Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 5:33-39

Oor die afgelope paar jaar het ons gehoor van kerke wat Doom in mense se gesigte spuit; van kerke waar hulle vir mense sê om petrol te drink en gras te eet; van kerke wat giftige slange hanteer en waar mense op die grond rol en ruk.

Dit is glad nie wat ek met radikale Christenskap bedoel nie, omdat bogenoemde nie Christenskap is nie. Wat bedoel ek dan?

 

1. Dit ignoreer rituele en tradisie (v.33-35)

Rituele en tradisie is wat John Wycliffe in die 1300’s in Engeland aangevat het. Hy het besef dat hierdie dinge uit ’n mensgemaake godsdiens spruit en dat dit nie op die ware evangelie gebou is nie.1 So het hy in sy Meester se voetspore gevolg, omdat Jesus dieselfde gedoen het toe Hý op aarde was. Jesus het gesê dat die Jode se godsdiens vals is en dat dit niks te doen het met die nuwe lewe wat Hy bring nie.

       Johannes die Doper se dissipels, asook die Fariseërs en hulle dissipels het Jesus hieroor gevra. Hulle wou weet hoekom sy dissipels eet en drink en nie soos húlle vas en bid nie (v.33, Matt. 9:14, Mark. 2:18). Dit probleem was nie dat hulle gevas en gebid het nie (Lev. 16:29, 31), maar dat hulle gedink het hulle is meer geestelik deur dit op vasgstelde tye te doen (18:12).

            Maar Bybelse Christenskap het nie plek vir sulke rituele nie. Ons is nie Moslems wat dink ons moet vyf keer per dag bid en elke jaar vir maand lank vas om in die hemel te kom nie. Ons is nie soos die Katolieke en selfs baie Protestante wat dink ons móét gedurende Lent vir veertig dae vas nie. Dit is nie verkeerd as jy wíl vas nie. Maar dit raak ’n probleem as jy dink iemand sondig as hulle nie sekere rituele en tradisies volg nie, of as jy dink dit dra by tot jou redding. Dan gaan Christenskap nie meer oor ’n persoonlike, lewende en dinamiese verhouding met Jesus nie, maar oor rituele en tradisies.

            Mag ek vra hoe jý Christenskap sien ? Om te weet of jy dit as ’n godsdiens, of as ’n verhouding beskou, kan jy jouself die volgende vrae afvra:

            Sien jy jouself as ’n Christen omdat jy in ’n Christelike ouerhuis, of in die kerk grootgeword het; omdat jy gedoop is, of voorgestel en aangeneem is; omdat jy êrens op ’n uitnodiging gereageer het; of omdat jy in brabbeltale praat? Of sien jy jouself liewer as ’n Christen omdat jy oomblik vir oomblik in ’n verhouding met Jesus leef; omdat Hy jou lewe is; omdat jy ’n verlange het om by Hom te wees; omdat jy nuwe lewe in Hom ontvang het deur geloof in sy kruisdood, lewe, opstanding?

            Is gebed net iets wat jy doen voordat jy eet, of ver ry; as jy by die kerk aankom; by die nagmaal; voor jy gaan slaap; of as jy ’n krisis het? Bid jy rympies? Is gebed iets wat jy vir spesiale geleenthede hou? Of gaan dit vir jou oor ’n verhouding waarin jy met jou Vader praat en daagliks gemeenskap met Hom het?

            Is die Bybel vir jou ’n toe Boek wat jy net op Sondae oopmaak as jy in die kerk is? Wanneer laas het jy jou Bybel gelees? Is dit vir jou ’n Boek wat net interessant is om akademiese kennis te verkry? Hanteer jy dit soos ’n kristalbal waarin jy geheime kodes vind as jy probleem het? Of gaan dit weereens vir jou oor ’n verhouding met God? Beskou jy dit as ’n liefdesbrief waardeur God met jou praat, waardeur jy sy Seun leer ken en waardeur jy sy wil soek, omdat jy Hom liefhet gehoorsaam wil wees?

