Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 February 2017

Maak seker van jou bestemming

heaven-and-hell

Hoeveel mense is daar nou in die hel wat hulleself oortuig het dat hulle nie daar sal wees nie?  Jy kan dit nie bekostig om te dagdroom wanneer jy hierdie preek lees of daarna luister nie.  Jy moet seker maak van jou bestemming.  Ek vertrou dat Op.14:1-13 jou hiermee sal help.

 

Die hemel (v.1-5, 12-13)

In 2003 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê: ‘Why is it that everyone wants to go to heaven, but no one wants to die?’  Dit is immers deur die dood wat ons in die hemel kom (v.13, Lk.16:22, 23:43, 2 Kor.5:8, Fil.1:23).  Nie een van ons kan die dood vermy nie.  Maar ons kan keer dat ons in die hel beland, en seker maak dat ons hemel toe gaan.  In die verse wat volg sê Johannes vir ons iets van dié wat in die hemel is.

 

In teenstelling met die vals lam van 13:11, het die ware Lam van God op berg Sion, beter bekend as Jerusalem, gestaan (v.1, Ps.2:6, vgl. 1 Kon.8:1, Ps.135:21, Jes.40:9, Sef.3:16, Sg.9:9). Johannes het nie hier na die aardse Jerusalem verwys nie, maar na die hemelse een (hfst.21, Heb.12:22, Gal.4:25-26).

 

Die 144 000 verseëlde Jode van 7:1-8 het by Hom gestaan. Hulle het die oordele wat Hy in 70 n.C. oor afvallige Israel gebring het, oorleef (vgl. Esg.9:4-6).  God het hulle by Pella bewaar toe die Romeine Jerusalem vir 42 maande lank beleër het.[1]  Terwyl hulle nog op die aarde was, het hulle in die hemel se aanbidding gedeel (Ef.2:6, Kol.3:3, Heb.12:22-24).  Hoeveel te meer nie toe hulle gesterf het en hemel toe is nie?

 

Om te wys dat hulle aan die Here behoort, het die 144 000 gelowige Jode die Lam en die Vader se Naam op hulle voorkoppe gehad, net soos wat die rebelse Jode die dier se naam en nommer op húlle voorkoppe gehad het (v.1, 13:17, Eks.28:36-38, 2 Tm.2:19).

 

Johannes het ‘n stem in die hemel gehoor. Dit was soos die gedreun van ‘n groot watermassa en van donderweer (v.2, 19:6).  En tog was dit nie ‘n geraas nie, maar so musikaal soos harpe (v.2, 5:8, 15:2).  Die stemme het ‘n nuwe lied van God se verlossing gesing voor die troon en voor die 4 lewende wesens en die 24 ouderlinge wat die troon omring het (v.3, 5:9, vgl. Ps.33:2-3, 96:1-2, 98:1-2, 144:9, 149:1, 4, Jes.42:10).[2]  Net die 144 000 kon die lied geleer het, omdat net hulle van die Here se oordeel oor die aarde of die Beloofde Land [Gk. ] verlos is (v.3).  Geen ongelowige of engel het Christus se verlossing gesmaak nie, en daarom kon hulle nie die lied gesing het nie.

 

Die 144 000 Jode was geestelike maagde – ‘n rein bruid vir die Here – wat nie soos afvallige Israel met die wêreld gehoereer het nie (v.8, hfst.17, Jer.3, Esg.16, 23, Hosea, Jk.4:4, Jes.54:5, 62:4-5, 2 Kor.11:2, Ef.5:25-27).  Hulle het aan die waarheid behoort en nie leuens vertel soos die duiwel se kinders nie (v.5, 21:8, 22:15, Jh.1:48, 8:44, 14:6, 18:37, Ps.15:1-3, 32:2, Sef.3:16).  Hulle was nie sondeloos nie, maar die normale patroon van hulle lewens was onberispelik en opreg (v.5, Fil.2:15).

 

Hulle het die Lam gevolg in voorspoed en in teëspoed (Jh.10:27, 12:26, 1 Pt.2:21). Hy het hulle immers as die eerstevrug van die oes met sy bloed losgekoop (v.6, 5:9, Jk.1:1, 18).  Hulle sou nie saam met die res van die ‘oes’ (die afvallige Jode) geoordeel word nie (v.14-20).  Hulle sou eerder ‘n verdere ‘oes’ van bekerings onder die heidene verseker het (Sp.3:9-10, Jer.2:2-3, Hd.2:41, Rm.1:13, 11:16).

