Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 November 2017

‘n Boodskap vir vroue

Women discipling women 2

In 1979 het John MacArthur ‘n boodskap uit Tit. 2 gepreek.  Tit. 2 sê o.a. dat vroue hulle mans en kinders moet liefhê, tuisteskeppers moet wees, en aan hulle mans onderdanig moet wees.  Op 3 Feb. 1979 het die Los Angeles Times gesê dat Grace Community Church (MacArthur se kerk) ná die preek vyf of ses sekretaresses afgedank het.  Maar dit was ‘n leuen.  Die vroue het self bedank, omdat hulle besluit het om meer tyd aan hulle gesinne te gee.[1]

 

Ek hoop nie dat enigiemand hierdie boodskap uit Tit. 2:3-5 verkeerd sal verstaan nie.  Die doel is nie dat vroue onderdruk moet word nie, maar dat hulle die ereplek moet inneem waarvoor die Here hulle geskep het.

 

Ouer vroue (v.3-4a)

Sonder ouer vroue kan die gemeente en samelewing nie voortbestaan nie.  Hulle beïnvloed immers die jonger vroue, wat op hulle beurt weer húlle kinders beïnvloed.  Jonathan Edwards se vrou Sarah is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Die wyse waarop sy en haar man hulle 11 kinders grootgemaak het, het die geslagte ná hulle beïnvloed.[2]  In die jaar 1900, het ‘n sekere A.E. Winship ‘n studie van twee families gemaak.  Die eerste familie se honderde nasate was ‘n las vir die samelewing, terwyl Jonathan en Sarah Edwards se nageslag ‘n suksesvolle bydrae gelewer het.

 

Tussen 1728 (toe Sarah se eerste kind gebore is) en 1900, het Jonathan en Sarah meer as 1400 nasate gehad.  Onder hulle was daar:

 

  • 13 Kollege hoofde
  • 65 Professors
  • 100 Prokureurs en ‘n dekaan van ‘n regskool
  • 30 Magistrate
  • 66 Dokters en ‘n dekaan van ‘n mediese skool
  • 80 Mense in publieke ampte, insluitend:

[a] 3 Amerikaanse senators

[b] 3 Burgemeesters van groot stede

[c] 3 Amerikaanse goewerneurs

[d] ‘n Amerikaanse Visie-President

[e] Iemand in beheer van die V.S. Tesourie

 

Baie van Edwards se nasate het eienaars en direkteure van groot Amerikaanse maatskappye geword.  Groot getalle het ook predikante geword.  Teen 1900 het Edwards se nasate 135 boeke geskryf, op sendingkomitees gedien, en 100 sendelinge oorsee gestuur.

 

In die lig van die bg. inligting skryf Elizabeth Dodds:  ‘Has any other mother contributed more vitally to the leadership of a nation?’[3]  Mnr. Winship stem saam, en reken dat die sukses en karakter van Edwards se nageslag grootliks te danke is aan Sarah Edwards.[4]  Ons weet natuurlik dat hulle sukses van die Here af kom, maar dit is ook so dat Hy vroue gebruik om die volgende geslag te beïnvloed.  Dit is waaroor Tit. 2:3-5 gaan.  Vir nou wil ek veral op v.3 fokus.

 

Soos die ouer mans in v.2, moet die ouer vroue karakter hê (v.3).  Haar eerbare en waardige optrede moet wees soos dit by ‘n Christen vrou pas (v.3).  Sy moenie kwaadpraat van ander nie (v.3).  Wanneer sy by ‘n vriendin tee drink, moet sy nie oor haar skoondogter, buurvrou, man, ds., of die meenthuis kompleks se opsigter skinder nie.  Sy moenie sê:  ‘Hoor hier, ons moet vir Hettie bid,’ en dan oor haar skinder nie.

 

Wanneer sy op die foon praat moet sy nie soos die Huisgenoot wees en almal se besigheid ken nie.  Sy moet haar eerder by haar eie sake hou, en goeie dinge van ander mense sê.  As sy dit nie doen nie is sy soos die duiwel (v.3, Gk. diabolos].

