Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 5:27-32

Enige kind sal ongelukkig wees as sy, of haar pa net vir een van hulle ’n roomys koop. Party mense dink die Here is so as net party mense vir die Koninkryk kwalifiseer. Daarom oortuig hulle hulleself dat dit vir almal is. Maar volgens die Bybel is die Koninkryk nie vir almal nie:

“Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3).1

“Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.” (Matt. 5:20).

“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.” (Matt. 7:21).

“…as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” (Matt. 18:3).

“Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” (Matt. 19:14).

“Jesus het toe vir sy dissipels gesê: ‘Amen, Ek sê vir julle: ’n Ryke sal moeilik in die koninkryk van die hemele ingaan. Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.’” (Matt. 19:23-24).

“…die tollenaars en prostitute sal voor julle in die koninkryk van God ingaan.” (Matt. 21:31).

 “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer.” (Matt. 21:43).

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilofsfees vir sy seun voorberei het… Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ’n man sonder ’n bruilofskleed aan. En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Toe sê die koning vir die dienaars, ‘Bind sy voete en hande vas en gooi hom uit in die duisternis daarbuite.’ Daar sal ’n geween en ’n gekners van tande wees.” (Matt. 22:2, 11-13).

“Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” (Luk. 9:62).

“Beywer julle om by die smal deur in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie. As die huisbaas eers opgestaan en die deur gaan sluit het, en julle staan buite en klop aan die deur en roep, ‘Meneer, maak vir ons oop!’ sal hy julle antwoord, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ Dan sal julle begin sê, ‘Ons het saam met u geëet en gedrink, en u het in ons strate onderrig gegee.’ Maar hy sal vir julle sê, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle almal wat onreg pleeg. Daar sal ’n geween wees en ’n gekners van tande wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sien, maar julle uitgewerp word na buite. Mense sal uit die ooste en die weste, die noorde en die suide kom aanleun om te eet in die koninkryk van God.” (Luk. 13:24-29).

“Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie… As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.’” (Joh. 3:3, 5).

“Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.” (1Kor. 6:9-10).

“Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge—waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.” (Gal. 5:19-21).

“Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard—so iemand is ’n afgodedienaar—het ’n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (Ef. 5:5).

“julle [moet] die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun” (Kol. 1:12-13). 

Luk. 5:27-32 ondersteun hierdie verse.

 

1. Matteus se roeping (v.27-28)

Onthou jy hoe Suid-Afrikaners in opstand was oor e-tol? Baie mense het gevoel dat die regering ons reeds met die hoë brandpryse belas, asook dat hulle nie die nodige dienste (elektrisiteit, water en ordentlike paaie) lewer nie.

           Die Jode het so gevoel oor die tollenaars (18:9-11, Matt. 5:46-47, 18:17), omdat laasgenoemde vir die Romeine gewerk het. Buiten dat hulle die volk se geld vir die keiser (20:22) en koning Herodes gegee het,2 het hulle meer gevra as wat hulle moes, omdat hulle hulleself wou verryk (3:12-13, 19:2, 8).

           Dit is presies die soort karakter met wie ons in v.27 te doen het. Sy naam was Levi, of Matteus die seun van Alfeus (v.27, Matt. 9:9, 10:3, Mark. 2:14). Terwyl hy in Kapernaum by die tolhuis gesit het, het Jesus verby hom na die See van Galilea toe gestap (v.27, Mark. 2:1, 13). Toe Jesus hom sien, toe sê Hy: “Volg My!” (v.27). Daar lê ’n hele stuk teologie in hierdie twee woorde opgesluit:

[a] Jesus het jóú gekies voordat jy Hóm gekies het (v.27-28, 19:3, 9-10, Joh. 6:65, 15:16, Hand. 13:48, Ef. 1:4-5, 13).

[b] Jy het Jesus gekies, omdat Hy jou na Homself toe getrek het (Joh. 6:44). Ek bedoel nie dat Hy jou gedwing het om in Hom te glo nie, maar dat Hy jou hart oopgemaak het om die evangelie te verstaan en jou in staat gestel het om Hom te volg (Hand. 16:14, Fil. 2:12-13).