 

Hoe kan jy weet of jy tot bekering gekom het en oppad is hemel toe? Hoe kan jy weet dat die Here se Naam op jou voorkop is, en dat jy aan Hom behoort as dit nie ‘n sigbare merk is nie (v.1)?  Wat is die bewyse – nie die vereistes nie! – dat iemand waarlik tot bekering gekom het?

 

[1] Jy sal die Here prys vir jou verlossing (v.2-3). Iemand wat weet waarvan en waarvoor die Here hom gered het, kan nie anders as om Hom daarvoor te prys nie.  Jy sal Hom ook prys, omdat Hy alles gemaak het (v.7).

 

[2] Tensy jou gesondheid dit verhinder, sal jy nie ‘n ‘eenkant-Christen’ wees wat by die huis bly en jou eie ding doen nie. Jy sal eerder saam met ander gelowiges die Here wil prys (v.1-3).  Jy sal dit in die erediens wil doen, en ook in die hemel.

 

[3] Jy sal nie in jouself en jou goeie werke roem nie, maar in die Here en in die verlossing wat Hy aan die kruis bewerk het (v.3-4, 5:9, 1 Kor.1:31, 2:2, Gal.6:14, Ef.2:8-9, Fil.3:4-9).

 

[4] Jy sal vir die Here lewe en jou sonde haat, omdat jy ‘n rein bruid vir Hom wil wees (v.4, 8). Jy sal die waarheid praat en nie met jou lewe of lippe leuens vertel nie (v.5).  Jy sal opreg wees en só lewe dat mense nie ‘n vinger na jou kan wys nie (v.5).  Jy sal die Here se oordele vrees, sodat jy Hom verheerlik en jou bekeer (v.7).

 

[5] Jy sal die Lam oral volg – nie net hemel toe nie, maar ook na die kruis toe (v.4, Lk.9:23). Jy sal nie jou rug op die Here draai wanneer dit met jou sleg gaan nie.

 

[6] Jy sal nie jou arms vou en terugsit omdat die Here jou gered het nie, maar jy sal wil hê dat ander mense ook tot bekering moet kom (v.4). Om dit te verseker sal jy die evangelie met hulle deel (v.6, Rm.10:13-15, 1 Kor.9:19-22).

 

[7] Jy sal in die Here glo en Hom gehoorsaam, totdat jy doodgaan (v.12-13, Jh.14:15, Mt.10:22, Kol.1:23, Heb.3:14). Nie een van die verseëldes het hulle redding verloor nie (v.1-5, 7:1-8), en jy sal ook nie (Ef.1:13-14, Jh.10:28-29).

 

Sien jy hierdie bewyse van bekering in jou lewe? Indien wel, sal die dood jou nie na die rustelose vervloeking van die hel toe lei nie (v.10-11).  As jy in Jesus glo wanneer jy doodgaan, sal jy die ewige rus van die hemel ingaan en beloon word (v.12-13, Mt.25:21, 1 Kor.3:12-15, Heb.4:9-10).

 

Vir jou is die dood ‘n seën en ‘n wins, omdat dit jou na Christus toe lei (v.13, Fil.1:21). Die dood het nie meer ‘n angel om jou te steek, of tande om jou te byt nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15).  Jy kan in vrede jou asem uitblaas, omdat Jesus die sleutels van die dood en die doderyk in sy hande het (1:18).  Hy sal jou deur die donker vallei van die dood vergesel (Ps.23:4).

 

Die hel (v.6-11)

Ek ken ‘n oom wat tot bekering gekom het, omdat hy gehoor het hoe erg die hel is. Natuurlik is dit nie die enigste rede hoekom ons hemel toe wil gaan nie.  Maar volgens Johannes is dit ‘n rede hoekom ons met vrees en eerbied op die evangelie moet reageer, hoekom ons ons sonde moet los, en hoekom ons tot die einde toe aan Jesus moet vashou (v.6-12).

 

In v.6 het Johannes ‘n engel bokant sy kop gesien. Hy het die ewige evangelie gebring, sodat God se boodskappers dit aan die bewoners van die land kon verkondig, asook aan elke stam, taal, volk en nasie (v.6).  So het die Here sy liefdevolle verlossing aan sondaars gebied, om hulle van die dier af weg te keer na Homself toe.

 

Sommige kommentators dink dat die evangelie in v.6 nie dieselfde is as die evangelie van verlossing in die res van die Nuwe Testament nie. Maar volgens Paulus is enigiemand wat ‘n ander evangelie bring onder God se vervloeking – al is dit ook ‘n engel uit die hemel (Gal.1:8-9).

