Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 November 2017

‘n Man na God se hart

[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]

Man after God's own heart

Toe ek op hoërskool was moes jy rugby speel en ‘n meisie hê om ‘n man te wees.  As jy in die koor gesing het of tik geneem het, was jy ‘n sissie (die koor gedeelte het verander toe ek in gr. 10 kom).  As jy ‘n student op universiteit is moet jy immoreel wees en drink om ‘n man te wees.  As jy in die sekulêre sektor werk is die kar wat jy ry, op watse landgoed [Eng. estate] jy bly, hoeveel jy drink en of jy ‘n vakansie huis het, deel van wat dit beteken om ‘n man te wees.

Volgens die Bybel gaan manlikheid oor iemand se karakter, en nie oor hoe sterk, sportief, aantreklik, onemosioneel of macho jy is nie.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n man te wees.  Volgens 1Sam. 13:14 en Hand. 13:22 was hy ‘n man na God se hart.  Sy naam kom meer as 1100 keer in die Bybel voor (meer as Moses en Abraham s’n saam).  Volgens Rom. 15:4 en 1Kor. 10:11 is dit opgeteken dat ons daaruit kan leer.

Wat is positiewe en negatiewe karaktertrekke uit Dawid se lewe, en wat moet ons daaruit leer?

Wees toegewyd

Het jy al die plakker gesien wat sê:  ‘Real men follow Jesus’?  Dis waar.  Dawid, die man na God se hart, het die Here gevolg en ‘n in noue verhouding met Hom geleef.  Sy toewyding het soos volg gelyk:

[1] Hy het in God geglo; hy is een van die Bybel se geloofshelde (Heb. 11:32).  Sy geloof was nie bloot ‘n intellektuele belydenis van God se bestaan nie, maar ‘n persoonlike verhouding met Hom.  Om in die volle sin van die woord man te wees, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus hê.  Hy is immers die volmaakte Man na wie se beeld ons gevorm moet word (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18).  Hoe meet jy op?  Staan jy in ‘n lewende en persoonlike verhouding met Hom; is jy ‘n regte man?

[2] Hy was ‘n man van gebed.  Volgens Ps. 5:3-4 het hy elke oggend met die Here gepraat.  In tye van beproewing het hy drie keer per dag gebid (Ps. 55:18).  Die meeste van sy Psalms is gebede en sê vir ons hoe sy gebede geklink het.

  • Hy was dors vir God en het sy gedagtes met Hom gevul, totdat hy nie anders kon as om Hom te prys nie (Ps. 63:2-7). Lofprysing was deel van sy lewe (bv. Ps. 139, 145).  Uit 150 Psalms het hy 75 geskryf (vgl. die Psalms se opskrifte, Hand. 4:25 en Heb. 4:7).
  • Sonde belydenis was deel van sy gebede. Hy het egbreuk en moord gepleeg (2Sam. 11), en in sy militêre sukses geroem (2Sam. 24).  Maar hy het ook berou gehad, hom bekeer, die Here om vergifnis gesmeek, en die pynlike gevolge van sy sonde gedra (2Sam. 12, 24, Ps. 32, 38, 51).
  • Hy het die Here in sy gebede gedank (2Sam. 22, Ps. 23, 103). Hy was nie soos baie Suid-Afrikaners wat vir reën bid, maar nalaat om dankie te sê wanneer die Here hulle gebede beantwoord nie.
  • Hy het sy behoeftes voor die Here gebring en erken dat hy Hom nodig het (Ps. 141, 143). Hy was nie soos die wêreld wat dink dat dit ‘n teken van swakheid is om te erken jy het hulp nodig nie.  Voordat Dawid ‘n skuif gemaak het, het hy God se hulp gevra (1Sam. 23:2-4, 9-12, 30:7-8, 2Sam. 2:1, 5:19, 23-25).

