Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Prediker 12:1-8

Party mense is bang om oud te word. Hulle vrees die dag as hulle nie meer kan bestuur nie, as hulle afhanklik is van ander, as hulle kinders namens hulle besluite moet neem, as hulle uit die huis moet trek waar hulle vir jare gewoon het en na ’n tehuis waar mense van hulle vergeet. Hulle is bang hulle verloor hulle menswaardigheid en dat iemand anders hulle moet bad, aantrek, voer, en hulle doeke moet ruil. Hulle vrees dat hulle liggame ingee, terwyl hulle brein nog helder is. Party is bang dat hulle Alzheimer’s kry, terwyl hulle liggame niks makeer nie.

Om hierdie rede probeer mense veroudering uitstel. Om dit reg te kry, oefen hulle baie, eet hulle gesond, drink hulle multivitamiene, gebruik hulle room om die plooie weg te vat, en kleur hulle hulle hare. Persoonlik dink ek nie dit is verkeerd nie, maar dit is ’n voldonge feit dat jy nie veroudering kan uitstel nie. Jy moet eenvoudig aanvaar dat jy eendag jou asem gaan uitblaas en nie meer hier sal wees nie.

Die meeste mense is bang hiervoor. Dit is hoekom hulle dinge sê soos: ‘Ek wens dat ek in my slaap doodgaan.’ Vir hulle is die dood iets wat hulle nie verstaan nie, sodat hulle die Here kwalik neem as Hy ’n geliefde van hulle wegvat. Maar die persoon moes tog een of ander tyd sterf, nie waar nie? ‘Ja, maar dit sou makliker wees as die persoon oud was,’ sê iemand. Volgens D.A. Carson is dit nie so nie. Toe iemand vir hom sê: ‘Dit is makliker om jou lewensmaat op 80 te verloor as op 30,’ toe reageer hy: ‘If you believe that, ask someone who has just lost his spouse at eighty and see if he shares your perspective. Death is always too soon. It always hurts.’1

Die dood is erg, omdat dit onnatuurlik is (kontra evolusie, oorlewing van die sterkste, en natuurlike seleksie). Die dood is God se straf oor die mens se sonde (Gen. 2:17, 3:19, Rom. 5:12).

Miskien wonder jy hoe ons vir seker kan weet dat dit wat die Bybel oor die dood sê, waar is. Ons weet dat dit waar is, omdat ons die Een ken wat dood was en weer lewe. Hier is hoe Pred. 12:1-8 dit stel:

1. Veroudering (v.1-5)

Ek het al baie mense gehoor sê: ‘Oud word is nie vir sissies nie.’ Dit is nie net ’n ge-eikte uitdrukking nie—dit is waar. Wyle oom Andries Rossouw het meer as een keer vir my gesê: ‘Dit is nie lekker om oud te word nie.’ Soms het hy dit lig gestel: ‘My pa het my waarsku om nie oud te word nie, maar ek wou nie hoor nie.’

Salomo het dieselfde gesê (v.2-5) en daarom moet jy jou lewe geniet terwyl jy nog jonk is (Pred. 11:8-10). Moet egter nie jou lewe mors nie, maar onthou die Here terwyl jy jonk is (v.1, Ps. 90:14). Soek Hom voordat jy oud word en soos baie mense verhard raak, of nie meer kan onthou nie. Dalk kry jy nie Alzheimer’s nie en kom jy tóg op jou oudag tot bekering. Maar wil jy regtig jou goeie en bruikbare jare mors, omdat jy eers laat in jou lewe tot bekering gekom het?

John Piper vertel van ’n geharde ou man wat onder sy pa se bediening tot bekering gekom het. Talle gelowiges het vir die man se bekering gebid. Toe Piper se pa saam met die man bid, toe huil hy soos ’n baba. ‘I’ve wasted it! I’ve wasted it!’ het hy gesê.2 Hy het berou gehad oor die jare wat hy in die Here se diens kón gebruik het, maar nie het nie.

Gebruik dus jou jong dae om voor te berei vir die dag as jy oud word. Bêre die Bybel in die stoorkamers van jou hart en koester ’n verhouding met die Here. Dan sal jy iets hê om aan vas te hou as die plesiere van die lewe jou nie meer aantrek nie (v.1). Jy sal die Here naby jou voel as die son, maan, en sterre van jou lewe donker word en die pyne van jou oudag jou soos Israel se winterstorms tref (v.2). Wanneer daardie dag kom, sal jy nie meer op jou gesondheid staatmaak nie.

