Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 June 2016

‘n Oop brief aan die vervolgde kerk

Bible in chain

Dalk is dit vir jou ‘n versoeking om hierdie preek oor te slaan, en om jou ore daarvoor toe te druk. Vervolging is nie regtig iets wat jou belangstelling prikkel nie, omdat dit net in Noord-Korea, Saudi-Arabië en Sirië gebeur.  Ek wil by jou pleit om nie hierdie preek oor te slaan nie, en om nie gemaklik te voel omdat ons nie regtig vervolging beleef nie.  Weet asseblief dat die vryheid wat jy nou ervaar gebou is op die bloed van mense wat vervolg is vir die evangelie.  Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika by die dag besig is om onder te gaan.  Dit mag dalk in die toekoms vervolging beteken vir Christene.  Spits daarom jou ore vir Jesus se brief in Op.2:8-11.

 

Jesus se troos in vervolging (v.8-9)

Smirna was aan die weskus van Turkye, 56 km noord-wes van Efese. Dit was een van die grootste stede in Asië.  Omdat dit die provinsie se mooiste stad was, het dit die bynaam ‘die Pragtige’ gekry.  Dit het breë geplaveide strate gehad, pragtige geboue, en was bekend vir sy mediese en wetenskap sentrum.  Toe Johannes sy brief geskryf het, het die stad al vir meer as 1000 jaar bestaan.[1]  Smirna is in 580 v.C. verwoes, en eers 300 jaar later (290 v.C.) deur Alexander die Grote herbou.[2]

 

Die mense van Smirna het geglo dat hulle wyngod, Dionisus of Bacchus, doodgemaak is en weer lewendig geword het. Volgens hulle was Dionisus ‘n god-mens wat gedurende die winter maande gesterf het wanneer die wynvate in die wynkelders gebêre is.  Wanneer die vate dan in die lente oopgemaak is, het hy uit die dood uit opgestaan.[3]

 

Smirna bestaan vandag nog as Izmir, en is naas Istanbul en Ankara die grootste stad in Turkye. Van die sewe stede in Op.2-3, is dit net Smirna wat nog bestaan.  Sover my kennis strek is daar vandag nog evangeliese Christene in die stad.

 

Hierdie brief word aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Smirna gerig (v.8).  Jesus het niks negatief vir hierdie gemeente te sê gehad nie (vgl. 3:7-13).  Hy het Homself voorgestel as die Eerste en die Laaste, die Een wat dood was en weer opgewek is (v.8, 1:17-18, Jes.44:6).  Jesus, nie Dionisus nie, is die ware God-mens wat dood was en weer lewend geword het.  Net soos die stad, het Hy uit die stof uit opgestaan.  Die gelowiges self sou weer gelewe het nadat hulle doodgemaak is (v.10).

 

Jesus het geweet dat hulle verdruk word (v.9, 1:9). Omdat Hý verdruk was sou sy volgelinge verdruk word (v.8-9, 1 Pt.2:21, Jh.16:33).  God se kinders moet deur baie verdrukkinge die Koninkryk ingaan (Hd.14:22).  En tog kan geen verdrukking ons van God se liefde skei nie (Rm.8:35).

 

Jesus het ook geweet dat hulle arm is (v.9). Die Griekse woord [ptōcheia] dui aan dat hulle brandarm was.[4]  Die feit dat hulle in so ‘n ryk stad arm was, wys waarskynlik dat hulle ekonomies benadeel is omdat hulle Christene was.[5]  Maar volgens v.9 het hulle ‘n geestelike rykdom besit (v.9, Jk.2:5, Lk.6:20, 12:32-33, 1 Kor.3:21-23, 2 Kor.6:10, Ef.1:3, 1 Tm.6:18, Heb.10:34, 11:26).  Sonder Jesus is selfs die rykste mense op aarde arm (3:17-18).

 

Jesus het verder geweet dat die Jode teen hulle laster (v.9). Geen stad in Turkye het so ‘n groot Joodse bevolking gehad soos Smirna nie.[6]  Hulle was baie vyandig teenoor die Christene.  Buiten vir v.9, sê Ignatius van Antiochië dit ook in sy brief aan die gemeente in Smirna.[7]

 

Die Jode se haat het sterk deurgekom toe een van die gemeente se leiers in 155 n.C. verbrand is. Toe Polikarpus op die brandstapel gelê is, het die Jode hulle eie Sabbatswette oortree om hout aan te dra.[8]  As gevolg van hierdie haat het Jesus gesê dat hulle nie Jode is nie, maar ‘n sinagoge van Satan (v.9, 3:9).  Hulle was nie God se volk of die nageslag van Abraham nie, maar kinders van die duiwel (Jh.8:44, Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 29, 4:26, 28, 6:16, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).

