Persoonlike Probleme: Genadedood en Selfmoord

Verskeie Tekste

Almal van ons is al deur selfmoord geraak. Verlede jaar het ’n kollega laat weet: ‘Broers, bid asseblief vir my en my vrou. Ons seun het vanmiddag sy eie lewe geneem.’ In 2013 het ’n Amerikaanse prediker genaamd Rick Warren se seun selfmoord gepleeg. My vriend het ’n leraar van ’n ander denominasie in die hospitaal besoek. Die leraar het probeer om sy eie lewe te neem. My vriend het met hom daaroor gepraat, maar ’n paar maande later toe neem die leraar sy eie lewe. In my eie bediening het ek al mense besoek wat probeer het om selfmoord te pleeg. Ek het ook al sulke mense beraad. ’n Vrou wat in ons gemeente was se dogter het haar kind geskiet en daarna haarself.

Selfmoord is vir niemand van ons ’n vreemde konsep nie. Iets waarmee ons egter nié so bekend is nie (ten minste in die praktyk), is genadedood. Genadedood gebeur gewoonlik wanneer ’n individu, of sy familie vir ’n dokter toestemming gee om sy lewe te beeïndig, sodat hy nie verder sal ly nie. Vat byvoorbeeld die 65-jarige Robin Stransham-Ford wat aan prostaatkanker gely het. In 2015 het hy sy dokter gevra om hom te help om sy lewe te neem. Die hooggeregshof in Pretoria het gesê dat hulle nie wetlike stappe teen die dokter sal neem indien hy dit doen nie. Stransham-Ford het gesterf voordat die dokter hom kon inspuit.1

Hoe moet ons genadedood vanuit ’n Bybelse perspektief beskou? En wat maak ons van Christene wat gedagtes van selfmoord het, of selfs daarin slaag om hulle eie lewens te neem?

1. Genadedood

Ek ken ’n man wie se vrou in ’n motorongeluk was. Sy is in die hospitaal opgeneem en kort daarna breindood verklaar. Dit het vir ’n paar dae aangehou, totdat hulle op die einde besluit het om die masjiene af te sit. Iemand anders het my vertel dat hy en sy vrou besluit het om hulle baba se masjiene af te sit, selfs al kon die kind vir nog twee jaar lewe. Hoe moet ons hierdie gevalle beskou? Volgens my was die tweede geval moord en die eerste een nie. Hoe weet ’n mens wanneer dit moord is om die masjiene af te sit en wanneer nie? Dit is nie net ’n teoretiese vraag nie, aangesien jý dalk eendag in die posisie mag wees waar jy so ’n besluit sal moet neem.

Genadedood gebeur waar iemand se lewe drasties verleng kan word, maar hy, of die familie ’n dokter vra om dit te beeïndig. Die groot woord hiervoor is aktiewe genadedood (of beter, genademoord). As voorbeeld vat ons ’n 38-jarige vrou van België, Tine Nys. Op 27 April 2010 het ’n dokter haar die dodelike inspuiting toegedien, omdat sy na ’n gebroke verhouding nie meer wou lewe nie. Haar familie het bygestaan toe die dokter haar inspuit.2

Rigt. 9:52-54 is nog ’n voorbeeld van aktiewe genadedood. Een van Gideon se seuns, Abimeleg, het probeer om ’n toring in Tebes af te brand. Toe hy nader gekom het om die toring se deur aan die brand te steek, het ’n vrou ’n meulsteun op sy kop gegooi. Dit het sy skedel verpletter, maar hy was nie dood nie. Hy het sy wapendraer gevra om hom met die swaard dood te maak, sodat niemand kon sê ’n vrou het hom doodgemaak nie.

Genadedood is moord en ’n oortreding van die sesde gebod (Eks. 20:13). Dit is om God se plek te wil inneem; Hy wat alleen mag het oor lewe en dood (Deut. 32:39, 1Sam. 2:6, Op. 1:18). Dit is om ’n mens se lewe niks hoër te ag as ’n hond wat jy uitsit nie, terwyl Gen. 1:27 sê dat God die mens na sy beeld gemaak het. Juis om hierdie rede het geen mens die reg om ’n ander een se lewe te neem nie, buiten in die geval van manslag, regverdige oorlog, selfverdediging, of doodstraf (Gen. 9:6, Lev. 24:17, 21, Num. 35:9-34, Deut. 20:10-13, Matt. 26:52, Luk. 22:36, Rom. 13:4).

