Coram Deo Cover Image

Coming soon...

20 June 2015

’n Tyd om enkel te wees

Bored woman

George Whitefield is my gunsteling prediker (Charles Spurgeon kom bitter naby).  Soos enige van ons helde het hy kleivoete gehad.  Sy vriend, Howell Harris, het baie van ‘n sekere weduwee, Elizabeth James gehou.  Die gevoel was wedersyds.  Harris wou egter uitsluitlik op sy verhouding met God fokus, en het besluit om nie te trou nie.  Hy wou haar aan Whitefield voorstel.  Na sy hom ontmoet het, het mev. James ‘n stryd in haar hart gehad.

Na ‘n worstelstryd het sy besluit om met Whitefield te trou (sy het eers 10 jaar later haar gevoelens vir Harris oorkom!).  Harris het haar by die kansel aan Whitefield afgegee.  Direk ná die sermonie het die groepie verder gereis, en het Whitefield gepreek.  Whitefield en sy nuwe vrou het geen wittebrood gehad nie.  Hy het vir ‘n volle week twee keer per dag gepreek. Daarna het hy alleen vir ‘n maand lank op ‘n preektoer na Birstol, Gloucester, en London vertrek.  Op Kersdag het hy teruggekeer huistoe, en toe weer op 26 Desember ‘n preektoer na Bristol en London onderneem.  Whitefield het hom voorgeneem dat sy huwelik geensins sy bediening sou verhinder nie.[1]

Whitefield het reg gedink oor die bediening, maar verkeerd oor die huwelik.  Hy het nie sy bruid in ag geneem nie.  Na my mening het Harris ‘n beter besluit as Whitefield geneem.  In omstandighede soos Whitefield s’n, sou dit beter gewees het om enkel te bly (1 Korintiërs 7:25-40).

Vervolging (v.25-27)

‘When the high seas are raging it is no time for changing ships.’[2] (Leon Morris).  ‘A man who is a hero in himself becomes a coward when he thinks of his widowed wife and his orphaned children.’[3] (Lightfoot).

Jy wil nie jou gesin deur vervolging of honger sit as jy dit kan help nie.  In sulke tye het ouers hulle kinders geëet (Deuteronomium 28:53-57).  Jesus het gesê:  “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.” (Matteus 24:19).  In sulke tye is enkelskap beter.

In v.1-16 het Paulus hoofsaaklik met die getroudes gepraat.  In v.25-40 praat hy hoofsaaklik met mense wat enkel is.  Paulus haal nou wel nie vir Jesus aan nie (vgl. v.10), maar in dié saak praat hy as iemand wat deur die Gees betroubaar is (v.25, 40), as een wat barmhartigheid ontvang het (v.25).

Paulus se raad is dít:  bly soos jy is, veral omdat moeilike tye oppad kom (v.26).  Die moeilike tye verwys dalk na die hongersnood wat in keiser Claudius se tyd gekom het (Handelinge 11:28), of na die vervolging onder keiser Nero.

So, is jy deur verlowing of in die huwelik gebind?  Moenie skei nie (v.27, Matteus 1:19, 19:6).  Is jy reeds geskei of nie verloof nie, en daarom los van ‘n maat?  Moenie ‘n maat soek nie (v.27).  Hoekom nie?  Want daar is swaar tye wat kom (v.26).

Hoe moet ons vandag v.26 toepas?

[1] Bly enkel as jy vir ses maande op ‘n keer in die buiteland is vir werk.  Hoekom wil jy trou as jy nooit by die huis gaan wees nie?

[2] Bly enkel as jy ‘n sendeling wil word na ‘n land waar die vervolging van Christene erg is (Matteus 19:12).

[3] Bly enkel as Suid-Afrika soos Zimbabwe word, as daar nie kos is nie.

[4] Bly enkel as vervolging in ons land uitbreek.

As jy wél in sulke omstandighede trou is dit nie sonde nie (v.28, 9).  As jy in dié omstandighede beter sal vaar met ‘n maat, trou.  Oor die algemeen sal die las ligter wees as jy in sulke tye enkel bly.

Vlees (v.28)

Toe ek studeer het, het ‘n getroude vriend eendag vir hom ‘n Caramello beer gekoop.  Hy het dit alleen geëet en die papier in kar gelos.  Toe sy vrou die papier sien was sy kwaad.  Hoe kon haar man sjokolade eet sonder haar?  As my vriend enkel was kon hy tien Caramello’s geëet het sonder om probleme op te tel (hy sou wel gewig opgetel het J).  ‘n Getroude persoon moet altyd sy of haar maat in ag neem.

‘n Enkel- of geskeide persoon wat in die v.26-bootjie is, sondig nie as hy of sy trou nie (v.28, vgl. 9, 15, Matteus 19:9).  As jy egter enkel bly en nie met ‘n ander sondaar saamgedruk word in ‘n lewe waar jy skielik alles moet deel nie, spaar dit jou van die sorge wat die vlees bring (v.28).