 

Jesus se beheer in vervolging (v.10a-b)

Ek onthou hoe ‘n tannie in ons kerk altyd gesê het: ‘God het goed geweet om ons nie in die toekoms te laat sien nie, want anders sou ons onsself dood geworry het.’  Natuurlik steek daar ‘n groot mate van waarheid daarin.  Maar in ‘n ander mate is dit ook soms ‘n vertroosting om te weet wat in die toekoms gaan gebeur.  Dit is erg om te weet dat jy binnekort in die tronk gegooi gaan word, maar dit is ook ‘n troos om te weet dat dit net vir tien dae sal aanhou (v.10).

 

Toe ons verledejaar in die Kaap was, het ons oppad terug in Philippolis se ou tronk geslaap. Teen die mure is daar strepies wat vir jou ‘n idee gee hoe die gevangenes die dae voor hulle vrylating afgetel het.  Net so sou dit die gelowiges in Smirna gehelp het om die lyding te verduur as hulle geweet het:  ‘Daar is nog net ses dae oor... vyf dae... vier dae... ens.’  Hulle sou vertroos gewees het om te weet dat Jesus in beheer was van hulle lyding.

 

Die verdrukking van v.9 sou erger geword het (v.10). Die duiwel het waarskynlik deur die sinagoge van Satan (die Jode) die Christene in die tronk laat beland (v.9-10).  Dit was die Jode wat hulle voor die hof gesleep het om hulle by die Romeinse owerhede aan te kla.[9]

 

Paulus skryf hoe die Christene in Judea deur die Jode vervolg is, “wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is, deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.” (1 Ts.2:15-16).

 

Die feit dat Jesus die vervolging voorspel het, wys dat Hy, en nie die Jode, die Romeine of die duiwel nie, in beheer was (v.10). Die feit dat Hy gesê het dit sal vir tien dae aanhou, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die feit dat Hy dit as ‘n toets vir hulle geloof gestuur het, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die duiwel het toestemming nodig gehad om hulle te vervolg.  Sonder Jesus kon hy nie ‘n vinger verroer het nie (v.10, Job 1:12, 2:6, Lk.22:31, 1 Jh.5:18).

 

Omdat Jesus dan in beheer was, was dit onnodig om bang te wees (v.10). Jesus sou die verdrukking kortgeknip het, sodat dit nie vir ‘n minuut langer as tien dae aangehou het nie (v.10, Mt.24:21-22, vgl. Dn.1:12, 14).  Die verdrukking sou kort maar intens gewees het.  Hulle moes vasgebyt het, en nie aan die druk toegegee het om Jesus se Naam te verloën nie.

 

Jesus se belofte in vervolging (v.10c-11)

Sal jy bereid wees dat iemand jou tone met ‘n skerp mes afsny? Ek twyfel.  Sal jy bereid wees dat hulle dit onder verdowing doen?  Ook nie.  Wat as die dokter vir jou sê dat jy aggressiewe gangrene in jou tone het?  Wat as hy vir jou sê:  ‘As ons dit nie afsit nie, sal dit verprei.  Later sal ons jou voete moet afsit, en daarna jou bene.  As jy dit nogsteeds los kan jy jou lewe verloor’?  Omdat jy jou lewe wil spaar, sal jy bereid wees om jou tone te verloor.

 

En so is dit met jou siel. Sal jy bereid wees om in die tronk te sit en om jou lewe te verloor?  Natuurlik nie.  Maar wat as Jesus vir jou sê:  ‘As jy aan My getrou bly en My nie verloën nie, sal jy die ewige lewe hê.  As jy My verloën sal jy vir ewig hel toe gaan’?  Ek is seker dat die ewige lewe en die ewige dood swaarder weeg as die lewe en dood wat jy op die aarde het.  Dit is presies die punt wat Jesus in v.10c-11 wil maak.