Dawid was soos Jesus, Paulus en Martin Holdt wat baie gebid het.  Hy was nie soos baie mans wat sê dat hulle Christene is, maar nie eers 2 minute per dag bid nie.  Ek wil jou uitdaag om ‘n regte man te wees en meer te bid.  Vra die Here om jou met selfdissipline te help.  Jare gelede het iemand my met konstantheid gehelp.  ‘Selfs as jy verslaap het is dit beter om vir ‘n kort rukkie te bid as wat jy glad nie bid nie,’ is wat hy gesê het.  ‘En as jy konstantheid geleer het, kan jy aan die tyd werk.’

Bid soos Dawid.  Begin met lofprysing:  prys die Here vir wie Hy is.  Bely ook jou sonde.  Moenie dat dit soos vuil skottelgoed ophoop nie, maar bely dit elke dag (Matt. 6:12).  Sê dankie dat die Here jou gered het, asook vir wat Hy in jou lewe doen (sy daaglikse sorg, beskerming, genade, ens.).  Lê ook jou en ander mense se behoeftes aan sy voete neer.  Erken dat jy Hom nodig het, en dat jy nie sonder Hom kan lewe nie (Joh. 15:5, Hand. 17:25).

[3] Hy het die Woord liefgehad.  Ps. 19:8-15 wys dat dit sy lewe was.  Hy het dit nie net geken nie, maar gedoen (1 Kon. 3:14, Hand. 13:22).  Met sy hele hart was hy getrou, regverdig, opreg, en ‘n man van integriteit  (2Sam. 8:15, 1Kon. 3:6).  Sý lewe was die standaard waarvolgens God ander konings se gehoorsaamheid gemeet het (1Kon. 9:4, 11:4, 6, 34, 14:8, 15:3, 5, 11, 2Kon. 14:3, 16:2, 18:3, 22:2, 2Kron. 17:3).

Om soos Dawid te lewe moet jy daarna streef om die Skrif beter te ken en te doen.  Wees uiterlik netjies, maar werk ook daaraan om innerlik ‘n man van karakter te wees.  God kyk immers meer na die hart as na jou uiterlike voorkoms (1Sam. 16:7, 12, 18).  Koop vir jou ‘n ESV Study Bible, kry ‘n Bybellees program op die internet, en laai tonne van Stuart Olyott, John Piper, John MacArthur, R.C. Sproul, Voddie Baucham, D.A. Carson, Conrad Mbewe se preke af.  Maak ook seker dat jy goeie boeke lees:  Martyn-Lloyd Jones, Charles Spurgeon, Iain Murray, Randy Alcorn, Jerry Bridges, Paul Tripp en meer.

[4] Hy het God se huis en sy mense liefgehad.  Hy wou in die tempel wees om die Here saam met ander gelowiges te prys (Ps. 16:3, 23:6, 26:8, 27:4, 122:1).  A.g.v. sy groot liefde vir God se huis, het hy mildelik daartoe bygedra (1Kron. 22:14, 29:2, 4).

Is jy soos Dawid?  Is Christus en sy gemeente jou lewe?  Is jy gereeld by die gemeentelike samekomste, omdat jy die Here saam met jou broers en susters wil aanbid (Heb. 10:24-25)?  Gee jy vir God se werk en vir die uitbreiding van sy Koninkryk in Tembisa, Peru, Zimbabwe en op ander plekke?

Wees dapper

Wat is die verbod wat die meeste in die Bybel voorkom?  Moenie bang wees nie.  Wees dapper.  Om dapper te wees beteken nie dat daar geen vrese in jou lewe is nie, maar dat jy hulle oorkom.  Jy is nie so dom dat jy die gevaar uitsoek nie, maar wanneer dit oor jou pad kom vertrou jy die Here om jou te help.  Dit is wat dapperheid beteken.

Dawid was so:  “...’n dapper held en ‘n krysman... en die Here is met hom.” (1Sam. 16:18).  Toe almal Goliat gevrees het, het Dawid sy slingervel gevat en die gewapende reus doodgemaak (1Sam. 17:48-51).  Hy was dapper, omdat hy geweet het die Here is met hom (1Sam. 18:14, 28, 2Sam. 5:10, 8:6, 14).

