Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 January 2017

‘n Waarskuwing aan gelowiges

persecuted-church

Het iemand jou al ooit in die rug gesteek? Dit is erg dat die persoon jou seergemaak het, maar wat dit erger maak is dat jy dit nie verwag het nie.  Om dan te keer dat ons omkant gevang word, het Jesus in Jh.15:18-16:4 gewaarsku dat die wêreld ons gaan haat.

 

Die wêreld se haat (15:18-21)

Ek het onlangs ‘n natuurprogram gekyk wat oor die jaarlikse ‘sardine run’ gaan. Honderde miljoene sardyne swem elke jaar van die Kaap af tot in Natal.  Naby Durban se kus wag daar vir hulle ‘n verrassing:  omtrent 5000 dolfyne, 1000 haaie, 200 000 of 300 000 malgasse (seevoëls), ‘n klomp robbe en ‘n walvis is gereed om hulle te eet.

 

Tydens die vispartytjie steur die roofdiere hulle nie aan mekaar nie. Selfs die robbe swem baie gemaklik saam met die haaie, omdat daar net een kuiergas op die spyskaart is:  sardyne.

 

En so is dit ook met die wêreld en Jesus. Die wêreld haat mekaar (Tit.3:3).  Maar wanneer dit by Jesus en sy volgelinge kom, dan staan die wêreld saam (Lk.23:12, 22:66, vgl. Hd.23:7-8).  In hulle haat vir Jesus is hulle een.

 

Die dissipels moes mekaar liefgehad het (15:17), maar die wêreld sou hulle gehaat het (15:18, 1 Jh.3:13). Hulle moes daaraan gedink het dat die wêreld vir Jesus gehaat het voordat dit hulle gehaat het (15:18).  Hulle het nie daarvan gehou dat Hy hulle sonde uitgewys het nie, en daarom het hulle Hom gehaat (7:7).

 

As die dissipels deel van die wêreld was, sou die wêreld hulle liefgehad het en na hulle geluister het (15:19, 1 Jh.4:5). Hulle het egter die dissipels gehaat, omdat Jesus hulle uit die wêreld gekies het om aan Hom te behoort (15:19, 16, 17:9, Mt.10:22, Gal.1:4).  Hulle het dit gehaat dat die dissipels nie meer soos húlle was nie (17:14, 1 Pt.4:3-4).

 

Die dissipels moes onthou het hoe Jesus in 13:16 vir hulle gesê het dat ‘n slaaf nie groter is as sy Meester nie (15:20). As die wêreld dan die Meester vervolg het, sou hulle nie teruggestaan het vir sy slawe nie (15:20, Mt.10:24-25).

 

En as hulle die Meester se Woord gehoorsaam het, sou hulle ook geluister het na die slawe wat dit verkondig (15:20, 13:20, Mt.10:40, Lk.10:16, 1 Jh.4:6).  Die wêreld sou die dissipels vir Jesus se onthalwe gehaat en vervolg het, asook omdat hulle nie die Vader geken het nie (15:21).

 

Die wêreld se sonde (15:22-25)

Die wêreld het nie ‘n verskoning gehad vir hulle haat nie (15:22-24). Deur sy lering en een-van-‘n-soort wonderwerke, het Jesus die Vader aan hulle bekend gemaak (15:22, 24, 9:32, Mt.9:33).  Dit was dan duidelik dat Hy die Messias en die Seun van God was.  As Hy hulle nie geleer het en wonderwerke gedoen het nie, sou hulle nog rede gehad het om Hom te verwerp (15:22, 24).

 

Maar nou het hulle geen verskoning gehad nie, omdat hulle die waarheid gesien en gehoor het, en nogsteeds van Hom af weggedraai het (15:22, 24, 9:41). Hulle het teen die lig gesondig, en sou dus ‘n swaarder straf ontvang het (Mt.11:22, 24, Lk.12:47-48).  In hulle haat vir Jesus het hulle ook die Vader gehaat, omdat Hy en die Vader een is (15:23, 10:30).

