydenis van die Kerkvaders, Hervormers en Puriteine wat die ou paaie van die Woord bewandel het (Jer. 6:16). Meet hulle belydenis teen die Skrif (Hand. 17:11). Gehoorsaam alles wat met die Bybel strook (Matt. 7:24-25, Jak. 1:22). So sal jou lam knieë gesond word (v.13). Wie egter sy eie pad kies om lyding vir Christus vry te spring, sal sy lam knieë ontwrig, sterf en deur God geoordeel word (v.13, 9:27, Spr. 16:25).

 

2. Wie die einde voor oë hou, sal die Here sien (v.14)

Wil jy die Here sien? Dan moet jy v.14 doen: “Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” Jaag na vrede en heiligmaking soos mens ’n gekweste bok soek (v.14, Gk. diōkō). Dit is maklik om geïrriteerd te raak en te baklei as jy moedeloos is (v.12). Maar as jy baklei, raak jy net meer moedeloos, geïrriteerd, bakleierig, moedeloos, geïrriteerd, bakleierig, moedeloos, ensovoorts. Breek die siklus deur vrede na te streef (v.14). Aanvaar God se dissipline as ’n manier om jou tot bedaring en vrede te bring (v.11). Bely jou sonde aan God en die mense met wie jy baklei het (1Joh. 1:9, Matt. 5:23-24). Kry ’n sagte gesindheid wat graag vrede maak (Ef. 4:1-3). Daarmee sê ek nie jy moet onheilig wees, sonde aanvaar en vals leraars omhels om vrede te hê nie (v.14b, Matt. 18:17, Rom. 16:17, 1Kor. 5:11, 2Tim. 3:5). Om dit te doen, gee vals vrede. Jy sal jouself met sonde en dwaling besoedel en die Here se dissipline oor jouself haal (1Kor. 5:6, Gal. 5:9, Op. 2:20-23). Soek liewer ware vrede deur geloof in Christus se kruisdood, deur gebed en die verkondiging van die evangelie van vrede (Rom. 5:1, Kol. 1:20, Joh. 17:21-23, Ef. 2:14-17). Van jou kant af moet jy alles doen om vrede met ander te hê (Rom. 12:18). As hulle nie vrede soek nie, moet jy nie bitter wees nie, maar mense vergewe (Mark. 11:25). As jy weier om vrede te maak, sal die Here sy glimlag, geestelike verkwikking en seën van jou terughou (Ps. 133:1-3).

Streef ook na heiligmaking (v.14). Heiligmaking is nie ’n bysaak, asof jy onheilig kan wees en nog steeds hemel toe gaan nie: “Streef...na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (v.14). Regverdigmaking lei altyd tot heiligmaking; reddende geloof lei altyd tot goeie werke (Ef. 2:8-10, Jak. 2:14-26). Regverdigmaking is die wegspringpunt en heiligmaking die baan waarop jy hemel toe hardloop.2 God het jou vir heiligmaking gekies en Jesus het daarvoor gesterf (v.14, Ef. 1:4, 1Pet. 1:2). God sal sy doel deur dissipline, die Woord, gebed, geestelike gemeenskap, die nagmaal en mense se geestelike gawes bereik (v.10, Hand. 2:42, Ef. 4:11-12). Moenie hierdie middele afskeep en kla jy word nie heilig nie, of die Here help jou nie in jou stryd teen sonde nie. Moenie die middele afskeep en verbaas wees as sonde en die duiwel jou oorweldig nie. Dissiplineer jouself hierdie jaar om God se genademiddele te gebruik, sodat jy heilig kan wees en geestelik kan groei (v.14, 1Tim. 4:7). Bely jou sonde as jy die middele afgeskeep het en gebruik dit gereeld tot dit by jou tweede natuur word.

Almal van ons benodig medegelowiges in die wedloop; mense wat jou kan optel en aanspoor as jy moeg geword het (10:24-25, Pred. 4:9-12). Moedig mekaar aan om ’n heilige lewe na te jaag (v.14). As jy op jou eie hardloop, sal jy moeg word en uitsak (v.12). Jy sal makliker vir vals lering val (Ef. 4:14).

Party mense dink die gebruik van God se voorgeskrewe middele red hulle (vgl. Rigt. 17:13, Jer. 7:4). Thomas Watson waarsku: ‘Hot clothes will not put warmth into a dead man. Thou mayest have hot clothes, warm and lively preaching, and yet be spiritually dead.’3 Uiterlike heiligmaking kan niemand se hart verander nie. Wie gereeld die Bybel lees, bid en kerk bywoon as sy hart onveranderd is, is skynheilig. God wil hê jy moet innerlik heilig wees. Jou hart moet verander word. Dit sal jou begeertes, gedagtes, emosies en wil verander, sodat jy jouself aan God toewy en sonde haat (Spr. 4:23, Eseg. 36:25-27, Rom. 12:1-2, 1Tess. 4:3 kontra v.16). Jy sal die Here eerder as jouself, jou vriende en die samelewing behaag (2Kor. 5:9, 15). Wie die heiligmaking afskaap, sal die Here nie sien nie (v.14, 1Kor. 6:9-10, Gal. 5:21, Op. 21:8). Jy sal Hom as jou Regter sien, maar nie as jou Verlosser nie; as ’n Leeu eerder as ’n Lam.

Dalk sien jy dit nie as ’n verlies nie, omdat jy plesier eerder as ’n heilige soek. Ware plesier lê opgesluit in ’n heilige lewe by God (Ps. 16:2, 73:25, Pred. 2:25). Hy is die fontein van alle blydskap, liefde, vrede en alles wat goed is (Rom. 14:17, Gal. 5:22-23). Enige plesier buite Hom versadig nie (Pred. 1:8, 2:1-11). Buite sy heilige teenwoordigheid is alles misrabel (v.14, Op. 21:27, 22:15). Thomas Watson sê: ‘God...is the inexhaustible sea of all happiness.’4 En weer: ‘If God be the fountain of all bliss, then, to be separated from him, is the fountain of all misery.’5 Wil jy God se heerlikheid sien en sy goedheid geniet? Wees rein en heilig (v.14): “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt. 5:8).

Hoe lewe jy heilig as alle mense onheilige sondaars is (Spr. 20:9, Pred. 7:20)? Jesus is rein en heilig; Hy het die Vader behaag (Matt. 3:16, Hand. 3:14, 1Pet. 2:22). Sodra jy in Hom glo, word Hy jou heiligmaking (1Kor. 1:30). Hy sal jou verander om so heilig soos Hy te wees (v.14, Matt. 5:6, 2Kor. 3:18, 1Pet. 1:15-16, 1Joh. 3:2-3). Maak dit jou einddoel vir 2023 en die res van jou lewe. ’n Sekere leraar in Johannesburg doen dit. Sy profielfoto is ’n prentjie van Jesus wat sy dissipels se voete was. Onderaan staan: ‘Not a wit.’ Hierdie leraar wil alle sonde uit sy lewe verwyder en heilig wees. Sy einddoel en voorneme is beter as om gewig te verloor, goeie punte te kry of die korporatiewe leer te klim.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Thomas Watson, The Lord’s Prayer (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1960, 1965 [1692, 1890]), 128

3  Ibid., 65

4  Ibid., 85

5  Ibid., 110

Kategorieë