Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 June 2013

Pasop vir omkoopgeskenke

Bribe

15:27 Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.  17:8 Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag. 17:23 Die goddelose neem ‘n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.  18:16 Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.  19:6 Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het ‘n hoop vriende.  21:14 ‘n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en ‘n geskenk in die skoot die heftige woede.  28:21 Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir ‘n stuk brood kan ‘n man ‘n oortreding begaan.  29:4 ‘n Koning hou deur reg die land in stand, maar ‘n man wat belastings afpers, verwoes dit.” (Spreuke)

 

Die rede hoekom mense omkoopgeskenke gee en vat

Ons is almal bekend met omkoopgeskenke.  In ons land weet ons hoe regspersone en verkeerspolisie ryk word deur omkoopgeskenke, in plaas van 'n wel verdiende salaris.  Die Hansie Cronjé saak is die bekendste van sy soort in afgelope jare.  Wat sê die Bybel oor omkopery?  Hoekom doen mense dit?  Hier is vier redes:

 

  1. Mense is gierig.  Hulle sal sondig vir geld (15:27a).  Iemand sal beswaar aanteken:  “As jy my klein salaris verdien het sal jy dit ook doen.”  Toe die Romeinse soldate vir Johannes die Doper gevra het oor hoe hulle hul lewens moet verander, het hy gesê:  “Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle loon.” (Lukas 3:14).  Jesus het gesê:  “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:31-33).  Die mens se hart is so gierig dat hy (soos Judas) sy Meester sal verloën vir 30 stukke silwer.  Mense sal die reg verdraai vir 'n stuk brood:  “...vir ‘n stuk brood kan ‘n man ‘n oortreding begaan.” (28:21).  “En julle ontheilig My by my volk vir ‘n paar hande vol gars en vir ‘n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister.” (Esegiël 13:19).  Daar is mense wat sal trou, omdat die ander persoon geld het.  Party kinders maak vriende vir wat hulle kan kry en nie vir wat hulle kan gee of vir wie die persoon is nie:  “Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het ‘n hoop vriende.” (19:6).  As die ryk man sy geld verloor dan verloor hy sy vriende.  Party mense maak so met Jesus:  hulle stel nie in Hóm belang nie, maar in wat hulle by Hom kan kry (vergifnis of die hemel).  Ander glo dat Hy hulle gesond of ryk sal maak.  Wanneer hulle dit nie van Hom kry nie, draai hulle hul rug op Hom.  Moenie so wees nie.  Wees lief vir Jesus vir wie Hy is. 

 

  1. Omkoopgeskenke maak deure oop.  'n Groot diamant is die sleutel tot die deur van sommige vroue se harte.  So is 'n omkoopgeskenk:  “Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag.” (17:8).  In die moderne Engelse idoom:  “Money talks.”  Maar dit is net in die skelm se oë wat die omkoopgeskenk die antwoord is.  Die regverdige sien verder as dit en antwoord soos Petrus wanneer iemand hom probeer omkoop:  “Mag jy en jou vuil omkoopgeld hel toe gaan!” (sien Handelinge 8:18-23).  Partykeer kan geskenke positief gebruik word om deure oop te maak:  “Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte” (18:16.  In 1 Samuel 25:27 het Abigail vir Dawid ‘n geskenk gestuur om te keer dat hy vir Nabal sou doodmaak).  Maar oor die algemeen het mense versteekte motiewe wanneer dit by hierdie saak kom.

 

  1. Mense soek ander se guns.  Party mense sal omkoopgeskenke gee om belangrike mense te ontmoet, sodat hulle kan sê:  “Ek ken vir Theuns Jordaan... Ek het Barak Obama se hand geskud.”  In 18:16 lees ons:  “Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.”  So iemand soek ryk vriende, omdat hy wil hê dat ander hom met ryk mense moet assosieer (19:6). 

 

  1. Mense soek 'n kits oplossing vir verhoudingsprobleme.  Daar is 'n plek om blomme te koop vir jou vrou as jy die gebroke verhouding wil herstel:  “‘n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring...” (21:14a).  Maar dit is 'n fyn lyn.  Ons moenie omkoopgeskenke gee nie (21:14b).  God het 'n mens geword en aan ons die geskenk van sy lewe gegee om sy toorn tot bedaring te bring (in Engels praat ons van ‘propitiation’).  Ons moet só wees:  gee geskenke en nie omkoopgeskenke nie.

 

Die gevolge vir mense wat omkoopgeskenke gee en vat

Drie gevolge staan uit:

 

  1. In Josua 7:25 het Agan moles oor sy hele huisgesin gebring, omdat hy geldgierig was.  Dit is ten minste een van die gevolge vir mense wat omkoopgeskenke gee en vat:  “Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering” (15:27a).  Jy sal uitgevang word en jou werk verloor, jou reputasie kwyt wees, God se frons oor jou skouer voel, die vertroue van die publiek verloor en ‘n gewete hê wat jou nie met rus laat nie. 

 

  1. Jy stel jou lewe in gevaar.  Moenie jou familie haat nie (15:27a), maar haat omkoopgeskenke sodat jy kan lewe en nie hel toe gaan nie (nie dat dit die gronde vir jou redding is nie, maar eerder die uitvloeisel daarvan):  “hy wat geskenke haat, sal lewe.” (15:27b).  “So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak:  dit ontneem sy besitter die lewe.” (1:19).  “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Timoteus 6:10). 

 

  1. Mense verdraai die gereg.  Vir 'n paar ekstra rand uit jou baadjie se binnesak [‘'n omkoopgeskenk uit die boesem’, 17:23], is daar altyd iemand wat bereid sal wees om te help dat jou paspoort gou afgehandel word; dat jy jou lisensie lag-lag slaag:  “Die goddelose neem ‘n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.” (17:23).  Die polisie los Chinese uit wat 'n paar rolle R200 note opdok.  Genoeg geld kan dinge laat goed gaan in die hof of sorg dat die leêr met die bewyse ‘verdwyn’.  As jou pa genoeg geld het kan jy óók in die eerste span wees.  Party predikante sal, vir 'n paar rand in sy rekening, preek wat die ryk familie wil hoor.  Daar is baie leiers in ons land wat graag omkoopgeskenke vat.  Ons word swaar belas met tolgeld en brandstofpryse, en so bring hulle ons land onder:  “‘n Koning hou deur reg die land in stand, maar ‘n man wat belastings afpers, verwoes dit.” (29:4).  Maar dit help nie dat ons soos ongelowigs kla nie (Titus 3:1-2).  Bid vir die regering (1 Timoteus 2:1-2).  Sorg dat jý reg doen, die regering gehoorsaam en jou belasting betaal (Romeine 13:1-7). 

 

“Wees eerlik en gehoorsaam die Bybel se lering oor omkoopgeskenke:  Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.” (Eksodus 23:8). 

 

“Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het.  Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.” (Deuteronomium 16:19-20). 

 

“Sekerlik, afpersing maak ‘n wyse dwaas, en ‘n geskenk bederwe die hart.” (Prediker 7:7). 

 

“Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na.  Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.” (Jesaja 1:23). 

 

“Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.” (Amos 5:12). 

 

“Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld.  Nogtans steun hulle op die HERE en sê:  Is die HERE nie in ons midde nie?  Geen onheil sal ons wedervaar nie!... Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen.  Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.” (Miga 3:11, 7:3). 

 

Gee geskenke om dankie te sê nádat die guns aan jou bewys is – nie vooraf om die guns gedoen te kry nie.  Wees buitendien altyd agterdogtig oor dinge wat in die geheim gedoen word (1 Johannes 1:5-10).

Kategorieë