Kruisgesentreerde Christenskap

Galasiërs 6:11-18

’n Mens sou dink dit is onnodig om te sê, omdat Christenskap per definisie op Jesus se kruisdood vir ons sonde fokus. Om dus van kruisgesentreerde Christenskap te praat is oorbodig, byna soos as iemand ‘weer herhaal’, of ‘dood verongeluk’ sê (herhaal beteken om ‘weer te doen’, terwyl verongeluk beteken dat die persoon dood is).

Tog wíl ek sê dat ons van ’n kruisgesentreerde Christenskap móét praat, omdat baie van dit wat vir Christenskap deurgaan, nié kruisgesentreerd is nie. Ek bedoel nie net die kultusse, of die Katoliekekerk wat in werke roem meer as in die kruis nie. Ek verwys eerder na die hele trant van moderne Christenskap. Ons sien dit in populêre preke wat gaan oor hoe jy ’n beter jý kan wees en jou volle potensiaal kan bereik. En wat dit die ergste maak, is dat jy dit blykbaar sonder die kruis kan bereik.

Topverkoper Christelike boeke vaar nie veel beter nie, omdat dit gewoonlik mensgesentreerd is en nie oor Jesus, of sy kruisdood handel nie. Om hierdie rede is dit nie oorbodig nie maar nodig dat ons van ’n kruisgesentreerde Christenskap praat. Hoe lyk hierdie Christenskap?

 

1. Dit roem nie in homself nie (v.11-13)

’n Jehova’s Getuie het buite my huis geroem dat alle Getuies oor die wêreld op ’n gegewe Sondag dieselfde lering ontvang.

     Ek het ’n Mormoon gehoor roem dat hulle naas die Katoliekekerk die rykste geloof op aarde is.

     ’n Man uit ’n Prosperity gemeente in Nelspruit het oor sy materiële voorspoed geroem. ‘Man, I am blessed! O, I am so blessed!’ het hy herhaaldelik gesê.

         Iemand anders uit die Prosperity geloof het voor my geroem oor hoe baie bedieninge hulle het, asook in die feit dat hulle na ‘excellence’ strewe.

         Maar dit is vals gelowiges wat in die vlees roem. Om so te roem is nie ’n kenmerk van Bybelse Christenskap nie. Vir Paulus was hierdie punt so belangrik dat hy dit met groot letters geskryf het (v.11). Dit is asof hy die ware evangelie wou onderstreep in teenstelling met die Judaïste se ‘evangelie’ van redding deur wetsonderhouding en rituele.     Dit mag ook wees dat hy groot letters gebruik het, omdat sy oë swak was (4:13-15). In daardie geval het hy bedoel: ‘Nie eers my swak sig sal keer dat ek ’n brief skryf om julle teen die vals evangelie te beskerm en die ware evangelie by julle in te prent nie.’ Juis daarom het Paulus ook met sy eie hand geskryf eerder as deur ’n sekretaris waar hy slegs die brief onderteken het (Rom. 16:22, 1Kor. 16:21, Kol. 4:18). Hy wou hê die Galasiërs moes weet dat hierdie brief regtig van hom af kom eerder as van iemand anders wat homself as Paulus voordoen (2Tess. 2:2, 3:17). Die Christene in Galasië moes eenvoudig verstaan dat Paulus nog dieselfde evangelie van redding deur Jesus se kruisdood verkondig het. Anders as die Judaïste het Paulus nie die besnydenis, voedselwette, Ou Testament Feeste en die Sewendedag Sabbat by sy evangelie gevoeg nie. Volgens hom was nie een van hierdie dinge ’n vereiste om gered te word nie (2:11-14, 4:10, 5:2). Geloof in Jesus was genoeg, omdat Jesus genoeg is (2:16).

         Die Judaïste het dit nie erken nie en daarom het hulle die besnydenis op ander afgedwing (v.12). Solank die Galasiërs uiterlik besny is, het hulle nie omgegee of hulle innerlik verander nie (v.15, 5:22-23). Sodoende kon die Judaïste roem oor wie die meeste dissipels het (v.12-13, 4:17). Duidelik het hulle nie die Here geprys dat Hy sondaars red nie, maar het hulle in hulle groot kerke en suksesvolle bedienings geroem. Hulle was soos die leraar wat jare gelede vir wyle Martin Holdt gesê het:

‘Hoeveel lidmate het julle?

‘Twee honderd.’

‘O, ons het twee duisend!’

Of hulle was soos die man wat vir my vriend gesê het:

‘Hoeveel studente is by julle Bybelskool?’

