Coram Deo Cover Image

Coming soon...

11 August 2018

Maak die beste van jou beproewing

Blacksmith

Stuart Olyott het eenkeer in ‘n preek gesê: ‘Dit is nie beproewing wat jou heilig maak nie, maar jou reaksie daarop.’ Ons moet reg reageer op ons beproewings en dit nie mors nie. Toe ek eenkeer deur ‘n beproewing gaan, toe vra ek ‘n vriend om vir my te bid. Sy reaksie het my gehelp: ‘I want to encourage you not to waste this time of discouragement. The Puritans used to say that it was common sense to put the seal of the wax on when it was soft. You are tender right now. The wound is open... I want to encourage you to seek what the Lord can teach you in this time, while the wound is open.’

Toe John Piper jare gelede kanker kry, toe skryf hy ‘n boekie met die titel: ‘Don’t waste your cancer.’ Hy wou sy kanker gebruik om die Here te dien en te verheerlik. Ons moet so wees. Moenie heel eerste bid dat die Here die beproewing sal wegvat nie, maar dat jy daaruit sal leer. Anders is jou beproewing so sinneloos soos Israel s’n in Jes. 48.

 

  1. Skynheiligheid (v.1-2)

Het jy al ouers ontmoet wat vier of vyf keer dieselfde ding vir hulle kinders sê, omdat hulle nie luister nie? Omdat Israel nie wou hoor nie (v.8), moes die Here vier keer vir hulle sê om te luister (v.1, 12, 14, 16). Israel het gesê dat hulle God se volk is, en dat hulle uit Jakob ontspring het soos wat ‘n rivier uit ‘n fontein ontspring (v.1, Ps. 68:27). Hulle het by die God van Israel gesweer en gesê dat Hy húlle God is (v.1, Deut. 6:13, 10:20).

Maar hulle het dit nie opreg en in waarheid bedoel nie (v.1). Hulle het m.a.w. by Hom gesweer, terwyl hulle leuens vertel (Lev. 19:12, Matt. 23:16-22). Hulle het bely dat hulle Hom ken, maar hulle het Hom nie in hulle harte liefgehad nie (29:13). Hul het geroem dat hulle van die heilige stad (Jerusalem) af kom, en dat hulle op die God van Israel, die Here van die leërskare, steun (v.2). Hulle het gedink dat hierdie dinge outomaties vir hulle seën bring. Is dit enige wonder dat die Here hulle getugtig het?

Ons moenie soos hulle wees nie. Moenie in jou Baptiste, Dopper of enige ander identiteit roem, en dink dat die Here jou daarvoor sal seën as jy in die week in sonde leef nie. Moenie soos Israel die Here se Naam bely, terwyl jy ongehoorsaam lewe nie (Luk. 6:46, Tit. 1:16). Lei eerder ‘n lewe wat by jou Christelike getuienis pas (Ef. 4:1, Fil. 1:27, Kol. 1:10). Hoe mense jou by die kerk, die werk, die braai en in jou familie sien, moet met mekaar ooreenstem en ‘n geheelbeeld vorm.

 

  1. Hardkoppigheid (v.3-8)

Rifrûe is bekend vir hulle hardkoppigheid. Hulle luister vir hulleself. My rifrug luister net as dit hom pas. God het geweet dat Israel so is. Hulle was hardkoppig in Egipte, in die woestyn, in die tyd van die Rigters en Israel se konings, en met die profete. Hulle het onbuigbare en harde nekke gehad soos yster; hulle voorkoppe was soos brons sodat hulle nie van gedagte wou verander nie (v.4, Deut. 9:24, Eseg. 3:7, Hand. 7:51).

Daarom het die Here lank voor die tyd gesê dat Hy sy volk gaan bevry en nuwe dinge gaan doen. Hy het dit vooraf gesê, sodat Israel dit kon sien, hoor en die Here erken. Hy wou nie hê dat hulle moes sê hulle het dit lankal geweet, of dat hulle afgode hierdie verlossing bewerk het nie (v.5-8, Eks. 10:4). Die afgode kon nie die toekoms voorspel en dit uitvoer soos die Here nie (v.3, 41:22-23).

