Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 November 2017

Manlikheid, vroulikheid en die gay agenda

Gay agenda

Die gay agenda verwys na die gay en lesbian gemeenskap se poging om seks tussen mense van dieselfde geslag te normaliseer.  In lande soos Kanada, Amerika en selfs Suid-Afrika, het hulle God se definisie van die huisgesin en die huwelik op sy kop gekeer.  D.m.v. TV-programme, films, die internet, sosiale media, Whatsapp, tydskrifte ens., het die gay gemeenskap ons met hulle ‘reënboog’ agenda gebreinspoel.  Soos jy seker weet het hulle ook ‘n voet in die kerk se deur gekry, sodat daar vandag hele denominasies is wat manlikheid en vroulikheid misverstaan.  My gebed is dat die Here Gen. 1:26-27 sal gebruik om die kraaines uit te sorteer.

 

Wat is die huwelik?

Die homoseksuele gemeenskap se verkeerde verstaan van manlikheid en vroulikheid, lei outomaties tot ‘n verkeerde verstaan van die huwelik.  Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kom ons definieer die huwelik voor ons na ‘n Bybelse definisie van manlikheid en vroulikheid kyk.

 

Die wêreld het nog altyd probeer om die huwelik te herdefinieer.  Jare gelede het iemand vir my gesê dat ‘n man en vrou wat saam slaap, getroud is in God se oë.  Vir hom was dit nie ‘n probleem dat twee ongetroudes in ‘n seksuele verhouding saambly nie.  Indirek het hy gesê dat daar nie so iets soos seks voor die huwelik is nie, omdat seks die huwelik is.  Toe ek hom oor Joh. 4:18 vra, het hy nie ‘n antwoord gehad het nie:  “want vyf mans het jy gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

 

Duidelik is gay mense nie die enigstes wat die huwelik herdefinieer nie.  Maar van die mense wat seksueel immoreel is, is geen groep so aktief en aggressief teen die Bybel gekant soos die gay en lesbian gemeenskap nie.  Waar het jy al gesien dat mense wat egbreuk pleeg, optogte hou en in die hof baklei om hulle sonde te normaliseer?

 

Verskeie lande het aan die intimidasie van die gay agenda toegegee.  Maar as Christene moet ons nie onder die gewig van die kultuur se druk knak nie.  Geen groep of individu het die reg om die huwelik volgens hulle persoonlike voorkeure te definieer nie.  Van die begin af was die huwelik Gód se idee, en daarom het net Hý die reg om dit te definieer.  Kom ons bekyk sy definisie van nader.

 

God het die mens as man en vrou gemaak en hulle vir mekaar gegee (Gen. 1:27, 2:18-25).  Hy het nie twee mense van dieselfde geslag vir mekaar gegee nie, en daarom is homoseksualiteit onnatuurlik en sonde.  Die Ou- en die Nuwe Testament bevestig dit (Gen. 19, Lev. 18:22, 20:13, Rigt. 19, Rom. 1:26-27, 1Kor. 6:9-10, 1Tim. 1:10, Jud. 7).[1]  Volgens God se definisie dan is ‘n sg. ‘huwelik’ tussen twee mense van dieselfde geslag geen huwelik nie.

 

God se definisie beteken ook dat jy nie meer as een lewensmaat mag hê nie, al is dit ook deel van jou godsdiens of kultuur.  Poligamie is uit.  Wat egskeiding betref het God twee uitsonderings gegee, maar dit was nie deel van die oorspronklike plan nie (Matt. 19:8-9, 1Kor. 7:15).  Selfs as Adam moeg geraak het vir Eva, was daar nie iemand anders om mee te trou nie, en daarom moes hy met haar getroud bly.

 

Omdat Gen. 1:27, 2:18-25 die huwelik beskryf, is dit ook sonde vir mense wat ongetroud is om saam te slaap (Heb. 13:4).  In God se oë is seks ‘n uitdrukking van die eenheid tussen mense wat met mekaar getroud is, maar dit is nie gelyk aan daardie eenheid nie.  Die huwelik gaan oor baie meer as seksuele eenheid.

 

As ons ‘n Bybelse definisie vir die huwelik moet gee, kan ons dit soos volg opsom:  ‘Die huwelik is ‘n lewenslange verbond tussen een man en een vrou, ‘n verbond waarin hulle belowe om unieke en intieme vriende te bly totdat die dood hulle van mekaar skei.’

