Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 October 2014

’n Christen se blink toekoms

Bright future

[youtube=http://youtu.be/2TOxMdJTTCg]

Nie lank gelede nie, was Joel Osteen se boek Your best life now op die top verkoper lys van verskeie Christelike boekwinkels.  Die titel alleen behoort rooi ligte in jou kop te laat flikker.  Was Jesus se tyd op aarde sy ‘best life now’?  Nie volgens Jesaja 53 nie.  Ook Paulus nie gedink dat boeie om sy enkels en wonde op sy rug sy ‘best life now’ is nie.  Vir ongelowiges is hierdie wêreld ‘Your best life now’.  Is dit dieselfde vir Christene?  Of lê die beste nog in die toekoms?

 

18 ek [sal] my ook verbly. 19 Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek, 20 volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is. 21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. 22 Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. 23 Want ek word van weerskante gedring:  ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. 25 En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof, 26 sodat julle roem oor my oorvloedig kan wees in Christus Jesus deur my teenwoordigheid weer by julle.” (Filippense 1).

 

Paulus se sekerheid van ’n blink toekoms (v.18b-20)

Die Koning stuur sy soldate uit om sekere take uit te voer. Oppad loop hulle in die vyand se lokval in.  Fred en Jac word gevang en die res ontsnap.  Dié wat vry gekom het gaan sê vir die Koning.  Fred weet dat die Koning almagtig is en graag sy soldate help.  Hierdie wete maak dat hy selfs in die tronk vrede en blydskap het.  Met Jac is dit anders.  Hy betwyfel die Koning se almag en goedheid.  Hy is depressief en angstig.

Soos Fred en Jac het Paulus in die tronk gesit (v.13). Maar hy het hom verbly, omdat hy geglo het dat die Here die Filippense se gebede kon en sou beantwoord, en dat die Gees hom uit die tronk sou bevry en uiteindelik ook veilig in die hemel sou bring (v.18b-19).  Vir Paulus – soos vir Fred – was geloof in die Koning se almag en goedheid die fondasie vir sy blydskap.  Die Bybel het ‘n spesifieke frase vir geloof in ‘n blink toekoms:  hoop (v.20).  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1).  Paulus se hoop op ‘n blink toekoms het hom vreesloos gemaak.  Hy sou van Jesus getuig; al moes dit sy lewe kos (v.20).  Hy sou nie skaam wees vir die evangelie of sy Here verloën het om uit die tronk uit te kom nie (v.20).

 

Is jy, soos Paulus, seker van ‘n blink toekoms in die hemel? Wat maak jou so seker?  Is dit omdat jy nie moord pleeg of rondslaap nie; omdat jy arm mense help en kerk toe gaan?  Jou hoop is gebou op sand en jou toekoms is donker.  Het jy vergeet van jou selfsug, disrespek vir jou ouers, bitterheid, wellus, wit leuentjies, hoogmoed, jaloesie, gekla, selfregverdigheid, en ander sondes wat net jý van weet?

 

Sê jy: ‘Ek weet ek is ongered en het nie blink toekoms nie, maar ek weet nie wat om te doen nie – my sonde is te groot’?  As Jesus se kruisdood miljoene ander sondaars kon red, is dit nie genoeg om jóú sondes te vergewe nie?  Kon Jesus ‘n moordenaar soos Paulus red en kan Hy jóú nie red nie?  Sê die Bybel nie dat Jesus homoseksueles, egbreukers, dronkaards, diewe, leuenaars red nie (1 Korintiërs 6:9-11)?  Sê vir Hom:  ‘Ek is hopeloos en kan nooit my eie hart verander nie.  Ek vertrou dat U gekruisig is om sondaars te vergewe.  U het opgestaan sodat ons kan lewe.  Ek kan nie op my eie swak pogings staatmaak nie.  Ek vra dat U my sal red en vergewe.  Sal U vir my ‘n blink toekoms in die hemel gee?’  Glo jy die Here sal so ‘n gebed hoor?  Hy sal, “Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13).

 

Glo jy die bogenoemde evangelie, maar is onseker van ‘n blink toekoms? Jy glo dis vir ander, maar weet nie of jý dit sal hê nie?  Wat maak jou onseker:  het jy van die Here af weggedwaal?  Bekeer jou en kom terug; Hy sal jou vergewe (Jesaja 55:6-7, Lukas 15, 1 Johannes 1:9).  Wonder jy omdat ‘n kollega, DVD of boek jou deurmekaar gemaak het?  Lees jou Bybel biddend en baie.  Luister baie preke en skakel in by ‘n Bybelstudie.  Twyfel jy of die Here die blink toekoms vir jóú wil gee?  Glo jy Jesus is jou enigste hoop om in die hemel te kom?  As God tevrede is met sy Seun hoef jy nie bekommerd te wees nie.  Hy verwelkom almal wat op Jesus vertrou.  As Hy dit nié doen nie, draai Hy sy rug op sy eie Seun.  Dit sal Hy nooit doen nie, en daarom sal Hy jóú ook nie wegwys nie.  Jy kan seker wees van ‘n blink toekoms.  Hou op om depressief en angstig te wees soos Jac.  Wees eerder blymoedig soos Paulus en Fred.

