Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 January 2021

Lesse uit Jesus se Kinderdae

Lukas 2:39-52

In enige goeie biografie is daar ’n hoofstuk, of meer oor die persoon se kinder- en jongmens lewe. Mens vind dit egter nie in die vier Evangelies (Jesus se biografieë) nie. Bogenoemde teks is die enigste paragraaf in die Bybel oor Jesus se kinderdae. Buiten vir hierdie paar verse weet ons niks van die tyd tussen sy geboorteverhale en bediening wat op 30 begin het nie (vgl. Luk. 3:23). ’n Paar buite-Bybelse bronne dínk hulle weet, maar hulle beskrywing is ver verwyder van die Bybelse Jesus. Die Kindheidsevangelie van Tomas (150-175 n.C.) praat byvoorbeeld van wonderwerke wat Jesus gedoen het toe Hy ’n kind was.1 ’n Paar voorbeelde is genoeg:

[a] Jesus het op ’n keer 12 mossies van klei gemaak. Iemand het Hom by Josef gaan aangee, omdat Hy dit op die Sabbat gedoen het. Toe Josef daar aankom om met Hom te raas, toe klap Hy sy hande. Die mossies het lewendig geword en weggevlieg (hfst. 2).

[b] Toe Jesus eenkeer in die straat loop, toe stamp ’n ander kind Hom per ongeluk teen die skouer toe hy verbyhardloop. Jesus het die kind vervloek, sodat hy op die plek gesterf het (hfst. 4). Toe die kind se ouers by Josef kla, toe straf Jesus hulle, sodat hulle dadelik blind geword het (hfst. 5).

[c] Josef moes eenkeer ’n bed vir iemand maak. Twee van die planke was nie gelyk nie. Jesus het die plank gerek, sodat Josef die bed kon klaarmaak (hfst. 13).

[d] Jesus het ’n baba uit die dood opgewek (hfst. 17).

Volgens hierdie bron, het Jesus as kind nog baie ander wonderwerke gedoen. Dit is egter nie waar of betroubaar nie. Hierdie is nie die Jesus van die Bybel nie, aangesien Hy telkemale sy humeur verloor en disrespekvol is met Josef en ander volwassenes. Buitendien het Jesus eers wonderwerke gedoen, nadat die Gees by sy doop op Hom gekom het (Luk. 3:22, 4:18-19, Hand. 10:38). Sy eerste wonderwerk was toe Hy die water in wyn verander het (Joh. 2:11).

Moet daarom nie dinge van Jesus glo wat nie in die Bybel staan nie. As God wou hê dat ons meer van Jesus se kinderlewe moet weet, sou Hy dit in die Bybel laat opteken het. Wat Hy deur Lukas gesê het, is genoeg. Die feit dat hierdie verse die enigste rekord van Jesus kinderlewe is, sê vir ons dat dit belangrik is. Wat leer ons hieruit?

1. Jesus die Kind (v.39-40)

’n Kerkvader genaamd Gregory Nazianzen (329-390 n.C.) het gesê: ‘Dit wat Jesus nie opgeneem het nie, is nie genees nie. Maar dit wat Hy met sy Godheid verenig het, is gered.’2 Hy het bedoel dat Jesus gekom het om die mens se liggaam, verstand, siel, gees, emosies, en wil te red, omdat Hy elke deel daarvan opgeneem het en dit sy eie gemaak het (Heb. 2:14, 17). Die implikasie is verder dat Jesus babas, kleuters, kinders, jongmense, en volwassenes red, omdat Hy self deur elkeen van hierdie stadiums gegaan het (v.40, 52). Hy sal ons ook uit die graf red, omdat Hy begrawe is en na drie dae weer opgestaan het.3

Volgens Lukas het Jesus sy kinderdae in Nasaret deurgebring (v.39-40). Sy ouers het Hom daarheen gevat, nadat hulle alles gedoen het wat die wet vereis: die offer vir Maria, Jesus se besnydenis, en sy toewyding as Eersgeborene aan God (v.39, 21-24). Hulle het egter nie dadelik na Nasaret vertrek nie, maar is eers terug Betlehem toe. Dit was tóé wat die wyse manne Hom besoek het, wat Herodes die babas onder twee laat vermoor het, en wat Josef en Maria met Jesus Egipte toe gevlug het. Eers toe Herodes oorlede is, het Josef en Maria Jesus Nasaret toe gevat. Dus pas Matteus 2 tussen v.38 en 39.