 

Twee spesifieke tekste wys vir ons dat die bg. definisie akkuraat is.  Spr. 2:17 beskryf die getroude vrou se huwelik as ‘n verhouding met “die vriend van haar jeug” en “die verbond van haar God”.  Mal. 2:14 praat van die getroude man se huwelik met “die vrou van [sy] jeug” en “die vrou van [sy] verbond.”  In Matt. 19:4-5 het Jesus een man en een vrou by sy definisie van die huwelik ingesluit.  Jesus het Gen. 2:24 aangehaal om te wys dat hierdie man en vrou een word wanneer hulle met mekaar trou.  Omdat God hulle op hierdie manier een gemaak het, mag hulle dit nie self beëindig nie; net Hý mag (Mal. 2:14-16, Matt. 19:6).

 

Dit help nie dat jy God se definisie van die huwelik verstaan as dit nie ook deel van jou lewe is nie.  Hoe moet jy dit prakties toepas?  Ons kan sê dat enkel mense nie immoreel moet wees nie, dat ouers dit nie moet goedkeur nie, dat getroude mense getrou moet bly en nie moet skei nie, en dat jong mense moet trou as hulle die regte persoon ontmoet het, eerder as om vir 7 jaar uit te gaan.  Ek wil egter my toepassing tot homoseksualiteit beperk, aangesien daar selfs in die kerk verwarring is hieroor.

 

Ek het vroeër gesê dat ‘n homoseksuele huwelik geen huwelik is nie.  Wanneer ‘n gay vriend, familielid of kollega jou dus na sy troue of verlowingspartytjie toe nooi, moet jy ‘nee’ sê.  As jy so ‘n geleentheid bywoon, sê jy indirek dat jy die persoon se sonde goedkeur, en dat God se definisie van die huwelik nie akkuraat is of saak maak nie.

 

Dit is beter om direk vir die persoon te sê dat jy hom of haar liefhet, en dat jy nie wil hê hulle moet hel toe gaan nie.  Sê vir hulle dat almal God se oordeel verdien.  Soos met enige sondaar kan Jesus hulle van hulle sonde bevry (Joh. 8:34, 36, 1Kor. 6:9-11, Tit. 2:11-14).  Vertel vir hulle dat Jesus op Golgota die straf vir sulke en ander sondes gedra het, dat Hy begrawe is en dat Hy na drie dae opgestaan het uit die dood.  As die persoon sy sonde haat, dit laat staan, en glo dat Jesus hom van God se oordeel en sy sonde kan red, sal God hom vergewe.  Maar as hy met sy sonde aanhou, sal die Here hom oordeel.

 

As jy gay mense liefhet, sal jy hierdie dinge vir hulle sê.  Meer as 150 jaar gelede het die 29-jarige Skotse prediker, Robert Murray McCheyne, die volgende gesê:  ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners.  O! remember that love warns.’[2]  Onthou dit asb. wanneer jy met gay mense praat.  Moenie bang wees om vir hulle te sê dat hulle geestelike VIGS het, en dat God hulle vir hulle sonde gaan oordeel nie.  Maar jy moet ook nie nalaat om vir hulle te sê dat Jesus se bloed hulle van die terminale siekte van hulle siele (sonde) kan genees nie.

 

Vir die ouers van gay kinders wil ek sê:  ek glo dat dit nie maklik kan wees wanneer jou kind die nuus breek en vir jou sê hy is gay nie.  Maar ek wil jou in liefde vermaan om nie jou geloof in die Bybel prys te gee wanneer jy dit hoor nie.  Daar is ouers wat glo dat homoseksualiteit sonde is.  Wanneer hulle egter uitvind dat hulle seun of dogter gay is, verander hulle van mening.  Dalk het jý dit gedoen.  In daardie geval moet jy Jesus se woorde in Matt. 10:37 onthou:  “wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

 

Sê eerder vir jou kind wat ek hierbo gesê het.  Bid vir jou kinders dat die Here hulle oë sal oopmaak.  As jy hulle liefhet, sal jy nie hulle sonde goedkeur of toesmeer nie, maar die evangelie met hulle deel.  Sê vir hulle dat hulle altyd welkom is in jou huis, maar dat hulle ongelukkig nie met hulle ‘maatjie’ by jou huis kan oorslaap nie.  As jy dít sê is die kanse goed dat hulle jou verwerp en niks met jou te doen wil hê nie.  Mense sal sê dat jy liefdeloos en onsensitief is.  Jý weet dat dit nie so is nie, en dat jou optrede juis deur liefde gemotiveer is.  Jy weet ook dat jou kind se woede teen jou ‘n tipe vervolging vir die waarheid is (2Tim. 3:12).

