Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 May 2021

’n Lewe van Seën en Vervloeking

Lukas 6:17-26

Die Prosperity gospel is ’n vals boodskap wat sê dat dit altyd God se wil is vir Christene om gesond, voorspoedig en ryk te wees. Ons verag hierdie boodskap, maar in wese sê ons partykeer dieselfde. As ons geld het, of gesond is, sê ons: ‘Die Here seën my.’ Maar beteken dit dat die Christen wat arm, of siek is, nié geseënd is nie? Dit is verseker nie wat Jesus hier met seën en vervloeking bedoel nie. Wat hét Hy dan bedoel?

 

1. ’n Lewe van seën (v.17-23)

[a] Waar kry mens dit? (v.17-19)

Ek en een van die nuwe bekeerlinge in ons gemeente het gister die strate ingevaar om die evangelie te deel. Terwyl ons op pad was, sê ek vir hom: ‘Hou my dop. Kyk wat ek doen.’ Toe ons by die derde persoon kom, toe sê ek: ‘Nou gaan ek jou ’n kans gee om die man ’n paar vrae te vra.’ So het ek die nuwe bekeerling ‘on the job training’ gegee.

     Dit is hoe Jesus die apostels geleer het. Nadat Hy hulle gekies het, het Hy hulle deur sy voorbeeld geleer voordat Hy hulle uitgestuur het (v.12, Mark. 3:14). Ons moet dieselfde doen en vir mense wýs hoe hulle Jesus se opdragte moet uitvoer (Matt. 28:19-20). Laat hulle jou volg soos jy vir Jesus volg (1Kor. 11:1). Moet hulle nie in ’n klaskamer los waar hulle hulleself moet leer nie, maar vat hulle saam as jy fietsry, of Builders toe gaan, sodat hulle kan sien hoe ’n Christen in verskillende situasies optree. Deel ook die evangelie voor hulle, sodat hulle kan sien hoe mens dit doen.

         Dit is wat Jesus in v.17-19 gedoen het. Hy het van die berg afgekom tot by ’n gelyke plek waar hy die dissipels geleer het (v.17, 20). Daar was ook ’n skare wat van oral af gekom het om sy lering te hoor en van hulle siektes en demone genees te word (v.17-18). Baie het Hom aangeraak en is genees deur die krag wat van Hom uitgegaan het (v.19, 8:44, 46, Matt. 14:36).

         Dit is ook waar jý die geseënde lewe kan kry: by Jesus. Alhoewel ons Hom nie kan aanraak nie, kan ons die hand van gebed op sy troon lê en Hom deur geloof vasgryp. Alhoewel ons Hom nie nét vir fisiese genesing moet soek nie, is dit een van die geskenke wat Hy gee (v.18-19). Die groot vraag is hoekom Hy nie ál sy kinders met gesondheid seën nie. Die rede is, omdat Hy ons partykeer met groter dinge wil seën (2Kor. 12:7-10). In sulke gevalle laat Hy die sieke sterf om hom die seën van die hemel te gee (Joh. 17:24).

         Of jy dan gesond is, of siek is: as jy ’n kind van die Here is, wil Hy jou seën. As jy siek is, sluit sy seën geestelike groei, ’n dieper ervaring van sy liefde en voorbereiding vir die hemel in (Ps. 119:67, 71, Rom. 5:3-5, 8:28-29). Hy laat ons uitsien na ’n nuwe aarde waar daar geen meer siekte en dood sal wees nie (Jes. 33:24, Op. 21:4). Dit is wat Hy verledeweek in een van my vriende se gemeente gedoen het. ’n Bejaarde lidmaat in hulle gemeente het letterlik oornag doof geword. Sy het die erediens bygewoon, omdat sy die nagmaal wou gebruik. Toe my vriend langs haar hurk, toe sê sy: ‘Dominee, jy moet hard in my oor praat. Ek kan jou nie hoor nie.’ Tydens die erediens het die gemeente vir ’n paar mense gebid. Terwyl hulle besig was om te bid, toe steek die tannie haar hand op. In ’n oomblik het die Here haar genees en kon sy perfek hoor.