Maar wat van ’n geval waar iemand byvoorbeeld besig is om in ’n kar te brand? Hoekom sal jy ’n perd skiet wat in skuur brand, maar nie ’n mens wat in dieselfde situasie ly nie? Norman Geisler sê: ‘…the reason a Christian could shoot a horse hopelessly trapped in a burning barn, but not kill a suffering human being, is precisely because a human is not a horse.’3

Wat van passiewe genadedood waar ’n dokter nie aktiewe stappe neem om iemand se lewe te beeïndig nie, maar natuurlike lewensmiddele weerhou, sodat die persoon sterf? Geisler noem die geval van ’n liggaamlik-gestremde baba wat sou oorleef het as hy ’n operasie kon kry. Sy ouers het egter besluit om nié laat te opereer nie, maar vir die dokter te vra om die kind se lewensmiddele (melk) weerhou.4 Sulke optrede spruit uit ’n wêreldbeskouding waar die mens maar net nóg ’n dier is; die produk van verstandlose evolusie.

Maar wat as die mediese kostes te veel raak? Dit maak nie saak nie, omdat ’n mens se lewe kosbaarder is as geld. Volgens die Bybel is dit beter om mense se pyn met medikasie te verlig (Spr. 31:6-7) en nie om hulle lewens te neem nie. So lui die Hippokratiese eed wat dokters in die verlede afgelê het: ‘I will neither give a deadly drug to anybody who asked for it, nor will I make a suggestion to this effect. Similarly I will not give to a woman an abortive remedy.’5

Onthou asseblief dat verligting van pyn nie die hoogste doel is nie (Matt. 27:34). Ons hoogste doel is om ten spyte van die pyn die Here te verheerlik (Job 1:21, Hand. 16:25). Mense wat dít verstaan, ken die verskil tussen passiewe genadedood wat moord is, en ’n situasie waar jy iemand wat terminaal siek is, toelaat om te sterf. Laasgenoemde gebeur as alles daarop dui dat die persoon nie lank oor het om te lewe nie en dokters niks meer vir die persoon kan doen nie. In so ’n geval is dit nie verkeerd as die persoon nie verder medikasie wil gebruik nie, of selfs as hy soos Martyn Lloyd-Jones sê: ‘Do not pray for healing. Do not hold me back from the glory.’6 John MacArthur sê: ‘The intention of “letting die” is not to bring about death but to enhance the well-being of the patient by avoiding usesless prolonging of the dying process.’7

2. Selfmoord

Statistiek toon dat 23 mense per dag selfmoord pleeg in Suid-Afrika. As ’n mens die mislukte pogings byvoeg, maak dit die statistiek twintig keer hoër. Wêreldwyd is daar elke 40 sekondes iemand wat selfmoord pleeg. Dit is byna dubbel die moordsyfer. In sommige kulture is dit ’n eer om selfmoord te pleeg. Dink maar aan Japanese, of Islamitiese selfmoord-bommers. In die Christelike wêreldbeskouing is selfmoord ’n vorm van moord en daarom ook sonde. Buiten vir die voorbeeld van Abimeleg hierbo, is daar nóg voorbeelde van selfmoord in die Bybel.

[a] Tydens ’n oorlog teen die Filistyne, het Saul se vyande hom met pyle geskiet. Toe hy vrees dat hulle hom sou martel, toe vra hy sy wapendraer: ‘Maak my dood.’ Omdat sy wapendraer dit nie wou doen nie, het Saul in sy eie swaard geval (1Sam. 31:3-4).

[b] Saul se wapendraer het sy slegte voorbeeld gevolg (1Sam. 31:5). Dalk het hy ook soos Saul gevrees dat die Filistyne hom sou martel.

[c] Toe Absalom teen koning Dawid in opstand gekom het, het Agitofel ook teen Dawid gedraai en Absalom se raadgewer geword. Absalom het vir Agitofel gevra: ‘Wat stel jy voor? Hoe kan ek my pa oorwin en Israel onder my koningskap bring?’ Agitofel het uitstekende raad gegee, maar Dawid het gebid dat die Here sy raad sal verydel. Dawid het vir Husai gestuur om Agitofel se raad te weerspreek. Husai het vir Absolom gesê: ‘Agitofel se raad is nie goed nie. Kry eerder die hele Israel om saam met jou teen jou pa te veg.’

Absalom het Husai se raad gevolg. Agitofel het geweet Absalom gaan sterf as hy Husai se raad volg. Dit sou ook sy eie dood meebring, omdat Dawid hom vir hoogverraad sou aankla en die doodstraf sou gee. Gevolglik het Agitofel besluit om liewer self sy lewe te beeïndig. Hy het op sy donkie geklim, huistoe gegaan, sy papierwerk in orde gekry en homself gehang (2Sam. 17:23).

[d] Simri was die koning van Israel vir sewe dae. Die volk het egter teen hom gedraai, omdat hy die vorige koning doodgemaak het. Toe Simri sien dat die Israeliete die stad omsingel, toe sluit hy homself in die vesting toe en steek dit aan die brand (1Kon. 16:15-18).