As jy gered is en jou sonde vergewe is, is die Here met jou (Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).  Dus hoef jy nie bang te wees nie.  Met God se krag en die vlymskerp swaard van sy Woord, kan jy die sterkste vyande in jou lewe doodmaak:  onsekerheid oor jou en jou gesin se toekoms, vrees vir die dood, Satan se versoekings om onrein te wees, ongedissiplineerde gedagtes, sondige gewoontes soos dronkenskap en pornografie, ‘n los tong, finansiële stres, passiewe geestelike leierskap in jou huis, vrees vir verwerping, ens.

Dalk het die duiwel, jou eie sonde en jou omstandighede jou teen die grond geslaan.  Moenie bly lê, of in ‘n hoek sit en jouself bejammer nie.  Staan op.  Vra die Here om jou te help.  Tel jou swaard op en stry die goeie stryd.

  • “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen. 4:7).
  • “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom. 12:11).
  • “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1Kor. 9:26-27).
  • “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.” (1Kor. 16:13-14).
  • “oefen jou in die godsaligheid” (1Tim. 4:7).
  • “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe...” (1Tim. 6:11-12).
  • “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).
  • “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2Tim. 4:7).
  • “onthou [julle] van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1Pet. 2:11).

Moenie soos ‘n bangbroek van jou moeilike omstandighede af wegvlug, of vir beter dae wag nie.  Wees ‘n man.  Staan op.  Ruk jouself reg.  Skud die stof van jou klere af.  Moenie bang wees vir ‘n bietjie seerkry nie.  As mans deur die geskiedenis vir hulle vryheid geveg het, kan jy sekerlik jou swaard optel en vir jou Koning, sy eer en sy Koninkryk veg.  As jy dapper is sal jy ander beïnvloed om in jou voetspore te volg (2Sam. 21:22, 23:8-39).

Wees sagmoedig

Dit is maklik om ander mense te beheer, maar moeilik om jouself te beheer.  ‘n Sagmoedige man is iemand wat geleer het om homself te beheer.  Sy sagmoedigheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar van sterkte.  Hy is soos ‘n olifant wat dik stompe met sy slurp kan optel, maar dit gebruik om ‘n fyn blaartjie te pluk; hy is soos ‘n gimnas wat sy krag beheer om stadig in ‘n Maltese kruis in te sak.

Jesus en Moses was so (Matt. 11:29, 12:20, 2Kor. 10:1, Num. 12:3).  Dawid ook.  Toe Simeï hom vloek en Saul hom vervolg, het hy hulle nie teruggekry nie.  Hy het dit in die Here se hande gelos om wraak te neem (1Sam. 24, 26, 2Sam. 16, Rom. 12:19).[1]

Ons moet so wees.  Wees sagmoedig met jou vrou en kinders (1Pet. 3:7, Ef. 5:25, 29, Kol. 3:19).  Moenie so streng wees dat jou vrou bang is om haar opinie te gee, of jou kinders vrees jy sal uitvind hulle het ‘n toets gedruip nie.  Dalk is jy té streng en moet jy leer om meer sagmoedig te wees.  As jou vrou of kinders gesondig het, moet jy hulle nie verkleineer nie maar met ‘n sagmoedige gesindheid reghelp, en onthou dat jy self ook God se genade nodig het (Gal. 6:1-2).

Wees nederig

In een van my vrou se beradingklasse het die dosent gesê:  ‘Mans, niks is belangriker in jou huwelik as nederigheid nie.’  Ons sien dit miskien nie in Dawid se huwelik nie, maar in sy lewe is dit duidelik sigbaar.  In 1Sam. 25:32, 34-35 het hy bv. ‘n vrou se raad gevolg en nie gedink hy weet alles nie.  Sommige mans dink dat dit benede hulle is om so iets te doen.  Maar die man wat homself verneder om sy vrou se insette te vra, is beter af as die man wat dink dat hy haar nie nodig het nie (Gen. 2:18).

Dawid was ook nederig genoeg om sy vyande lief te hê en te vergewe.  Hy het vir Simeï vergewe (2Sam. 16, 19).  Hy het getreur toe Saul en Absalom - sy vyande - dood is (2Sam. 1, 18).  Beide Abner en Isboset was aan Saul se kant.  Maar toe hulle dood is, was Dawid hartseer en het hy hulle moordenaars bestraf (2Sam. 3-4).