         Alhoewel dit ’n geskenk van die Here is, gebeur dit nie met almal nie. Party gelowiges word nie genees nie, maar sterf. Maar selfs dit is ’n seën, omdat die siek persoon dan by die Here is (Fil. 1:21, 23). En is daar ’n seën groter as om by Jesus te wees? Laat die sterwende gelowige dan sê: ‘Ek is geseënd en gaan na Jesus toe!’

 

[b] Hoe lyk dit? (v.20-23)

Mense wat in bevrydingsteologie glo, sê dat ons in ons evangelie-verkondiging op die minderheidsgroepe moet fokus. Eintlik gaan dit nie eers oor die evangelie nie, maar oor sosiale aksies. Volgens hulle moet onderdrukte groepe soos die nie-blankes, armes en vroue bevry word. Hulle moet voorkeur kry in ons gemeentes. Hierdie wêreldbeskouing gee byna die idee dat dit ’n kriminele oortreding is as jy manlik, ryk, of blank is.

          Dit is nie wat Jesus in hier bedoel het nie. Ons weet dit, omdat Hy spesifiek met die dissipels gepraat het (v.20). Hier gaan dit dus oor mense wat vir hulle lojaliteit aan Jesus arm, honger en hartseer, en vervolg is (v.20-23). Dit gaan oor mense wat geestelik honger en arm is. Die Bybel leer verseker nie dat jy geseënd is en hemel toe gaan net omdat jou bankrekening leeg is nie.

Geseënd is die Armes (v.20)

Martin Luther se laaste woorde was: ‘We are beggars. This is true.’1 Dit is ook wat Jesus hier bedoel het. Hy het nie bedoel dat elke Christen ryk moet wees nie. Eintlik gaan dit glad nie oor materiële voorspoed soos aanhangers van die Prosperity Gospel nie. Ek het eenkeer ’n Range Rover met Fil. 4:19 teen die agteruit gesien: “And my God will supply every need of yours according to his riches in glory in Christ Jesus.” Bo-aan die plakker het daar gestaan: ‘There is no recession in Jesus Christ!’ ’n Jaar, of twee later toe sien ek ’n BMW X5 met Matt. 6:33 in rooi letters teen die agterruit: “But seek first the kingdom of God and his righteousness, and all these things will be added to you.”

      Luk. 6:20 se rykdom gaan nie oor duur karre nie. Dit gaan eerder oor die rykdom wat Jesus aan dié gee wat geestelik arm is en besef dat hulle nie sy rykdom kan koop, of verdien nie (Matt. 5:3). Sommige ryk mense besef dit. Dink byvoorbeeld aan Dawid wat ’n skatryk koning was. In Ps. 86:1 verwys hy na homself as ellendig en arm.

          Die armoede in Luk. 6:20 verwys ook na mense wat bereid is om hulle aardse besittings prys te gee om Jesus te volg (v.20, 14:33, Matt. 19:27, Heb. 10:34, Jak. 2:5, Op. 2:9). Húlle is die geseëndes aan wie die Koninkryk van God behoort (v.20). Is hierdie Koninkryk joune? Is jy bereid om alles prys te gee om Jesus te volg? Sal jy alles verkoop en ’n sendeling word as Jesus dit vra? Is jy bereid om enkel te bly, sodat jy Jesus in ’n vervolgde land kan dien? Sal jy jou werk bedank en ’n predikant word as dit God se wil is? Sal jy Jesus volg as dit beteken dat jou vriende en familie jou afskryf?

          ’n Verdere toets om te weet of die Koninkryk joune is: besef jy dat jy niks tot jou redding kan bydra nie en dat jy niks doen om God se guns te verdien nie? Indien wel, is die Koninkryk joune (v.20).