 

Paulus se begeerte vir ’n blink toekoms (v.21-23)

John Flavel het gesê: ‘If Christ be not there, heaven would be hell to me.’

 

Vir Paulus was die lewe Christus (v.21a). Jesus het vir hom lewe gegee en deur geloof in Hóm kon Paulus reg lewe (Galasiërs 2:20, 2 Korintiërs 5:15).  Vir Paulus was die dood wins, omdat dit hom na Jesus toe sou vat (v.21b).  Het jy opgelet dat Paulus nie die dood begeer nie (‘n heidense idee), maar Jesus (v.21, 23)?  Het jy ook gesien dat Paulus nie hemel toe wil gaan om van sy swaarkry ontslae te raak nie, maar om by Jesus te wees (v.21, 23)?  Hy was in ‘n tweestryd gewikkel:  [1] Hy wou op aarde bly, sodat meer mense gered kon word en geestelik groei (v.22).  [2] Hy wou by Jesus in die hemel wees, want dit was die heel beste (v.23).

 

Hoeveel Christene begeer regtig soos Paulus om hemel toe te gaan en by Jesus te wees? Dalk dié wat siek of hartseer is.  Maar is hulle begeerte regtig om by Jesus te wees of net om van hulle lyding te ontsnap?  ‘n Studie of bepeinsing van Jesus se Persoon en die hemel sal jou help om hierdie begeerte te kry.  Oordink hoofstukke soos Hebreërs 1, Openbaring 21-22.  Dink daaraan dat Jesus se heerlikheid jou asem sal wegslaan; dat die krag van donderweer, die prag van Meiringspoort, die genot van Lindt sjokolade, die geselligheid van ’n kampvuur, die sekuriteit van liefdevolle gesin, die rustigheid van Desember aande net ‘n skadubeeld is van Jesus.  Het jy daaraan gedink dat dít die blink toekoms is wat die Bybel van praat?

 

Wat gebeur wanneer ‘n Christen doodgaan? Ek het ‘n DVD gekyk wat sê jou siel slaap saam met jou liggaam in die graf totdat Jesus kom.  Is dit wat die Bybel sê?  In v.23 gebruik Paulus die woord ‘heengaan’ vir dood.  Paulus was ‘n tentmaker en in die Grieks is die gedagte van v.23 letterlik:  ‘Ek wil graag my aardse tent opslaan [analuo] en na my hemelse huis toe trek.’  Die Griekse woord laat ons ook toe om die beeld te gebruik van ‘n skeepskaptein wat sy skip by die hawe losmaak en wegseil na die goue strand van die hemel toe.

 

So, as ‘n gelowige sterf slaap sy siel nie in die graf nie. Sy liggaam vergaan wel, maar sy siel gaan dadelik hemel toe.  Is dit nie wat Paulus bedoel as hy sê dat die sterwe ‘n wins is nie (v.21)?  Kan die dood ‘n wins wees as jou siel in die graf slaap?  Paulus sê duidelik dat hy by Jesus sal wees as hy sterf (v.23).  Daar is genoeg verse in die Bybel wat hierdie waarheid ondersteun:

 

  • “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” (2 Korintiërs 5:8). As jy doodgaan verlaat jou siel jou liggaam en gaan jy dadelik na die Here toe.
  • “En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring.” (Lukas 9:30-31). Moses en Elia het in heerlikheid verskyn. Het hulle uit die hemel neergedaal of uit die graf opgekom?
  • “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” (Lukas 16:22). Party sê: ‘Ja, toe Lasarus sterf is hy hemel toe. Maar Lukas 16 is ‘n gelykenis en jy kan dit nie gebruik om jou standpunt te ondersteun nie.’ Miskien is dit ‘n gelykenis, maar dit wys tog wat Jesus as vanselfsprekend aanvaar het: gelowiges se siele slaap nie in die graf nie, maar gaan dadelik hemel toe as hulle doodgaan.
  • “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees... En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:43, 46). Toe Jesus sy asem uitgeblaas het was Hy dadelik in die hemel. Hy het belowe dat die bekeerde moordenaar saam met Hom daar sou wees.
  • Net voor hy dood is het Stefanus vir Jesus in die hemel gesien. Sou dit ‘n vertroosting gewees het as sy siel binnekort in die graf sou slaap? Buitendien het hy met sy laaste asem gebid dat Jesus sy gees in die hemel sou ontvang (Handelinge 7:54-60). Die teks laat geen twyfel dat Stefanus dadelik hemel toe is toe hy sy asem uitgeblaas het nie.
  • Prediker 12:7 sê dat wanneer ‘n mens sterf “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” Die DVD wat ek gekyk het sê dat die ‘gees’ in hierdie vers eenvoudig na die mens se asem verwys, en dat die mens se siel tog in die graf slaap. Maar v.5 sê van so iemand se dood: “die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.” Met ander woorde, mense huil by die begrafnis want die mens is nie meer op aarde nie. Hy het na sy ewige huis toe gegaan. Wat is die gelowige se ewige huis: die graf of die hemel?
  • Openbaring 20:4 praat van gelowiges se siele in die hemel. Hebreërs 12:23 praat van hulle sondelose geeste wat in die hemel is. Jy kan dit nie wegredeneer nie. Jou siel slaap nie in die graf nie, maar gaan hemel toe.