Maar t.s.v. die Here se voorspellings het Israel rebels gebly. Hulle ore was nie oop vir die Here nie (v.8). Hulle was ontrou en rebels soos voor hulle geboorte (v.8, Gen. 25:22, 26, Ps. 51:7, 58:4). Dit is tragies as ons soos hulle is en die beproewing nie help nie. Die beproewing is ‘n vuuroond, maar as jou hart hard is bak die beproewing jou harder.

Bid dat die Here jou hart van klip sal uithaal en vir jou ‘n hart van vlees sal gee wat sensitief is vir Hom (Eseg. 36:26). Bid vir ‘n hart wat gewillig is om te verander; ‘n hart wat sag is sodat die Here dit kan vorm. Bid vir oop ore, sodat jy kan hoor wat Hy jou wil leer (v.8, Ps. 119:71).

 

  1. Beheerstheid (v.9-11)

Wanneer ‘n pa met sy 5-jarige seuntjie stoei, hou hy terug sodat hy nie die kind seermaak nie. Die Here is so. Hy het sy krag beheer en nie vir Israel volgens haar rebelsheid gestraf nie (v.8-9). Tot sy eer het Hy die volk gered. Omdat Hy wou hê dat sy Hom moet prys en dat die nasies Hom nie moet belaster nie, het Hy haar nie afgesny nie (v.9, 11, Eks. 20:7, Eseg. 36:20-23, Matt. 6:9, Rom. 2:24).

God het sy volk uit die smeltkroes van ellende in Egipte gered (Deut. 4:20). As Hy haar soos silwer in die smeltkroes gelos het om die onsuiwerhede weg te brand, sou sy verwoes gewees het omdat sy byna nét uit onsuiwerhede bestaan het (v.10, 1:22). God se tugtiging in Babilon was ook nie genoeg om Israel se onsuiwerhede weg te vat nie (v.10, Jer. 6:29-30). Die Here moes haar weer suiwer.

Die Here doen dit met ons ook. Dit is genade, want as Hy ons in een sessie moes suiwer het Hy ons a.g.v. die sonde in ons harte weggebrand. Die Here tugtig ons nie na verdienste nie (Ps. 103:10, 130:3). Prys Hom daarvoor! Hy tugtig ons om Homself te verheerlik. Sy eer moet ook ons doel wees wanneer Hy ons tugtig (v.11).

Moenie geld, jou goeie planne, die feit dat jy koel kop gebly het, die internet, jou intellek, ander mense, of enige afgod prys as jy deur die beproewing gekom het nie. Gee aan God alleen die eer: Soli Deo Gloria (v.11). Vra jouself hoe jy Hom kan verheerlik in jou beproewing, en nie net hoe jy gou uit dit kan kom nie (v.11). Dink meer aan die heerlikheid van God as aan jou eie gemak (v.11).

 

  1. Liefde (v.12-16)

‘n Man wat aan dwelms verslaaf was het vir my gesê dat sy ma hom nooit weggegooi het nie, maar dat sy hom altyd versorg het. Israel was so. Selfs toe sy opgemors het, het die Here weer met haar gepraat en haar daaraan herinner dat sy aan Hom behoort (v.12). Die God wat haar geroep het is die Eerste uit wie alles ontstaan het, die Laaste vir wie alles bestaan (v.12, 41:4, 44:6, Op. 1:8, 17, 2:8, 22:13). Hy het die fondasie van die aarde gelê, die hemel uitgesprei, en hou alles deur sy mag in stand (v.13, 40:12, 22, 42:5, Job 38:4-7, Kol. 1:17, Heb. 1:3). Soos wat die skepping na God luister, moes Israel na Hom luister (v.14). Wat het Hy vir haar gesê?