[e] Judas het Jesus vir dertig stukke silwer verraai. Later het sy gewete hom gepla. Hy het die geld vir die Joodse leiers teruggevat en homself gaan hang (Matt. 27:3-5). Blykbaar het die tou gebreek, of gegly, sodat hy vooroor geval het en sy ingewande oopgebars het (Hand. 1:18).

Buiten vir Saul se wapendraer, weet ons uit die Bybel dat bogenoemde persone en Abimeleg se selfmoord die Here se straf oor hulle sonde was (Rigt. 9:56, 2Sam. 15:31, 1Kon. 16:18-19, 1Kron. 10:13-14, Matt. 26:14-16, 24, 47-49, Joh. 6:70-71, 12:5-6, 13:2, 17:12, Hand. 1:25). Dawid sê van die goddelose: “Hulle swaard sal in hul hart gaan” (Ps. 37:15).

Dit is vandag nog so dat die Here mense straf deur toe te laat dat hulle hulle eie lewens neem. Dink maar aan Adolf Hitler. Of wat van ’n bekende gereformeerde prediker in Skotland wat probeer het om sy eie lewe te neem? Hy het misluk en in die hospitaal beland. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy homself gehang. Na sy dood het dit bekend geword dat hy reeds vir dekades in verskeie buite-egtelike verhoudings betrokke was (http://thewartburgwatch.com/2017/09/29/blindsided-the-true-story-of-the-circumstances-surrounding-the-death-of-iain-campbell/).

Dit beteken nie dat elke geval van selfmoord God se straf vir die persoon se sonde is nie. In Simson se geval wou hy God se wraak oor die Filistyne uitvoer, met die wete dat hy saam met hulle sou sterf (Rigt. 16:28-30). Hy is die klassieke geval van iemand wat sy eie lewe beeïndig het en hemel toe is (sien Heb. 11:32, 39-40).

En tog is Simson die uitsondering en nie die reël nie. Ek verstaan heeltemal dat ’n ware gelowige in ’n oomblik van depressiewe swakheid soos Elia en Jona kan wees wat gewens het om te sterf. Dit is selfs moontlik dat ’n gelowige in sulke tye kan poog om sy eie lewe neem en suksesvol is. Dit het gebeur met ’n toegewyde gelowige in my vriend se gemeente. Nadat hy vir ’n rukkie op sterk anti-depressante was, het hy sy lewe geneem. Iets soortgelyk het met William Cowper (1731-1800) gebeur. Hy was baie depressief en het verkeerde lering oor selfmoord gekry. Gevolglik het hy ses keer probeer om sy lewe te neem.8 Iemand wat verkeerdelik glo hy kan sy redding verloor, of dat hy die onvergeeflike sonde gepleeg het, kan ook in hierdie strik beland. Of gelowiges wat die slagoffer is van boelies, of verkragters en nie weet hoe om daarmee te deel nie.

Alhoewel dit verkeerd is van so iemand om nie die Here te vertrou nie, kan nie eers selfmoord ’n ware gelowige van God se liefde skei nie en sal God die persoon veilig tot in die hemel bring (Rom. 8:1, 38-39, Fil. 1:6, 2Tim. 4:18, Jud. 24). Selfmoord is sonde, maar dit kan vergewe word (Matt. 12:31). ’n Mens gaan immers nie hemel toe, of hel toe op grond van die laaste daad wat jy op aarde gedoen het nie.

En tog gee dit jou nie ’n lisense om selfmoord te pleeg nie. As gedagtes van selfmoord gedurig deur jou kop swem en jy aanhoudend probeer om jou lewe te neem, is die kanse goed dat jy nie gered is nie. Volgens 1Joh. 3:15 en Op. 21:8 het moordenaars nie die ewige lewe nie, maar gaan hulle hel toe. Ek sal dus versigtig wees om haastig op so iemand se begrafnis te sê: ‘Hy is nou by die Here.’ Ons plig is nie om die persoon se bestemming te bepaal nie, maar om dié te help wat nog lewe en selfmoord oorweeg.

Hoe help ’n mens so iemand? Neem enige dreigemente van selfmoord ernstig op. Onthou dat jy nie teen mense stry nie, maar teen Satan wat van die begin af ’n moordenaar is (Joh. 8:44). Toe die duiwel in Judas invaar, het hy hom tot selfmoord aangehits (Joh. 13:27, Matt. 27:5). Moet daarom nie iemand wat wil selfmoord pleeg in jou eie krag probeer help nie, maar bid baie, deel die evangelie met die persoon, en gebruik die Bybel. Dit is hoe Paulus die tronkwag van Filippi gehelp het toe hý selfmoord wou pleeg (Hand. 16:27-34).

