Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 September 2012

Nóg 'foute' in die Bybel beantwoord

“Die hele Skrif is deur God ingegee...” (2 Timoteus 3:16).

 

Op my rekenaar het ek 'n paar videos van John MacArthur wat op CNN se Larry King Live program praat.  Op een program was hy saam met die San Francisco burgemeester, Gavin Newsom, op die program.  Newsom het gedeel hoe opgewonde hy is dat San Francisco 'n diverse stad is waar hulle gay huwelike voorstaan.  MacArthur het vir hom gevra of hy die Bybel aanvaar as die Woord van God.  Newsom se reaksie was:  “Ek wil nie in 'n teologiese debat betrokke raak nie.”  MacArthur het blitsig gereageer:  “Hierdie is nie 'n teologiese debat nie.  Hierdie is 'n eenvoudige en reguit vraag:  bely jy as 'n toegewyde Room-Katoliek dat die Bybel die Woord van God is?”  Toe Newsom ‘ja’ sê het MacArthur ingespring:  “Wel, as jy dít bely, dan sê die Bybel die volgende oor homomseksualiteit...”

As ons glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is (3:16, 4:2), dan moet ons glo dat dit gesaghebbend en foutloos is.  Soos MacArthur kan ons sê:  “Omdat die Bybel die Woord van God is, daarom...”  Indien 'n persoon wat Christus bely ontken dat die Bybel die foutlose Woord van God is, sal sy geloof vou wanneer ateïste en ander skeptici ‘foute’ begin uitwys, sy Boek uitlag, en hom dreig met vervolging.  Ons het reeds sewe sognaamde foute beantwoord en vandag sal ons nog elf takel.

Fout #8:  “In 1 Konings 4:26 sê die skrywer dat Salomo 40 000 perde gehad het, maar volgens 2 Kronieke 9:25 het hy net 4000 gehad.”  Ons mag heel moontlik hier met 'n kopieer-fout te doen hê.  Maar uit 'n noukeurige lesing van die twee verse blyk dit dat daar 'n baie eenvoudige oplossing is.  Die English Standard Version lees:

“Solomon had forty thousand stalls for his chariot horses and twelve thousand cavalry horses.” (1 Konings 4:26).

“King Solomon also had four thousand stalls for his chariots and horses, and had twelve thousand cavalry horses...” (1 Kronieke 9:25).

Volgens die vers in 1 Konings het Salomo 40 000 stalle gehad vir sy perde wat strydwaens getrek het.  En volgens 1 Kronieke het hy 4000 stalle gehad vir die perde met strydwaens aangehak.  As ons die teks só lees dan is hier geen kontras nie:  Salomo het eenvoudig tien perde per strydwa gehad.  Dis nie dat al tien perde gelyk aan een strydwa vas was nie, maar eerder dat daar reserwes was:  indien een perd in die oorlog sou vrek of seerkry was daar ekstra perde.

Fout #9:  “Die verskille in Jesus se geslagsregister volgens Matteus 1:1-17 en Lukas 3:23-38 is menig.  Dit is tog 'n duidelike fout in die Bybel.”  Matteus se hele fokus is om te wys dat Jesus die Seun van Dawid en derhalwe ook die geregtige Koning is.  Matteus 1 is Josef se geslagsregister (Matteus 1:16).  Lukas wil vir ons wys dat Jesus dat Jesus die Seun van die mens is, en daarom neem hy sy geslagsregister terug tot by Adam (Lukas 3:38).  Lukas gee dus nie vir ons Josef se geslagsregister nie, maar Maria s'n.  Hierdeur beklemtoon hy vir ons dat Jesus die Seun van die mens is.  “Maar hoe kan jy sê dat Lukas Maria se geslagsregister weergee, as die teks duidelik vir ons sê dat dit by Josef begin?”  Volgens Matteus was Jakob Josef se pa, maar volgens Lukas was Heli sy pa.  Wat dus sou gebeur het is dat Heli net dogters gehad het.  Sy familie naam kon dus nie voortgedra word nie, en daarom sou hy Josef as sy eie seun aangeneem het.  Ons sien die voorbeeld hiervan in Numeri 36.  Dit mag ook wees dat die Ou Testamentiese wet in hierdie geslagsregisters geld.  Indien 'n man trou en sterf voordat hy kinders kon hê, moes sy broer met die weduwee trou en by haar kinders hê.  Daardie kinders sou dan as die afgestorwe broer se kinders beskou word en nie as die lewende man s'n nie (Matteus 22:24).  Hierdie wet kan ook 'n rol speel in die verskille tussen die geslagsregisters in Matteus 1 en Lukas 3.