Hoekom het Jesus in Nasaret gaan bly? Dit is waar sy ouers se huis was, alhoewel beide van hulle in Betlehem gebore is (v.34, 1:26-27, 2:4). Jesus het ook in Nasaret gebly om te wys dat Hy in die wêreld se oë onbelangrik was. Nasaret was ’n klein dorpie met ’n reputasie soos Nigel, of Brakpan (Matt. 2:23, Joh. 1:47). Moet dan nie dink dat jou agtergrond Jesus verhinder om jou nuut te maak, jou sonde te vergewe, en jou die skat van die hemel te gee nie. By Hom maak dit nie saak wie jy is, waar jy vandaan kom, wat jou agtergrond is, of wat met jou gebeur het nie. Dit maak nie saak of die wêreld jou as onbelangrik beskou nie. Wat saakmaak is wat Gód van jou dink. Volgens Rom. 3:10-20, 5:12, 6:23 dink Hy aan jou as ’n sondaar wat die dood verdien. As jy egter in sy Seun glo, dink Hy aan jou as iemand wat deel is van sy familie.

Is jy deel van sy familie? Is jou gesin en jou kinders deel? Jy kan nie namens ander mense glo nie, maar jy kan die evangelie met hulle deel, bid dat die Here hulle oë sal oopmaak, ’n Godvresende voorbeeld stel, gereeld die Bybel lees en bid tydens julle huisgodsdiens, jou kinders tugtig as hulle sondig, hulle liefhê, en hulle elke week kerk toe vat (nie stuur nie!). Meer as dit kan jy nie doen nie. Moet dan nie die Gees se plek wil inneem, deurdat jy jou geliefdes probeer forseer om die sondaarsgebed op te sê en dan te dink hulle is gered nie. Vervul eenvoudig jou plig en los alles in die Here se hande. Indien jy reeds opgemors het, sal die Here jou vergewe as jy Hom vra. Vra Hom om te doen wat jy nie kan nie. Onthou dat Hy mense van enige ouderdom kan red, omdat Hy self daar was en elkeen se nood en behoefte ken (v.40). Jesus het liggaamlik, verstandelik en geestelik gegroei (v.40). Hy het wyser geword (v.40) deur die Woord, gebed, en deur wat sy wat ouers Hom geleer het. God se genade en guns was op Hom (v.40). Ek sal later meer hieroor sê.

2. Jesus die 12-jarige (v.41-51)

Toe ek 12 was, het my maatjie my na hulle kerk se biduur toe genooi. Die mense het in ’n kring gesit. Ek moes tweede bid. Toe almal klaar gebid het, was ek vas aan die slaap. Ek het wakker geword en was alleen in die kerk. Almal het buite gestaan en tee drink.

Toe ek 12 was, het ek en hierdie vriend ons Bybels en toebroodjies gevat en op die gholfbaan gaan sit en lees. Toe ek 12 was het ek en dieselfde vriend stry gekry. Ons het besluit om nie meer vriende te wees nie. Dit was ’n moeilike tyd vir ’n 12-jarige. Na ’n redelike geworstel, het ons dinge opgeklaar.

Toe ek 12 was, toe sê ek vir ’n klomp kinders dat ek hulle vir die pretloop sou borg. Ek het dit gedoen om mense se guns te wen en aanvaar te word. Ek sou al my spaargeld moes trek om my belofte na te kom. Toe my ma daarvan hoor, toe bel sy my Afrikaanse onderwyseres. ‘My kind het te gou gepraat. Hy kan nie al hierdie kinders borg nie en ons ook nie,’ het sy gesê. Die onderwyseres het verstaan, maar ek het my doodgeskaam.

Soos die meeste 12-jariges het ek enkele goeie begeertes gehad, maar baie meer sonde gedoen. Ek wonder hoe dit moet wees om sondeloos te wees as jy 12 is. Hoe moet die ouers van so ’n kind voel? Josef en Maria is die enigste ouers in die wêreld wat weet hoe dit voel. Lukas beskryf hier ’n insident wat gebeur het toe Jesus 12 was. Volgens die wet en uit oudergewoonte het Josef, Maria en Jesus Jerusalem toe gegaan vir die Pasga (v.41, Eks. 23:14-17). Hulle het gegaan om God se verlossing van die Israeliete uit Egipte te herdenk (Eks. 12:1-28). Min het hulle besef dat Jesus die Fees meer as 18 jaar later sou vervul toe Hý as Paaslam in ons plek gesterf het, sodat ons nie vir ons eie sonde hoef te sterf nie (Joh. 1:29, 1Kor. 5:7).