 

Sy moenie aan baie wyn verslaaf wees nie - of aan hoesstroop, pynpille, slaappille, anti-depressante, koeksisters, melktert, 7de Laan, ens. nie (v.3).  Sy moet haarself daaraan wy om goeie lering te gee (v.3).  Sy mag nie die gemeente leer nie (1Tim. 2:12), maar sy kan die jonger vroue leer (v.3-4).  Sy het meer lewenservaring as hulle, en stap al ‘n langer pad met die Here.  As sy sien dat hulle verkeerd lewe, kan sy hulle vir koffie nooi en hulle op ‘n mooi manier reghelp.  Haar leefwyse as ‘n Christen moet ook vir hulle ‘n leerskool wees.

 

Die Griekse woord vir leer [v.4, sõphronizõ] beteken ook ‘oplei, dissipeleer, dissiplineer, korrigeer, vermaan’.  Dit is soos in die film War Room waar ‘n ouer vrou ‘n jonger een help om haar verhouding met die Here, lewe, huwelik, gesin en prioriteite in orde te kry.  Wil jy nie dieselfde doen nie?

 

Nooi ‘n jonger vrou na jou huis toe om ‘n goeie boek saam met jou deur te werk.  Dalk kan jy met Womanly Dominion van Mark Chanski begin.  Iemand het vir my gesê dat dit die beste boek op die onderwerp is.  A Woman After God’s Own Heart van Elizabeth George, Lies Women Believe van Nancy Leigh DeMoss, en Disciplines of A Godly Woman van Barbara Hughes is ook goeie opsies.

 

Bid saam met ‘n jonger vrou.  Bid in jou stiltetyd vir haar.  Nooi haar vir koffie.  Stuur vir haar ‘n Bybelvers.  Wie gaan haar dissipeleer as jý dit nie doen nie?  ‘n Man kan dit nie doen nie; hy verstaan nie ‘n vrou se probleme nie.  Dit is ook gevaarlik, omdat hy maklik verlief kan raak op die jong meisie wat elke week haar hart met hom deel.  As dit ooit gebeur dat jy vir ‘n vrou móét raad gee, is dit belangrik dat jou vrou by jou is, of dat die vertrek se deur oop is en jou vrou by die huis is.

 

Eintlik is dit beter dat jou vrou of ‘n ander vrou met die jong vrou gesels.  Omdat jy self ook ‘n jong vrou was, weet jy hoe hulle dink, en verstaan jy hulle unieke probleme, uitdagings, versoekings en sondes.  Kies vir jou ‘n jong vrou, en doen moeite om haar te dissipeleer.  As jy dit doen sal sy later die vrymoedigheid hê om raad te vra, en sal sy heel moontlik in die toekoms iemand anders dissipeleer, soos jy dit met haar gedoen het.

 

Jonger vroue (v.4b-5)

Ek het ‘n Amerikaanse sendeling-vriend wat in Limpopo werk.  ‘n Paar jaar gelede het hy vir my gesê:  ‘Die ding wat ek die meeste op die sendingveld mis, is die invloed van iemand met grys hare.’  Kort daarna het hy ‘n ou Bybelvertaler ontmoet, en het hulle goeie vriende geraak.  My vriend praat gedurig van die positiewe invloed wat die ou man op hom het.

 

Die jonger vroue moet soos my vriend wees:  nie eiewys wees nie, maar gretig om by die ouer vroue te leer (v.3-5).  Wat moet die ouer vroue vir hulle leer?  Paulus noem ses dinge.

 

[1] Hulle moet hulle mans en kinders liefhê (v.4).  Dié wat nog gaan trou en kinders hê moet ook leer wat die Here van hulle verwag.  Ek sal in v.5 wys hoe ‘n vrou haar man moet liefhê en respekteer.  Vir eers wil op haar ouerlike plig fokus:  hoe moet sy haar kinders liefhê?

 

Sy moet hulle nie afskeep nie.  Sy moenie die TV, X-Box of i-Pad aansit om hulle groot te maak, omdat sy haar eie ding wil doen nie.  Daar is ‘n tyd en plek vir ontspanning, maar sy moet hulle nie los om hulle eie kos te maak, omdat sy vir ure op ‘n dag boek lees, TV kyk, in die mall is, op die bed lê, met ‘n vriendin kuier, studeer, op haar slimfoon of Facebook sit, of by die werk is nie.  Dit is sleg as haar kind vir ‘n halwe dag met ‘n vuil doek moet rondloop, omdat sy te lui is om dit te ruil.