Fout #10:  “Volgens Jeremia 22:28-30 het God vir Gonja vervloek en sou hy geen kinders hê nie.  Maar Matteus 1:12 sê dat Jegonia ('n ander spelling vir Gonja) wél kinders gehad het.”  Jeremia beskryf vir ons die strekking van hierdie vloek in vers 30:  “...dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.”  Dit is byna asof die sin kan lees:  “Gonja is vervloek en sal geen kinders hê nie, dit is:  geen kinders op die troon van Dawid nie.”  En dit het presies so gebeur, want van die koninklike lyn wat volg in Matteus 1, het nie een van dié persone op die troon van Dawid gesit nie (al was hulle daarop geregtig om die ware konings van Israel te wees).  “Maar wat van Jesus:  Hy is dan die ware Koning wat op die troon van Dawid sal sit?” sê iemand.  Ja dit is so, maar Josef was nie Jesus se biologiese pa nie, en dus is dit nie een van Jegonia se nasate wat op die troon van Dawid sit nie.

Fout #11:  “Volgens Matteus 5:1 het Jesus hierdie lering op 'n berg gegee, maar volgens Lukas 6:17 was dit op 'n gelyke plek.”  Geen mens gaan op die stylste plek moontlik sit om lering te gee nie.  Jy gaan vir 'n gelyke plek op die berg soek, sodat die mense gemaklik kan sit en jy hulle kan leer.  Dit is wat Jesus gedoen het.  “Maar volgens Matteus het Jesus hierdie preek by een geleentheid gepreek, terwyl dieselfde lesse deur Lukas-evangelie versprei is” maak iemand beswaar.  Vir die doel van sy skrywe het Lukas dit onnodig gevind om die hele preek weer te gee.  Wanneer dieselfde lering op ander plekke in Lukas-evangelie voorkom, verstaan ons dat Jesus wéér by ander geleenthede hierdie selfde lesse geleer het.  Enige prediker doen dit.  As my preek vir die gelowiges in Kempton tot seën was, sal ek dit in Parys ook preek.

Fout #12:  “In Matteus 27:5 sê die evangelis dat Judas homself gehang het.  Maar Lukas sê in Handelinge 1:18 dat Judas vooroor geval, en dat sy ingewande gebars het.”  Wat dus gebeur het is dat Judas die tou vasgemaak het aan 'n boom wat oor 'n krans groei.  Die tou het gegly of gebreek.  Hy het seker op rotse geval toe sy ingewande gebars het.  Die 30 stukke silwer wat hy vir sy bose daad ontvang het, het hy op die tempel se vloer gegooi.  Die Fariseërs het dit steeds as sy geld beskou en die stuk grond waarop hy gesterf het in sý naam gekoop.  Daarom is dit nie 'n kontras as Matteus sê dat die Fariseërs die grond gekoop het, terwyl Lukas sê dat hý dit gekoop het nie.

Fout #13:  “1 Samuel 31:4 sê dat Saul selfmoord gepleeg het, maar in <st1:bcv_smarttag>2 Samuel 1:10 sê 'n Amalekiet dat hý vir Saul doodgemaak het.”  Die antwoord is duidelik:  die Amalekiet het geweet dat Saul Dawid se vyand was.  Hy het gehoop dat Dawid hom sou beloon, en daarom het hy gesê dat hý vir Saul doodgmaak het.