            Sien jy die nagmaal as ’n fees waarin jy Jesus vir sy kruisdood dank? Is dit iets waarna jy uitsien, omdat jy spesiale gemeenskap met Jesus wil hê? Is dit ’n plek waar jy oor jou lewe dink en die Here om vergifnis vra vir die dinge wat Hom bedroef? Of is dit vir jou ’n tradisie wat jy een keer in ’n paar maande volg—’n geleentheid waar jy somber is en jou hoof in stilte buig, omdat almal rondom jou dit doen (al weet jy nie regtig hoekom nie)? Sien jy dit as ’n plek waar jy vergifnis moet vra, sodat jy vir die volgende paar maande skoon kan wees?

            Hoe sien jy die erediens: as ’n geleentheid waarna jy uitsien, omdat jy by ander gelowiges wil wees, van die Here wil hoor, saam met ander wil bid en God se lof uit dankbare hart wil besing, omdat Hy jou gered het? Of sien jy dit as iets wat jy al vir baie jare doen, omdat jy so groot geword het—hetsy as gevolg van Afrikaner-tradisie, of omdat jou ouers en grootouers elke Sondag in die kerk was?

            Dit is nie verkeerd dat jy, of jou gemeente sekere tradisies het nie (solank dit nie teenstrydig is met die Bybel nie), of ’n spesifieke erediens orde het nie. As jou tradisie egter vir jou ’n ongeskrewe reël word en jy ongemaklik voel, omdat ’n ander gemeente dit nie soos joune doen nie, raak dit ’n probleem. Ek onthou byvoorbeeld hoe ’n vrou omgekrap was, omdat ons nie elke Sondag die Tien Gebooie voorlees nie. Dalk pla dit jou ook. Of dalk pla dit jou dat ons nie elke Sondag die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê nie. Of erger: jy hou vas aan dinge wat glad nie eers in die Bybel staan nie en dink dan dat gemeentes wat dit nié doen nie, sektes is.

            Baie mense het dit in die verlede van die Baptiste gedink. Eintlik het ’n groot klomp Afrikaners so gedink. In hulle gedagtes was jy nie ’n Christen as jy nie deel van die susterskerke was en vir die Nasionale Party gestem het nie. Die hartseer ding is dat baie van dié mense wat so gedink het, self nie Christene is nie. Hoe weet ek dit? Want die oomblik toe Christenskap nie meer deel van die Afrikaner-tradisie is nie, toe verlaat hulle die kerk. Die rede hiervoor is dat Christenskap vir hulle ’n godsdiens is en in die eerste plek nie gaan oor ’n verhouding met die Here nie.

            My liewe vriend, my doel is nie om met jou te baklei nie. Die rede hoekom ek hierdie dinge sê, is omdat ek besorg is oor jou siel. Is jy weergebore? Ken jy Jesus as jou Verlosser en Here? Het jy al die knie voor Hom gebuig? Leef jy in gehoorsaamheid aan Hom? Is jy lief vir sy Woord en sy mense? Het jy jou al van jou sonde bekeer? Leef jy daagliks in ’n verhouding met Hom?

            Indien nie, wil ek jou aan laasweek se preek herinner: Jesus het nie gekom om regverdige, godsdienstige en goeie mense te roep nie, maar sondaars tot bekering (v.32). Kom na Hom toe. Sy arms is oop om jou te ontvang, jou sonde te vergewe en jou in ’n nuwe mens te verander. Erken net dat jy tot nou toe godsdienstig was, maar nie gered nie. Erken dat jy die Here nodig het. Erken dat jy nie sonder Hom in die hemel kan kom nie. Vra Hom om jou te red en volg Hom in ’n nuwe lewe.