 

Die wêreld se haat kon egter nie die Here se verlossingsplan omvergewerp het nie. Hy het hulle haat gebruik om sy ewige raadsplan te vervul (15:25). ‘n Illustrasie sal jou help om te verstaan wat ek bedoel.[1]

 

Die wêreld is soos plat-annas (plat, slymerige paddas) in ‘n vistenk. God is die Eienaar van die vistenk.  Die plat-annas kan swem waar hulle wil.  As hulle kies om in die modder van haat op die tenk se bodem te gaan lê, dan is dit nie die Eienaar se skuld nie maar húlle s’n.  Dit is nie Hý wat hulle versoek het om Hom te haat nie (Jk.1:13).

 

Gestel die Eienaar besluit om die plat-annas van die kombuis af na die stoep toe te skuif. As die plat-annas wil, kan hulle nogsteeds in die modder van haat gaan lê.  Die Eienaar het nie met hulle besluit ingemeng nie.  Hy het egter hulle haat oorheers om sý groter besluite uit te voer.  Hulle keuse om te haat kon nie die Eienaar se ewige raadsplan ontspoor het nie.  As die Eienaar wou, kon Hy selfs die plat-annas in goudvisse verander het, sodat hulle nie meer ‘n begeerte sou hê om in die modder van haat te gaan lê nie (vgl. Paulus in Hd.9).

 

Jesus se kruisdood was deel van God se ewige raadsplan (Ef.1:11). Hy het dit reeds 1000 jaar v.C. in Ps.69:5 voorspel:  ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat.’ (15:25).  God het deur die wêreld se haat sy goeie plan uitgevoer, sodat sondaars gered en vergewe kon word.  Die wêreld het dit vir die slegte bedoel, maar God het dit vir die goeie bedoel (Gn.50:20).  Die plat-annas se besluit om in die modder van haat te gaan lê, kon nie die Eienaar keer om volgens sy soewereine keuse die vistenk te skuif nie.

 

Die apostels se hulp (15:26-16:4)

Sommige klein hondjies is braaf wanneer hulle by hulle eienaars is: hulle is gereed om jou op te vreet.  Maar wanneer hulle alleen is, is hulle bang.  Ander honde is klein, maar het die hart van ‘n leeu en is bang vir niks.

 

Petrus was so. Toe hy saam met Jesus in die tuin was, het hy sy swaard uitgetrek en was hy gereed om hom te verdedig.  Maar toe hy later alleen om die vuur gesit het, het hy vir Jesus verloën.  En toe gebeur daar iets wat gemaak het dat hy daarna in moeiliker omstandighede nie vir Jesus verloën het nie.  Hy het later selfs sy lewe prysgegee vir Jesus en die evangelie.  In 15:26-16:4 sien ons hoekom hy verander het.

 

Die wêreld se haat en vervolging moes nie die dissipels verhinder het om van Jesus te getuig nie. Sodra Hy weer in die hemel was sou Hy die Trooster of Gees van die waarheid – wat van die Vader af uitgaan – gestuur het om hulle te help (15:26-27, 14:16-17, 26).  Die Gees sou hulle bekragtig het om d.m.v. wonders en tekens van Jesus se opstanding te getuig (15:26-27, Hd.1:8, 4:33, Heb.2:3-4).  Hulle getuienis sou gewys het dat Hy die Messias en die Seun van God is.

 

Hoekom het Jesus spesifiek die apostels gekies om in die Gees se krag van Hom te getuig?  Dit is omdat hulle van die begin af saam met Hom was (15:27, Hd.1:21-22, 10:40-41).  Hulle het ‘n eerstehandse ervaring van sy Persoon, lering en wonderwerke gehad, en daarom kon hulle beter as enigiemand anders van Hom getuig het.