 

Sarel Seemonster sê: ‘Roomys is my lewe!’  As roomys, geld, jou kinders, sport, die natuur, seks, vriende, jou hond, stokperdjies jou lewe is, dan sal die dood vir jou ‘n verlies wees.  Hoekom?  Want jy verloor dit as jy sterf en sal moontlik ook hel toe gaan.  Net as die lewe vir jou Christus is kan die dood vir jou ‘n wins wees.  Sê die manier waarop jy jou tyd en geld spandeer, die dinge waaroor jy dagdroom, jou toewyding aan die Woord dat die lewe vir jou Christus is?  Met die misdaad en korrupsie in ons land lyk dit of ons en ons kinders ‘n bleek toekoms het.  Ons hoop vir ‘n blink toekoms lê egter nie in Kanada of Nieu-Seeland nie, maar in ons hemelse huis by Jesus.  Daar moet ons begeerte wees.

 

Paulus se werk vir ’n blink toekoms (v.24-26)

‘n Brandarm man bly in ‘n klein hout huisie naby ‘n rotsagtige kus in Ierland. Een laatmiddag gaan vang hy vis om vir sy vrou en vier kinders kos te gee.  Terwyl hy op die rotse loop sien hy ‘n seegrot en ontdek hy ‘n ou geroeste skatkis vol van goud en edelstene.  Hy het haastig oor die rotse geklim, deur die vlakwater seewater geswem, en die paar kilometer in die donker huistoe gehardloop.  Hy kon nie wag om vir sy familie te sê nie.

 

Paulus het ‘n skat in die hemel ontdek. Maar hy was bereid om dit vir ‘n rukkie daar te los, omdat hy eers vir ander wou vertel sodat hulle daarin kon deel en saam kon bly wees.  Hulle sou bly wees dat God hulle gebed gehoor en vir Paulus uit die tronk bevry het (sien v.19).  Hulle sou bly wees dat die Here vir Paulus gestuur het sodat hulle nóg geestelik kon groei.  Hulle sou bly wees in Jesus (v.24-26).  Paulus was soos die arm man in Ierland.  Hy het nie net aan homself gedink nie, maar aan ander.  Hy was soos Jesus wat sy hemelse heerlikheid verlaat het en aarde toe gekom het, sodat ons daarin kan deel (2:3-8).

 

Ons moenie die skat van ‘n blink toekoms by Jesus vir onsself hou nie. Ons moet werk om vir ander vertel.  Ons moet oor die rotse hardloop.  Party moet ver hardloop Noord-Korea of Irak toe om vir ander te vertel.  Party moet by die werk en in hulle families vir ander vertel.  Party moet vir nuwe gelowiges die Bybel leer, sodat hulle kan bly wees oor hulle blink toekoms in Jesus.  Hoekom moet ons dit doen?  Sodat Afrikaners en mense uit alle nasies voor Jesus kan buig en Hom kan verheerlik (Openbaring 5:9). Jou vreugde lê in hulle s’n en in Sy eer.

 

Dié illustrasie het ek by Francis Chan gehoor. Gestel jy het ‘n tou wat ‘n begin het maar vir ewig aanhou.  Die beginpunt van die tou verf jy rooi.  Dit stel jou lewe op aarde voor.  Die res van die tou stel die ewige lewe of ewige dood voor.  Die meeste mense lewe vir die rooi punt en gee skaars ‘n gedagte aan die res van die tou.  Hulle werk en sweet om genoeg geld te spaar sodat, wanneer hulle aftree, hulle die laaste deel van die rooi punt in gemak kan deurbring.  Dink jy dis wys om vir die rooi punt te lewe:  ‘Your best life now’?  Of sal jy lewe vir die res van die tou wat vir ewig aanhou:  ‘n blink toekoms saam met Jesus in die hemel?

Kategorieë