Fout #14:  “Matteus 27:9-10 haal 'n vers uit Sagaria 11:12-13 en skryf die aanhaling toe aan Jeremia.”  Baie van die waarhede in Matteus se aanhaling kom voor in Jeremia 18-19 en 32.  Maar 'n beter verduidelik sou die volgende wees:  die Jode het die Ou Testament in drie hoofafdelings ingedeel:  die Wet van Moses, die Psalms, en die Profete.  Hulle kon byvoorbeeld uit Spreuke aanhaal en sê:  “In die Psalms lees ons...”  En net so kon hulle uit Sagaria aanhaal en sê:  “Jeremia skryf...”  Ons doen dit vandag nog.  Ek het 'n boek waarvan John MacArthur die redakteur is.  Elke hoofstuk is deur iemand anders geskryf, maar ek kan maklik sê “MacArthur” sê sonder om eers na die ware outeur van 'n betrokke hoofstuk te verwys.  Of as iemand 'n resensie oor 'n film skryf kan hy 'n spesifieke karakter se opinie aan die akteur toeskryf en nie aan die karakter nie.  Of hy kan dit aan die skrywer van die film toeskryf en nie aan die karakter nie.

Fout #15:  “Markus 15:25 sê dat Jesus op die derde uur gekruisig is.  Maar in Johannes 19:14 het Pilatus op die sesde uur die finale uitspraak gemaak en gesê dat Jesus gekruisig moes word.”  Markus gebruik die Joodse manier van tydlees, terwyl Johannes die Romeinse metode navolg.  Die Jode tel van ses uur in die oggend af en dus sou dit beteken dat Jesus nege uur in die oggend gekruisig is.  Die Romeine tel van middernag af en dus sou dit beteken dat Jesus teen ses uur nog voor Pilatus was.  Johannes sê dat Jesus omtrent op die sesde uur voor Pilatus was.  Dit kon dus selfs 06:15 of 06:23 gewees het.  Ná die finale uitspraak is hy nog deur die soldate bespot en geslaan (volgens Matteus 27:26-31).  Hy moes ook nog na die kruis toe loop buite die stad.  Hy het onder die kruis geval en moes 'n helper kry (Matteus 27:32).  Dit kon dus 'n hele ruk geneem het vir Hom om tot by Golgota te loop.  Ons weet nie of hulle eers toé die gate gegrawe het om die kruise in die plaas nie.  Baie moontlik het Jesus nie die hele kruis gedra nie, maar net die kruisbalk (volgens sommige kommentators).  Hulle sou dus nog die balke aan mekaar moes vasmaak.  Wie weet watse drama hulle met die twee rowers kon gehad het?  En dan moes hulle hom nog eers aan die kruis vasspyker.  Hulle het ook gepoog om Hom te verdoof, maar Hy wou nie die alwyn en mirre mengsel drink nie.  Al hierdie dinge neem tyd.  Dit sou nie vergesogd wees om te sê dat dit als saam twee en 'n half ure kon neem nie.  Maar hoe weet ons dat Johannes wel die Romeinse manier van tydlees gevolg het?  Wel, in Johannes 18:28 lees ons dat Jesus vroegoggend van Kajafas se huis na Pilatus geneem is.  Dit sou êrens in die donker ure van die vroeë oggend gewees het.  Met dít van tussen-in gebeur het kon dit onmoontlik twaalfuur gewees het toe Pilatus die finale uitspraak gemaak het.  Alles tussen Jesus se eerste besoek aan Pilatus in Johannes 18:28 en Pilatus se finale uitspraak in Johannes 19:14 kon onmoontlik ses ure geneem het.  Die sesde uur in Johannes 19:14 verwys ongetwyfeld na êrens in die omgewing van 06:00.

Fout #16:  “In Matteus 26:34 voorspel Jesus dat Petrus Hom drie keer sou voorloën voordat die haan kraai.  In Markus 14:30 sê Jesus egter dat Petrus Hom sou verloën voordat die haan 'n tweede keer kraai.”  Ons gevolgtrekking is dan dat Petrus Jesus drie keer verloën het.  Daarna het die haan twee keer na mekaar gekraai.  Die tyd wat die haan kraai was ook die aanduiding van 'n nuwe tydsektor in die oggend (Markus 13:35) – vir wat dit mag werd wees.

Fout #17:    “Spreuke 26:4-5 is direk in teenstelling met mekaar.  In vers 4 sê Salomo:  ‘Antwoord 'n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.’  In vers 5 sê hy:  ‘Antwoord 'n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.’”  Salomo was nie dom nie.  Hy was wyser as enige van ons.  Hy sou nie kontrasterende verse direk langs mekaar plaas nie.  Hierdie verse is glad nie in kontras nie.  Die les is eenvoudig dít:  “...one size does not fit all...” (Koptak, P.E.; The NIV Application Commentary:  Proverbs; Zondervan; GRAND RAPIDS; 2003; p.592).  Jy moet onderskei watse tipe dwaas en situasie jy mee te doen het.  Dít sal bepaal of jy hom moet antwoord of nie.  Gebruik jou onderskeidingsvermoeë om te weet wat jy moet doen.