 

Die Gees sou hulle hierin gehelp het. Jesus het dit vooraf vir hulle gesê, sodat hulle nie sou wegval tydens die vervolging nie (16:1).  In hulle haat vir Jesus sou die wêreld (in hierdie geval, die Jode) hulle uit die sinagoges uit verban het (16:2, 9:22, 34, 12:42).  Die Jode was van mening dat die moord op Christene vir die Here aanneemlik is (16:2, Hd.22:3-4, Gal.1:13-14, Fil.3:6, vgl. Jes.66:5).[2]  Dít het hulle in onkunde gedoen, omdat hulle nie vir Jesus of die Vader geken het nie (16:3, 8:19, Hd.3:17, 1 Tm.1:13).

 

Jesus het die dissipels daaraan herinner dat Hy hierdie dinge vooraf vir hulle gesê het om hulle te waarsku (16:4, 1). Hy wou hulle voorberei het, sodat hulle nie omkant gevang word nie.  Die rede hoekom Hy hulle nie vroeër gewaarsku het nie, was omdat Hy by hulle was om hulle te beskerm (16:4).  Toe Hy by hulle was, was dit ‘n tyd om bly te wees en nie ‘n tyd om te treur nie (Mt.9:15).  Hulle was ook nog nie gereed vir die vervolging nie.  Jesus moes eers die Gees gestuur het om hulle te versterk, sodat hulle dit kon verduur (16:7).

 

Jesus se les in hierdie gedeelte is duidelik: as jy die Here met erns wil dien, sal jy vervolg word (15:20, 2 Tm.3:12).  Sal die wêreld jou Meester vervolg en nie vir jou nie (15:20)?  Sal die Meester se pad met dorings besaai wees en sy slawe s’n met roosblare?

 

Partykeer wil ons hê dat die wêreld van ons moet hou. Ons wil hê hulle moet mooi dinge van ons sê, en hoop dat hulle van ons kerk en ons prediking sal hou.  Maar hulle sal nie (15:18-19).  As hulle van ons hou moet ons weet dat iets nie reg is nie, en dat ons waarskynlik op die verkeerde pad is (15:19).  Jesus het gesê:  “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.” (Lk.6:26).

 

Verder hou die wêreld nie daarvan dat jy ‘n nat vaddoek is nie. Hulle haat dit as jy nie saam met die matrieks lelike dinge met die graad 8’s se ontgroening wil doen nie.  Hulle is kwaad as jy nie saam met die res van die skool onder-die-belt liedjies by die atletiekbyeenkoms wil sing om ‘gees’ te vang nie.  Hulle kan dit nie vat dat jy so ‘oudtyds’ is om te glo dat seks net vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou bedoel is nie.

 

Hulle skuif jou uit omdat jy nie saam met hulle by die jaareindfunksie dronk word nie. Hulle sê dat jy wetties is as jy nie saam met hulle films wil kyk waarin mense die Here se Naam vloek of saam in die bed spring nie.  Hulle sê dat jy fanaties is omdat jy nie daarvan hou om op ‘n Sondagoggend en -aand weg te bly van die kerk af nie.  Hulle haat jou omdat jou heilige lewe die donker kolle in hulle harte uitwys, en dit hulle skuldig laat voel.

 

In al hierdie dinge moet jy onthou dat die Here ‘n groter en wyser plan het, en dat Hy hierdie mense se bose planne sal oorheers en dit vir jou voordeel sal uitwerk (15:25, Rm.8:28). Onthou ook dat Hy die Heilige Gees gestuur het om jou by te staan (15:26).  Om dit te waardeer sal dit help as jy ‘n Bybelse verstaan het van wie hierdie Gees is.

 

Volgens Jesus het die Gees van die Vader af uitgegaan (15:26). Uit Jh.14-16 leer ons ook dat die Vader en die Seun Hom gestuur het (14:26, 15:26, 16:7).  Daarom word Hy nie net die Gees van God genoem nie, maar ook die Gees van Jesus, die Gees van Christus en die Gees van die Seun (Hd.16:7, Rm.8:9, Gal.4:6, Fil.1:19, 1 Pt.1:11).  As Hy van die Vader en die Seun af uitgaan het, bevestig dit dat Hy een is met die Vader en die Seun (Mt.28:19).