 

Sy kan eerder tyd maak om vir haar kinders boekies te lees, met hulle te speel, of om hulle op die swaai te stoot.  Sy moet hulle dissiplineer, vir hulle bid en Bybelstories vir hulle lees.  As haar kinders ouer is kan sy by hulle op die bed lê en gesels, hulle vir ‘n melkskommel vat, hulle met hulle skoolwerk help, hulle saam met haar winkel toe vat, frisbee saam met hulle gooi, met hulle praat oor die Here en hulle verhouding met Hom, saam met hulle bid en die Bybel lees, haar dogter leer om koek te bak of ‘n spyskaart uit te werk, met hulle oor seks praat (as sy dit nie doen nie, sal haar dogter se vriendinne dit doen!), vir haar seun sê sy is trots op hom as hy die braai skoongemaak het, ens.

 

[2] Hulle moet ingetoë wees (v.5).  Dit beteken o.a. dat ‘n jong vrou selfbeheersing moet hê.  Sy moet haar tong, emosies en aptyte beheer.  Sy moenie nors en humeurig wees, net omdat dit ‘n sekere tyd van die maand is nie.  Sy moet ook die paradokse van die Christelike lewe leer.  ‘n Paradoks is iets wat soos ‘n kontras lyk, maar nie eintlik een is nie.  ‘n Belangrike paradoks is bv. dat die Christelike lewe radikaal is, maar nie uitspattig nie.  Jy moet jouself verloën en jou kruis opneem as jy vir Jesus wil volg (Luk. 9:23), maar jy moet ook ingetoë of matig wees (v.2, 5, 6, 12, 1:8).  Kom ons neem kos as ‘n praktiese voorbeeld.  ‘n Jong vrou kan dit geniet om lekker kos te maak, maar dit moenie haar afgod wees nie (Fil. 3:19).  Aan die ander kant moet sy nie haar liggaam aanbid, sodat sy van een dieet na die volgende toe te spring, en ‘n obsessie het met oefening nie.  Sy moet matig wees (v.5).

 

[3] Hulle moet kuislik of rein wees (v.5).  Daar is sekere storieboeke, tydskrifte, DVD’s en internet blaaie wat nie in ‘n jong vrou se lewe hoort nie.  Sy moet getrou wees aan haar eie man, en nie ander mans se geselskap uitsoek nie.  Sy moet ook nie so aantrek dat sy ander mans verlei nie.  As sy enkel is kan sy bid dat die Here vir haar ‘n man stuur, maar sy moet nog steeds rein bly.

 

[4] Hulle moet huislik wees (v.5).  ‘n Jong vrou se huis moet vir haar ‘n prioriteit moet wees.  Dit is nie sonde as sy ‘n buitewerk het nie, maar dit moenie haar prioriteit wees nie.  Haar werk moet haar nie so besig hou, dat sy nie tyd het vir haar gesin nie.  Dit moenie soveel tyd in beslag neem, dat sy nie by haar huislike pligte uitkom nie.  Ek weet dat die man ook in die huis moet help, maar vroue het ‘n gawe wat mans nie het nie.  Hulle weet net hoe om ‘n huis te versier en seker te maak dat dinge glad verloop.  Die ouer vroue moet die jonger vroue help om nie hierdie gawe te minag of te verwaarloos nie.

 

Indien ‘n jong vrou nie haar sekulêre werk en haar God-gegewe huislike pligte kan nakom nie, moet sy haar gesin kies en ‘n huisvrou wees.  Dalk sê jy:  ‘Maar ons het die tweede werk nodig.’  Bid dan dat die Here vir jou ‘n halfdag werk sal gee, sodat jy meer by jou kinders kan wees.  Dit sal ook goed wees as jy weer deur jou begroting werk.  Het julle miskien die tweede werk nodig, omdat jy nie jou BMW op ‘n kleiner karretjie wil inruil nie, of omdat jy nie bereid is om DSTV op te gee en op ander maniere af te skaal nie?

