Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 February 2013

Oor suksesvolle sakemanne en mooi vroue

Woman with pig snout

Suksesvolle sakemanne

In Sherwood Baptist Church se film, Fly Wheel, is Jay Austin 'n skelm tweedehandse motorhandelaar.  Hy buit mense uit en doen hulle in.  Wanneer hy later tot bekering kom doen hy eerlike besigheid en geniet hy God se seën.  Laasweek het 'n vrou my vertel van 'n kwekery wat Royal Blue Agapanthes plante aan haar verkoop het.  Toe die plante blom was dit nie Royal Blue nie, maar ligpers.  Toe sy dit wou terugneem het die kwekery nie meer bestaan nie.

 

In Salomo se tyd sou oneerlike sakemanne veral die armes, weeskinders, weduwees, en blindes kul.  In die eenkant van die winkeleienaar se skaal het hy 'n klip gehad.  Kom ons gestel die klip het 1 kilogram geweeg.  As iemand 1 kilogram koring wou koop sou die verkoopsman sy klip in die eenkant van die skaal hê, en koring in die ander kant afmeet.  Sodra die skaal gelyk gebalanseer het sou hy die 1 kilogram koring in 'n sakkie sit en verkoop.  Maar daar is skelm sakemanne.  Hulle is die tipe wat 'n 950 gram klip met 'n 1 kilogram etiket op die skaal sit.  Jy kan skaars die verskil tussen dít en 'n 1 kilogram klip sien.  Hy verkoop dus eintlik 950 gram koring teen die prys van 'n kilogram.  En as hy in 'n maand 500 kliënte gekroek het maak hy 'n hele paar shekels skelm wins.

 

Daar is ook ander maniere waarop hulle kliënte gekroek het.  Jy kan die 1 kilogram klip van onder af uithol en toesmeer.  Die blinde vrou sal nie eers weet sy word ingedoen nie, weeskinders is te onkundig, en die weduwee kan nie stry nie – sy kan mos sien die klip is die regte grootte.  'n Slinkse sakeman sal ook sy duim op die skaal druk om die koring swaarder te laat weeg as wat dit is.  God is regverdig en waaragtig en haat skelm besigheid.  Die wet, wysheidsgeskrifte, en die profete wys dit.

 

“Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie.  Julle moet ‘n regte weegskaal hê, regte weegstene, ‘n regte efa en ‘n regte hin.  Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.” (Levitikus 19:35-36).

 

“Jy mag nie twee soorte weegstene, ‘n grote en ‘n kleintjie, in jou sak hê nie.  Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, ‘n grote en ‘n kleintjie, hê nie.  Jy moet ‘n volle en regte gewig hê; jy moet ‘n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God jou sal gee.  Want almal wat hierdie dinge doen, is ‘n gruwel vir die Here jou God – almal wat onreg doen.” (Deuteronomium 25:13-16).

 

“‘n Valse weegskaal is vir die Here ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.” (Spreuke 11:1).

 

“‘n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die Here, al die weegstene in die sak is sy werk.” (Spreuke 16:11).

 

“Twee soorte gewig, twee soorte maat – hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel...Twee soorte gewig is vir die Here ‘n gruwel, en ‘n valse weegskaal is nie goed nie.” (Spreuke 20:10, 23).

 

“Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?” (Miga 6:11).

 

