Coram Deo Cover Image

Coming soon...

27 November 2013

Mense, ape en die beeld van God

aap1

26 En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Genesis 1).

 

Iemand het my hond vergiftig.  My dogter se reaksie was:  ‘Sies, daardie mense wat vir Tom gif gegee het is lelik, want Tom is geskep na God se beeld’.  My vrou moes haar reghelp en verduidelik dat net mense na God se beeld gemaak is.  Volgens evolusie het mense en sjimpansees dieselfde ‘voorvader’:  'n aap-agtige wese.  Hierdie teorie is nog nooit bewys nie.  Daar was al baie bedrog, maar hulle kon nog nooit die ‘missing link’ vind nie.  Haeckel se vooropgestelde idees het gemaak dat hy opsetlik die embrios van mense, hoenders, honde, hase, visse en ander diere dieselfde geteken het.  Hy wou ‘bewys’ dat die mens eintlik net nog 'n soort dier is.  Die wêreld sê ons is nader aan sjimpansees as aan God.  Evolusie sê die mens is soos 'n laer wese, terwyl Genesis 1:26-27 sê ons is soos 'n hoër Wese.

 

Christene wat glo mense is die produk van evolusie, ontken die Bybel.  Genesis 1-2 sê vir ons dat Adam en Eva die eerste mense was.  Ons weet Adam was 'n historiese figuur, want Genesis 5:1 gee vir ons sy geslagsregister.  Volgens 1 Kronieke 1:1 begin die geslagsregister van die mensdom by hom.  Jesus se geslagsregister gaan terug tot by Adam (Lukas 3:23-38).  Jesus self haal Genesis 1:27 aan as geskiedenis (Matteus 19:4).  Paulus veronderstel dat Adam 'n geskiedkundige persoon was (Romeine 5:12-21, 1 Korintiërs 15:22, 45-49).  Paulus tref 'n vergelyking tussen Adam en Christus (die tweede Adam).  Indien Adam nie werklik bestaan het nie, dan val Paulus se argument plat.  In 2 Korintiërs 11:3 en 1 Timoteus 2:13-14 lees ons van Eva se deel in die sondeval.  Judas 14 verwys na Henog as die sewende persoon in Adam se geslagsregister.  Die Bybel laat nie plek toe vir enigiemand wat glo daar was ‘aapmense’ voor Adam nie.

 

God het alles (ook ape) gemaak volgens sy soort (v.11, 21, 24-25).  Net die mens is nie volgens soorte gemaak nie, maar is geskape na God se beeld.  Indien die mens van ape af kom, is hy een van die aapsoort en bestaan hy nie na God se beeld nie.  Moenie uit die laasgenoemde stelling aflei dat God se beeld te doen het met hoe die mens lyk nie.  Dit het niks daarmee te doen nie, want God is 'n Gees (Johannes 4:24).  Wat is die beeld van God dan?  En hoe verskil ons van ape en ander diere?

 

Harmonie (v.26a)

Ek het Genesis 1:26 aangehaal vir 'n persoon wat die Drie-Eenheid ontken:  “En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.  Sy reaksie was:  ‘Ek sê ook soms vir myself:  Kom, laat ons 'n bietjie buite gaan werk.’  Teoloë praat van 'n ‘meervoud van majesteit’ en sê dat baie antieke konings na hulleself verwys het in die meervoud.  Alhoewel dit so is, is daar geen rekord van hierdie tipe ding in die Ou Testament of ander Hebreeuse geskrifte nie.  Wanneer God die meervoud gebruik, praat Hy ook nie met engele nie (soos wat party Rabbi’s geleer het).  Ons is mos nie deur engele geskep of na húlle beeld gemaak nie.  God vra ook nie vir engele raad wanneer Hy wil skep nie:  “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” (Jesaja 40:13-14).

 

Die bedoeling in v.26 is eerder dat daar meer as een Persoon in die Godheid is.  In 3:22 lees ons:  “Toe sê die HERE God:  Nou het die mens geword soos een van Ons”.  En in 11:7:  “Kom, laat Ons neerdaal”.  Jesaja 6:8 sê:  “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê:  Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?”  Matteus 28:19 praat van een Naam, maar drie Persone:  “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.  Jesus het gesê:  “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Johannes 14:23).

 

Wat het dit te doen met die mens wat na God se beeld gemaak is?  Kom ek verduidelik.  Die Vader, Seun en Heilige Gees is verskillende Persone.  Alhoewel elkeen van hulle volkome God is, is daar nie drie Gode nie maar een (cf. Johannes 10:30, 14:10).  Net so is Adam en Eva verskillende persone, maar tog word hulle een in die huwelik en bring hulle kinders voort na húlle beeld:

 

“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (v.27).