Geseënd is die Hongeres (v.21a)

Haralan Popov was ’n predikant in Kommunistiese Bulgarye. Toe hy vir die evangelie in die tronk gegooi is, het hy een snytjie brood per dag gekry. Dit het saam met waterige sop gekom. Omdat hy en die ander gevangenes uitgehonger was, het hulle gras geëet as hulle gedwing is om slote te grou. As die wagte hulle gevang het, is hulle doodgeskiet. Toe hulle op ’n dag weer sop kry, het daar boontjie in iemand se sop beland. ‘A bean!’ het die man geskreeu. Die ander gevangenes was bly dat hy bevoorreg was om ’n boontjie in sy sop te kry.2

          Haralan Popov is die hongere aan wie Jesus seën belowe het. Dit gaan hier oor iemand wat bereid is om vir die evangelie honger te ly (v.21). Dit is die tipe persoon wat ’n geestelike honger na Jesus het (Matt. 5:6, Joh. 6:35). Jesus belowe om sy honger te stil (v.21). As jy dus die Here se kind wil wees, maar dit voel asof die hemel stil is, sê Jesus: “Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word.” (v.21). Soek jy die Here? Het jy ’n honger na Hom? Herinner Hom aan v.21 en Matt. 5:6, naamlik dat Hy belowe om jou honger te stil as jy Hom soek.

          Dalk is jy reeds gered en wil jy ’n nader verhouding met Jesus hê. In jou hart is daar ’n honger na Hom. Luk. 6:21 geld ook vir jou. Vra die Here om die brood te wees wat jou honger stil. Maar verwag ook dat jy by tye honger sal wees en die verlange na Jesus sal voel. Eers as jy in die hemel is, sal die hongerpyne finaal verdwyn, omdat jy dan by Jesus is (v.21).

Geseënd is dié wat Treur (v.21b)

Thomas Watson het gesê: ‘A godly man is an evangelical weeper.’3 Hy bedoel wat Jesus hier bedoel het, naamlik dat die gelowige oor sy sonde treur, omdat dit die Here bedroef (v.21, Matt. 5:4, 2Kor. 7:11, Ef. 4:30, Jak. 5:9). Hy treur ook oor die wêreld se sonde en verlang na die hemel waar almal heilig is (Ps. 119:136). Hy sug oor sonde in die algemeen en treur oor die gevolge daarvan deur siekte en dood (Jes. 53:3, Mark. 7:34, Joh. 11:35, Rom. 8:22-23). Hy sien uit na ’n nuwe aarde sonder hierdie probleme.

          Treur jý so? Sug jy oor jou sonde met die begeerte om finaal en vir ewig daarvan ontslae te wees? Of is sonde vir jou lekker en sien jy uit om dit te doen? Weeg die wêreld se sonde swaar op jou skouers, sodat jy daaroor treur? Sug jy oor die korrupsie, materialisme, en transgender agenda, sodat jy wil hê Jesus moet weer kom? As jy regtig oor sonde treur, sal Jesus die trane van jou oë afvee en sal jy lag (v.21, Ps. 126:2, Pred. 7:3, Jes. 25:8, Op. 7:17, 21:4). Hy sal jou na ’n plek toe neem waar daar geen meer trane is nie.

Geseënd is die Vervolgdes (v.22-23)

’n Paar jaar gelede moes ons iemand van ons gemeente afsny. Die persoon het geen berou oor sy sonde getoon nie. Op die einde het hy gemaak of hý die onskuldige slagoffer is. Maar volgens die Bybel is jy nie geseënd as mense jou vir jou sonde vervolg nie (1Pet. 2:20, 4:15). In Luk. 6 gaan dit oor vervolging vir Jesus en omdat jy ’n Christen is (v.22, Joh. 9:22, 1Pet. 4:14). Moet dan nie sê: ‘Ek word vir die evangelie vervolg,’ as jy nie jou werk doen nie, as jy ’n slegte gesindheid het, of as jy weier om jou aan gesag te onderwerp nie.

Wees liewer die persoon wat nie na die braai toe genooi word nie, omdat jy nie drink nie. Wees die persoon van wie hulle by die kantoor skinder, omdat Jesus vir jou die belangrikste is. Wees die persoon wat nie die werk kry, of vir die span gekies word nie, omdat jy op ’n Sondag by die kerk wil wees.

