Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 March 2013

'n Christen se plig teenoor sy stad, sy huis, en sy naaste

Whispering secret

10 Oor die voorspoed van die regverdiges jubel ‘n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel. 11 Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek. 12 Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil. 13 Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak...29 Wie sy huis in beroering bring, sal wind erwe, en ‘n dwaas word ‘n slaaf van hom wat wys

van hart is.” (Spreuke 11:10-13, 29).

 

Jou stad (v.10-11)

Tydens die heerskappy van Oliver Cromwell was daar voorspoed in Engeland.  Dieselfde kan gesê word van die tyd van Gustavus Adolphus in Swede en Alfred die Grote in Engeland.  In hulle tyd het die land gejuig.  Toe Haman dood is en Mordegai in sy plek regeer het, was daar blydskap:  “En Mórdegai het van die koning weggegaan in ‘n koninklike kleed van pers en wit, met ‘n groot goue kroon op en ‘n mantel van fyn linne en purperrooi stof, terwyl die stad Susan jubel en vrolik was.” (Ester 8:15).  Ek onthou hoe die media gewys het hoe Gadafi se vyande gesing en gedans het toe hy dood is.  Die Israeliete het dieselfde gedoen toe Farao en die Egiptenare in die Rooisee verdrink het (Eksodus 15).  En die vroue van Israel het gesing en gedans toe Dawid vir Goliat doodgemaak het (1 Samuel 18:6-7).

 

Ons verstaan v.10:  “Oor die voorspoed van die regverdiges jubel ‘n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel.”  Die goddelose verdruk die regverdige en daarom is daar blydskap wanneer hulle sterf.  “As die regverdiges juig, is die heerlikheid groot; maar as die goddelose opkom, moet die mense gesoek word...As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk.” (28:12, 29:2).  Dit is hoe dit gewoonlik werk.  Maar hoe erg is dit as 'n stad juig wanneer die regverdige sterf en die goddelose vrykom.  Ons onthou hoe Jerusalem gejuig het toe Barabbas vrygelaat is en Jesus gesterf het.

 

Die goddelose bring 'n stad onder met sy mond (v.11).  Die Jode het met hulle eie monde Jerusalem se verskriklike lot geseël:  “En die hele volk antwoord en sê:  Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matteus 27:25).  Veertig jaar later is Jerusalem deur die Romeine verwoes.  'n Miljoen Jode het in Israel omgekom.  Dit was ook deur die monde van vals profete wat Jerusalem ondergebring is.  Die inwoners van die stad het hulle leuens geglo en nie vir die Here geluister nie.  Gevolglik is die stad deur die Babiloniërs (Ou Testament) en Romeine (Nuwe Testament) verwoes.

 

Geen Christen moet deur sy woorde en optrede 'n stad onderbring nie.  Laat ons eerder 'n seën wees vir die dorp of stad waar ons bly (v.11).  Ons moet veg teen die duisternis in ons stede.  Wees sout en lig (Matteus 5:13-16).  Ons moet die evangelie versprei en aksie neem teen onreg en misdaad.  “en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” (Jeremia 29:7).  Laat ons minder kla oor ons burgemeesters, rade, polisie, ministers, en laat ons vir hulle bid (1 Timoteus 2:1-2).  Só sal ons in vrede kan lewe.  God was bereid om Sodom te spaar vir die regverdiges in die stad (Genesis 18:22-33).  En so is Hy bereid om die stad waar jy bly te seën en te spaar vir jou onthalwe.  Moenie twyfel in die verskil wat een mens kan maak nie.  God het groot dinge gedoen om lande, stede, en kontinente te verander deur individue.  Daniël het groot dinge vir die Here vermag in Babilon.  God het vir Paulus gebruik om Europa om te keer.  Die heidene self het erken dat die apostels die wêreld omgekeer het (Handelinge 17:6).  Europa is op sy kop gekeer deur Martin Luther.  William Carey het Indië sosiaal, godsdienstig, en polities bevoordeel.  David Livingstone het dieselfde in Suidelike-Afrika gedoen.  William Wilberforce het die slawebedryf in Engeland stop gesit.  Waarlik, “by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).

 

Maar Spreuke 11:10-11 geld nie net vir aardse stede nie, maar ook vir die hemelse stad.  Deur die voorspoed en seën van Jesus is die nuwe Jerusalem 'n plek van vrede.  En omdat daar geen goddelose in hierdie stad is nie (Jesaja 65:17-25, Openbaring 21:27, 22:3), sal ons vir altyd juig en bly wees.

 

Jou huis (v.29)

Agan het gesteel en so sy hele huis en die volk in die moeilikheid gebring (1 Kronieke 2:7).  'n Goddelose mens bring sy stad en huis tot 'n val.  Hy het gehoop vir baie, maar kry net 'n warrelwind wat sy rykdom wegwaai (v.29).  “Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.” (15:27).  Al jou pogings om ryk te word is 'n gejaag na wind (Prediker 5:15).  Die goddelose persoon los niks agter vir sy familie nie.  Hy self word 'n slaaf (ook d.m.v. slegte skuld) van iemand wat 'n goeie rentmeester is (v.29b).  Sorg dan dat jy nie jou gesin benadeel as gevolg van slegte skuld, dobbel, diefstal, dwelms, drank, en ander sulke dinge nie.  As jy dít doen ly jy nie alleen nie, maar jou gesin ly daaronder as jy toegesluit word, as die ‘drug lords’ dreig om jou gesin te vermoor (sien Rigters 15:6), of as die balju jou goed kom vat.  Iemand wat 'n slaaf is van drank, dwelms, en dobbel verpand en verkoop sy besittings om geld te kry vir sy sonde.  Daardeur bring hy sy gesin onder.  Moenie so wees nie.  En moet ook nie so wees teenoor jou geestelike huisgesin (die kerk) nie.  Moenie deur jou sondige optrede veroorsaak dat die kerk en Jesus se Naam belaster word nie (Romeine 2:24).  Moenie dat jóú sonde die oorsaak is dat God die kerk tugtig en seën terughou nie (1 Korintiërs 5:6).  Jesus word genoeg gespot deur die wêreld.  Moet dit nie aanhelp deur jou verkeerde optrede nie.  Wees heilig, sodat jy vrede eerder as onheil bring.