 

“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (2:24).

 

“Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God.  Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.  Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.” (5:1-3).

 

“Want soos die vrou uit die man is [Eva is uit Adam gemaak], so is ook die man deur middel van die vrou [mans word gebore uit vroue]; maar alles is uit God.” (1 Korintiërs 11:12).

 

In die kerk is daar verskillende individue wat een is.  Net soos in die huwelik, is die eenheid van verskillende mense in die kerk 'n weerspieëling van die Drie-Enige God.  Paulus sê:  “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efesiërs 4:4-6).  Daar is een Gees, een Here, een Vader, maar net een God.  So bestaan die kerk uit verskillende individue, maar daar is net een liggaam.  Jesus het gebid “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21).  Jesus se eenheid met die Vader beteken nie Jesus is die Vader nie (net soos ons eenheid met die Vader en die Seun nie beteken ons is God nie).

 

Wanneer jy met jou huweliksmaat of ander gelowiges wil baklei moet jy onthou dat jy na sy beeld gemaak is.  Dit geld ook vir gelowiges wat oorweeg om te skei.  Omdat God Een is en jy na sy beeld gemaak is, doen jy skade aan sy Naam wanneer jy in onenigheid leef.  Verder:  omdat jy een is in die huwelik en die gemeente, benadeel jy jouself wanneer jy in onenigheid leef of probeer om die eenheid te breek.  Die Bybel sê:  “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” (Efesiërs 4:25).  “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.  Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” (Efesiërs 5:28-29).

 

Leer ook uit v.26 dat die Vader, Seun en Heilige Gees met mekaar kommunikeer.  Jesus praat van dinge wat Hy by die Vader gehoor het, asook van dinge wat die Heilige Gees by Hom gehoor het (Johannes 15:15, 16:13).  Omdat ons na sy beeld gemaak is moet ons ook in liefde met mekaar kommunikeer.  As 'n gesin reeds min tyd maak om te kommunikeer, is dit ongesond om voor die TV te eet.  So 'n gesin moet eerder om 'n tafel sit en eet.  Gesinslede moenie in stilte leef nie, maar moet leer om met mekaar te gesels.  Leer om vir mekaar te luister (Jakobus 1:19).  Deel jou hart, gedagtes, emosies, lewe.  Moenie mekaar afbreek nie, maar praat net dinge wat opbou (Efesiërs 4:29).

 

Heerskappy (v.26b)

My hond wat vergiftig is het dit oorleef.  Maar toe kry hy kennel cough (honde brongitis).  Die afgelope twee weke moes ek pille in sy keel afdruk (yuk!).  My hond het nog nooit vir mý medisyne gegee toe ek siek was nie.  Dit wys vir ons dat mense nie maar net nog 'n soort dier is wat ver ontwikkel het nie.  Mense is bo diere.  God het gesê dat die mens oor hulle moet heers:

 

“laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (v.26).

 

“Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel:  alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.” (9:2).

 

“U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:  skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.” (Psalm 8:7-9).

 

“Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur.” (Jakobus 3:7).

 

“Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê:  Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek?  U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.  Alle dinge het U onder sy voete gestel.  Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie.  Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:5-8).  Jesus self het mens geword, en in Hom sal alle dinge volkome aan die mens onderwerp word.

 

Die mens is die kroon van God se skeppingswerk.  As sy beeld kan die mens ook werk en dinge skep (natuurlik nie uit niks soos God nie).  Ja, bye, miere en wewers kan ook dinge skep, maar hulle kan net een soort ding doen en vorder ook nie in hulle ontwerpe nie.

 