‘Ons het tien studente.’

‘Ha! Ons het vier honderd!’

Mag die Here ons hierteen bewaar, veral omdat ons gemeente groei. As ons in getalle roem, sal ons die evangelie begin versag en dit aanpas om meer mense te trek. Uiteindelik sal ons nie meer die boodskap van die kruis verkondig nie, omdat dit nie baie mense trek nie, maar hulle afsit. Die kruis gee immer vir mense aanstoot (1Kor. 1:23). Volgens die Romeine was die kruis vir misdadigers bedoel, terwyl die Jode dit as ’n vervloeking beskou het (3:13, Deut. 21:22-23). En hoe kan ’n vervloekte misdadiger iemand red?

Jesus se vervloekte kruisdood in ons plek impliseer ook dat óns sleg is en dat óns dié is wat verdien om vervloek te word. Dit sou beteken dat ons beste werke nie aanvaarbaar is voor ’n heilige God nie (Jes. 64:6, Fil. 3:4-8).

Kan jy sien hoe die kruis mense se ego wond? Is dit dan enige wonder dat hulle die kruis haat en ’n godsdiens soek waar mense se goeie werke hulle ekstra punte in die sak kan bring? Omdat die Judaïste dit geweet het, het hulle tot mense se selfgeregtigheid en hoogmoed geappélleer. ‘Jy kán tot jou redding bydra,’ het hulle gesê. ‘As jy net jou beste doen om die wet van Moses na te kom, sal jy gered word.’

Maar besef jy hoe gevaarlik dit is, want as jy deur die wet gered wil word, moet jy die héle wet nakom (5:3). As jy selfs net een foutjie maak, het jy die wet gebreek, is jy onder die vloek en gaan jy hel toe (3:10, Deut. 27:26, Jak. 2:10). Hoe kan enigiemand dan ooit vrykom? Deur Jesus wat die wet perfek in ons plek nagekom het en in ons plek vervloek is aan die kruis (3:13, 2Kor. 5:21).

Het jy die Vader al vertrou om Jesus se lewe en dood in jou plek te aanvaar? Of is jy bang om jou met Jesus te vereenselwig, omdat jy vrees wat mense sal sê?

Die Judaïste was so en daarom het hulle die besnydenis eerder as die kruis verkondig. Hiervoor sou die Jode hulle nie vervolg nie (v.12, 5:11), aangesien hulle nog die wette en tradies van hulle vaders gevolg het. Hulle boodskap van redding deur besnydenis sou ook die Romeine tevrede hou, omdat Judaïsme ’n erkende godsdiens in die Romeinse Ryk was.

Maar as hulle die kruis verkondig het, sou die Romeine hulle vervolg het. Vir die Romeine was dit geen geringe saak as iemand teen die keiser in opstand gekom het en Homself ’n koning genoem het nie (Matt. 27:37, Joh. 18:33, 36). Dus het hulle dit ook nie ligtelik opgeneem toe Paulus ander aangemoedig het om in hierdie ‘misdadiger’ te glo nie (Hand. 17:7).

Kan jy sien hoekom die Judaïste draaie om die boodskap van die kruis geloop het? Hulle wou hulle basvelle eie red. Hulle het nie omgegee of die Galasiërs gered word, of nie—solank húlle net baie dissipels gehad het en nie vir hulle geloof vervolg hoef te word nie (v.12).

Dit was nog altyd die geval met vals leraars. Hulle dat hulle vir jou siel omgee, maar eintlik gaan dit oor wat húlle uit die ‘deal’ kan kry: geld, mense se guns, of vroumense. In die vals leraar se kop werk verlossing soos ’n piramied-skema. Hy staan bo en jy is onder hom. Hoe meer mense hy onder hom het, hoe beter die kans dat God gunstig oor hom sal wees. Vir die vals leraar gaan dit dus oor homself en nie oor jou geestelike welstand nie (v.12).

Die storie van ’n Jehova’s Getuie in Phalaborwa illustreer dit. Toe hy eendag by ’n Christen se huis aanklop, toe vra die Christen hom: ‘Kan ek jou ’n vraag vra en sal jy my asseblief eerlik antwoord? Is jy hier omdat jy vir my siel omgee, of omdat jy besorg is oor jou eie siel? Wil jy hê ék moet gered word, of werk jy vir jou eie redding?’ Die Getuie se antwoord was te verwagte: ‘Ek is hier omdat ek vir my eie redding moet werk.’