 

Jou naaste (v.12-13)

'n Man wat ek geken het is deur 'n ander belaster en beskuldig in die plaaslike koerant.  Maar dit was alles leuens.  In v.12 sê Salomo:  “Die verstandelose verag sy naaste...”  'n Meer letterlike vertaling sou sê:  “'n Lafhart verag sy naaste...”  Met ander woorde, die persoon wat 'n ander verkleineer is te bang om die saak van aangesig tot aangesig uit te praat, en daarom skinder hy agter sy rug.

 

Bly eerder stil en praat net wanneer dit nodig is.  Dis verstandig (v.12b).  Wees soos dit:  “Maar die manskappe het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.” (2 Konings 18:36).  Daar is ten minste vyf redes hoekom 'n verstandige persoon stilbly.  Hy wil nie onnodig getug word nie.  Hy wil goeie verhoudings behou.  Hy wil 'n skoon gewete hê.  Hy weet dat sy skindertaal die mense wat dit hoor sal beskadig.  Hy vermy die risiko om vals dinge te sê, want dit is gewoonlik so dat mense wat skinder nie al die feite het nie.  Skinderbekke gaan oral rond om hulle stories te versprei (v.13, omgaan).  Moenie so wees nie.  “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie.  Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die Here.” (Levitikus 19:16).  “En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie.” (1 Timoteus 5:13).  Moet ook nie vriende maak met iemand wat skinder nie.  “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.” (20:19).  Die persoon wat van ander skinder by jou, sal binnekort van jou skinder by ander.

 

Niemand wil 'n geheim deel met iemand wat skinder nie.  Daar word vertel van drie predikante wat gaan gholf speel het.  Ná die rondte het hulle in die badkamer gesit en gesels.  Die eerste het gesê:  “Ek wil iets persoonlik met julle deel – iets waaroor ek baie skaam is.  Ek sukkel vreeslik met wellus.  Sal julle asseblief vir my bid?”  Die tweede het bely:  “Ek drink in die geheim en kan net nie ophou nie.  Kan julle asseblief vir my bid?”  Die derde predikant het stilgebly.  “Hoekom is jy so stil – het jy nie 'n geheime sonde waarmee jy sukkel nie?”, het die ander twee gevra.  “Ja, ek het.  Ek is 'n kompulsiewe skinderbek en kan nie wag om hier weg te kom en vir ander van julle sondes te vertel nie!”

 

Hoe weet 'n mens wie om te vertrou?  Hier is tien kenmerke van 'n betroubare persoon; iemand met wie jy jou geheime kan deel.

  1. Jy kan die persoon vertrou met goed wat jy vir hom of haar leen.  Hy (of sy) pas dit op.
  2. Die persoon hou (steel!) nie geleende goed vir ewig nie, maar gee dit terug.
  3. Die persoon is 'n goeie rentmeester van sy eie geld en besittings – nog 'n bewys dat hy vertrou kan word.
  4. Die persoon is lief vir die Waarheid – Jesus en sy Woord.  Hoe kan jy iemand vertrou wat valsheid liefhet?
  5. Die persoon hou sy beloftes.  Iemand wat sy beloftes breek kan ook nie vertrou word as hy sê:  “Ek belowe ek sal vir niemand sê nie.”
  6. Die persoon is stiptelik.  Hy is nie alewig laat nie.  Iemand wat onbetroubaar is in klein dinge soos tyd, sal onbetroubaar wees in groter dinge.
  7. Die persoon is 'n doener en nie 'n prater nie.  Mense wat net praat maar nooit doen nie is onbetroubaar.  Ek wil nie graag my geheime met so iemand deel nie.
  8. Die persoon is lojaal aan sy familie en vriende.  'n Dislojale persoon moenie met groot dinge soos geheime vertrou word nie.  As hy nie lojaal is in sy verhoudings nie, sal hy nie lojaal wees om geheime te hou nie.
  9. Die persoon doen wat van hom gevra word.  Iemand wat nie vir sy baas luister nie, sal nie luister as jy vra hy moet 'n geheim hou nie.
  10. Die persoon is 'n harde werker.  'n Lui man is 'n onbetroubare man.  Vermy hom en deel eerder jou geheime met iemand anders.

 

Die betroubare persoon is nie net uiterlik so nie, maar betroubaar in sy gees (v.13b).  Deel jou geheime met hom of haar.  Onthou tog dat absolute konfidensialiteit nie Bybels is nie.  Jy kan nie 'n geheim hou oor 'n beplande moord of oor volhardende sonde nie.  Daar is 'n tyd en 'n plek om selfs 'n persoon se diepste geheim in die openbaar te bring.  Maak dit duidelik aan die persoon voordat hy sy geheime met jou deel.  Jesus self het gesê dat 'n persoon wat in sonde volhard in die openbaar gehelp en bestraf moet word (Matteus 18:17).

 

Ons beste vriend is Jesus.  Jy kan al jou begeertes, gedagtes, sorge, en geheime met Hom deel in gebed.  Hy sal nooit jou geheime uitlap nie, maar sal ook jou sonde bedek deur vergifnis.  Soos Hy met jou doen, moet jy ook teenoor jou naaste doen wat sy geheime met jóú deel.

Kategorieë