 

Buitendien praat Johannes hier van ‘n ewige evangelie, een wat nie verander het of in die toekoms sál verander nie.  Dit is ook ‘n ewige evangelie wat handel oor God wat mense in die ewige verlede uitverkies het, sodat hulle in die ewige toekoms saam met Hom in die hemel kan woon (Rm.8:29-30, Tit.1:1-2).

 

In hierdie ewige evangelie is daar ook ‘n element van vrees. Omdat die Here se onmiddellike en toekomstige oordele oppad is, moes Jode en heidene Hom gevrees en verheerlik het; hulle moes Hom as die Skepper van alle dinge aanbid het (v.6-7).  As hulle hulle nie bekeer het nie maar aangehou het om die grimmige wyn van Babilon se geestelike losbandigheid te drink, sou hulle saam met Babilon tot ‘n val gekom het (v.8, vgl. Jer.51:7).

 

Wie is hierdie Babilon wat die nasies dronk gemaak het met die wyn van haar geestelike losbandigheid (v.8)? Soos Sodom en Egipte in 11:8, is Babilon heel moontlik ‘n skuilnaam vir Jerusalem wat geestelike egbreuk gepleeg het met die nasies (v.8, 18:3, Esg.16, 23, Hosea).

 

Dit lyk of Petrus dit ook so verstaan het. Volgens Hd.1-12 en Gal.1-2 het hy in Jerusalem gebly, en in 1 Pt.5:13 het hy namens die gemeente in ‘Babilon’ groete gestuur aan die verstrooide Jode (1 Pt.1:1).  Petrus en Johannes se gebruik van die naam ‘Babilon’ impliseer dat Jerusalem so sleg en goddeloos geword het soos Babilon in die Ou Testament.

 

In denke en dade was hulle lojaal aan die duiwel en die wêreld. Die dier se merk op hulle hande en voorkoppe, asook hulle aanbidding van die dier en sy beeld het dit bewys (v.9, kontr. die gelowige Jode in v.1).[3]  Omdat Jerusalem die wyn van geestelike egbreuk gedrink het (v.8), sou sy die sterk wyn van God se toorn gedrink het (v.10, 18:6, Job 21:20, Jes.51:17, Jer.25:15-29).

 

Natuurlik geld dit nie net vir die afvallige Jode nie, maar vir almal wat die Here Jesus verwerp en met hulle sonde aanhou. Laat ons met vrees en bewing dink oor wat Op.14 en die res van die Bybel oor die hel te sê het.

 

[1] Die hel is erg

God se engele sal die goddelose in die hel gooi, en die Lam sal teenwoordig wees om sy heilige en regverdige wraak oor hulle uit te oefen (v.10, Mt.13:41-42, 49-50). Volgens v.10 sal Hy die wyn van sy woede onverdund in die beker van sy toorn skink, en maak dat sy vyande dit drink.  ‘Onverdund’ impliseer dat hierdie wyn nie met die soet speserye van sy genade, hoop en liefde gemeng is soos wat dit op die aarde was nie (Ps.75:9, Mt.5:45).  Hy sal in sy toorn en wraak teenwoordig wees (v.10), maar in sy heerlike goedheid sal Hy afwesig wees (2 Ts.1:9).

 

Die hel is nie ‘n plek waar ongelowiges partytjie gaan hou nie. Dit is nie ‘n plek waaroor ‘n mens grappies maak nie.  Dit is nie ‘n plek waar die duiwel jou met ‘n drietand vurk gaan steek nie.  Dit is ‘n plek wat erger is as enige lyding wat jy op die aarde beleef het.  Dit is ‘n plek waar ongelowiges in die vuur sal brand en aan die swawel sal verstik (v.10, 21:8).  Dit is eensaam en donker (Mt.22:13, 2 Pt.2:4).  Dit is ‘n plek waar jy vir ewig sterf, maar nooit dood is nie (20:14, 21:8).  Dit is ‘n bodemlose afgrond (9:2).  Dit is ‘n plek waar die pyn so erg is, dat mense vir altyd sal huil, hulle tonge sal kou en op hulle tande sal kners (16:10, Mt.25:30).  Dit is ‘n plek van ewige verwoesting (Mt.10:28, 2 Ts.1:9).