 

Dalk is dit glad nie die geval nie, en sukkel julle regtig.  Kyk mooi na jou begroting.  Dalk gee jy onnodig geld uit omdat jy werk:  ‘n tweede kar, ekstra brandstof, die kleuterskool of naskool, ‘n bediende om te was en te kook omdat jy nie tyd het nie, ekstra wiskunde klasse omdat jy by die werk is en nie tyd het om jou kind te help nie, ens.

 

Dalk is dit nie die rede hoekom julle sukkel nie, en is dinge regtig net moeilik.  Jou kinders benodig jou liefde en tyd meer as jou geld.  “Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.” (Spr. 15:17).  Dalk sukkel jy omdat jy ‘n enkel ma is.  In daardie geval moet jy seker maak dat die kind se pa onderhoud betaal.  Probeer om die saak mooi met hom uit te praat.  Indien dit nie help nie, moet jy met sy ouderlinge praat.  As hy ongered is, kan jy ‘n Christen prokureur vir raad vra.  As jy op Bybelse gronde geskei is, moet jy vir ‘n man bid, trou, jou kinders opvoed en jou huislike pligte nakom (1Tim. 5:14).

 

As jy regtig nie ‘n man kry nie, kan jy jou familie nader en vra of jy by hulle kan bly.  Soek ‘n halfdag werk om by te dra vir kos, water en ligte.  Dalk kan jy jou kind tuisskool (dit is goedkoper as ‘n publieke skool).  Dalk kan jy van die huis af werk om geld te maak (bv. beskuit bak of klere maak).  Is daar ‘n ouer vrou in die kerk wat vir jou ‘n vaardigheid kan leer?  Kan sy jou miskien met jou begroting help?  As jy alles probeer het en daar geen ander uitweg is nie, kan jy met die ouderlinge praat.  Dalk het jy iets misgekyk.  Of dalk is jy regtig net arm, en moet die kerk aan maniere dink om jou te help.

 

Wat as jy graag by die huis wil werk, maar jou man verbied jou?  Bid vir jou man.  Wys uit Tit. 2:5 en 1Tim. 5:14 vir hom hoekom jy graag by die huis wil werk.  Sê vir hom dat jy van die huis af dinge sal doen om ekstra geld te maak.  Indien hy ná dit nog daarop aandring dat jy moet werk, moet jy jou op ‘n sagmoedige wyse aan hom onderwerp en bid dat die Here hom sal verander.

 

[5] Hulle moet goed doen en vriendelik wees (v.5).  Jong vroue moenie humeurig en geïrriteerd wees met hulle mans en kinders nie.  Goeie werke moet vir hulle belangrik wees (1Tim. 2:10, 5:10).  Hulle huise moet oop wees, en as hulle mense ontvang moet hulle vriendelik wees (1Pet. 4:9).

 

[6] Hulle moet aan hulle eie mans onderdanig wees, sodat die Woord van God nie belaster word nie (v.5, Ef. 5:22-23, Kol. 3:18, 1Pet. 3:1-6).  In ons samelewing het onderdanigheid ‘n vloekwoord geword.  Maar in die konteks van die Bybel het onderdanigheid niks te doen met ‘n man wat sy vrou boelie, beheer, onderdruk of met ‘n ystervuis regeer nie.  Dit beteken nie dat sy geen besluite mag neem, of dat sy soos ‘n slaaf voor haar man se voete moet val nie.

 

Dit beteken eerder dat sy haar man moet respekteer (Ef. 5:33).  Sy het die mag om haar man op te bou of af te breek, om hom te laat kwyn of te laat floreer (Spr. 31:12).  Wanneer sy by ander mense is, moet sy haar man se goeie punte uitlig, en hom nie afbreek nie.  Sy moet hom nie verkleineer, met hom baklei, hom ‘nag’, opdragte gee, sy vuil wasgoed ophang, oor hom kla, hom soos ‘n kind hanteer, of disrespekvol met hom praat nie.  Sy moet eerder voorstelle maak, en hom eenkant op ‘n sagmoedige wyse korrigeer.

 

Om hom te respekteer moet sy ook op haar voorkoms let.  Sy moenie 11 uur in die oggend nog in haar nagklere wees, en die hele dag nie haar tande borsel nie.  Sy hoef nie soos ‘n model te lyk nie, maar sy moet netjies wees vir haar man (Spr. 31:22).