Nou het Jesus egter as 12-jarige in die tempel gesit. Op 13 sou Hy ten volle lid van die sinagoge word,4 maar hier het Hy alreeds meer as enige van die Rabbi’s geweet. Hy was slimmer as die intelligentste mens wat nog ooit geleef het, of sal leef (Matt. 12:42). Dit is nie net omdat Hy God is nie, maar selfs as mens het nog niemand ’n hoër IK as Hy gehad nie. Ons verstand is deur die sondeval beïnvloed, terwyl Jesus ’n sondelose natuur en daarom ook ’n perfekte verstand gehad het.

***

Toe die Fees na 8 dae verby is, toe vertrek Josef en Maria om na Nasaret toe terug te keer (v.43, Lev. 23:5-6). Hulle het nie besef dat Jesus alleen in Jersualem agtergebly het nie (v.43). Omdat die mans en vroue in verskillende groepe gereis het,5 het Maria gedink dat Jesus by Josef is, terwyl hy gedink het Jesus is by haar (v.44). Of dalk het hulle gedink dat Hy by hulle huisvriende, of familie is (v.44).

Eers toe die son ondergaan en elke gesin in hulle eie tent moes slaap, toe kom hulle agter dat Hy nie daar is nie (v.44). Hy was reeds vir ’n volle dag weg (v.44). Hulle het oral na Hom gesoek, maar kon Hom nêrens kry nie (v.44-45). Hulle moes vir ’n hele dag terugreis Jerusalem toe. Eers op die derde dag, toe kry hulle Hom in die tempel (v.45-46). Kan jy dink hoe jy as ’n ouer moet voel as jou kind vir 3 dae weg is?

Jesus het gedoen wat reg is en na ’n veilige plek gegaan waar Hy geweet het sy ouers na Hom sal soek. Hy het tussen die Rabbi’s gesit, na hulle lering geluister, en diep vrae oor die Skrif gevra (v.46-47). Hulle het meer uit sy vrae geleer as wat Hy uit hulle antwoorde geleer het (v.47). Sy insig, kennis, en wysheid het hulle verbaas (v.47, 40). Hy het van kleins af die Skrif geken, sodat Ps. 1:2, 119:97-100 waar was van Hom, meer as van enigiemand anders: “...sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag... Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.”

Sy kennis het selfs sy ouers verbaas (v.48). Hulle het nie geweet dat hierdie oomblik in die tempel ’n voorskou was van sy toekomstige bediening waar Hy mense vir 3 jaar uit die Woord sou leer nie (Luk. 4:43). Ongelukkig het Maria se verbasing gou verdwyn en plek gemaak vir angs. ‘Jou stiefpa en ek het oral na jou gesoek! Ons was baie bekommerd! Hoekom het jy dit aan ons gedoen?’ het sy gevra (v.48).

Jesus was verbaas dat hulle Hom gesoek het. Na dit wat die engele, herders, en Simeon van Hom gesê het, moes hulle tog geweet het dat Hy in die tempel sou wees (v.49, 11, 14, 16-29, 29-35). Dus het die fout by húlle gelê en nie by Hóm nie. Hulle het tog geweet dat Hy die Seun van God is; Immanuel, God met ons (Luk. 1:35, Matt. 1:23). Dan móés en wóú Hy mos in sy Vader se huis wees (v.49). Josef en Maria moes verstaan het dat God sy Vader is, terwyl Josef maar net sy aardse voog was (v.48-49).

Maar hulle het nie verstaan nie (v.50). Hoe kan iemand mens wees, terwyl Hy God sy Vader noem en self ook God is? Wat het Jesus bedoel? Maar selfs al het hulle nie mooi geweet wat Hy bedoel nie, het Maria oor sy woorde bly nadink (v.51, 19). Jesus self het geweet dat sy Godheid nie beteken Hy kan disrespekvol wees met sy ouers nie. Daarom het Hy Hom aan hulle onderwerp (v.51). Dit het Hy nie bloot gedoen as ’n voorbeeld vir kinders om hulle ouers en selfs hulle stiefouers te gehoorsaam nie. Daar was meer as dit.