***

Vals godsdienste is ook selfsugtig. As jy moes weet hoe die vals leraar leef, sou dit jou van sy boodskap afsit. Die vals leraar jy sal hemel toe gaan as jy die wet onderhou, maar self doen hy dit nie (v.13). Hy sondig elke dag in sy gedagtes, sy woorde, en sy optrede. Hy is vol sondige begeertes. As iemand die landswet moes oortree soveel soos hy die Bybel oortree, sou hy lewenslank in die tronk moes bly. Die vals leraar dink egter dat God sy sonde moet vergewe en maak of Hy dit nie sien nie. Hy haat dit as ’n korrupte regsisteem dit doen, maar nou verwag hy van die Here om dit te doen.

Maar die Here sal dit doen nie. Die enigste manier wat Hy ons sonde sal oorsien, is deur die kruis. Alleen deur die kruis kan God ons wettiglik vryspreek en vergewe, omdat Jesus die prys vir ons sonde betaal het. Jou plig is om jou te bekeer en in Jesus te glo.

 

2. Dit roem in die kruis (v.14-18)

Die kruis is ’n simbool van teregstelling. Hoekom hang ons dit dan op in ons kerke, of om ons nekke en sing ons daarvan? Hoekom roem ons met ander woorde in die kruis? Ons roem tog nie ’n elektriese stoel, ’n galg, of ’n dodelike inspuiting nie. Ons gebruik dit nie as juwele nie en ons sing nie daarvan nie.

              Maar met die kruis is dit anders. Die rede hoekom ons daarin roem, is omdat Jesus ons daar van ons sonde gered het (v.14-18, 1Kor. 1:31, 2:2).

              Roem jý in die kruis? Praat jy groot van wat Jesus vir jou gedoen het, of roem jy eerder in wat jy vir Hom doen? Ek onthou hoe iemand in sy redding geroem het, omdat hy blykbaar jare gelede vir die Xhosas gepreek het. Hy het ook in sy gebede geroem en vertel hoe hy vir siek mense gebid het en hulle dadelik gesond geword het. ’n Ander man het oor sy redding geroem deur te sê dat hy vir jare ’n ouderling was. Party mense roem in die doop en sê dat dominee so-en-so hulle gedoop het. Ander sal sê dat hulle al vir drie, of vier geslagte lank Baptiste, Doppers, of iets anders is.

              Maar die Here stel nie daarin belang nie: “So sê die Here: ‘’n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, ’n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en ’n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.’ Dit is die uitspraak van die Here.” (Jer. 9:23-24).1

              Die Vader roem in sy Seun (Matt. 3:17) en jy moet ook (v.14). Maak ’n punt daarvan om Hom daagliks vir jou redding te prys. Roem ook in Jesus as jy jou getuienis deel. Moenie net praat van hoe sleg jy was en wat jy alles gedoen het nie, maar roem in wat Jesus gedoen het. Roem in Hom by die nagmaal. Moenie toevallig by ’n nagmaaldiens opdaag nie, maar beplan om Jesus se kruisdood daardeur te herdenk. Gebruik die geleentheid om jou sonde te bely. Doen dit in geloof dat die Here jou sal vergewe, omdat Jesus die prys ten volle betaal het (1Joh. 1:7, 9).

              Moenie so gewoond raak aan die kruis dat dit jou nie meer raak nie. Lees ’n goeie boek oor die kruis (soos The Murder of Jesus deur John MacArthur). Peins oor die kruis. Luister ’n goeie preek daaroor (byvoorbeeld The Cup deur C.J. Mahaney). Sing lofliede oor die kruis.

              Vra jouself dan wat die kruis vir jou beteken. Is jou ou sondige natuur al saam met Jesus gekruisig, sodat jy aan jouself gesterf het (2:20, 5:24). Of is jy nog selfgesentreerd en selfsugtig? En wat van die wêreld: het dit sy aantrekkingskrag oor jou lewe verloor (v.14, 1:4)? Of leef jy om die maksimum hoeveelheid skatte en plesier uit hierdie wêreld te kry? Lewe jy met ander woorde asof hierdie wêreld al is wat bestaan, sonder enige gedagte aan ’n ewigheid saam met Christus (v.14)?

         Hoe sien jy Christenskap? Sien jy dit as ’n ritueel wat jy deurmaak, of as ’n nuwe lewe in Jesus? Volgens v.15 gee die Here nie om of jy uiterlik godsdienstig is nie. Wat saakmaak is die innerlike. Moet jou daarom nie teen jou doopsertifikaat blindstaar, of in die feit dat jy voorgestel en aangeneem is nie. Vra jouself eerder of jy ’n nuwe skepsel is (v.15). Is jy ’n nuwe mens met ’n nuwe hart (Eseg. 36:26)? Het jou lewe al verander (2Kor. 5:17)? Rig jy jou lewe in volgens die nuwe reël van die kruis waar Jesus en jou lewe in Hom al is wat saakmaak (v.16)?