Anders as die afgode kon die Here sy volk uit Babilon vrylaat (v.14). Hy het sy volk liefgehad en Babilon om hulle ontwil gestraf (v.14, Deut. 7:7-8). Hy het vir Kores geroep en gemaak dat hy suksesvol teen Babilon veg (v.15, 45:1-2, 46:11). Soos die Here duidelik deur Moses en die profete gepraat het, het Hy die volk duidelik van Kores vertel (v.16, 45:19). In die Nuwe Testament het Hy die Messias en die Heilige Gees gestuur om duidelik met die volk te praat (v.16, Joh. 1:1, 14, 18, 16:13). Die Drie-Enige God het met sy volk gepraat (v.16).

Hoe help v.12-16 jou in beproewing?

[a] Die ewige, Drie-Enige Skeppergod is vir jou in beproewing (Rom. 8:31). Dalk voel jy soos Job en dink jy dat Hy teen jou is, maar Hy is lief vir jou (v.14). As jy aan sy liefde twyfel, dink aan die kruis (Rom. 8:32, 1Joh. 4:10).

[b] Die Here sal jou red van die vyand wat jou onderdruk (v.14). Satan sal nie vir altyd die oorhand hê nie. “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.” (Rom. 16:20).

[c] Moenie die Bybel afskeep in jou beproewing nie. Volhard in jou stiltetyd en luister na wat die Here vir jou sê (v.16). Lees en bid veral die Psalms.

 

  1. Boosheid (v.17-22)

Waaraan dink jy as jy die woord ‘boosheid’ hoor? Verkragting, moord, seksuele losbandigheid, dronkenskap, vuil taal? In v.17-22 gaan boosheid oor Israel wat haar voordele misbruik het en nie ná die tugtiging teruggekeer het na God toe nie. Hy het haar verlos, is die Heilige van Israel en haar God, het haar geleer om voordeel te trek uit die Woord en ‘n persoonlike verhouding met Hom, en het haar op die regte pad gelei (v.17, 30:21, Ps. 25:12, 119:105).

Maar sy het nie geluister nie. Sy het die Here se gebooie geïgnoreer en sy vrede en geregtigheid wat so aanhoudend is soos ‘n rivier en die golwe van die see, verbeur (v.18). Verder het Israel ook die Here seën verbeur. Hy het haar nageslag uitgedun, sodat sy nie soos die sand van die see was nie (v.19, Gen. 13:16, 22:17).

Die Here het egter ‘n oorblyfsel uit Babilon laat terugkeer, aan haar groot blydskap gegee, en gesê dat sy dit aan die nasies moet verkondig (v.20). Hy het ook vir die volk voorsien soos Hy met die uittog uit Egipte water uit die rots voorsien het (v.21, Eks. 17:1-7). Maar Israel het die Here se goedheid verag en boos gebly (v.22). ‘Leaving Babylon, the people do not escape from their own character... To come home to Canaan is not to come back to God.’ [Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester: Inter-Varsity Press, 1993), 382].

Die vraag wat jy jouself dus in beproewing moet vra, is of jy jou sonde gelos het om terug te keer na die Here toe? Het jy jou opnuut aan Hom toegewy? Het jy Hom vir Jesus se kruisdood gedank, omdat daar by Hom oorvloedige genade is? As jy met jou sonde aanhou en nie deur Jesus se kruisdood vergifnis ontvang nie, sal jy nooit vrede hê nie (v.22, 57:21).

As die beproewing jou nie verander nie beteken dit so min soos Israel se 70 jaar in Babilon: hulle was so ongehoorsaam, boos, hardkoppig en onveranderd soos voorheen (v.22, 18, 45:25). Met dit in gedagte het ‘n sendeling eenkeer vir my gesê: ‘Learn your lessons wel, want as jy dit nie leer nie sal die Here jou daardeur vat totdat jy jou les geleer het.’

Jy sal soos ‘n perd wees wat ‘n stang in sy bek moet kry om naby die Here te bly (Ps. 32:9). Moenie so wees nie. Dit is baie beter om Petrus se raad te volg: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:6-7).

 

Kategorieë