Kom ek verduidelik dit so: Praat jy disrespekvol met jou ouers? Rol jy jou oë as hulle jou ’n opdrag gee? Daag jy hulle gesag uit? Sê jy vir jou stiefpa: ‘Jy is nie my pa nie; jy kan nie vir my sê wat ek moet doen nie?’ Doen jy wat jý wil en nie wat jou ouers sê nie. Is jy rebels en opstandig?

God het jou ouers oor jou aangestel. As jy dus opstandig teen hulle is, is dit omdat jy opstandig is teen God. Dit is sý gesag waarteen jy skop. En sal jy teen die Here armdruk en wen? Die Here neem dit baie ernstig op as jy jou ouers se gesag uitdaag. In beide die Ou- en Nuwe Testamente het die Here gesê dat jy nie lank sal lewe as jy dit doen nie (Eks. 20:12, Spr. 20:20, 30:17, Matt. 15:4, Ef. 6:2-3). Wat moet ons dan doen, aangesien niemand van ons God hierin gehoorsaam soos ons moet nie?

Dit is waar Jesus inkom. Hy het sy ouers perfek gehoorsaam (v.51, 1Pet. 2:22). As jy Hom deur die geloof as jou Verlosser ontvang, sal God jou nie vir jou sonde straf nie. Hy sal Jesus se dood aanvaar, asof jy vir jou eie sonde betaal het. Hy sal Jesus se lewe aanvaar, asof jy jou ouers en die hele wet perfek gehoorsaam het. Daarna sal Hy sy Gees in jou binneste gee om jou soos Jesus te maak, sodat jy jou ouers eer en gehoorsaam (Ef. 5:18, 6:1-3).

3. Jesus die jongmens (v.52)

Volgens die wêreld gaan elke tiener deur ’n rebelse fase, maar volgens die Bybel hoef dit nie so te wees nie. Jesus het onder meer gekom om te wys dat jongmense nie net wyser en sterker hoef te word nie, maar dat hulle al hoe meer van God se guns kan geniet (v.40, 52). Voorgenoemde verwys natuurlik na Jesus se menslike natuur, omdat Hy as God nog altyd die Vader se guns gehad het (Spr. 8:30, Joh. 17:5).

Wil jy as jongmens God se guns hê? Soek jy aanvaarding en liefde? Wil jy behoort en deel wees van ’n familie? Wil jy hê dat God nie kwaad vir jou moet wees nie, maar dat Hy oor jou moet glimlag? Wil jy hê Hy moet jou sondes vergewe en jou gewete skoon was? Glo dan in Jesus, sodat God jóú nie meer raaksien nie, maar sy Seun (Luk. 2:14, Heb. 11:6). Dan sal die voorregte wat ek sopas genoem het, joune wees.

Is jy ’n ouer gelowige wat nog geestelik onvolwasse is? Vra die Heilige Gees om Jesus se ywer in jou hart te plant, sodat jy soos Hy kan groei en God se guns kan geniet (v.40, 52). Gebruik die middele wat Hy jou gegee het om te groei: die Woord, die gemeenskap van die gelowiges, die nagmaal, en gebed (Hand. 2:42). Sodoende sal jy nie net Gód se guns geniet nie, maar sal jy ménse vir Hom wen en hulle positief beïnvloed (v.52, 1Sam. 2:26, Spr. 3:3-4). Die orde is belangrik: éérs God se guns, dan mense s’n. As jy dit andersom het, sal jy ’n ‘people pleaser’ word en God se guns verbeur. En wat wil jy eerder hê as jy op die oordeelsdag voor die hemelse Regter staan: mense se guns, of God s’n?

Om ’n jongmens soos Jesus te wees, of selfs net ’n kind van God oor die algemeen, moet jy begeer om God te behaag eerder as mense. Jy moet soos ’n salm in Alaska wees wat teen die stroom op swem. So sal jy uiteindelik veilig in die hemel wees waar jy vir ewig en volmaak jonk en wys sal wees, en waar jy die guns van God en mense sal geniet.


1  Jan van der Watt & Francois Tolmie, Apokriewe Ou en Nuwe Testament (Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2005), 467-76

2  Vry vertaal uit Gregory Nazianzen, Letters on the Apollinarian Contoversy: To Cledonius the Priest Against Apollinarius (Ep. Cl.). Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/3103a.htm

3  Sien Ireneus, Against Heresies, Book II, ch. 22, par. 4. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0103222.htm

4  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 108

5  Ibid.

Kategorieë