Sal Dawid sy vyande liefhê en vergewe, en kan jy nie eers met jou vrou oor die weg kom nie?  Dit wys iets van die hoogmoed wat daar nog in jou hart is.  Jy dink te veel van jouself.  As jy nederig was sou dit jou nie so gepla het dat mense nie volgens jóú pype dans nie.  Maar nou raak jy kwaad en baklei jy, omdat jy vir jouself te belangrik is (Jak. 4:1-2).  Jy kan dit nie glo dat jou vrou so arrogant is om jóú wil te kruis nie.  ‘Hoekom wil sy altyd dinge op háár manier gedoen hê?’ wonder jy.  Jy kom nie eers agter dat jy kwaad is, omdat sy nie dinge op jóú manier wil doen nie.

Dit sal help as jy jouself weer aan God se heiligheid meet, sodat jy kan sien jy is glad nie so belangrik soos wat jy dink nie.  ‘n Nederige man sal nie dink dat hy te goed is om ‘n ‘vrou se werk’ te doen nie.  Hy sal sy vrou help en die kind se doek ruil, skottelgoed was, die huis opruim, die kinders oppas, ‘n siek kind dokter, kruideniers koop, ens.  Om ‘n leier te wees moet jy nederig wees en soos Jesus dien (Matt. 20:25-28).

Iemand wat regtig nederig is sal dit nie agterkom nie, maar erken dat hy baie hoogmoedig is.  Omdat hy dit besef, sal hy soos Dawid wees toe hy in sy militêre sukses geroem het:  hy het hom bekeer en vir die Here gevra om hom te vergewe (2Sam. 24).

Wees rein

Toe ek laas week vir die vroue gepreek het, het ek my vrou iets oor die onderwerp gevra.  ‘Kyk op Cosmopolitan se webblad,’ het sy gesê.  ‘As jy die teenoorgestelde sê sal jy reg wees.’

Wanneer dit by seksuele reinheid kom is dit ook so.  Om te weet wat jy moet doen, moet jy 2Sam. 11 lees (Dawid se egbreuk met Batseba) en die teenoorgestelde doen.  Eintlik het Dawid se sonde nie hier begin nie.  Die Here het al in Deut. 17:17 gesê dat die koning nie baie vroue moet hê nie, maar Dawid was ongehoorsaam (2Sam. 3:2-5, 5:13-16).  Sy huwelike met al hierdie vroue het ook gemaak dat hy nie eintlik ‘n verhouding met sy kinders gehad het nie (bv. Amnon en Absalom).

Al was hy dan ‘n man na God se hart, is sy gesinslewe nie juis die beste voorbeeld om na te volg nie.  Sy sonde met Batseba moet veral vir ons ‘n waarskuwing wees.  Manne, ek weet dat dit partykeer ‘n stryd is om jou begeertes in toom te hou.  Maar jy is nie hulpeloos nie.  As jy volgende stappe toepas, kán jy rein wees.

[1] Glo dat Jesus se kruisdood en opstanding genoeg is om jou sonde te oorkom (1Kor. 6:11, 9-10, Tit. 2:11-12).  Moet dit nie net weet nie, maar glo in Hom.

[2] Aanvaar persoonlike verantwoordelikheid.  Moenie sê dat pornografie ‘n siekte in jou brein is nie.  As jy saam met jou meisie slaap, is dit nie omdat jy uit ‘n gebroke huisgesin kom nie.  Jy kan nie jou egbreuk of emosionele gehegtheid aan jou sekretaresse op jou vrou blameer nie.  Ek sê nie dat jou vrou onskuldig is nie, maar moenie soos Adam die skuld van jouself wil afskuif en dink jy gaan daarmee wegkom nie (Gen. 3:12).  Erken eerder saam met Dawid dat dit jou eie skuld is, en dat jy teen die Here gesondig het (Ps. 32, 51).  Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie vergewe word nie (1Joh. 1:9).