 

Wat moet jy doen as jou gay kind sê dat hy of sy ‘n Christen is?  Volgens Jesus sal jy die boom aan sy vrugte ken.  Moet dus nie op jou kind se belydenis gaan nie, maar op sy lewe.  In sy hart rebelleer hy teen die God van Bybel.  Hy het ‘n god geskep waarmee hy gemaklik is, ‘n god wat sy sonde aanvaar en hom nie daarvoor sal oordeel nie.  Help hom om dit te sien, en bid dat die Here hom tot sy sinne sal bring.  Soos met die verlore seun in Luk. 15, is die Here heeltemal in staat om kinders wat in hulle sonde gesink het, terug te bring.

 

Wat is manlikheid en vroulikheid?

Jare gelede het ‘n man van die Bahá’i godsdiens vir my gesê:  ‘Die probleem wat ek met Christene het, is dat julle dink net júlle is reg.’  Ek het Joh. 14:6 aangehaal.  Nie alleen het Jesus gesê dat Hy die enigste weg is nie; Hy het ook gesê dat Hy die waarheid is.  Hy is die standaard waarvolgens ons alle waarheid moet meet om te besluit of dit reg of verkeerd, waar of vals is.

 

Wanneer mense dan sê:  ‘Net omdat iets vir jóú waar is, beteken dit nie dat dit vir ander mense waar is nie,’ sê hulle in effek dat daar nie eintlik so iets soos reg en verkeerd is nie.  Sulke denke kom uit ‘n evolusionistiese en ateïstiese wêreldbeskouing.  In ‘n wêreld sonder ‘n soewereine en ewige God, is daar nie ‘n absolute wetgewer nie, en kan elkeen seker maar vir homself besluit wat reg en verkeerd is, nie waar nie?

 

Dit is presies wat die gay en lesbian gemeenskap doen:  hulle het die eerste hoofstuk van die Bybel verwerp, en besluit dat ‘n huwelik nie net tussen mense van die teenoorgestelde geslag is nie, maar ook tussen mense van dieselfde geslag.  Om die waarheid te sê bestaan daar nie eintlik vir hulle so iets soos geslag nie, en kan elke mens self besluit wat ‘dit’ wil wees.

 

Die American Psychological Association tref bv. ‘n kunsmatige onderskeid tussen ‘sex’ en ‘gender’.  Volgens hulle kan jy manlike chromosome, hormone en liggaamsdele hê (‘sex’), terwyl jy in jou persoonlikheid, uitdrukkings, kleredrag, haarstyl en optrede ‘n vrou is (‘gender’).[3]  ‘n Man kan dus ‘n handsakkie en ‘n stywe pienk broekie dra, sy gewrig buig en met ‘n fyn stemmetjie praat.  ‘n Vrou kan soos ‘n rugbyspeler loop, ‘n verband styf om haar bors draai, mansklere dra, en haar hare met ‘n nr. 1 kammetjie skeer.  Volgens die wêreld maak Gen. 1:27 nie saak nie, en kan jy self jou seksualiteit en geslag kies.  As jy ‘n operasie wil ondergaan om jou geslag te verander is dit jou keuse, en as jy in ‘n seksuele verhouding met iemand van dieselfde geslag wil lewe is dit ook reg (kontra Rom. 1:26-27).

 

Dit is niks anders as rebellie teen God nie.  Hy haat dit as ‘n man of vrou hulle geslag wil verander, en nie wil wees wat Hy hulle gemaak het nie.  In Deut. 22:5 staan daar:  “’n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God ‘n gruwel.”  Die punt is nie dat daar nie so iets soos vroue kort hare of langbroeke is nie, maar dat jy nie so moet optree of aantrek dat iemand jou vir die teenoorgestelde geslag misken nie.