              Indien wel rus God se vrede en barmhartigheid op jou (v.16, Rom. 5:1, 1Tim. 1:2). Party mense het nie hierdie vrede nie en sal dit ook nie hê nie, omdat hulle op hulle wetsonderhouding staatmaak. En hoe sal jy ooit weet of jy genoeg gedoen het om God se guns te wen? As jy egter na Jesus kyk, sal God jou barmhartig wees en aan jou sy vrede gee (v.16). Op dié manier sal jy ook deel word van die ware Israel van God (v.16, 3:7, 9, 14, 16, 29, 4:28, Ef. 2:12-13, 19, Fil. 3:3). Jy hoef nie ’n Jood te word, sodat die Here jou kan aanneem nie (Hand. 15:1, 5). As jy in Jesus glo, is jy ’n ware Jood (v.16, Rom. 2:28-29). Weerstaan dus die versoeking om soos party mense terug te keer na die Joodse Feeste, Sewendedag Sabbat, voedselwette, besnydenis en ander Joodse gebruike. Dit kan jou nie aanneemlik maak voor God nie. Die kruis van Jesus is genoeg en maak ons deel van die ware Israel (v.14-16).

              Om hierdie rede wou Paulus nie verder hoor dat die Galasiërs die Judaïste se lering navolg en dink hulle moet Jode word om gered te wees nie (v.17). Die besnydenis is nie die ware merk wat jou in die hemel bring nie (v.15). Die ware merke van Jesus is dat ons bereid sal wees om vir sy Naam te ly. In Paulus se geval het dit slae vir die evangelie beteken (v.17, 2Kor. 4:10, 11:23-25). Vir Christene in vervolgde lande beteken dit dieselfde. Vir jou mag dit beteken dat jou kollegas, of familie sê jy is weird, of dat hulle jou spot, vermy en eenkant toe skuif.

         Maar die Here sal dit ook gebruik om mense vir sy Koninkryk te wen, want as die wêreld sien jy is bereid om vir die kruis te ly, mag dit hulle dalk net aantrek. Hulle sal sê: ‘As hy, of sy bereid is om vir die kruis te ly, moet dit waardevol wees.’ Om Campbell Morgan se woorde te gebruik:

‘…what Thomas said of Christ, the world is saying about the church… Unless I see in your hands the print of the nails, I will not believe…. It is the man…who has died with Christ…that can preach the cross of Christ.’2

***

Mag die reddende genade van Christus met jou wees as jy hierdie dinge oordink en dit jou eie maak (v.18). Mag die waarheid van Jesus se kruisdood jou in hierdie Paasseisoen versterk. Mag dit jou veral in jou beproewings van sy liefde verseker en jou nuwe krag gee.

              So was dit vir Haralan Popov wat in die 1900’s in Bulgarye gepreek het. Die Kommuniste het hom gevange geneem en in die tronk gemartel. Op ’n stadium moes hy vir veertien dae teen ’n muur staan. As hy ’n oog probeer toemaak het, het die Kommuniste hom geslaan. Sy oë het bebloed geraak. Sy lippe het gebars en die bloed het in sy baard droog geword. Sy bene het tot twee, of drie maal hulle normale grootte geswel. Menslik was dit onmoontlik om vir so lank sonder kos, water en slaap te oorleef. Maar die Here het hom deurgehelp.

              Na sy marteling het hy in sy tronksel herstel. Op ’n dag toe kyk hy deur die venster en toe sien hy die skaduwee van ’n kruis op die dak van die fabriek oorkant hom. Die son het twee skoorstene gevang en hulle skaduwees op die fabriek se dak laat kruis. Dit het Popov geweldig bemoedig. God het hom van sy liefde verseker en hy het nuwe krag gekry vir die lyding wat voorgelê het.3

              As jy al ooit in God se liefde getwyfel het, kyk na die kruis. Hou aan om te kyk, totdat jou geloof oorgaan in aanskoue en jy die spykermerke in die verheerlikte Seun van God se hande en voete sien.


1  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

2  Aangehaal in John Stott, The Cross of Christ: 20th Anniversary Edition (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1986, 2006), 406

3  Haralan Popov, Tortured for his Faith (Grand Rapids, Michigan: Zondervan Publishing House, 1970, 1975), 42