  • Die arms en hande waarmee jy jouself beskerm het, sal bewe (v.3). Dit is hoekom ou mense later nie meer kan skryf nie.
  • Die sterk manne, of bene waarop jy geloop het, sal krom wees, sodat jy ’n kierie moet gebruik (v.3).
  • Jy sal vals tande nodig hê, omdat die malers in jou mond min is en nie meer werk nie (v.3). Jy sal sagte kos moet eet. Jy sal soos die boemelaar sonder tande wees wat gekla het toe ek hom ’n appel gee. Jy sal soos die tannie van Namakwaland wees. Toe sy op die vliegtuig klim en hulle vir haar ’n appel gee, toe vra sy die man langs haar: ‘Ag, meneer, wil jy hom nie asseblief vir my start nie?’
  • Uiteindelik sal jou vensters, of oë donker word, selfs al lewe ons in ’n era van laser operasies, kontaklense, en brille (v.3, Gen. 27:1, 48:10, 1Sam. 3:2).
  • Die deure na die straat sal gesluit wees (v.4, Ps. 141:3). Jy sal met ander woorde nie meer baie praat nie (v.4). Jy sal soos my ouma wees wat teen die einde van haar lewe min gepraat het.
  • Die geluid van die meul sal sag word (v.4). Omdat jy min tande het en sagte kos moet eet, sal dit nie raas as jy kou nie.
  • Jy sal nie lekker slaap nie, maar sal wakker word as die voëls in die oggend sing (v.4).
  • Uiteindelik sal jy ook doof raak, sodat jy nie meer musiek kan hoor nie (v.4, 2:8, 2Sam. 19:35).
  • Jy sal bang raak vir hoogtes (v.5). Ou mense wil nie graag val nie, omdat hulle maklik bene breek en dit langer vat om te herstel. Dit is selfs gevaarlik om net te gaan stap (v.5).
  • Jou hare sal wit word soos amandelbloeisels (v.5).
  • Jy sal soos ’n springkaan wees wat nie kan spring nie. Jy sal jouself moet sleep om iets gedoen te kry (v.5).
  • Jou seksdryf sal wees soos ’n kapperkruid [Heb. hā’ăbîyōwnāh] sonder saad (v.5, Gen. 18:11-12).

Al hierdie dinge sal gebeur, omdat jy nie baie tyd in die wêreld oor het nie, maar op pad is na jou ewige huis (v.5). Volgens die Nuwe Testament verwys dit na die hemel, of die hel. Die feit dat dit jou ewige huis is, beteken dat jy nie sal terugkom as iets anders nie. Daar bestaan nie so iets soos reïnkarnasie nie: “die mense [is] bestem…om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Heb. 9:27). Daar bestaan ook nie so iets soos ’n vagevuur [Eng. purgatory] waar mense vir ’n tyd lank brand net om later weer uit te kom en hemel toe te gaan nie. Waar jy gaan wanneer jy sterf, is waar jy bly (Luk. 16:26).

Dit is maar ’n treurige besigheid waarvoor mense in die antieke tyd rouklaers gehuur het om buite die dooie se huis te treur, of in die straat te ween as die stoet verbygaan (v.5, Jer. 9:17, Mark. 5:38, Joh. 7:12-13, 11:31, Hand. 9:39). Tog moet ons as Christene nie net die donkerkant van veroudering sien nie. Sê eerder vir die Here dankie dat Hy jou met ’n lang lewe geseën het (Deut. 5:33); dat Hy jou ’n kans gee om dinge met Hom en met ander mense reg te maak; dat Hy jou enduit gedra het (Gen. 48:15, Jes. 46:4). Wees soos wyle tannie Etrechia de Villiers wat by ons laaste ontmoeting vir my gesê het: ‘Ek het hierdie week vir die eerste keer Psalm 23 in die verledetyd gelees. “Die Here was my Herder; niks het my ontbreek nie…”’