[c] As ’n ongelowige die evangelie hoor, hoor hy ’n mens se stem. Maar as die Here hom red, hoor hy God se stem wat hom tot nuwe lewe roep (Ef. 2:1, 5, Tit. 3:5, Jak. 1:18, 1Pet. 2:9). Waar dít gebeur, kan en wil hy nie anders as om Jesus te volg nie (v.28). In teologie noem ons dit onweerstaanbare genade [Eng. irresistable grace]. Dit is soos ’n lentebloeisels wat outomaties oopgaan wanneer die seisoen aanbreek. Dit is nie dat iemand die bloeisel oop forseer nie, maar omdat dit lewe, kan dit nie anders as om oop te gaan nie.

Die les is dat jy geheel en al van Jesus afhanklik is om jou te red. Sonder sy werk binne jou, sal jy Hom nooit kies nie. Waar Hy egter in jou hart werk, sal jy Hom nie kan, of wil weerstaan nie, maar sal jy Hom volg.

Bid dit vir jou ongeredde geliefdes en vra die Here om hulle oë te open om Jesus se onweerstaanbare skoonheid te sien, sodat hulle hulle lewens aan Hom sal wy en sy dissipels sal word. As hulle Jesus se heerlikheid sien, sal geld, plesier, en vriende hulle nie meer terughou om Hom te volg nie. Hulle sal alles los om Hom te volg (v.11, 28, 14:26, 33), omdat sy waarde alles oortref. Hulle sal besef dat hulle buitendien hulle BMW’s, huise, en beleggings gaan verloor as hulle sterf (9:24-25, 18:22-24, Matt. 13:44-46).

As jy dan nog nie ’n dissipel van Jesus is nie, wil ek jou vra: sal jy hierdie tydelike skatte prysgee om die ewige skat te verkry? Sal jy Jesus volg as Hy jou vandag by die naam roep en sê: ‘Gert, Sumari, Fred, Craig, Wikus, Melanie, René… volg My’?

 

2. Die Fariseërs se reaksie (v.29-30)

Dr. Seuss se karakter, the Grinch, is ’n misrabele skepsel. Vir hom is dit nie genoeg dat hy misrabel is nie, maar hy wil almal saam met hom misrabel maak. Daarom het hy besluit om Kersfees te steel.

           Die Fariseërs was so en was ontevrede toe Jesus sondaars red. Lukas gee vir ons ’n voorbeeld. Toe Jesus vir Matteus red en hom roep om sy dissipel te wees, het hy ’n spesiale feesmaal vir Jesus gehou (v.29). Dit is asof hy nie kon glo dat Jesus hom gered, geroep, en gekies het nie. Eintlik is dit dieselfde vir enige Christen, sodat ons vol dankbaarheid is as die Here ons kom red het. Dit is ook hoekom ons lofliede sing en wil hê dat ander saam met ons die Here moet ken en Hom moet loof. Dit is soos as jy die beste restaurant ontdek het, of as jy ’n asemrowende natuurtoneel sien: jou blydskap is eers volkome as jy dit met iemand deel. En dit is vir hierdie rede wat Matteus sy tollenaar- en sondaar vriende na die fees toe genooi het. Hy het geweet dat hulle verlore is en wou hê dat hulle vir Jesus moet ontmoet, sodat ook húlle die vreugde van sy verlossing kon smaak (v.29, Matt. 9:10). Volgens oorlewering het Matteus nog baie ander mense in Egipte en Etiopië vir die Here bereik. Hy het dit met soveel toewyding en passie gedoen dat dit hom op die einde sy lewe gekos het toe koning Hircanus hom met ’n spies deurboor het.3

       En sal ons nie die evangelie met ander deel en hulle kerk toe nooi om die Vriend van sondaars te ontmoet nie (v.29, 7:34, Hand. 10:24)? J.C. Ryle het gesê: ‘A converted man will not wish to go to heaven alone.’4 Ongelukkig sal die duiwel nie hiermee tevrede wees nie. Hy sal veral godsdienstige mense aanhits om jou ywer te demp. Dit is die soort mense wat ‘onreines’ vermy en hulle selfs wegwys as hulle ’n erediens wil bywoon: ‘Hierdie is óns kerk! Ons wil nie moeilikheidmakers hier hê nie!’     

