Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 May 2020

Nuwe Testamentiese Christenskap

Jesus and His Apostles Affirm the Need to Obey God's Commandments ...

Hebreërs 9:11-14

In die vroeë kerk was Judaïsme ’n sekte wat geglo het dat die heidene Jode moet word voordat die Here hulle sal aanneem. Vandag is die Hebrew Roots Movement moderne Judaïste. Ongelukkig is daar selfs ware Christene wat aanklank by hulle vind, sodat hulle ’n Ou Testamentiese Christenskap bo die vollediger Christenskap van die Nuwe Testament verkies. Dit gebeur, omdat hulle nie tekste soos Hand. 7, 15, Gal. 1-6, Kol. 2:16-17, Heb. 9:11-14, en die res van Hebreërs verstaan nie.

 

1. Ons aanbidding (v.11)

Elke Augustus lees ’n klomp mense een van my preke oor hoe Christene God aanbid. Ek reken dat dit ’n spul kinders is wat navorsing ’n skooltaak doen. Vandag wil ek weer vir ’n oomblik by hierdie onderwerp stilstaan.

Ons het in v.1-10 gesien hoe mense in die Ou Testament God aanbid het: deur ’n tabernakel met priesters en offers. In v.11-14 sien ons hoe ons ’n beter Priester, Offer, tabernakel, en aanbidding het in die Nuwe Testament (vgl. Heb. 10:20). Hoekom wou die Hebreërs dan terugkeer na die Ou Testamentiese manier van aanbidding? En hoekom is daar vandag Christene wat daarheen wil terugkeer, veral as Jesus die einde daarvan voorspel het en ons beveel het om God in Gees en waarheid te aanbid (Matt. 24, Joh. 4:23-24)?

Hoe moet ons Hom in Gees en waarheid aanbid? Ek het dit in die vorige preek uit Heb. 9:1-14 verduidelik, maar ek wil ’n paar dinge byvoeg. Om God in waarheid te aanbid, beteken dat ons Hom volgens die voorskrifte van die Nuwe Testament moet aanbid. In teologie praat ons van die regulerende beginsel. Dit beteken dat ons God moet aanbid volgens sy voorskrifte in die Nuwe Testament. Ons moet die Woord, of die evangelie sing, lees, preek en bid (Kol. 3:16, 1Tim. 4:13, 2Tim. 4:2, Hand. 4:24 e.v.). Ons moet dit ook sien wanneer ons die doop en die nagmaal vier (Rom. 6:3-4, 1Kor. 11:23-26).

Moet dus nie innoverend wees en nuwe dinge probeer nie. Ons mag nie elemente by ons aanbidding voeg, omdat ons mense wil vermaak, ongelowiges wil trek, of omdat ons ’n geestelike ervaring soek nie. Mense wat dít doen, eindig met ’n aanbidding wat vreemd is aan die Nuwe Testament; ’n aanbidding met priesters, wierook, heilige water, kerse, rympies in Latyn, en mense wat voor beelde buig en hulle voete soen. Hulle eindig met ’n aanbidding waar mense tydens die eredienste verf, of ’n dansie doen met ’n leotard en ’n vlag. Hulle eindig met ’n aanbidding vol komiese opvoerings, of ’n rock konsert met gekleurde ligte en rook. Hulle eindig met ’n aanbidding waar filmvertonings en Oprah Winfrey-tipe gesprekke Bybelse prediking vervang. Hulle eindig met ’n aanbidding waar mense omval en in die Gees lag en ruk. As ons God volgens die voorskrifte van die Nuwe Testament in waarheid aanbid, sal ons nie in hierdie slaggate beland nie.

Maar dan moet ons Hom ook in Gees aanbid. Om God in Gees te aanbid, beteken dat ons Hom op enige plek kan aanbid, veral as ons bymekaar is. Dit beteken dat jy Hom nie by ’n Ou Testamentiese Fees in Israel hoef te aanbid nie. Jy hoef jou nie in die Jordaanrivier te laat doop nie. Christelike aanbidding in ’n huis is nie méér geestelik as aanbidding in ’n kerkgebou nie (of andersom).

Om God in Gees te aanbid beteken ook dat God se Gees jou gees opwek deur die waarheid van die Woord. Die effek is berou oor sonde, liefde vir God, dankbaarheid vir Jesus, lof en bewondering vir wie God is, ’n begeerte na die hemel, ’n erns om jouself opnuut aan God toe te wy, ens.