2. Die dood (v.6-8)

Die dood het al baie hartseer en pyn in die wêreld veroorsaak; beide vir dié wat gesterf het en vir dié wat agterbly. Dit is die rede vir Jesus se trane in Joh. 11:33, 35, 38 toe Lasarus dood is. Hy het nie gehuil omdat Hy hartseer was nie, maar omdat Hy kwaad was. Johannes gebruik ’n Griekse woord [embrimaomai] wat aandui dat sy woede, of toorn Hom beweeg het. Hoekom was Hy kwaad? Hy was kwaad omdat die dood droefheid en pyn veroorsaak. Dit is asof die silwer koord van ’n mens se lewe gebreek het en die goue bak daarvan in skerwe spat (v.6). Die olie is op, sodat die goue lamp van die persoon se lewe uitgedoof is (vgl. Sag. 3:2). Die kruik waarmee hy water geskep het, het gebreek en die skepwiel het in die put geval (v.6). Die stof waaruit die Here ons gemaak het, keer terug na die aarde (v.7, Gen. 2:7, 3:19, Ps. 90:3, 103:14). Die lewensasem, of gees [Heb. ruach] wat Hy in die mens ingeblaas het, het teruggekeer na Hom wat dit gegee het (v.7, Gen. 2:7).

Laasgenoemde verwys nie nét na die mens se lewensasem soos party mense sê nie. Job 34:14-15 onderskei tussen die mens se gees en sy asem. In die Nuwe Testament verwys die gees na die nie-materiële deel van mens (Jak. 2:26, 1Tess. 5:23). Dit is die deel wat hemel, of hel toe gaan wanneer iemand sterf. Hier is hoe die Bybel dit verduidelik:

[a] Al het Abraham, Isak, en Jakob gesterf, lewe hulle by die Here (Matt. 22:32).

[b] Toe die ryk man in Lukas 16 begrawe is, is sy siel hel toe, terwyl Lasarus hemel toe is (Luk. 16:22-24). Sommige sal sê dat dit ’n gelykenis is, maar dit maak nie ’n verskil nie, aangesien Jesus nooit leuens vertel het nie; ook nie in ’n gelykenis nie.

[c] Toe Jesus op die berg van verheerliking was, het Moses en Elia uit die hemel aan Hom verskyn (Luk. 9:30-31).

[d] Jesus het vir die rower aan die kruis gesê: “vandag sal jy saam met My in Paradys wees.” (Luk. 23:43). Party mense dink Hy bedoel: ‘Ek sê vir jou vandag: jy sal saam met My in die Paradys wees.’ Volgens hulle het Jesus dus nie gesê wanneer die man in die Paradys sou wees nie, maar net dat hy daar sou wees. Dit is egter ’n verkeerde interpretasie, omdat Jesus nooit gesê het: ‘Vandag sê Ek vir jou…’ nie. Dit is tog nie asof die man sou dink: ‘Jesus het dit gister, of more vir my gesê’ nie. Hoekom sou dit dan nodig wees om te sê: ‘Ek sê vir jou vandag…’? Jesus bedoel eenvoudig dat die man daardie selfde dag nog saam met Hom in die Paradys sou wees. Vier verse later sien ons dat Jesus self hemel toe (Luk. 23:46).3 Ons weet dat die man saam met Hom daar was.

[e] Volgens Jesus hou dié wat in Hom glo aan met lewe nadat hulle doodgaan (Joh. 11:25-26). Nie eers die dood kan ons van Hom skei nie (Rom. 8:38).

[f] Nadat Judas selfmoord gepleeg het, is hy hel toe (Hand. 1:25).

[g] Toe Stefanus dood is, is hy hemel toe (Hand. 7:59, 56).

[h] Vir Paulus was daar net twee opsies: om in sy liggaam op aarde te wees, of buite sy liggaam by Jesus (2Kor. 5:8, Fil. 1:23).

[i] Die gelowige se gees sal volmaak wees in die hemel (Heb. 12:23).

[j] Sodra ’n ongelowige sterf, straf God hom in die hel (2Pet. 2:9, Jud. 7). Hy is soos ’n misdadiger wat in die tronk wag vir sy hofsaak om voor te kom. Op die oordeelsdag sal God hom ’n afgryslike optandingsliggaam gee en weer na die ewige hel toe stuur (Dan. 12:2, Jes. 66:24, Matt. 25:41, 46, Mark. 9:48, Op. 14:11). Party ongelowiges se straf sal erger wees as ander s’n (Matt. 10:15, 11:22, 24, Luk. 12:47-48, 20:47, Joh. 19:11, Jak. 3:1).

[k] As jy een is met Christus wanneer jy sterf, sal jy die rus van die hemel geniet (Op. 14:13).