            Dalk is jy gered, maar is jou familie soos die godsdienstige mense van wie ek hierbo praat. Bid vir hulle en vertel hulle hoe die Here jóú verander het. Stuur vir hulle die preek aan. Hulle sal kwaad wees as jy impliseer dat hulle nie gered is nie, maar laat hulle dan kwaad wees. Hopelik sal hulle jou later bedank dat jy hulle die verskil tussen godsdiens en ’n verhouding met Jesus kom wys het. Dan sal ook húlle hulle rituele en tradisies vir die honde gooi en saam met Jesus se dissipels fees vier (v.33, 29-30, 7:34). Hulle sal nie meer aan Christenskap dink as ’n vervelige godsdiens nie. Hulle sal nie meer in die kerk slaap nie. Hulle sal nie meer die Bybel en gebed afskeep nie. Nee, maar hulle sal dit as ’n feesmaal beskou waar hulle kan aansit om te eet en te drink. Hulle sal nie kan wag om dit met ander te deel nie en sal vir hierdie mense se redding begin bid.

            O, mag Here dit in hulle harte doen. Mag Hy ons almal ’n nuwe aptyt gee, sodat ons nie genoeg van Hom kan kry nie. Laat ons vorentoe gaan en meer van Hom soek. En as ons Hom gevind het, kan ons nie soos die Fariseërs met lang gesigte vas nie. Vir hulle en die res van die Jode was vas ’n droewige ritueel waarin jy jou klere skeur en as op jou kop gooi (Matt. 6:16-18, 9:15). Omdat Jesus egter gekom het, is vas nie meer ’n ritueel nie. Dit is eerder iets waardeur ons onsself afsonder om ekstra tyd met die Here deur te bring en naby Hom te wees. In die Nuwe Testament is vas vir die siel wat ’n bruilof vir die liggaam is: ’n tyd van feesviering, geselligheid, en intieme gemeenskap.

            Toe Jesus op aarde was, kon die dissipels nie vas nie, omdat die Bruidegom by hulle was (v.34, Joh. 3:29, Ef. 5:31-32). Toe Hy egter deur sy kruisdood van hulle weggeneem is, het hulle bedroef geraak en toe vas hulle (v.35, Gk. apairō).2 Toe Jesus drie dae later uit die dood uit opstaan en aan hulle verskyn, toe breek Hy die vas deur voor hulle te eet, sodat hulle droefheid in blydskap verander het (24:13-43, Joh. 16:19-22, 20:11-18).

            Maar wat van toe Jesus opgevaar het hemel toe? Ja, die dissipels hét weer gevas as daar ’n spesifieke nood was (Hand. 14:23). Hulle het dit egter nie in sak en as gedoen nie, maar met harte van diensbaarheid en aanbidding (Hand. 13:2). Hulle het gevas met ’n begeerte om die liefde van Jesus deur die evangelie te versprei (Hand. 13:3).

            Laat ons só vas: as mense vir wie dit nie ’n straf is om kos, koffie, of iets anders vir ’n tyd lank te los nie. Hoe kán dit wees as ons ekstra tyd met die Here kan deurbring en ’n dieper gemeenskap met Hom soek?

 

2. Dit is heeltemal nuut (v.36-39)

Mense wat ou VW Beetles restoreer, maak nie net ’n ou kar reg nie, maar hulle koop die oorspronlike parte en maak die kar heeltemal nuut. Van buite af lyk dit miskien nog dieselfde, maar eintlik is dit ’n hele nuwe kar.

       Jesus se twee gelykenisse, of illustasies sê min of meer dieselfde: “Niemand skeur ’n stuk materiaal uit ’n nuwe kledingstuk en werk dit op ’n ou kledingstuk vas nie. As mens dit doen, sal die nuwe kledingstuk skeur, en boonop sal die nuwe stuk nie by die ou kledingstuk pas nie. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word.” (2020-Vertaling).

       Hoekom wil enigiemand ’n nuwe kledingstuk verniel om ’n ou, geskeurde een reg te maak (v.36)? Daardeur verniel jy beide. Helder materiaal pas nie by ou, uitgewaste materiaal nie. Buitendien sal die nuwe lap krimp en van die ou een losskeur; op die einde maak dit ’n groter gat (Matt. 9:16, Mark. 2:21). Hoekom nie maar net van die begin af die nuwe klere aantrek nie?