Hoe lyk jou aanbidding as dit hierteen opmeet? Probeer jy God in Gees aanbid, maar nie in waarheid nie? Jou aanbidding sal opreg wees, maar dit sal so vals wees soos Nadab, Abihu en Ussa se s’n in Lev. 10 en 2Sam. 6. Probeer jy God in waarheid aanbid, maar nie in Gees nie? Jou aanbidding sal ortodoks wees, maar dood en koud. Probeer jy God in Gees en waarheid aanbid, maar volgens die Ou Testament eerder as volgens die Nuwe Testament? Jou aanbidding sal onvolledig en skaduagtig wees (sien Kol. 2:16-17).

Aanbid God daarom in Gees en in waarheid volgens die Nuwe Testament. Dit kan ons net deur Christus doen (v.11). Sonder Hom is ons beste aanbidding soos ’n bord vrot kos uit die asblik (Fil. 3:8, 4-6). Dus is die eerste opdrag nie dat jy God reg moet aanbid nie, maar dat jy jou moet bekeer en in Christus moet glo. Wie is Hy? Hy is die Hoëpriester wat vir ons die voordele van die nuwe verbond (die toekomstige weldade) gewen het toe Hy deur die volmaakte tent van die hemel ingegaan het, eerder as deur ’n aardse tent wat van dierevelle, bokhare en gekleurde linne gemaak is (v.11, 24, 4:14, 8:1-5, 10:1).

Wat is hierdie voordele? Die ewige lewe, vergifnis, ’n skoon rekord, Jesus se perfekte geregtigheid op ons boeke, ’n rein hart, aanneming in God se familie, die Gees se hulp om heilig te lewe, die hemel, en ’n nuwe liggaam wanneer Jesus weer kom (Rom. 8:28-39, Ef. 1:3-14). Is hierdie dinge joune? Indien jy dit nie het nie, beteken dit dat jy die teenoorgestelde het: die ewige dood, vyandskap met God, ’n sondige rekord, ’n vuil hart, deelgenootskap aan Satan se familie, geen hoop om opreg te lewe nie, die hel, en ’n liggaam vol siekte wanneer Jesus weer kom. Ek wil jou dus aanmoedig om kante te ruil, terwyl jy die geleentheid het.

 

2. Ons verlossing (v.12)

Die Griekse woord vir verlossing [Gk. lutrōsis] skep die idee van ’n slaaf wat vrygekoop word. In moderne terme laat dit my dink aan iemand wat ontvoer word. Die ontvoerde persoon se geliefdes betaal die losprys, sodat die ontvoerders hom of haar vrylaat.

Dit is wat Jesus vir ons gedoen het. In die Ou Testament het die priester ’n offerdier geslag, sodat hy in die tabernakel kon ingaan (v.12). In die Nuwe Testament het Jesus sy eie bloed gestort, sodat Hy in die tabernakel van die hemel kon ingaan (v.12). Volgens die Ou Vertaling het Jesus met sy bloed in die hemel ingegaan. Dit skep die idee Hy letterlik sy bloed in die hemel in gevat het. Dit is egter ’n verkeerde idee. Die Griekse woord dia plus die genitief beteken eerder dat Hy deur middel van sy bloed in die hemel ingegaan het (v.12). Die idee is dat Jesus in die hemel kon ingaan, omdat Hy die perfekte offer is wat sy bloed vir ons gestort het.

Die Hebreërskrywer impliseer ook dat Jesus nie hel toe is nadat Hy dood is nie, maar hemel toe. Ja, Hy hét sy oorwinning oor die demone gaan aankondig, maar Hy het nie in die hel gely nie (1Pet. 3:18-19, 2Pet. 2:4): Hy is hemel toe (v.12, 24, Luk. 23:43, 46). Dit is ’n baie ernstige dwaling om soos die Word of Faith beweging te sê dat Jesus se kruisdood nie voldoende was nie en dat Hy verder in die hel moes ly (Joh. 19:30).

Jesus het ook hemel toe gegaan as ons voorloper (6:20). Prakties beteken dit dat ons (soos Jesus) hemel toe gaan wanneer ons sterf (Matt. 22:32, Luk. 16:22, 23:43, Joh. 11:25-26, Hand. 7:59-60, 2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23, 1Tess. 4:14, Heb. 12:23, Op. 7:9, 14:13 vóór Op. 20-22). Om te sê dat jou siel tot by die wederkoms in die graf slaap, is ’n kultiese mite.1