As jy dan enkel is moet jy nie dink om te trou sal al jou sorge oplos nie:  jou seksdrang, eensaamheid, jou eie kinders hê, ens.  Die huwelik bring nuwe uitdagings:  skoonfamilie, konflik, verdeling van jou tyd, huis, kos, bed, geld, lewe, en meer.  Onthou dit, want as jy eers getroud is kan jy nie sommer weer skei nie (Matteus 19:6).

Verganklikheid (v.29-31)

Dave maak gereed om Mt. Everest te klim.  In sy rugsak pak hy twee van alles, asook sy gunsteling boeke, lekkernye, sy eie kussing, sy laptop sodat hy op Facebook kan gaan, sy grootlens kamera vir fotos, en sy verkyker.  Toe hy begin klim, het hy gou besef dat sy rugsak te swaar is.  Hy het baie van sy bagasie by die basis gelos, en die res in die sneeu op die berg gelos.  Die les is duidelik:  pelgrims pak lig.  So is dit in hierdie wêreld.  Te veel bagasie sal jou terughou.

Ons tyd op aarde is min, veral in vervolging (v.29, 26).  Fokus op die Here asof jy ongetroud is (v.29, 32-34).  Kyk verby die tydelike trane, vreugde, en besittings van hierdie wêreld, en fokus op Jesus en die ewigheid (v.30-31).  Die Skrif sê immers:

  • “Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag... Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.” (Lukas 6:20-21, 24-25).
  • “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matteus 6:19-20).
  • “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand... Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:10, 13).
  • “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Johannes 2:17).

Pak lig.  Dit geld ook vir enkel mense.  Die lewe is kort.  Twee weke gelede het ek gelees van ‘n man wat in April getrou het, en twee maande later dood is aan kanker.  Moenie vir die hier-en-nou of vir jou huweliksmaat lewe nie.  Ignoreer Afrikaanse liefdesliede wat sê:  ‘Ek lewe net vir jou, jy lewe net vir my, oooh...’

Indien jy wel besluit om te trou moet jy ‘n Efesiërs 5-fokus hê.  Wees lief vir jou vrou soos wat Christus die kerk liefhet.  Respekteer jou man soos wat die kerk aan Jesus onderdanig is.  Fokus op jou siel, jou maat se siel en die ewigheid.  Moenie op ‘n tydelike en aardse huwelik fokus nie.

Enkel en getroude persoon:  is jy gereed vir die ewigheid?  Is jy gereed om geoordeel te word?  Is jy gereed om vir ewig in die hemel te lewe of in die hel te sterf?  Is jou sondes vergewe of sal jy daarin sterf?  Het jy jou van jou sonde bekeer of leef jy soos jý wil en nie soos Gód sê nie?  Maak jy staat op jou godsdiens, jou gebede, jou kerkbywoning, jou tiendes, jou goeie werke, jou ouers, jou doop om hemel toe te gaan?  Hoop jy maar vir die beste?  Of maak jy deur geloof staat op Jesus se lewe, kruisdood, opstanding, en op niks anders nie?  Pak lig en maak gereed om jou God te ontmoet.  Voor jy weet is hierdie wêreld en alles daarin tot niet.

Fokus (v.32-35)

‘n Man wat ek ken het onlangs uit die sendingveld bedank, omdat hy baie min by sy vrou en kinders is.  ‘n Man in William Tyndale se tyd het Jesus verloën toe die soldate gedreig het om sy vrou dood te maak.  Hy het later sy sonde bely en homself oorgegee om verbrand te word.

As jy getroud is kan jou aandag maklik verdeeld raak tussen Jesus en jou huweliksmaat.  Dis die punt van v.32-35.

Die vervolgde persoon wat geskei of enkel is, het nie die ekstra angs om sy of haar maat te behaag nie, maar kan geheel en al op die Here en ‘n heilige lewe fokus (v.32, 34a, 26).  ‘n Vervolgde persoon wat getroud is, kan op die Here fokus, maar sal ook angstig wees oor sy of haar maat se veiligheid (v.33-34).

Paulus beveel nie enkelskap aan om gelowiges te benadeel nie.  Hy soek eerder mense se voordeel, sodat hulle geheel en al op die Here sal fokus (v.35).  Hy wil nie hê dat ons ooit vir Jesus moet sê:  “Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.” (Lukas 14:20).

As jy enkel bly hoef jy nie twee keer te dink oor:

  • ‘n Gevaarlike sendingveld. My sendeling-vriend en sy gesin bly in ‘n Shangaan village. Hulle is onlangs in hulle huis aangeval. Vir beter evangelisasie doeleindes wou hy in die village aanbly, maar moes hy sy vrou en kinders se veiligheid en vrese in ag neem, en dorp toe trek.
  • Lang ure in gebed (1 Timoteus 5:5).
  • ‘n Halwe dag van straat evangelisasie.
  • ‘n Uur of twee by ‘n Woensdagaand Bybelstudie (jy het nie kinders wat vroeg in die bed moet wees, omdat hulle die volgende dag skool het nie).
  • ‘n Groot deel van jou salaris gee vir sending.

Kan jy die Here beter dien deur enkel te bly of deur te trou?  Doen dít.  Oor die algemeen kan ‘n enkel gelowige makliker op die Here fokus.