Party mense sien dit nie so nie, maar dink dat ons siele in die graf slaap totdat Jesus weer kom. Party van die vroeë kerkvaders het dit geglo, terwyl ander dieselfde as ek glo.4 Mense wat in sieleslaap glo, het hulle gunsteling verse. Hulle hou byvoorbeeld van Eseg. 18:4 wat sê dat die siel wat sonde doen, moet sterf. Maar hier gaan dit oor ongelowiges en oor die tweede dood van die hel (Rom. 6:23, Op. 20:14-15, 21:8). Dit beteken nie dat God mense se siele uitwis wanneer hulle sterf nie (vgl. Matt. 10:28, 2Tess. 1:9).

Die aanhangers van sieleslaap verwys ook na Ps. 6:6, 115:17, en Jes. 38:17-18 wat sê dat die dooies nie aan die Here dink, of Hom prys nie. As jy egter die konteks lees, gaan dit oor ongelowiges, of gelowiges wat sê: ‘As U my in u toorn straf en nie vergewe nie, sal ek na die plek gaan waar niemand U prys nie (die hel).’ Omdat die Here ons egter gered het, sal ons Hom vir ewig prys (Ps. 115:18).

Wat van Prediker 9 wat sê dat die dooies niks weet, of doen nie? Weereens gaan dit in die konteks oor die dooies wat nie deel het aan wat onder die son gebeur nie (Pred. 9:5-6, 9-10). Hulle sien met ander woorde nie wat op die aarde aangaan nie: “Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie; hulle word verkleineer, maar hy merk dit nie op nie.” (Job 14:21, 2020-Vertaling). Om hierdie rede is dit dom as jy vir dié wêreld lewe, aangesien die dood jou in skaakmat sal sit en jou gaan stroop (v.8). As jy veilig deur die dood wil kom en vir ewig wil lewe, moet jy op Jesus vertrou wat die dood oorwin het (Heb. 2:14-15, Op. 1:18). Soos Hy ander mense veilig deur die vallei van die dood gebring het, kan Hy jou ook deurdra (Ps. 23:4, 1Kor. 10:13, Fil. 1:6, Jud. 24). Dit sal vir jou voel of jy aan die slaap raak en dadelik by die Here wakker word (Ps. 17:15, Hand. 7:60, 2Kor. 5:8).

Omdat die Here altyd by jou sal wees, hoef jy nie veroudering en die dood te vrees nie (Ps. 71:9, Jes. 43:2, Heb. 13:5). Gebruik jou laaste jare om die Here te dien, om jong mense vir Hom te beïnvloed, om goeie vrugte te dra, om op hemelse dinge te fokus, en om tot die einde toe te volhard (Ps. 71:18, 92:13-16, 2Kor. 4:16-18, 2Tim. 4:6-8, Tit. 2:3-5). Moet egter nie die dood, of selfs die hemel as die einde beskou. Sien eerder uit na die dag wat jou siel saam met Jesus na die aarde toe kom. Hy sal jou liggaam opwek, dit verheerlik, en jou siel daarmee herenig (1Kor. 15:52-53, Kol. 3:4, 1Tess. 4:13-14, 16). Dan sal ons die dood se begrafnis hou en sal niemand weer oud word en sterf nie (Jes. 25:7-8, 1Kor. 15:26, 42-44, 54-55, Op. 20:14, 21:4).

As jy hierdie waarhede onthou en daarvolgens lewe, sal jy soos wyle Martin Holdt in oorwinning sterf. ’n Paar dae voor sy dood het sy bediende hom kom groet. Hy het sy arms in die lug gegooi en gesê: ‘Maria! Ek gaan hemel toe!’ Dit kan met jou ook gebeur. Die dood sal soos ’n ou donkiekar wees wat jou van die bouvallige plaashuis van hierdie lewe af na die beeldskone paleis van die hemel toe vat.


1  Aangehaal in Deborah Howard, Sunsets: Reflections for Life’s Final Journey (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2005), 242

2  John Piper, Don’t Waste Your Life (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 2003), 12

3  Volgens 2Kor. 12:2-3 is ‘Paradys’ maar net ’n ander naam vir ‘hemel’.

4  Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 1999), 27-8. Sien ook Charles E. Hill, Regnum Caelorum: Patterns of Millennial Thought in Early Christianity (Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company, 2001)