           Ek is nie bewus van iemand in ons gemeente wat dit sê nie, maar is daar mense met wie jy nog nooit gepraat het nie; mense wat jy alleen by tee laat staan, omdat hulle nie soos jy lyk nie (v.30, 15:1-2, 19:8)? Omdat hulle nie jou ‘tipe’ is nie, kom hulle name nie eers in jou gedagte op wanneer jy mense vir ete nooi nie (kontra 14:12-14). Jy weet ook dat party van jou vriende ongemaklik sal voel en sal wegbly as jy sekere ‘karakters’ na jou huis toe nooi.

           Maar as jy onthou dat jy self ook verlore was, sal jy nie dink jy is beter as hierdie mense nie (v.30). Jy sal die wêreld nie in goeie en slegte mense verdeel nie, maar in sondaars wat uit genade gered is en dié wat nog die evangelie moet hoor. En as jy dinge in hierdie lig beskou, sal jy nie sogenaamde washouts vermy nie (v.30). Jy sal eerder die evangelie met hulle deel en sê: ‘As die Here mý kon red, kan Hy húlle ook red.’

 

3. Jesus se antwoord (v.31-32)

Nick het blaaskanker. Hy kan voel alles is nie reg nie, maar omdat hy geen pyn het nie, besoek hy nie die dokter nie. Uiteindelik raak dinge erger en sterf hy.

            As dit by geestelike dinge kom, is daar baie mense soos Nick. Hulle besef nie hoe sondig hulle is nie, maar dink dat hulle geestelik gesond is. Gevolglik maak hulle staat op hulle goeie werke, of hulle godsdiens en besoek hulle nie die Hemelse Dokter nie.

            Dit is presies die punt wat Jesus in v.31-32 wil maak: ‘Totdat jy nie besef jy is verlore nie, sal jy nie vir Jesus vra om jou te red nie en kwalifiseer jy nie vir die Koninkryk nie.’ In C.S. Lewis se woorde: ‘Christianity tells people to repent and promises them forgiveness. It has nothing (as far as I know) to say to people who do not know they have done anything to repent of and who do not feel that they need forgiveness.’5

       Moet jouself dus nie aan prostitute, rowers, en verslaafdes meet en dink jy is ‘okay’ nie. Meet jouself aan God se standaard in Matt. 5:21-30 (bitterheid is moord; wellus is egbreuk) en kyk of jy die toets slaag. Sê ook vir jouself dat jy slegter as ’n prostituut is, omdat sy ten minste wéét sy is sleg. Jý, daarenteen, sit reg onder die kansel en weet nie dat jy verlore is nie.

            Baie Afrikaners is so: as jy hulle oor hulle redding vra, sal hulle erken hulle is nie perfek nie. Maar soos húlle dit sien, sal die Here hulle aanvaar, solank hulle net hulle beste gee. Jesus en sy kruisdood skitter in hulle afwesigheid. Dit word nie eers genoem nie en ás hulle per ongeluk daarvan praat, is dit in die verbygaan. Vir die grootste gedeelte gaan dit vir hulle oor hulle eie goedheid. Dit gaan oor wat hulle vir die Here doen eerder as oor wat Hy deur sy lewe, kruisdood, en opstanding vir óns kom doen het.

            Kan jy sien hoe die vals gelowige die eer tussen homself en die Here verdeel? Die ware gelowige weet hy kon niks doen om homself te red nie en gee daarom die eer aan Jesus alleen. Omdat die vals gelowige selfgeregverdig is en dink hy kon iets bydra tot sy redding, het hy nie ’n hart vol dankbaarheid as dit by die nagmaal kom nie. Wanneer hy oor die kruis sing, is dit die wysie, of die musiek wat hom beweeg eerder as die woorde. Hy praat ook nie met ander mense oor die kruis nie. Hoekom sal hy as dit nie iets vir hom beteken nie? Hy roem nie soos Paulus in die kruis nie (Gal. 6:14), maar in wat hy vir die kerk doen, of in sy skoon lewe, sy sendinguitreik van 20 jaar gelede, in die feit dat hy ouderling was, ensovoorts.