Fout #18:  “In 2 Samuel 24:1 lees ons dat God vir Dawid aangehits het om die volk te tel.  Maar volgens 1 Kronieke 21:1 is dit Satan wat hom aangehits het.”  Daar bestaan iets in teologie, wat in Engels genoem word ‘the doctrine of concurence’.  Dit beteken dat daar eerste en tweede oorsake in enige saak is.  As die posman vir Saartjie 'n brief aflewer het waarin haar kêrel haar afsê, sou sy nie verkeerd wees om te sê:  “Ek het 'n brief van my kêrel ontvang waarin hy my afsê” nie.  Sy sou óók nie verkeerd wees om te sê:  “Ek het 'n brief van die posman ontvang waarin my kêrel my afsê” nie.  En omdat God vir Satan toegelaat het om vir Dawid te sê om die volk te tel, is beide 2 Samuel 24 én 1 Kronieke 21 reg:  God het vir Dawid gesê om die volk te tel, en Satan het vir Dawid gesê om die volk te tel.  Ons kry 'n soortgelyke voorbeeld in 1 Konings 22:20-23 waar God 'n bose gees toelaat om Agab se profete te versoek.  Ook in Job 1 is dit Satan wat al God se kinders en besittings wegneem, maar tog het God vir Satan toegelaat om dit te doen, en daarom kan ons ook soos Job met reg sê dat God dit gedoen het (Job 1:21-22).

Ten slotte moet ek 'n waarskuwing gee.  Al hierdie antwoorde op sogenaamde “foute” in die Bybel moet gebruik word om jou eie geloof te versterk.  Gebruik hierdie waarhede om jou geloof vas te maak, sodat dit nie geskud word wanneer jou opponente die Bybel bevraagteken nie.  Maar jy moet nie hierdie argumente wil gebruik in die hoop dat jy kan bewys dat jy reg is en jou opponent verkeerd is nie.  Moenie hierdie antwoorde gebruik met die hoop dat jy die ateïs sal oortuig dat hy verkeerd is nie.  Mense word nie oortuig deur ons slim redenasies nie.  Jy sal nooit deur menslike wysheid 'n persoon oortuig om 'n Christen te word nie (1 Korintiërs 1:18-25 wys dit duidelik).  Slegs die Gees kan 'n persoon oortuig deur die boodskap van die kruis.  Deel die evangelie met jou opponent.  En wees sagmoedig.  Haal die Skrif aan (soos ons hierbo probeer doen).  Vertel die persoon dat Jesus God en mens is.  Sê vir hom dat Jesus die straf vir sondaars gedra het aan die kruis.  Leer vir hom dat Jesus begrawe is en op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Ek weet dat die skeptiese persoon hierdie boodskap mag uitlag, maar indien die Heilige Gees in sy hart werk en sy oë oopmaak sal hy die boodskap glo en gered word.  Bid vir jou opponent en moet hom nie probeer aanval nie.  Moenie 'n apologetiek volg waarin jy sonder die Bybel en die evangelie mense van die waarheid probeer oortuig nie.  Weet ook dat die skeptici soos elke ander skeptikus in die verlede sal val.  Hulle argumente sal net nóg 'n hamer wees wat breek op die aambeeld van die Skrif.  Die profeet het dit só gesê:  “‘n Stem sê:  Roep!  En hy vra:  Wat moet ek roep?  Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld.  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas.  Voorwaar, die volk is gras!  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:6-8).  En Jesus het gesê dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35).  Kry dan 'n hoë siening van die Skrif, sodat jy kan volhard wanneer vervolging sy stink asem in jou nek blaas.

* Sien ook 'Foute' in die Bybel beantwoord by die skakel hieronder:

http://baptistekerkkemptonpark.com/2012/08/17/hoe-om-te-volhard-in-die-bediening-5/

Kategorieë