Coram Deo Cover Image

Coming soon...

5 March 2013

Oor sielkundiges, loan sharks, en ryk mense

Loan Shark

14 As daar nie goeie oorleg is nie, val ‘n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding. 15 Baie sleg word iemand behandel as hy vir ‘n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig. 16 ...die geweldenaars verkry rykdom. 17 ‘n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar ‘n wreedaard pynig sy eie vlees. 18 Die goddelose behaal oneerlike wins, maar hy wat geregtigheid saai, ‘n betroubare loon... 24 Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. 25 Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf. 26 Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop... 28 Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.” (Spreuke 11:14-15, 16b-18, 24-26, 28).

 

Sielkundiges (v.14)

'n Samelewing is so gesond soos die evangeliese kerke daarin.  In die middel van die vorige eeu het die kerk haar taak aan humanistiese raadgewers (sielkundiges) oorgegee.  Hierdie aksie het grootliks bygedra tot die morele verval van die westerse samelewing.  Skielik was diefstal, dronkenskap, en seksuele losbandigheid nie meer as sondes beskou nie, maar as genetiese afwykings of siektes.  In die verlede was nederigheid 'n deug, maar met die advent van sielkunde is dit as 'n vervloeking beskou, want “niemand moet 'n lae selfbeeld hê nie.”  Die kerk het altyd geglo dat die mens met 'n sondige natuur gebore is.  Sielkundiges het ons denke verander om te glo dat die mens neutraal of selfs goed gebore is.

 

Ons gebrek aan oorleg, leiding, en goeie raadgewers het daartoe gelei dat ons geestelik en moreel gekwyn het.  “As daar nie goeie oorleg is nie, val ‘n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.” (v.14).  Ons probleem is nie dat daar nie genoeg raadgewers is nie, maar eerder dat daar 'n tekort aan goeie raadgewers is.  Koning Rehabeam se ondergang (en die volk s'n) het gekom toe hy die voorstel van slegte raadgewers gevolg het (1 Konings 12:6-15).  Soos in die tyd van Josua en die Rigters, raak die volk afvallig wanneer goeie raadgewers uitsterf (Joshua 24:31, Rigters 4:1, 21:25).

 

Die samelewing en die kerk sal soos haar raadgewers lyk:  “Like people, like priest” (Hosea 4:9, ESV).  As daar goeie raadgewers is, sal 'n volk veilig wees en van haar vyande verlos word (v.14, 24:6).  Ook 'n kerk word bevoordeel as dit deur 'n meervoudige ouderlingskap (wat kwalifiseer, natuurlik) gelei word, en nie onder die heerskappy van een man staan nie (v.14b).

 

Die gelowige wat goeie raad soek moet navraag doen by iemand met met die Gees gevul is, Jesus se voorbeeld navolg, en die Skrif as die onfeilbare en foutlose Woord van God aanvaar.  Die Psalmis praat mos van die Skrifte as sy raadsmanne (Psalm 119:24), Jesaja noem Jesus ons Raadsman (Jesaja 9:5), en Jesus sê die Heilige Gees is ons Trooster/Raadgewer (Johannes 14:16).  Wanneer jy rondgaan om raad te vra moet jy tog seker maak dat jy nie vir soveel mense jou storie vertel, dat jy naderhand besig is om te skinder nie (vergelyk v.13 en 14).

 

Loan Sharks (v.15)

'n Ongelowige kry 'n lening by 'n loan shark en vra vir jou:  “Sal jy asseblief borg teken as bewys dat jy my ken, en dat ek 'n betroubare persoon is wat die geld sal terugbetaal?  Jou handtekening sal ook vir hulle die versekering gee dat jý die bedrag terug sal betaal, indien enigiets met mý moes gebeur?”  Moet dit nooit doen nie (v.15).  Jy wil dit veral nie doen vir 'n vreemde persoon nie.  In die Bybel verwys 'n ‘vreemdeling’ nie bloot na iemand wat jy nie ken nie, maar ook na iemand wat nie 'n Israeliet is nie; 'n ongelowige (sien Efesiërs 2:12).  Jy moet eintlik nie eers vir jou familie of vriende borg teken nie, want jy leer hulle om onverantwoordelik te wees en op ander te steun.  Moet ook nie val vir boemelaar wat 'n lang storie vertel, geld wil leen, en belowe om jou terug te betaal nie.  Bly eerder weg van sulke dinge af, en moenie 'n persoon se hand skud om 'n ooreenkoms te sluit nie (v.15b).  As die persoon nie sy skulde betaal nie sal jóú reputasie daaronder ly, want jou handtekening het gesê die man is betroubaar.  Moenie dom wees nie.  Jy dink nóú jy het geld om 'n ander persoon se skuld te betaal, maar jy weet nie wat môre kan gebeur nie.  Dalk loop iets skeef en oormôre kom die loan shark of balju, en vat jóú goed weg.