As ons dan oor die skepping heers moet ons daarvoor sorg, dit bewaar, nie mors of vandaliste wees wat dit vernietig nie.  Ons moet ook nie net sommer wilde diere uit hulle natuurlike omgewing neem, sodat hulle sukkel om aan te pas wanneer hulle terugkeer nie.  Aan die ander kant moet ons nie 'n afgod maak van die natuur nie.  As mense aangestel is om oor die natuur te heers dan meng ons nie in as ons sekere normale take vervul nie.  Diere moet beskerm word, maar daar bestaan nie iets soos diere regte nie.  Green Peace mense maak 'n afgod van die natuur.  Die mens heers oor die skepping, en daarom is dit reg as ons bosse uitkap om plek te maak vir plantasies en landerye.  Dis ook goed en reg om diere in te span om vir ons te werk (soos osse en perde).  Dis nie moreel verkeerd om aartappels of skape te kloon nie.  Iemand sal beswaar aanteken:  ‘Dan is dit ook nie verkeerd om mense te kloon nie’.  Dit is.  God het die mens aangestel om oor die diere te heers en nie oor ander mense nie (v.26, 28).  Jy kan 'n bees skiet of aborteer, maar om dit met 'n mens te doen is moord:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (9:6).  Jy kan vir 'n hond sê om te ‘voetsek’, maar om 'n mens sleg te sê is sonde:  “Daarmee [die tong] loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.” (Jakobus 3:9).  Jy kan 'n donkie inspan om 'n karretjie te trek, maar as jy 'n mens ontvoer om jou slaaf te wees beskadig jy iemand wat na God se beeld gemaak is.

 

Omdat alle mense na God se beeld gemaak is, is rassisme 'n gruwel.  Die Bybel sê dat daar verskillende nasies, tale, volke en stamme is (Openbaring 5:9).  Maar God het nie die mens na sy soort gemaak nie.  Daar bestaan dus nie so iets soos verskillende rasse nie (jy kry Afrikaners met baie donker velle en Indiërs met ligte velle).  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras:  “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.” (11:1).  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Die enigste verskil wat God in die mensdom ingebou het, is die verskil tussen mans en vroue (v.27).  Daarom mag mense van dieselfde geslag nie met mekaar trou nie, terwyl mense van verskillende ‘rasse’ met mekaar mág trou.  God verbied dat 'n gelowige en 'n ongelowige met mekaar trou (Deuteronomium 7:3-4, 1 Korintiërs 7:39, 2 Korintiërs 6:14).  Evolusioniste wat hulle teorie konsekwent deurvoer moet ook rassiste wees.  Volgens die evolusie teorie het party rasse verder gevorder as ander.  Evolusie glo die sterkste spesie oorleef (survival of the fittest).  Ten minste was Hitler konsekwent in sy evolusionistiese denke, toe hy die ‘swakker’ ras wou uitmoor om 'n superras te ontwikkel.  Anders as die evolusie-teorie, leer die Bybel dat nie mens nie net nóg 'n dier is nie, maar dat hy bo die res van die skepping is, dat hy deur God aangestel is om dit te versorg.

 

Herstel (v.27)

‘Ons is die beeld van God, nie soos 'n potloodskets van 'n man wat die man uitbeeld nie, maar meer soos 'n kind wat baie na sy pa lyk’ (vry vertaal uit Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, p.110).  Verbeel jou iemand staan langs 'n meer waar hy sy eie weerkaatsing in die water sien.  As die persoon 'n klip in die water gooi, versteur die rippels sy beeld en maak dit onduidelik.  Dis hoe God se beeld in ons is.  Voor die sondeval was dit perfek (die water was stil).  Na die sondeval, egter, is God se beeld in ons versteur (Satan en sonde het 'n klip in die water gegooi).  Ja, ongelowiges weerspieël steeds God se beeld (cf. Genesis 9:6, Jakobus 3:9), maar dis 'n verdraaide beeld.  Sonde het 'n lelike effek op eenheid in die huwelik, kommunikasie, verhoudings (ook ons verhouding met God), heerskappy oor die skepping, moraliteit, ons geestelike natuur en logiese denke oor God en die wêreld.

 

Jesus het gekom om die beeld van God in ons te herstel (om die water stil te maak).  God het ons gered om ons na sy beeld te herstel.  Deur 'n proses van heiligmaking vorm Hy ons na sy beeld.  Wanneer Jesus terugkom sal hierdie werk voltooi wees en sal ons Hom weer volmaak weerspieël:  “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29).  “julle [moet] jul met die nuwe mens beklee...wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kolossense 3:5).  “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” (1 Johannes 3:2).[1]

 

Leef in gemeenskap met Jesus.  Bekeer jou gedurig van jou sonde en gehoorsaam Hom.  Sodoende sal jy meer en meer verander word na sy beeld.  Die Skrif sê:  “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18).  Paulus sê “dat julle...die oue mens moet aflê...en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God [se beeld] geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Efesiërs 4:22-24).

 


[1] Ons is na God se beeld gemaak en soos Hy, maar dit beteken nie ons is gode nie (soos wat Satan in 3:5 gesê het, en soos wat Benny Hinn en ander Prosperity predikers glo).

Kategorieë