 

Die gelowiges moes getrou gebly het tot die dood toe (v.10). Ja, sommige van hulle sou na tien dae in die tronk tereggestel word.  In sy inskrywing onder Smirna sê A.R. Fausset:  ‘many Christians perished by wild beasts or at the stake because they refused to throw incense into the fire to sacrifice to the genius of the emperor.’[10] Die gelowiges moes nie vir die nabye toekoms gelewe het nie, maar vir hulle ewige beloning in die hemel (v.10).

 

Smirna was lojaal aan Rome (die hoofstad van die Ryk). Reeds in 195 v.C. het hulle ‘n tempel vir die godin Roma gebou.[11]  In 23 n.C. het hulle ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius gebou.  Die getrouheid van die mense van Smirna het ‘n welbekende spreekwoord geword.[12]  Jesus sê in v.10 dat die gelowiges net so aan Hom getrou moes wees.  As hulle getrou gebly het, sou Hy aan hulle die kroon van die lewe gegee het (Jk.1:12).

 

Ek dink nie dat Jesus hier na ‘n letterlike kroon verwys nie, maar na ‘n figuurlike een soos in Ps.103:4. Soos wat atlete in die spele, en die aanbidders van Cybele in hulle godsdienstige rituele ‘n blarekrans gedra het, sou die gelowiges ‘n kroon van die lewe ontvang het (v.10).[13]  Jesus wou natuurlik gewys het dat húlle die ware oorwinnaars is, en dat húlle die ware God aanbid.

 

Die Griekse teks praat letterlik van ‘die kroon wat die lewe is’. Jesus sou die ewige lewe gegee het aan dié wat tot die einde toe volhard het en nie hulle lewens liewer gehad het as vir Hom nie (v.10, 12:11, Mt.10:22).

 

Dié wie se geestelike ore oopgemaak is (die gelowiges), moes luister wat die Gees deur Johannes vir die gemeentes gesê het (v.11). Sy boodskap was dít:  “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” (v.11).  Ten spyte van hulle armoede en vervolging moes die gelowiges aan die Here vasgehou het en die wêreld oorwin het (1 Jh.5:4-5).  Dié wat dit gedoen het sou nie skade gely het deur die tweede dood – die hel – nie (v.11, 20:14, 21:8).

 

Moenie Jesus se brief aan die vervolgde kerk in Smirna ignoreer, net omdat jy in gemak lewe en dit vir jou lyk of die vervolging ver weg is nie. Dalk is die vervolging nader as wat jy dink.  Jacob Zuma het twee jaar gelede gesê dat die probleme in ons land die Christene se skuld is.  As jy jou nie nóú voorneem om gereed te kry nie, sal jy die Here verloën wanneer die vervolging jou soos ‘n rower oorval.  Onthou dat Jesus gesê het:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Mt.10:32-33).

 

Sorg dat jy regtig die Here ken, want anders sal jy Hom in die hitte van die stryd verloën. Maak ook seker dat jy nie bang is om op te staan vir sy Naam nie.  As jy Hom in kleiner situasies verloën, sal jy dit in groter situasies ook doen.  Bid dan vir ‘n vreeslose dapperheid om jou mond oop te maak, en om nie bang te wees om die evangelie met mense te deel nie.  Moenie skaam wees wanneer jy langs ‘n Christen staan wat openlik van Jesus getuig nie.  Moenie wens hy wil stilbly of probeer om die onderwerp te verander, omdat jy nie in die moeilikheid wil kom of gespot wil word nie.

 

Begin deur ‘n traktaatjie te gee as jy bang is. Bid dat mense eerste met jóú sal praat en vrae sal vra.  Wees gereed om ‘n antwoord te gee (1 Pt.3:15), of sê vir hulle dat jy sal uitvind as jy nie weet nie.  As jy die ys eers gebreek het, sal dit in die vervolg makliker wees.

 

Indien jy versoek word om nie vir sy Naam op te staan nie, moet jy die belofte in v.10c-11 onthou. Is dit die moeite werd om mense se fronse vry te spring en jouself vas te loop in God s’n?  Is dit die moeite werd om hel toe te gaan, omdat jy mense se glimlag verkies bo God s’n (v.11, Op.21:8)?  Na alle waarskynlikheid sal nie een van ons doodgemaak word vir die evangelie nie.  Maar vra vir jouself die vraag:  is dit beter om vir die evangelie te sterf en vir ewig te lewe, of om ‘n bietjie langer te lewe en hel toe te gaan? Jesus het gesê:  “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Mt.10:28).