            En wat van nuwe wyn in ou wynsakke? Ou wynsakke is uitgerek deur die maande en jare se wyn wat daarin gegooi is. As jy nuwe wyn daarin gooi, gis dit en sit dit uit. Omdat die wynsakke nie verder kan rek nie, laat die nuwe wyn dit skeur. Sodoende bederf jy die wyn én die sakke. Daarom moet jy nuwe wyn in nuwe wynsakke bêre, sodat die wyn daarin kan gis en jy goeie wyn kan hê. So spaar jy dan die wyn én die sakke.

            Wat probeer Jesus deur hierdie gelykenisse sê? Hy het nie gekom om iemand se ou godsdiens beter te maak, sodat jy op die einde kan sê dat jy self in die hemel gekom het met Jesus se hulp nie. Dit was die probleem met die Galasiër-dwaling en is die probleem met die Rooms-Katoliekekerk, die Hebrew Roots Movement, enige kultus en nominale Christene: hulle sien Jesus as Iemand wat ons help om deur ons eie godsdiens in die hemel te kom en nie as Iemand wat ons van begin tot einde red nie.

            Maar as Jesus nie alles in jou lewe is nie, wil Hy nie daar wees nie. Moet Hom dus nie deur jou kerkbywoning, finansiële bydraes, of enigiets ander probeer beïndruk nie. Hy soek nie wat jy Hom kan gee nie. Hy soek jóú (Rom. 12:2)! Hy wil jou in ’n nuwe wynsak verander en die nuwe wyn van sy lewe in jou hart uitstort. Hy wil vir jou die nuwe klere van sy geregtigheid aantrek. Hy wil hê jy moet Hom geniet eerder as wat jy verveeld raak en belas voel met die rituele van georganiseerde godsdiens. As dit vir jou ’n las eerder as ’n vreugde is om Here te dien, is jy besig met godsdiens en nie met Christenskap nie. Dan is die kanse goed dat jy nog ongered is. Vra die Here om dit te verander en om jou heeltemal nuut te maak.

            Ongelukkig sal baie mense dit nie doen nie. Hulle is so gewoond aan die wyn wat hulle nog altyd drink dat hulle dadelik nee sê vir die nuwe wyn wat Jesus bring. Hulle is so vasgevang in hulle godsdienstige tradisie dat hulle die evangelie nie eers ’n kans gee nie. Hulle neem aan dat dit nie beter kan wees as die wyn wat hulle nog altyd gedrink het nie.

            Hierdie is die soort mense wat jou nie ’n kans gee om die evangelie met hulle te deel nie, maar dadelik sê: ‘Ek hét my kerk!’ Pasop dat jý nie so word nie. Dit gebeur veral as ons ouer word, omdat ons dinge al vir jare op ’n sekere manier doen. Jy dink iets is goed net omdat dit oud is. Jy glo dit nie omdat dit in die Bybel staan nie, maar omdat jy dit nog altyd so doen en omdat jy so groot geword het.

            Maar die vraag is nie wat jou pa en jou oupa gedoen het nie, maar wat God in sy Woord sê. Moet dan nie die evangelie, of ’n ander Bybelse waarheid afwys as jy dit nog nie vir jouself bestudeer het nie. En ás jy dit gedoen het en die Bybel sê jy het dit nog al die jare verkeerd verstaan, moet jy jou trots sluk, die waarheid erken, jou knie voor die Here buig, en verander.

            Ek weet dat dit nie maklik is om wyn te los waaraan vir baie jare gewoond is nie. Maar ek wíl sê: jy is dom as jy die ou wyn van godsdiens bo die nuwe wyn van Jesus verkies. Sal jy regtig die nuwe wyn van die hemel mis (Matt. 26:29), net omdat die ou wyn van jou eie godsdiens jou dronk gemaak het en jy dit eendag in die hel sal moet drink (Op. 14:10)?

            Wees radikaal en word ’n radikale dissipel van Jesus. Ek het eenkeer van ’n Katoliek gehoor wie se familielid tot bekering gekom het. Sy reaksie was: ‘Hy het mal geword.’ Wel, as dit is wat dit beteken om mal te wees, dan is ek mal. My innige gebed is dat jy ook in daardie sin van die woord mal sal wees.


1  S.M. Houghton, Scetches from Church History (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1980), 65-8

2  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 141