 

Jesus is die enigste Persoon wat kan belowe om 'n ander se ‘skuld’ (sondes) te betaal, want net Hý weet wat in die toekoms gaan gebeur.  Daarom kan Job bid:  “Gee tog ‘n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?” (Job 17:3).  En daarom praat die Hebreërskrywer van Jesus as ons Borg (Hebreërs 7:22).

 

Ryk mense (v.16b-18, 24-26, 28)

Ek het twee vriende wat aggressief werk.  Hulle is ‘go-getters’.  Ja, v.16b is dubbelsinnig.  Maar ek dink 'n positiewe interpretasie van die vers is baie moontlik.  Jesus het in 'n positiewe sin gepraat van mense wat die hemel met geweld bestorm (Matteus 11:12).  En so hier.  Dit is hierdie tipe mense wat dinge gedoen kry en ryk word.  Maar moenie dink hy hou sy rykdom vir homself nie.  Hy deel dit uit.  Sodoende seën hy ander en word hy self geseën:  “'n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel...” (v.17a).  Ander verse bevestig dit:

 

“Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.” (19:17).

 

“Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” (Matteus 5:7).

 

“Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Handelinge 20:35).

 

“Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.” (Filippense 4:17).  Deur vir Paulus te gee het die Filippense self seën van die Here ontvang.

 

Die persoon wat wreed en suinig is, kry niks.  Mense haat hom en hy pynig homself:  “...’n wreedaard pynig sy eie vlees.” (v.17b).  Dié persoon lag as hy ander kul vir geld, maar hy kul homself om te dink sy rykdom sal hou (v.18a).  Die regverdige mens gryp nie soos die geldgierige na rykdom nie, maar saai en deel uit.  Hý sal beloon word (v.18b).  God gee in besonder geestelike en materiële rykdom aan hulle wat vrygewig is; wat ander seën, natlei, en verfris (v.25).  Jesus het gesê:  “Gee, en aan julle sal gegee word.  ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Lukas 6:38).  Dié persoon sal floreer soos 'n groen plant in die woestyn (v.28b).  In Israel het plante gedien as skaduwee, voeding, en medisyne.  Só is die regverdige en vrywige persoon.  Die Psalmis beskryf hom as 'n immergroen boom wat geplant is langs waterstrome (Psalm 1:3).

 

In Desember het my broer twee sakke KAN (kunmis) gekoop om op my grasperk te strooi.  Ek het nie geweet ek moes net een sak op die voorste grasperk gooi nie.  Ek het altwee sakke leeg gemaak.  Natuurlik het gedeeltes van die grasperk doodgebrand, maar ná die somerreën is dit groen en dig.  Dít is hoe jy moet gee vir die kerk, sendelinge, en arm mense.  Die logiese prinsiep is:  Hoe meer jy saai, hoe groter sal die oes wees.  Saai vryelik en nie karig nie:  “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry...” (v.24a).  Maleagi sê:  “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.”  En Paulus:  “Maar dink daaraan:  Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.  Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.  En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. (2 Korintiërs 9:6-7).

 

Moenie opgee as jy goeie dade gesaai het, maar nie dadelik vrug sien nie.  'n Amerikaanse prediker, Bob Dicky, het vir 20 jaar gearbei voordat hy vrug gesien het.  Beide William Carey en Adoniram Judson (sendelinge) het vir sewe jaar gepreek voordat iemand tot bekering gekom het.  Tom Carson (teoloog D.A. Carson se pa) het eers vrug op sy bediening begin sien ná hy 60 geword het.  Jesus het tydens sy aardse bediening nie baie vrug gesien nie.  Dit was eers na sy kruisdood, opstanding, en hemelvaart wat dinge begin gebeur het.  Hou aan werk.  Die oes is betroubaar en sal sekerlik kom (v.18b).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.  Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Galasiërs 6:7-10).  Selfs wanneer jy nie vordering sien nie, is die Here besig om groei te bewerk (Markus 4:26-29).

 

Natuurlik moet materiële welvaart altyd die gevolg, en nooit die motief wees vir waarom ons ander help nie.  As jou motief is om ryk te word, dan is jy niks beter as die vals prosperity predikers op TBN nie.  Moenie jou vertroue in rykdom stel asof dit alles antwoord nie.  As jy dít doen, sal jy val soos 'n ou verrotte boom (v.28a).  Die Skrif sê rykdom is onseker (1 Timoteus 6:17):  jy weet nie of Saambou dalk môre sink, en jou beleggings daarmee heen is nie.  As jy suinig is, terughou, en niks saai nie, sal jy geen oes kry nie en arm word:  “...[daar is] een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” (v.24b).  In ons wêreld sien ons diktators wat kos terughou om die prys op te jaag en hulleself te bevoordeel.  Die volk haat so 'n leier (v.26a).  Iemand wat ander seën en sorg dat daar genoeg kos is, word deur die mense as 'n leier bekroon.  Josef en Job was sulke mense (Genesis 42:6, Job 29:13).  En sover soos jy die geleentheid het en dit in jou mag is, moet jy so wees.

Kategorieë