[3] Bid baie vir die Heilige Gees se hulp (Luk. 11:13, Rom. 8:13).

[4] Memoriseer gepaste Bybelverse en gebruik dit wanneer jy versoek word (Ps. 119:11, Ef. 6:17).  As jy jou gedagtes met goeie dinge vul, sal dit die vuil dinge uitsuiwer (Rom. 12:2, Fil. 4:8).

[5] Vra jou vrou en ‘n betroubare Christen-vriend om vir jou te bid en jou aanspreeklik te hou.

[6] Onthou dat jy saam met Christus begrawe is, en dat jy as ‘n nuwe mens saam met Hom opgewek is - jy hóéf nie te sondig nie (Rom. 6:3-4, 11-14, 2Kor. 5:17).

[7] Herinner jouself aan die erns van sonde en aan die rykdom van God se vergifnis as jy die nagmaal gebruik.

[8] Maak ‘n skoon breek in sondige verhoudings (Spr. 5:8).  Raak ontslae van jou TV, die internet, jou selfoon, ens. as dit jou versoek om onrein te wees (Matt. 5:28-29, Rom. 13:14).

[9] Onthou dat mense wat in seksuele sonde volhard, hel toe gaan (1Kor. 6:9-10, Op. 21:8).

[10] Moenie ledig wees nie - dit is hoe Dawid geval het (2Sam. 11:1-2).

[11] Neem Num. 32:23 en Luk. 12:2 ernstig op:  “...weet dan dat julle sonde julle sal uitvind ... En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”

[12] Trou as jy enkel is.  Dit sal nie al jou probleme oplos nie, maar dit is ‘n oplossing (1Kor. 7:2, 9, 1 Tess. 4:4).

[13] Werk hard aan jou huwelik.  Jou vrou is soos ‘n plant wat tyd en aandag nodig het.  As jy haar afskeep moet jy nie verbaas wees dat jou huwelik soos ‘n verlepte plant lyk nie.  “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.” (Spr. 14:23).

Moet dan nie net dat jou vrou nr. 1 in jou lewe is nie; wys dit.  Hou op om jou kinders, vriende, familie, kerk, werk, en stokperdjies bo haar te stel.  Maak tyd om met haar te gesels en nie net om saam met haar te slaap nie.

[14] Moet jouself nie seksueel uithonger nie, maar geniet jou vrou as jy getroud is (1Kor. 7:3-5).

[15] Wellus is die saad waaruit die onkruid van egbreuk en pornografie groei (Matt. 5:27-28, Jak. 1:14-15).  Roei die saad uit en moenie net bossies uittrek nie.

[16] Lees The Purity Principle van Randy Alcorn.

[17] Vroue, help asb. julle broers in die Here.  Moenie so aantrek dat jy hulle versoek nie (Matt. 18:7, 1Tim. 2:9).

Ek glo jy het agtergekom dat Dawid ‘n goeie voorbeeld is, maar dat hy nie die perfekte voorbeeld is nie.  Hy is immers nie die Messias nie, maar ‘n sterflike mens soos ons (Hand. 2:29).  Die 15 helde wie se potlood sketse in my studeerkamer hang is ook nie volmaak nie.

Daar is net een volmaakte Verlosser en voorbeeld:  die seun van Dawid, Jesus Christus.  Behoort jy aan Hom?  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).  Uiteindelik is Jesus, nie Dawid nie, die Man na God se hart:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matt. 17:5).

______________________________________________

[1] Dawid het een keer besluit om wraak te neem.  Nadat hy goed was vir Nabal, het die dwaas hom kwaad aangedoen:  stank vir dank (1Sam. 25).  Dawid het besluit om hom dood te maak, maar terwyl hy oppad was het die Here Nabal se vrou na hom toe gestuur.  Sy het hom afgeraai en gesê dat die Here met Nabal sal afreken.  Dawid was dankbaar Abigail hom gekeer het.  Hy het haar raad gevolg en nié wraak geneem nie.  Tien dae later het die Here vir Nabal doodgemaak.

[/column]

Kategorieë