Vind ook uit hoekom die persoon sy lewe wil neem:

  • Het hy ’n skuldige gewete? Sê vir hom dat daar genade en vergifnis is as hy hom bekeer en dat die bloed van Jesus sy gewete kan reinig (Spr. 28:1, Heb. 9:14, 10:22, 1Joh. 1:9).
  • Is die persoon hopeloos en depressief? Dink hy dat die Here hom nie kan red, of vergewe nie? Sê vir hom dat daar by die Here hoop is, dat Jesus rus gee aan dié wat moeg en oorlaai is, dat Hy niemand sal wegwys wat na Hom toe kom nie, en dat sy genade groter is as ons sonde (Ps. 42:6, Matt. 11:28-29, Joh. 6:37, Rom. 5:20).
  • Vrees die persoon dat mense sal uitvind wat hy in die verlede gedoen het, of dat hulle hom sal verwerp en straf? “Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.” (Spr. 29:25). “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt. 10:28).
  • Is die persoon bang om in pyn te sterf? Is dit vir hom te erg om aan te hou lewe nadat sy lewensmaat, of kind dood is? Die Here kan hom troos, deur die dal van doodskaduwee lei, en veilig deur die water en vuur van beproewings bring (Ps. 23:4, Jes. 43:1-2). Richard Baxter (1615-1691) waarsku: ‘…will it ease you to pass from poverty or crosses [trials] into hell?… Are you weary of your lives, and will you go to hell for ease?’9 Moet dus nie selfmoord as die uitweg kies nie.
  • Voel die persoon doelloos, of verward oor wie hy is? Help hom uit God se Woord. God het ons na sy beeld gemaak (Gen. 1:27). Hy het ons gemaak om Hom te verheerlik en sy lof te verkondig (Jes. 43:7, 21, 1Kor. 10:31). As Hy ons gered het, is ons ’n nuwe skepping in Christus (2Kor. 5:17). Die persoon wat gered is, is saam met Christus gekruisig. Hy lewe nie meer nie, maar Christus lewe in hom (Gal. 2:20).

Wees geduldig met die persoon wat selfmoord wil pleeg (1Tess. 5:14, Jud. 22-23). Dit is wat John Newton vir William Cowper gedoen het. Hy was geduldig met sy vriend, het hom in sy huis laat bly, het hom aangemoedig om Christelike gesange te skryf, en het baie ure met hom deurgebring.10

Raai die persoon aan om nie selfmoord te pleeg nie, omdat die dood nie die einde is nie. Hy gaan eendag voor die Here moet staan (Heb. 9:27). Sê dus vir hom dat selfmoord nooit die oplossing is nie. Dit is wat John Bunyan se karakter Hoopvol vir Christen gesê het toe die Reus Wanhoop hulle gevange geneem het en in die Kasteel van Vertwyfeling toegesluit het.

Die Reus het ’n tou, ’n mes en gif voor hulle neergesit en vir hulle gesê om selfmoord te pleeg. Christen wou die Reus se raad volg, omdat hy gedink het hulle sal nooit daar uitkom nie. Hoopvol het vir hom gesê dat dit moord is—nie net moord van die liggaam nie, maar van die siel, omdat moordenaars hel toe gaan. Hy het vir Christen gesê dat hulle op die Here moet wag eerder as om hulleself dood te maak. Christen het moed geskep, maar toe die Reus hulle wéér slaan, wou hy selfmoord pleeg. Hoopvol het vir Christen herinner aan hoe die Here hom voorheen deur donker tye gehelp het. Dit het hom gehelp en uiteindelik daartoe gelei dat hulle uit die kasteel ontsnap het.11

Eintlik is dit nie net ’n storie nie, maar ’n gelykenis van Bunyan se lewe. Die Here het hom Bunyan male sonder tal uitgehelp toe die duiwel hom aanhoudend geteister het.12 En kan Hy dit nie vir jóú doen nie? Ja, Hy kan. “Geen versoeking het oor julle gekom behalwe ’n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.” (1Kor. 10:13, 2020-Vertaling).


1  https://www.bbc.com/news/world-africa-32530580

2  https://www.bbc.com/news/world-europe-51322781

3  Norman L. Geisler, Christian Ethics (Grand Rapids, Michigan: Baker Book House, 1989), 162

4  Ibid., 163

5  https://hslmcmaster.libguides.com/c.php?g=306726&p=2044095

6  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 747

7  John MacArthur, Right Thinking in a World Gone Wrong (Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 2009), 111

8  John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 183-5

9  Richard Baxter, A Christian Directory (Morgan, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2000), 781

10  Piper, ibid., 186-8, 198

11  John Bunyan, The Pilgrim’s Progress (Ross-shire, Fearn: Christian Focus Publications, 2005), 121-5

12  Soos beskryf in sy boek, Grace Abounding to the Chief of Sinners (Springdale, PA: Whitaker House, 1993)