 

Die wêreld voel natuurlik ‘n veer vir God se Woord.  In hulle gedagtes is elkeen die kaptein van sy of haar eie skip, en kan mense self besluit wat hulle wil wees.  Hulle praat bv. van ‘n persoon se ‘gender identity’, en gee dan die volgende skokkende definisie:  ‘Gender identity refers to a person’s internal sense of being male, female or something else’.[4]  Hulle het dus nie net manlikheid en vroulikheid omgeruil nie, maar ‘n derde kategorie uitgedink:  ‘something else’ (wat dít ook al beteken!?).

 

In liberale dele van die wêreld, het party ouers besluit om hulle kinders so groot te maak.  Ek het ‘n Sweedse speelgoedwinkel advertensie gesien, waarin ‘n seuntjie Spiderman klere dra en ‘n pienk ‘pram’ stoot.  Swede gebruik selfs ‘n geslagsneutrale woord (hen), omdat hulle ‘seksistiese’ woorde soos hy en sy wil vermy.[5]  In hulle verdraaide denke moet die kind self besluit wat dit wil wees wanneer dit eendag groot is.

 

As ek dit hoor wonder ek of hierdie mense oplet as hulle die kind se doek ruil?  Kan hulle nie sien dat daar ‘n duidelike verskil tussen mans en vroue is, en dat hulle liggame verskillend lyk nie?  Weet hulle nie dat die ma en nie die pa nie, die kind vir 9 maande gedra het?  Het hulle vergeet dat jy ‘n man en vrou nodig het (nie twee mense van dieselfde geslag nie!) om kinders te hê (Gen. 1:27-28)?  Weet hulle nie dat mans en vroue se hormone en chromosome verskil nie?  Die manier waarop ons breine saamgestel is, dink en funksioneer verskil selfs.  Ek kan bv. goed op een taak fokus, terwyl my vrou vier of vyf dinge gelyk kan doen.  Ongelowiges weet nie waarvan hulle praat as hulle sê dat daar nie ‘n verskil tussen mans en vroue is nie.

 

Omdat mans en vroue so verskillend is, moet jy jou kind grootmaak volgens die geslag die Here hulle gemaak het.  Dalk bedoel jy nie om jou seun soos ‘n dogter groot te maak of andersom nie.  Maar as jy nie in jou kind se lewe betrokke is nie, is jy onbewustelik besig om hom of haar in ‘n verkeerde rigting te lei.

 

[1] ‘n Seun het ‘n pa nodig om hom van man-wees te leer.  Jy moet hom leer om dapper te wees, nie harde werk te vrees nie (soos om ‘n hoop bakstene te skuif), nie aan sy ma se rokpante vas te klou nie, te huil as hy sy knie geskraap het, maar dan die trane af te vee en verder te speel.  Jy moet hom leer om God te vrees en heilig te wees.  Die invloed wat John Paton se godvresende pa op hom gehad het, kan nie gemeet word nie.[6]

 

‘n Seun moet ook leierskap by sy pa leer, omdat dit onlosmaaklik deel is van manlikheid.  Feministe wil jou skuldig laat dat jy so vermetel is om manlikheid en leierskap in dieselfde asem te noem.  Maar volgens God se orde is die man sy vrou se hoof (Gen. 1:26, 5:1-2, 18:19, 1Kor. 11:3, 8-9, 1Tim. 2:12-13).  Wat waardigheid betref is jy en jou vrou gelyk (Gen. 1:26-27, Gal. 3:28, 1Pet. 3:7).  Maar in die huwelik moet jy jou vrou lei, beskerm, dien en liefhê soos Jesus dit met die kerk gedoen het (Ef. 5:22-25).

 

Jy moet ook onthou dat jou vrou fisies en emosioneel swakker is as jy (1Pet. 3:7).  Jy moet haar dus nie fisies, verbaal, seksueel, emosioneel of intellektueel boelie nie.  Leer ook vir jou seun om saggies met meisies en vroue te werk, om nie perverse opmerkings oor hulle te maak nie, om die deur vir hulle oop te maak, om te help as hulle swaar dra, ens.