 

Dit is ‘n plek waar die ongelowige se liggaam en gewete dag en nag geen rus het nie (nie eers vir 5 minute nie), omdat die wurm van God se oordeel vir ewig aan hom sal knaag (v.11, Mk.9:44). Dit is ‘n plek waar siekte, depressie, angs, vrees, demoniese aktiwiteit, en elke ander gevolg van die sondeval ongelowiges sal oorweldig (16:11, Dn.12:2, Jes.66:24, Mt.25:41).

 

Dit is ‘n plek waar mense bewus is van die hemel se vreugde, maar dit nie kan geniet nie (Lk.13:28, 16:23). Dit is nie dat hulle in die hemel wil wees nie:  hulle haat die Here en hou nie op om Hom vanuit die hel te laster nie (16:10-11).

 

[2] Die hel is ewig

Oor dié wat in die hel is sê v.11: “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie”.  Hulle sal brand, maar nie klaar brand nie (v.11, 19:3).  Die Bybel praat van ‘n ewige en onuitblusbare vuur (Mt.3:12, 25:41).  Die rook van Sodom en Edom (Gn.19:28, Jes.34:9-10) is maar net ‘n voorskou van die ewige vuur en rook van die hel (v.10-11, 2 Pt.2:6, Jud.7).

 

‘Maar is dit nie onregverdig om mense vir ewig te straf as hulle net vir ‘n leeftyd gesondig het nie?’ wonder iemand. ‘n Moordenaar kry lewenslange tronkstraf, al het dit hom net 15 sekondes geneem om die persoon dood te maak.  Uiteindelik gaan dit nie daaroor dat jy vir 70 jaar gesondig het nie, maar dat jy teen die ewige, heilige en regverdige God gesondig het.  Omdat Hy oneindig is, is die straf ook oneindig.  Mense wat in die hel is haat die Here, maar nie een van hulle sal sê:  ‘Ek word swaarder gestraf as wat ek verdien’ nie (vgl. Rm.3:19).

 

Buitendien hou dié wat in die hel is aan om teen die Here te sondig (16:10-11, 22:11, Mk.3:29). Dié wat sê dat die hel onregverdig is, verstaan nie hoe ernstig sonde is, of hoe heilig die Here is nie.  En om hierdie rede sê hulle dat ‘n God van liefde nie mense hel toe sal stuur nie.  Volgens hulle sal Hy ongelowiges uitwis, of uiteindelik sorg dat almal hemel toe gaan.  Maar hulle dink nie aan die implikasie van wat hulle sê nie.

 

As daar nie ‘n ewige hel nie...

 

  • Is daar ook nie ‘n ewige hemel nie (Mt.25:46).
  • Is Jesus se God-verlate kruisdood sinneloos (Mt.27:46).
  • Gee die Here nie om dat ongeregtigheid seëvier nie.
  • Hoef mense hulle nie te bekeer nie.
  • Hoef ons nie die evangelie met ongelowiges te deel nie.
  • Sal Satan en sy demone ook in die hemel wees (Mt.25:41).
  • Het Jesus gejok om te sê dit sou beter gewees het as Judas nie gebore is nie (Mt.26:24).
  • Maak Lk.16:26 nie sin wanneer dit sê dat niemand van die hel na die hemel toe kan oorgaan, of andersom nie.

 

Die hel is ewig en erg. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31). Treur daarom oor dié wat nie hulle sonde wil los nie (Esg.18:32, Lk.19:41-42, Rm.9:2). Probeer om hulle van die waarheid te oortuig (2 Kor.5:11). Sê vir hulle (of vir jouself as jy nog nie tot bekering gekom het nie):

‘Moenie dink jy kan met jou sonde aanhou en van die hel ontsnap nie (Mt.18:8-9). Ek pleit by jou om jou sonde te los. Los dit en kom deur geloof na Jesus toe. Hy het immers namens ons die bitter beker van God se toorn gedrink aan die kruis (Mk.14:36). Vlug na Jesus toe en vra Hom om jou van die toekomstige toorn te red (Mt.3:7, Rm.5:9, 1 Ts.1:10).’

Kan ek vir jou vra hoe dinge met jou staan? Waarheen is jy oppad as jy in 2017 moet doodgaan? Maak asseblief seker van jou bestemming.

 

[1] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Josephus, The Wars of the Jews, Book IV, ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[2] Sien my preek, ‘n Visioen van die hemel, vir meer inligting oor die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens.

[3] Vir meer oor die dier kan jy my twee preke oor Op.13 lees: Christene, keiser Nero en die ANC en Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

Kategorieë