Vaders (v.36-38)

‘n Paar jaar gelede was my jongste suster verloof.  ‘Hy is nie die regte man nie,’ het my ouers gesê.  Sy het die verlowing verbreek, lang trane gehuil, en gedink dis die einde van die wêreld.  Vir my huidige swaer was dit die begin van die wêreld.  My punt is eenvoudig dit:  party mense is enkel as gevolg van hulle ouers se besluit.  Dis wat Paulus in v.36-38 leer.

Na my mening verwys ‘sy maagd’ in v.36-37 na die pa se dogter, en nie na die jong man se verloofde nie (in Paulus se tyd het die pa sy dogter se troue gereël, vgl. Genesis 34:6).  Gestel die pa wil hê sy dogter moet enkel bly om meer toegewyd aan God te lewe (v.36, 35), maar sy is in die blomtyd van haar lewe en wil graag trou (v.35-36, 9)?  As die pa sy voorneme verbreek en haar weggee om te trou, is dit nie sonde nie (v.36).  Indien sy dogter se begeerte vir ‘n maat nie so sterk is nie en hy by sy besluit bly, is dit beter (v.37-38) – veral in die lig van probleme wat op die horison is (v.26).

Om ouers te vra is nie bloot ‘n formaliteit nie.  Totdat sy trou (nie tot sy 21 is nie!) is die pa die hoof van sy dogter (v.36-37).  Soos God Eva vir Adam gegee het (Genesis 2:22, 24), moet pa’s hulle dogters in die huwelik weg gee (Eksodus 22:16-17).  Volgens Jesus is dít hoe dit sal wees totdat Hy weer kom (Matteus 22:30, 24:38-39).

Moenie jou pa inlig dat jy trou nie:  die man moet toestemming vra.  Ouers moet hulle kinders help om goeie maats te kies.  ‘n Pa moenie te hard wees of moeilik raak as sy dogter die regte man ontmoet het nie:  laat sy trou (v.36).

Verlies (v.39-40)

Op 5 November 1858 het sendeling John Paton op Tanna-eiland aangeland.  Op 12 Februarie 1859 het hy en sy vrou Mary ‘n baba seun gehad.  Op 3 Maart 1859 het Mary gesterf, en op 20 Maart sy baba seun.  Paton het hulle met sy eie hande begrawe.  Hy het in sy dagboek geskryf:  ‘But for Jesus... I must have gone mad and died beside that lonely grave!’[4]  Ook vir dié rede is die enkel persoon beter af.

As jy trou is dit lewenslank (v.39).  Behalwe vir die uitsonderings in v.15 en Matteus 19:9, kan jy net hertrou as jou maat dood is (v.39).  In dié geval kan jy volgens jou voorkeur hertrou.  Jy hoef nie vir ‘n stem te wag om te sê met wie jy moet trou nie.  Trou met wie jy wil, maar net in die Here:  met ander woorde, net met ‘n ander Christen (v.39, 2 Korintiërs 6:14).  Onthou tog dat die maat met wie jy hertrou óók kan sterf (v.39).  Op grond van die redes in v.26, 32-35 sal jy ook gelukkiger wees as jy enkel bly.  Paulus se lering oor enkelskap is nou wel sy opinie, maar dis ‘n geïnspireerde opinie (v.40).

Is jy enkel?  Dink aan v.39 voor jy trou.  ‘n Mens se huweliksmaat is nader aan jou as enigiemand anders (Genesis 2:24).  Die dood is erg, veral as jy vir baie jare getroud was en ‘n diep liefde vir mekaar gehad het.  Skielik is jy eensaam.  Mense mis veral hulle maats oor kerstyd, met verjaarsdae, as hulle kinders trou, as hulle agter-kleinkinders gebore word.  As gevolg hiervan is dit goed om enkel te wees.  As jy weier om oor die dood te dink is jy onrealisties.

As jy iets beklemtoon staan jy gevaar om misverstaan te word.  Mense oorbeklemtoon maklik wat jy gesê het, en dink jy is dwars of teen iets.  ‘n Predikant in Alberton het gesê dat sekere verse oor die ‘wederkoms’ eintlik nie na wederkoms verwys nie, maar na verwoesting van Jerusalem in 70 n.C.  Mense het sy beklemtoning verdraai en gesê hy glo nie in die wederkoms nie.

Dieselfde is waar van dié preek.  Mense kan maklik dink ek sê om te trou is sleg.  Enkel mense kan dink ek is ongelukkig getroud, en wil hulle afsit om dieselfde fout te maak.  Mense wat só dink mis die punt.  Ek hoop jy sien dat Paulus se punt ook mý punt is:  daar is ‘n tyd om enkelskap te oorweeg (v.25-40).  Besluit self wat jou gawe is (v.7) en doen dan wat jy wil.  As jy binne God se wil is, is die huwelik en enkelskap ewe goed.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield vol.2, pp.101-113

[2] Leon Morris, 1 Corinthians: Tydnale New Testament Commentaries, p.113

[3] Ibid, p.115

[4] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.79-80

Kategorieë