 

Dink ook aan die geestelike rykdom wat jy in die hemel sal hê (v.9). As jy dít onthou kan die wêreld, die onlangse droogte, ons swak geld-eenheid, en die dood maar jou aardse rykdom van jou af wegvat.  Dit sal nie maklik wees as jy jou werk verloor omdat jy ‘n Christen is nie, maar omdat jy skatte in die hemel het sal dit vir jou moontlik wees om dit te kan dra.  Niemand kan hierdie rykdom van jou af wegvat nie (v.9).

 

Hoe kan jy dit kry? Jy moet bereid wees om alles prys te gee, want anders kan jy nie sy dissipel wees nie.  As die Here dit van jou vereis, moet jy bereid wees om jou werk, geld, huis, familie, en selfs jou lewe prys te gee om Hom te volg (Lk.14:26, 33).  Jy kan nie met enige van jou pogings of werke kom nie, maar jy moet dit as gemors beskou (Fil.3:7-8).  Jy moet jou vertroue in jou doop- en lidmaatskap sertifikaat prysgee, en op Jesus en sy kruisdood alleen vertrou.  Jy moet besef dat dit nie altyd maklik gaan wees om die Here te volg nie.  Is jy bereid om alleen te wees?  Om jou vriende te verloor?  Om jou gunsteling sonde te los?  Om dalk jou geld te verloor?  Om gespot, gehaat, en miskien selfs doodgemaak te word?

 

Ek sou as ek jy was, want eintlik is dit glad nie ‘n verlies nie maar ‘n wins. Jy is soos ‘n man wat sy vier slaapkamer huis verkoop om ‘n stuk sandgrond in die Noord-Kaap te koop.  Hy doen dit met opset, omdat hy eenkeer daar geloop het en gesien het dat die grond van diamante deurtrek is.

 

Volgens Jesus “is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Mt.13:44-46).

 

Moet dan nie bekommerd wees wanneer mense jou snaaks aankyk, uitskuif, of anders behandel omdat jy ‘n Christen is nie. Moet ook nie verwag dat die Here jou gaan wegraap voordat die verdrukking kom nie.  Soos Jesus sal elke mens wat Godvresend wil lewe, vervolg en verdruk word (2 Tim.3:12).  Die Here weet egter daarvan en sal jou beloon (Mt.5:10-12).  Soms dink ons in sulke tye dat die Here van ons vergeet het, maar Hy het nie (v.9).  Onthou dat Hy self ‘n mens was, en dat Hy weet hoe jy voel (v.8-9, Heb.4:15).

 

Leer ook asseblief uit v.9-10 dat dit onnodig is om bang te wees dat jy of jou kinders in die ‘eindtyd’ deur een of ander groot verdrukking sal moet gaan. In v.9-10, 22, 3:10 sê Jesus dat die groot en wêreldwye verdrukking van 7:14 in Johannes se tyd sou plaasvind.  In Mt.24:9, 21 verwys Jesus na die groot verdrukking wat sou plaasvind terwyl daardie geslag nog gelewe het (Mt.24:34).  Verwag dat jy sal ly, maar moenie in vrees vir die toekoms lewe nie.

 

Het jy al gehoor wat kerke in die ooste en die weste van mekaar sê? Die kerke in die weste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die ooste – hulle kry swaar onder vervolging.’  Die kerke in die ooste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die weste – hulle leef gemaksugtig en weet niks van die rykdom en seën wat die Here in vervolging gee nie.’

 

As ek die Bybel reg verstaan moet ons nie uitsien na vervolging nie. Maar aan die ander kant moet ons nie in vrees lewe nie, omdat die beloning oneindig keer groter is as die lyding.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Smyrna

[2] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.63

[3] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Smyrna en James Orr, Ibid, inskrywing onder Dionysus (Bacchus)

[4] Morris, Ibid, p.64

[5] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.80

[6] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, 1997 & 2013, p.97

[7] Donald Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, p.1283

[8] James Orr, Ibid, Smyrna

[9] Hendriksen, Ibid, p.81

[10] Fausset, Ibid

[11] Morris, Ibid, p.63

[12] Hendriksen, Ibid, p.79

[13] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.418 en James Orr, Ibid, Dionysus

Kategorieë