 

[2] ‘n Seun het ook sy ma nodig.  Tim Challies sê:  ‘’n Verhouding tussen ‘n seun en sy ma is uniek en kosbaar.  Ongelukkig kyk ons soms met agterdog daarna, asof ‘n hegte verhouding tussen ‘n seun en sy ma gevaarlik is, asof dit onderliggend meisieagtigheid of moontlik selfs homoseksualiteit aandui.  Ons het name vir seuns wat naby - of té naby aan hulle ma’s is - hulle is mama’s boys, sissies of pansies.  ‘n Seun wat te naby aan sy ma is, is ‘n seun wat swak is en nie sterk nie.’[7]

 

Maar ‘n seun het sy ma nodig om vir hom te leer dat hy nie net breins en spiere moet hê nie, maar ‘n hart.  Sy moet hom help om sy emosies te deel, raad te vra, liefde te wys, ‘n Bybelse begrip van vroulikheid te hê, en God lief te hê.  ‘n Ma se invloed op haar seun is baie groter as wat ons besef.  Die gesegde wat sê:  ‘The hand that rocks the cradle, rules world’ is waar.  Groot Godsmanne in die geskiedenis is sterk deur hulle ma’s beïnvloed.[8]  John Welsey het bv. gesê:  “I learned more about Christianity from my mother than from all the theologians of England.”[9]

 

[3] ‘n Dogter benodig haar pa se leiding.  Hy moet haar van die Here leer, haar kerk toe vat, vir haar bid, en ‘n heilige voorbeeld stel.  Hy moet haar teen seuns beskerm wat haar wil misbruik.  Sy het ook ‘n pa nodig om vir haar drukkies te gee, haar te koester, respek vir haar te wys en die nodige sekuriteit te bied.  “In the fear of the Lord one has strong confidence, and his children will have a refuge.” (Spr. 14:26, ESV).  As ‘n pa hierdie dinge vir sy dogter doen, is die kanse goed dat sy geestelik en emosioneel stabiel sal wees as sy eendag die huis verlaat.

 

[4] ‘n Dogter het ook ‘n ma nodig om vroulikheid vir haar te leer.  Haar ma moet haar van die Here leer, en vir haar wys dat daar inderdaad ‘n goeie vrou agter elke goeie man is:  “Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.” (Spr. 31:12).  ‘n Engelse prediker genaamd John Angell James (1785-1859) het gesê:  ‘Woman’s advice, had it been asked for and acted upon, would have saved thousands of men from bankruptcy and ruin.  Few men have ever had to regret their taking counsel from a prudent wife’.[10]  Ek kan uit persoonlike ervaring bevestig dat dit waar is.

 

Verder het ‘n dogter haar ma nodig om vir haar te wys dat vroulikheid meer oor innerlike skoonheid, goeie werke en karakter gaan, as oor uiterlike skoonheid.  Sy het ‘n ma nodig om sagmoedigheid, wysheid, reinheid en geduld vir haar te wys.

 

In die lig van die bg. waarhede wil ek daarop aandring dat jy nie so besig is met jou eie lewe, dat jy jou seun of dogter afskeep, en hulle in effek sonder ‘n pa of ma grootword nie.  Dalk het jy nie gekies dat jou kind sonder een of beide ouers grootword nie.  In daardie geval moet die familie, gemeente, en betroubare vriende in jou kinders se lewe betrokke raak.

 

As ons nie iets vir hierdie kinders doen nie, sal die wêreld hulle harte wen.  Hulle sal wees soos die 17-jarige seun in die film, Courageous.  Hy het met ‘n bende en dwelmhandelaars deurmekaar geraak.  Op die einde het hy in die tronk beland.  Toe die polisieman hom vra hoekom hy met sulke skobbejakke meng, het hy met trane gesê:  ‘I ain’t got nobody man... I just ain’t got nobody.’

 

[1] Ek het hierdie verse in twee ander preke verduidelik: ‘n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk en Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde?

[2] Sermons of M’Cheyne, The Banner of Truth Trust, London, 1961, 1972, p. 168

[3] http://www.apa.org/topics/lgbt/transgender.aspx

[4] Ibid.

[5] http://www.bbc.com/news/world-europe-14038419

[6] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1965, 2007, pp. 14-17, 25-26

[7] Vry vertaal uit https://www.challies.com/articles/boys-need-their-moms/

[8] https://www.challies.com/series/christian-men-and-their-godly-moms/

[9] https://www.challies.com/articles/boys-need-their-moms/

[10] Aangehaal in Jeff Pollard & Scott T. Brown, Red., A Theology of the Family, The National Center for Family-Integrated Churches, Wake Forest: NC, 2014, p. 173

Kategorieë