Elke dag is daar mense (ongelukkig ook mense wat sê hulle is Christene) wat lieg en bedrieg in die besigheidsektor.  Party tweedehandse motorhandelaars betaal jou 'n appel en 'n ui vir jou kar (alhoewel dit baie meer werd is).  Die persoon wat by dié handelaar koop betaal 'n arm en 'n been vir dieselfde kar.  By tweedehandse winkels word jy op dieselfde manier ingedoen.  Een sakeman in my tuisdorp het stukkende goedere aan kliënte verkoop.  Baie winkels verkoop ‘varsprodukte’ wat al sy vervaldatum bereik het.  Ander vra net eenvoudig te veel vir hulle diens.  Omtrent ses jaar gelede moes ek R800 betaal vir 'n taxi van Durban lughawe na Port Shepstone.  Een stop vulstasies langs die snelweg vra tot R12 of meer vir 'n Tempo of Lunch Bar.  Sommige banke tap jou leeg met die bankkoste en rente wat hulle vra.  Ander verkoop 'n ‘dud’ vir honderde rande, en wanneer jy dit wil terugneem bestaan daar nie so 'n besigheid nie.  Ander belowe 'n winskopie, maar vang mense uit met die fynskrif onder aan die bladsy.  Ons kerk het 'n fotostaatmasjien so gekoop.  Die masjien se waarde is ongeveer R5000.  Ons het meer as R50 000 afbetaal!  Baie besighede is skuldig aan vals advertensie:  die burger lyk so groot soos jou gesig as jy dit op die spyskaart sien, maar as jy dit kry is dit so klein soos jou handpalm.  Daar is heelwat sakemanne wat sê die produk kos R350.  Jy dink dis veels te duur en stry die man af tot by R250.  Wanneer jy uitstap dink jy dit was 'n winskopie.  Maar die waarheid is dat jy dit elders kon kry vir R160.  Jy’s geflous maar nóú is dit te laat.  Sommige jakkalse sal jou oortuig om twee vir die prys van een te koop en so spandeer jy geld wat jy nie het nie.  En dan die algemeenste van almal:  die winkel soek jou geld en laat toe dat jy duisende rande se skuld maak.

 

Maar kan jy nie sommige van hierdie metodes gebruik as jou besigheid sukkel nie?  Vertrou op die Here en nie op slim metodes nie.  God se guns sal oor jou skyn as jy eerlik besigheid doen.  As jy skelm is sal Hy jou teenstaan.  Uiteindelik sal jy ondergaan.  Onthou dat God alles sien.  Hy sien nie net jou dade nie maar ook jou hart.  Hy ken jou gedagtes, motiewe, en begeertes.  “Die wat verkeerd van hart is, is vir die Here ‘n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.” (Spreuke 11:20).  “Elke hoogmoedige van hart is vir die Here ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.” (Spreuke 16:5).  Die Here sal ons motiewe oordeel (1 Korintiërs 4:5).  As jy opregte motiewe het en die goeie nastreef sal jy God en mense se guns hê:  “Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is...En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.” (Spreuke 11:27a, Lukas 2:52).  As jy kwaad soek vir ander sal kwaad en straf jou vervolg:  “...hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom.” (Spreuke 11:27b).

 

Tot jou hart nie skoon is nie sal God nie met guns na jou en jou besigheid kyk nie.  Om 'n skoon hart te hê moet jy weergebore wees.  God moet jou hart van klip uithaal en aan jou 'n hart van vlees gee (Esegiël 36:26).  God se guns is oor sy Seun Jesus (Matteus 3:17).  As jy deur geloof met Jesus verenig is sal God 'n welbehae in jou hê en jou beloon (Hebreërs 11:6).

 

Mooi vroue

Op 'n episode van Master Chef USA het die beoordeelaars drie deelnemers vorentoe laat kom.  Al drie het gesê dat hulle geweet het hulle is beter as almal – hulle het verwag dat húlle die drie sou wees wat vorentoe geroep word.  Maar die beoordeelaars se uitspraak het hulle geskok:  “Julle het die slegste kos gemaak wat ons in 'n baie lang tyd geproe het.”  Hulle was hoogmoedig en het baie hard aarde toe gekom.  Koning Nebukadnesar was so.  Hy het gedink hy’s die kat (of die leeu?) se snor.  Hy het homself verhef en in sy rykdom geroem.  God het hom verneder sodat hy vir sewe tydperke lank in die veld gebly het gras soos 'n dier geëet het (sien Daniël 4).  Ná dit het hy geweet:  “...Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” (Daniël 4:37).  Wie die hoogste klim val die verste.