Volgens Jesus is jý die geseënde (v.22, Matt. 5:10-11). Daarom moet jy bly wees en van vreugde spring, omdat Hy jou in die hemel sal beloon (v.23, Matt. 5:12, Hand. 5:41, 16:25). Moet dan nie vaskyk in die mense wat jou spot, verwerp, of van jou skinder nie. Kyk eerder na die beloning wat kom en na die hemel waar niemand jou sal teister nie. Onhou ook dat jy nie die eerste gelowige is wat vervolg word nie. Reeds in die Ou Testament het die profete vir die Here se Naam gely (v.23). As jy dus vir die evangelie gespot word, is jy in goeie geselskap (v.23).

Dít is die ware seën: nie om geld te hê en voorspoedig te wees nie, maar om vir Jesus se Naam te ly (v.20-23). Bushiri, Joel Osteen, Leon du Preez en ander Prosperity predikers verstaan nie hierdie voorspoed nie. Óns het die ware voorspoed.

 

2. ’n Lewe van vervloeking (v.24-26)

Hoe beskou jy ’n gelowige as een na die ander ding skeefloop in sy lewe? Party sal sê dat dit ’n bloedlynvloek is en dat die persoon vir bevryding moet gaan. Of hulle sal sê dat die Here die persoon straf.

Maar volgens die Bybel is Christene altyd geseënd, selfs as alles in hulle lewens skeefloop (v.20-23). Die vervloektes is dié wat alles in hierdie lewe soek: luuksheid, geld, versadiging, plesier, populariteit en sukses (v.24-26). Hulle is dié oor wie Jesus ‘wee’ roep (v.24-26). Jesus voel jammer vir hulle, omdat hierdie wêreld al is wat hulle het. As hulle sterf, verloor hulle als.

Wee die Rykes (v.24)

Verledejaar het ek op YouTube ’n dokumentêr van ’n ryk Suid-Afrikaner gekyk. Die man is R19 biljoen sterk. Sy huis is 3000 m2 groot. Hy het ’n ondergrondse parkeergarage vol van die duurste karre. Sy rykdom is byna ’n tragedie.

Ek bedoel nie dat die Here teen geld is nie. In die Bybel was baie regverdiges ryk (19:2, Gen. 13:2, 26:12-13, Job 1:3, 42:12, 1Kron. 22:14, 2Kron. 32:27-29, Matt. 27:57, Hand. 16:14-15). Die probleem is as jy geld jaag; as jy jou geluk daarin soek en dit jou afgod word (Matt. 6:24, 1Tim. 6:9-10). Dan het jy jou troos weg (v.24, 16:25). Jy het met ander woorde so aan jou rykdom vasgehou dat jy Jesus en die hemel gemis het (18:18-25).

Moenie toelaat dat die wêreld se rykdom jou betower nie. Daar is baie dinge wat geld nie kan koop nie: goeie slaap, gesondheid, ’n gelukkige gesin, vrede, wysheid, ’n goeie reputasie (8:43, Spr. 8:10-11, 15:16-17, 16:16, 17:1, 22:1, 28:6, Pred. 5:11). Martin Luther het gesê: ‘Wealth is the smallest thing on earth, the least gift that God has bestowed on mankind... Yet are men so eager after it, that no labor, pains, or risk is regarded in the acquisition of riches... our Lord God commonly gives riches to those from whom he withholds spiritual good.’4 Leon Morris sê: ‘When all that anyone has is worldly wealth he is poor indeed.’5

Soek dan hemelse rykdom en moet jouself nie afsloof vir skatte wat vergaan nie. Gebruik jou aardse skatte om goed te doen aan die armes en die Koninkryk te bevorder (12:33, 1Tim. 6:18-19).