Verder leer ons dat Jesus Homself nie aanhoudend geoffer het soos die Ou Testamentiese priesters hulle diere geoffer het nie. Nee; Hy het eenmaal (eens-en-vir-altyd) in die heiligdom ingegaan (v.12, 25-26, 7:27, 10:10, 12-13, 14). Hy het die prys volkome betaal, sodat daar geen meer sondeskuld is vir dié wat in Hom glo nie (Kol. 2:14). Moet dan nie eers op jou stiltetyd, of jou betrokkenheid in die kerk vertrou om aanneemlik te wees voor God nie. Vertrou op Christus alleen. Sê wat die ou prediker in Engeland gesê het: ‘Farewell prayer, farewell hearing [the Word], farewell fasting. I will rest no more in you, but now I will rest only in the bosom of Christ, the love of Christ, the righteousness of Christ.’2

Die prediker het nie bedoel dat ons moet ophou bid, preke luister, of vas nie. Hy het bedoel dat ons nie op enige van ons pogings moet vertrou om God se guns te wen nie. Ons moet in Christus se werk rus. Dan sal ons vas, bid en na preke luister, omdat God ons Vader is en omdat ons Hom liefhet.

As gelowiges kan ons God ook vir ’n ewige verlossing dank (v.12). Omdat dit ewig is, kan ons dit nie verloor nie. Indien ons kon, sou dit beteken die Bybel lieg (sien Tit. 1:2, Heb. 6:18).

 

3. Ons reiniging (v.13-14)

Toe ek op laerskool was, het die tannie wat die jeug gelei het gesê ons moet vuil jeug toe kom. Ons het onsself met modder gesmeer. Toe ons by die jeug aankom, toe sê sy: ‘Jesus kom oor 5 minute—gaan was julleself!’ Ons het onsself letterlik skoon gewas, maar dit was ook van ’n simboliese les dat ons heilig moet wees wanneer Jesus weer kom.

Dit is presies hoe dit in die Ou Testament was. Die hoëpriester het een keer per jaar, op die Dag van Versoening, ’n bul vir sy eie sonde geslag en ’n bok vir die volk s’n (v.13, 7, Lev. 16). In Num. 19 het die hoëpriester se seun ’n rooibruin vers—’n jong koei—geslag (v.13). Hy het dan die vers se bloed sewe keer voor die tabernakel gesprinkel. Daarna het hy die vers met sederhout, hisop en rooi wol tot as verbrand.

Hy het skoon water deur die as gesyfer. Daarmee het hy ’n loog-seep gemaak (Eng. lye-soap). Die loog het ’n pH van 13 soos JIK, of oondskoonmaker. Die seep sou dus bakterieë en virusse kon doodmaak. Die dier se vet in die as-mengsel sou help dat die loog nie ’n mens se vel brand nie. Die hisop in die as-mengsel was ’n antiseptiese middel. Die stukkies vesel van die rooi wol sou maak dat dit soos ’n industriële [Eng. heavy duty] Lava seep werk. Die as van die sederhout sou ’n ligte irritasie veroorsaak wat gemaak het dat die persoon homself nie net liggies was nie, maar skrop.

Waarvoor was die seep bedoel? As iemand aan ’n lyk geraak het, het hulle die persoon buite die kamp gesit en op die derde en sewende dag die vloeibare loog-seep met hisoptakkie op die persoon gesprinkel. Die persoon moes sy klere en sy liggaam was. Daarna het hulle hom rein verklaar en kon hy in die kamp inkom. Die loog-seep sou alle virusse en bakterieë doodmaak wat die persoon moontlik opgetel het toe hy aan die lyk raak.3 Op hierdie manier het die Here verseker dat die besmette persoon nie siektes onder die volk versprei nie.4

Hoekom verwys die Hebreërskrywer na hierdie gedeeltes in Levitikus en Numeri? Sy punt is dat die bulle en bokke simbolies was van reiniging, terwyl die rooi vers se as ’n mens se liggaam kon reinig (v.13). Nie een van hierdie offers kan egter ’n mens se gewete reinig, of sy sonde wegvat nie (v.9, 10:4). Daarvoor het ons Jesus se bloed nodig (v.14). Sy bloed verwys nie net na die rooi vloeistof in sy are nie. Indien dit ons kon red, sou Jesus bloed geskenk het. Die verwysing na Jesus se bloed gaan oor die bebloede kruis. Die bedoeling is dat Jesus moes uitbloei en doodbloei soos die offerdiere van die Ou Testament. Ja, die godsdiens van die Bybel is ’n godsdiens van bloed. Daar is geen vergifnis daarsonder nie (v.22). Sommige sal sê dat dit walglik is, maar dit is juis die punt, omdat ons sonde die dood verdien.