 

Spreuke 11:2a sê:  “Kom die vermetelheid, dan kom die skande...”  Die werkwoord staan in 'n perfektum en wys dat hierdie nie maar net 'n hoogmoedige gedagte is nie, maar eerder 'n hoogmoedige toestand.  As jy hoogmoedig is sal jy val en beskaam word.  “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” (Spreuke 16:18).  Wees dus nederig – dís wysheid:  “...by die beskeidenes is wysheid.” (Spreuke 11:2b).  Die profeet sê:  “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).  Wil jy eer van God verkry?  Haat hoogmoed en wees nederig.  Fokus op innerlike skoonheid eerder as op die uiterlike:  “'n Aanvallige vrou verkry eer...” (Spreuke 11:16a).[1]  As 'n mooi vrou nie oor innerlike skoonheid beskik nie is sy 'n lelike aap wat 'n goue ring dra.  Haar uiterlike skoonheid sonder innerlike skoonheid is soos 'n goue ring in 'n vark se snoet (onthou dat varke onrein is vir Jode):  “‘n Goue ring in ‘n vark se snuit, so is ‘n vrou wat mooi is maar sonder beleid.” (Spreuke 11:22).  Ek het gesien hoe 'n beoordelaar aan 'n Amerikaanse skoonheidsfinalis vra:  “'n Vyfde van ons populasie kan nie Amerika op 'n landkaart uitwys nie.  Wat dink jy is die rede?”  Haar antwoord was:  “Baie mense in Amerika het seker nie landkaarte nie.  Ek glo ons opvoedkunde moet lande soos Suid-Afrika, Irak, en Asiese lande help, sodat ons Amerika se toekoms kan opbou.”  Net soos dié vrou se skoonheid ongedaan gemaak word deur haar onkunde, word baie vroue se uiterlike skoonheid lelik omdat daar geen innerlike skoonheid, oordeelkundigheid, smaak, onderskeid, of wysheid is nie (Spreuke 11:22b).

 

'n Goue ring maak nie 'n vark se snoet snoet waardevol of rein nie.  Uiterlike versiering aan 'n vrou kan nie dit wat inherent lelik is mooi maak nie.  'n Les uit hierdie vers aan mans:  Moenie vir uiterlike skoonheid val as 'n vrou nie innerlik skoon is nie.  'n Les aan vroue:  daar is geen blywende eer in mode tydskrif-teologie nie.  Die Bybel leer anders as die wêreld.  “Maar die Here sê vir Samuel:  Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering.  Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” (1 Samuel 16:7).  “...God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” (Lukas 16:15).  “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” (1 Petrus 3:3-4).  Dís wat God soek.  Jesus belowe om sy kerk innerlik skoon en rein te was, sodat ons aantreklik vir Hom kan wees op die oordeelsdag (Efesiërs 5:25-27).  Dít is waar alle skoonheid ontspring:  in die evangelie van Jesus Christus.  Enige ongelowige vrou (selfs die mooistes) het nie 'n begrip van ware skoonheid nie.  Dis dié wat gered is wat 'n basis vir ware skoonheid het.

 


[1] Hierdie vers is dubbelsinnig.  Die teks kan beteken dat 'n vrou se uiterlike voorkoms nie so belangrik is soos die innerlike voorkoms nie.  As sy innerlik mooi is sal sy eer verkry.  Die geweldadige man kry wel rykdom (Spreuke 11:16b), maar hy verkry nie eer soos 'n vrou wat innerlik skoon is nie (Spreuke 11:16a).  Die vers kan ook beteken dat 'n vrou haar sjarme en mooi voorkoms afwys om mans se guns te kry, terwyl 'n geweldadige man sy krag gebruik om rykdom te verkry.  Ek volg die eersgenoemde interpretasie.

Kategorieë