            As jý so is, moet jy ’n geestelike CT scan kry, sodat jy kan sien dat jy nie reguit op pad hemel toe is soos jy gedink het nie. Dalk dink jy so, omdat jy uiterlik reg lewe. Maar volgens wie se standaard? Hoe meet jy op teen God se standaard?

“Ons almal het geword soos iets wat onrein is, soos ’n besoedelde kledingstuk is al ons geregtighede.” (Jes. 64:6).

“Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48).

“Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder ‘n vloek, want daar staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.’” (Gal. 3:10).

Hoe vaar jy as jy jouself teen die Tien Gebooie meet? Dalk is jy soos die ryk jong man en sê jy dat jy die wet nakom. Maar wat van jou gedagtes en begeertes? Is daar onvergewensgesindheid, bitterheid, wellus, gierigheid, ondankbaarheid, jaloesie, geïrriteerdheid, woede, hoogmoed, ongeduld, selfsug, en ’n kritiese gesindheid? Hou dan op om jouself te regverdig. Jy wéét jy is skuldig en het teen die Here gesondig. Erken dit net en kom na die Hemelse Dokter toe, sodat jy genees kan word. Totdat jy dit nie doen nie, kan jy nie gered word nie. As jy dit egter doen, sal die Vader sy Seun se lewe en kruisdood in jou plek aanvaar. Hy sal jou nie meer as ’n skuldige sondaar beskou nie, maar as iemand wat deur Jesus se volmaakte rekord voor Hom staan (2Kor. 5:21, Fil. 3:9).

            Het jy miskien vandag met ’n skok agtergekom jy is nie gered nie, al het jy vir jare so gedink? Dank die Here vir sy genade dat Hy dit aan jou geopenbaar het. Jy was soos ’n blinde man wat rustig in die veld geloop het en nie besef het jy is op pad na ’n afgrond nie. Sê vir die Here dankie dat Hy jou uit jou slaap kom wakker skud het, sodat jy kan sien jy is verlore en sodat jy nie naïef sal bly en dink jy is op pad hemel toe nie.

            Vandag se boodskap is nodig, sodat jy jou tot die Here kan bekeer. As jy dit doen, sal Hy jou sonde vergewe en jou red. Dit is hoekom Hy gekom het (v.32, 24:47, Hand. 2:38, 5:31).

***

So, godsdienstige persoon wat op jou goeie werke staatmaak: hoor jy sy roepstem? Gelowige wat weggedwaal het: hoor jy sy roepstem? Kinders en jongmense wat in ’n Christelike huis grootwoord en die antwoorde ken, maar nog in jou sonde lewe: hoor jy sy roepstem? Sondaar wat vasgevang is in ’n net van verslawing: hoor jy sy roepstem? Misleide peroon wat dink jy is gered, omdat jy jou hart vir die Here gegee het sonder dat jou lewe verander het: hoor jy sy roepstem? Gelowige wat deur die wêreld verlei word: hoor jy sy roepstem? Gelowige wat op die regte pad loop, maar moeg geword het: hoor jy sy roepstem?

            Kom na Hom toe en moenie na predikers luister wat sê: ‘Jesus aanvaar jou net soos jy is’ nie. Vra die Here om jou te verander.

Come, ye sinners, poor, and needy,
Weak and wounded, sick and sore,
Jesus ready stands to save you,
Full of pity, love, and power.
He is able, He is able;
He is willing: doubt no more.

Come ye weary, heavy laden,
Lost and ruined by the Fall;
If you tarry till you’re better,
You will never come at all.
Not the righteous, not the righteous,
Sinners, Jesus came to call.

—Joseph Hart (1711-1768)


1  Aanhalings kom uit die 2020 Vertaling.

2  https://www.internationalstandardbible.com/T/tax-taxing.html

3  John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs (New Kensington, PA: Whitaker House, 1981), 9

4  J.C. Ryle, Luke: Vol. 1—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 115

5  C.S. Lewis, Mere Christianity: Fiftieth Anniversary Edition (New York: HarperCollinsPublishers, 2002 [1942]), 31