Hoe het Jesus dit reggekry om so ’n grusame dood te sterf; om tot die einde te volhard sonder om terug te draai? Die Gees wat van ewigheid af bestaan het Hom gevul toe Hy in die baarmoeder was en toe Hy gedoop is (Luk. 1:35, Matt. 3:16). Die Heilige Gees het Hom gehelp om ‘nee’ te sê vir Satan en ‘ja’ vir sy Vader (v.14). So was Jesus gehoorsaam tot die dood (Fil. 2:8); so was Hy die perfekte en vlekkelose Lam sonder sonde (v.14, 4:15, 1Pet. 1:19, 2:22). Indien Jesus gesondig het, kon Hy nie vir ons sonde sterf nie. Laat ons Hom dan nie net vir sy dood prys nie, maar ook vir sy volmaakte lewe. Deur sy dood het Hy die straf vir ons sonde gedra en deur sy lewe het Hy die perfekte rekord voorsien wat ons nodig het om voor God te staan (Rom. 5:19, 2Kor. 5:21).

Sommige wat kleingelowig is, dink dat die Here dit nie vir hulle wil gee nie, maar Hy wil. Jesus was nie soos ’n offerdier wat nie ’n ander keuse gehad het as om te sterf nie. Niemand het Hom gedwing om vir ons te sterf nie. Die Vader het Hom uit vrye wil gestuur om ons te red (Joh. 3:16), terwyl Hy Homself vrywillig en uit liefde vir ons geoffer het (v.14, Joh. 10:18). Bekeer jou dan van jou kleingeloof en ontvang hierdie God as jou Vader, jou Verlosser, jou Koning en jou Vriend.

‘Maar wat as God in mý geval besluit om nié Jesus se offer in my plek te aanvaar nie?’ Jy dink te veel van jouself en te min van Jesus en die Vader. Dink jy regtig dat jy so uniek is dat die Vader almal op grond van Jesus se kruisdood aanvaar, maar dat jy iets meer nodig het? Dink jy regtig dat Jesus se offer nie goed genoeg is om jóú te red nie? As dit die geval is, noem jy God ’n leuenaar, so asof Hy aanvanklik sy Seun se offer aangeneem het en toe weer verwerp het (v.14, Rom. 3:25-26, Ef. 5:2). Bekeer jou van jou sonde en vra vergifnis dat jy Jesus se kruisdood goedkoop ag.

Miskien is daar ’n ander manier waarop jy die kruis goedkoop ag. Jy voel skuldig as jy in die aand in die bed klim en as jy in die oggend opstaan. In plaas daarvan dat jy jou sonde bely en glo dat Jesus jou hart en gewete deur sy bloed kan reinig (v.14, 1Joh. 1:7, 9), verdoof jy jou gewete met dinge soos dwelms, pille, en drank. Dalk wil jy van jou gewete vlug deur te veel te slaap, weg te hardloop, godsdienstige werke te doen, of deur besig te bly, sodat jy jou gewete kan uitblok. Jy is soos iemand wat die kar se petrol liggie ontkoppel in stede daarvan dat hy petrol ingooi. As hy petrol ingegooi het, sou die liggie afgaan. Dit geld ook vir jou gewete: as jy jou van jou sonde bekeer en vergifnis vra, sal jou gewete tot rus kom (v.14, 10:22).

Met ’n rein gewete en ’n nuwe hart, is jy vry van die werke wat tot die dood lei en kan jy die lewende God dien (v.14, Rom. 6:23). As Christene dien ons Hom nie uit vrees of dwang nie, maar met lus. Dit geld vir jou lofprysing, danksegging, gebede, geestelike gawes, finansiële bydraes vir die armes en sendelinge, diensbaarheid, evangelisasie, en jou hele lewe. Selfs wanneer ons nie meer op hierdie aarde is nie, sal ons God in die hemel dien (v.14, Op. 7:15). Vir die ongelowige klink dit so onaantreklik en vervelig soos trou vir ’n 8-jarige seuntjie. Vir ons is dit egter ’n plesier, omdat dit deel is van Nuwe Testament Christenskap.


1  Sien die volgende twee preke vir meer inligting oor die onbybelse lering van sieleslaap:

http://baptistekerkkemptonpark.com/2019/06/08/verwarring-oor-die-wederkoms/

http://baptistekerkkemptonpark.com/2017/04/15/die-waarheid-oor-lewe-na-die-dood/

2  Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1968 [1652, 1866]), 141

3  Blykbaar kan lyke siektes soos ebola, hepatitis, tuberkulose en maaggriep versprei.

4  Ek het my inligting by verskillende webtuistes verkry. Die mees behulpsame artikel het ek by ’n lidmaat en vriend gekry: http://www.apologeticspress.org/APContent.aspx?category=13&article=517

Kategorieë