 

Om respek te wys moet sy hom bemoedig, vir hom bid, en dankie sê dat hy hard werk om vir hulle te sorg.  Sy moenie lui wees om etes voor te berei nie.  Sy moet haar man vir raad vra.  As hy ‘n seksuele behoefte het, moet sy nie verskonings gebruik soos:  ‘Wag tot môre... ek het hoofpyn... ek is moeg, ens.’ nie.

 

Wat moet ‘n vrou doen as haar man nie die gesin goed lei nie; moet sy haar man se rol oorneem?  As ‘n losskakel nie sy posisie goed speel nie, beteken dit nie die slot moet sý posisie los en die losskakel s’n oorneem nie.  Die afrigter sal met die losskakel afreken; die slot moet sy posisie speel.  Vervul jou rol en moenie jou ongehoorsame man s’n wil oorneem nie; die Here sal met hom afreken.

 

Hoekom moet ‘n vrou haar man respekteer?  “...sodat die Woord van God nie belaster word nie.” (v.5, 8, 10, Rom. 2:24, 1Tim. 6:1).  ‘n Illustrasie sal v.5 verduidelik.  Toe ons onlangs in Jeffreysbaai was, het ‘n Christen jong man gesê dat sy ateïs-vriend met ‘n Christen wil trou, omdat Christen meisies nie soos ongelowiges is nie.  A.g.v. die Christen-vroue se seksuele reinheid, en toewyding aan hulle mans en kinders, het ‘n sekere heiden (Libanius) in die vierde eeu gesê:  ‘What women these Christians have!’[5]

 

As ‘n Christen vrou haar man respekteer, sal die wêreld sien dat God se Woord waar is, en dat Jesus inderdaad mense se lewens verander (v.11, vgl. 1:12).  Dit sal hulle verstom dat hierdie vrou nie met haar man baklei nie, maar dat sy sagmoedig, eerbiedig en onderdanig is (Matt. 5:16, 1Pet. 2:12, 3:15).  As sy egter disrespekvol is, sal ongelowiges die Bybel uitlag en sê dat hulle nie Christene wil wees nie.  As ongelowiges hoor hoe sy haar man slegsê, verloor sy kredietwaardigheid en kan sy nie met hulle oor die Here praat nie.  Haar lewe weerspreek haar getuienis.

 

Dalk hoor jy hierdie dinge en sê jy:  ‘Niemand kan dit regkry nie; jy leef in ‘n onrealistiese wêreld.’  Natuurlik kan jy dit nie self regkry nie, maar met die Here is alle dinge moontlik.  Deur die genade van God in Jesus se kruisdood, kan ons ‘nee’ sê vir sonde en ‘ja’ vir goeie werke (v.11-14).

 

As jy dit nie regkry om uit liefde vir God aan jou man onderdanig te wees nie, moet jy wonder of jy gered is.  Die rede hoekom jy teen jou man se gesag rebelleer, is omdat jy jou nie aan die Woord van God (bv. Tit. 2:5) wil onderwerp nie.  Jy is op ‘n gevaarlike pad, want volgens 1Sam. 15:23 is rebelsheid vir die Here so ernstig soos heksery.  Bekeer jou en glo dat Jesus jou deur sy kruisdood kan vergewe.  Verneder jou voor die Here.  Los jou rebelsheid en vra Hom om jou te verander, sodat jy uit liefde vir Hom aan jou man onderdanig kan wees.

 

Uiteindelik gaan dit nie eers oor jou man, kinders of enigiemand anders nie, maar oor die Here (1Pet. 3:4).  Dit is hoe dit vir Sarah Edwards was.  ‘Oh how good...is it to work for God in the daytime, and at night to lie down under his smiles!’ het sy gesê.  Vir haar was haar huislike take deel van haar diens aan God, en so wonderlik soos gebed.[6]  Mag dit so wees vir elke vrou wat bely dat sy die Here ken.

 

[1] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 2011, pp. 46-47

[2] John Piper & Justin Taylor (Red.), A God Entranced Vision of All Things: The Legacy of Jonathan Edwards, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2004, pp. 62-63

[3] Aangehaal in Ibid., p. 63

[4] Aangehaal in Ibid., p. 62

[5] Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004, p. 85

[6] Piper & Taylor, p. 71

Kategorieë