 

Soos die Vader en die Seun, is die Heilige Gees ewig (Heb.9:14), alwetend (1 Kor.2:10-11), alomteenwoordig (Ps.139:7-8) en ook die Skepper (Gn.1:2, Job 33:4, Ps.104:30). Hy is nie ‘n abstrakte krag soos wat die Jehova’s Getuies sê nie, maar is volkome God (Hd.5:3-4, 2 Kor.3:17-18).

 

Maar sy eenheid met die Vader en die Seun beteken nie dat Hy nie ‘n aparte Persoon is nie. Die feit dat Hy van die Vader af uitgaan het, en dat die Seun Hom gestuur het (15:26) wys dat Hy ‘n unieke Persoon is wat kan dink, voel, praat, getuig, troos, help, bid, onderrig gee en gawes uitdeel (14:16, 26, 15:26, 16:13, Hd.8:29, Rm.8:16, 26-27, 1 Kor.2:10-11, 12:11, Ef.4:30).

 

Ons glo dan dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees een God is (Dt.6:4, Jes.45:5-6) in drie Persone (Mt.3:16-17, 28:19, 2 Kor.13:13, Ef.4:4-6, 1 Pt.1:2).  En dit is hierdie Gees wat vir ewig by jou sal wees om jou te help (14:16).  Moet Hom nie verneder deur van Hom te praat asof Hy ‘n warm gevoel in jou bors is nie.  Glo in Hom, wees lief vir Hom en gehoorsaam Hom.  Aanbid en eer Hom soos wat jy dit met die Vader en die Seun doen.

 

Buiten daarvoor dat die Heilige Gees jou sal help om staande te bly, sal dit jou ook help om te onthou dat Jesus vervolging voorspel het (16:1, 4).  Hierdie les is veral belangrik as jy ‘n nuwe bekeerling is.  Moenie so naïef wees om te dink jy sal nie vervolg word nie.  Berei jouself eerder voor, sodat dit jou nie verras nie.  In die Bybel staan daar:

 

[1] “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hd.14:22).

 

[2] “ons het Timótheüs...gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet.” (1 Ts.3:2-4).

 

[3] “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pt.2:21).

 

[4] Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pt.4:12).

 

Onthou ook asseblief dat die vervolging nie net van buite af sal kom nie, maar ook van binne af (16:2). Dit sal nie net die Moslems en Hindoes wees wat jou vervolg nie, maar ook mense wat sê dat hulle Christene is (soos wat die Rooms-Katoliekekerk in die verlede die Protestante vervolg het).  Die vervolging sal van predikante, lidmate, ouderlinge en diakens af kom.  En hulle sal dit doen, omdat hulle nie die Here ken nie (16:3).

 

Richard Wurmbrand het in Kommunistiese Romenië gebly. Hy was vir 14 jaar in die tronk en is later vrygelaat.  Kort voordat hy die land verlaat het, het hy ‘n groep van 15 seuns en dogters dieretuin toe gevat.  Hy het voor die leeus se hok gaan staan en vir hulle gesê:

 

‘Your forefathers in faith were thrown before such wild beasts for their faith. Know that you also will have to suffer.  You will not be thrown before lions, but you will have to do with men who are much worse than lions.  Decide here and now if you wish to pledge alegiance to Christ.’

 

Hy sê dat die kinders trane in hulle oë gehad het toe hulle ‘ja’ gesê het.[3]  Wat sou jý gesê het as jy daar was?  Sal jy die Here volg, al beteken dit ook dat die wêreld jou haat?

 

[1] Ek het die illustrasie aangepas en verander uit p.157 van Randy Alcorn se boek hand in Hand

[2] Mishnah Sanhedrin 9:6 aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.531

[3] Aangehaal in John Piper, Let the Nations Be Glad, p.79

Kategorieë