Wee dié wat Versadig is (v.25a)

Toe my vriend eenkeer die evangelie met iemand wou deel, toe wys die man na ’n bierbottel op die kas. ‘Daar is my baas,’ het hy gesê. Dit is wat hom versadig het. Dit is ook wat die mense in v.25 versadig. Hulle het nie ’n aptyt vir Christus nie, maar word versadig met die dinge van hierdie wêreld (v.25). Maar as die dood hulle wegvat, sal hulle niks meer hê om hulle te versadig nie (v.25, Jes. 65:13). Die drankverslaafde sal nog sy lus vir drank hê, maar hy sal nie ’n druppel kry nie.

Waarin soek jy jóú vervulling? Waarna kyk jy om jou gelukkig te maak? As dit nie Jesus is nie, het jy ’n probleem, omdat jy vir ewig leeg sal bly. 

Wee dié wat lag (v.25b)

In 2007 het ek ’n sendeling in Taiwan besoek. Daar het ek gehoor dat OMF tydens hulle onderhoude vir die sendeling vra of hy ’n sin vir humor het. Dit is nodig, omdat mense van verskillende kulture mekaar maklik misverstaan. As jy nie vir jouself en jou foute kan lag nie, gaan jy dit nie maak nie. As jy aanstoot neem as mense van ’n ander kultuur jou misverstaan, sal jy ’n hindernis vir die evangelie wees eerder as ’n hulp.

Wat ek eintlik probeer sê, is dat Christene ook kan lag. God is nie teen lag nie; Hy het dit gemaak (Gen. 21:6, Pred. 3:4, 10:19). Die probleem is as mense oor dinge lag waaroor hulle eintlik moet huil: sonde en God se oordeel (v.25, Jak. 4:9). As Jesus weer kom, sal hierdie mense se gelag in trane verander (v.25, 13:28, Matt. 8:12, 13:42, 50, 22:13, 24:51, 25:30, Spr. 14:13, Jes. 65:14). Hulle sal nie meer oor hulle sonde, of Jesus se waarskuwings lag nie.

Wee dié wat Populêr wil wees (v.26)

Voor ek begin studeer het, toe waarsku my predikant my teen die drie F’s van die bediening: ‘Female, fame and finance.’

Die soeke na populariteit het al baie mense laat val. Wie hoog klim, val ver. Laat ons dan nie mense se roem soek nie (v.26, Jer. 45:5). God deel sy eer met niemand nie (Jes. 48:11). Wee jou as jy populêr wil wees (v.26). Jy sal mense begin dien en alles in jou vermoë doen om hulle guns te wen. En as jy ’n dienskneg van mense wil wees, is jy nie meer ’n dienskneg van Christus nie (Gal. 1:10). En dan is jy soos die vals profete wat nooit aanstoot gee nie en van wie almal hou (v.26, Jes. 30:10, Jer. 5:31, Miga 2:11).

Dit geld nie net vir die bediening nie, maar vir die sekulêre bedryf. As jy jou besigheid eerlik bedryf, of nie soos die res skinder, drink, vloek, rondslaap en geld jaag nie, sal hulle jou vervolg (v.22, Matt. 10:25, Joh. 15:18-20, 2Tim. 3:12, 1Pet. 4:3-4). As hulle dit nié doen nie, is dit omdat jy een van hulle is en jou lig hulle nie pla nie. Wees daarom bly as die polisie jou soos John Sherwood in die tronk gooi. Toe Sherwood twee weke gelede die Bybelse siening van die huwelik verkondig, het die Britse polisie hom gearresteer en vir die aand in die tronk laat slaap.6 Maar ek sal eerder dat die wêreld my vervloek en die Here my seën as andersom.


1  Aangehaal in John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 91

2  Uit sy outobiografie: Haralan Popov, Tortured for his Faith (Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House, 1970, 1975)

3  Thomas Watson, The Godly Man’s Picture (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1992 [1666]), 55

4  Martin Luther, Table Talk (Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library, 2004 Public Domain), CLXVII, p. 56

5  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 148

6  https://www.newsweek.com/uk-pastor-arrested-after-anti-same-sex-marriage-comments-back-stump-politicians-support-1588593

Kategorieë