Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 5:12-26

Jan is ’n boemelaar met ’n ryk familie. Hulle kán hom help, maar hulle wíl nie. Sy vriend daarenteen wíl hom help, maar hy kán nie. Jesus is nie so met sondaars nie. Hy wíl ons help en Hy kán ook.

 

1. Jesus wíl jou help (v.12-15)

In die Bybel verwys melaatsheid na ’n verskeidenheid van vel siektes. Baie daarvan is aansteelik. In sy ekstreme vorm (Hansen-siekte) vrot die persoon se liggaam, sodat hy sy neus, vingers, oë, ensovoorts verloor. Dit is waarskynlik hoe die melaatse in v.12 was, want volgens Lukas was hy vol melaatsheid; hy was daarvan oortrek. As gevolg van sy siekte moes hy buite die dorp bly (Lev. 13:46). In sy desperaatheid het hy egter tot by die dorp gekom (v.12). Hy het gekniel en op sy gesig geval toe hy Jesus sien (v.12, Matt. 8:2). Hy het geweet dat Jesus die Here is en dus het hy Hom gesmeek om hom te genees (v.12). “Here, as U wil, kan U my rein maak,” het hy gesê (v.12).1 Hy het nie net vir genesing gevra nie, maar ook dat hy seremonieel rein kan wees. Omdat hy melaats was, het mense hom uit die samelewing en die aanbidding van Israel verban. As Jesus hom egter genees het, kon hy weer by sy familie en vriende wees en kon hy in die samelewing funksioneer.

            Die man het geweet dat Jesus hom kán genees, maar het gewonder of Hy gewillig is (v.12). Maar Jesus wou die man genees en het medelye gehad (Mark. 1:41). Daarom het Hy sy hand uitgestrek en die melaatse aangeraak (v.13). Eintlik mag mense dit nie gedoen het nie, omdat hulle daardeur onrein sou raak (Lev. 13; 5:3). Maar met Jesus werk dit andersom. Ons onreinheid en sonde maak Hóm nie onrein nie, maar Hy maak óns rein.

            Vir die melaatse was dit ’n groot troos toe Jesus hom aanraak, omdat niemand ooit aan hom geraak het nie. Hy was ook verbaas dat Jesus hom met ’n enkele woord kon genees [v.13, Gk. katharisthēti]. Hy wou vir almal vertel, maar Jesus het hom streng beveel om vir niemand te sê nie (v.14, Mark. 1:43). Hy wou nie hê dat mense ’n verkeerde idee van die Messias moes kry nie, naamlik dat Hy ’n genie in ’n lampie is wat gekom het om wonders te doen eerder as ’n Verlosser wat gekom het om sondaars te red. Dus moes die man liewer na die priesters toe gaan, sodat ook húlle kon sien dat Jesus die wet nakom en dat Hy die Messias is wat melaatses genees (v.14, 7:22). Verder moes die priesters die man rein verklaar, sodat hy weer welkom kon wees in die samelewing. Volgens Lev. 14 het dit as volg gewerk:2

            Die gereinigde moes ’n voël in ’n kleipot oor vars water offer. Hy moes dit in ’n pot doen, sodat daar nie ’n druppel bloed verlore sou gaan nie. En hy moes dit oor vars water doen, omdat die water reiniging simboliseer.

            Hierna moes hy ’n lewende voël met sederhout, rooi wol, en hisop in die dooie voël se bloed doop. Sederhout, rooi wol en hisop was algemene bestandele in seep (Num. 19). Weereens simboliseer hierdie bestandele reiniging.

            Die priester het die melaatse sewe keer met die voël se bloed besprinkel. Hy het ook die lewende voël vrygelaat om die gereinigde se vryheid te simboliseer.

            Die gereinigde moes sy klere was, sy hare afskeer, en bad. Hy het vir sewe dae buite sy tent geslaap en daarna weer sy hare, baard, en ooghare afgeskeer. Hy moes weer sy klere was en bad. Die simboliek is dat hy soos ’n nuutgebore baba ’n nuwe lewe begin het.

            Op die agtste dag het die persoon drie lammers, 6.6. liter meel en 300 ml olie aan die Here offer. Die priester het een van die lammers se bloed gevat en dit aan die gereinigde se regter oor, -duim, en -groottoon gesmeer. Hy het die olyfolie sewe keer voor die Here gesprinkel en die res op die persoon se regter oor, -duim, en -groottoon gesmeer. Die laaste bietjie olie het hy oor die persoon se kop uitgegiet. Dit is asof hy hom vir die Here se spesiale guns gesalf het. Die bloed en olie op sy oor, duim, en groottoon het gewys dat hy na God moes luister, dat hy sy wil moes doen, en dat hy in sy weë moes wandel.

            Ongelukkig het die man in Luk. 5 nie hierdie wette gehoorsaam nie, maar was hy ongehoorsaam aan Jesus. Hy het oral vertel wat Jesus vir hom gedoen het (v.15, Mark. 1:45). Gevolglik moes Jesus soos ’n melaatse buite die dorpe bly (v.15, Mark. 1:45). Die mense het uit die dorpe gekom om na Jesus se lering te luister en om genees te word (v.15, Mark. 1:45).

Wat leer hierdie verse ons? Die primêre- en groot les is dat óns soos die melaatse is: uitgeworpe en onrein. Om rein te word, moet ons na die Een toe kom wat rein is. Vra Hóm om jou aan te raak en jou te genees—nie bloot van die siekte van jou liggaam nie, maar van die onreinheid wat sonde in jou siel veroorsaak het.

Dalk sê jy: ‘My sonde is te groot; Jesus sal my nooit vergewe nie.’ Maar kyk net na die melaatse: hy was vol melaatsheid. Daar was nie ’n kans dat hy ooit rein sou wees nie. En tog het Jesus hom gesond gemaak. Praat met enige Christen wat jy ken. Baie van hulle sal vir jou sê dat hulle diep in die sonde was en dat die Here hulle daar kom uithaal het. Party van hulle sal selfs vir jou sê dat hulle soos Petrus en Dawid ná hulle bekering wegdwaal het, maar dat die Here hulle teruggevat het en skoon gewas het.

Al wat jy moet doen, is om soos die melaatse jou krisis vir Jesus te bring en te weet dat Hy jou enigste hoop is. Moenie twee keer oor jou situasie bid en dan ophou nie, maar bid soos die melaatse wat op sy gesig geval het en Jesus gesmeek het (Fil. 4:6). Hou aan roep tot die Here jou antwoord. Moet egter nie soos die melaatse dink jy hoef Jesus te oortuig om jou te help, of twyfel dat Hy dit sál doen nie (v.12). Hy wíl jou help en sál ook as jy Hom vra (v.13). Hoe weet ek dit? Want ontferming is deel van wie Hy is. Ons sien tog aan die kruis hoe Hy Hom oor ons ontferm het deur ons straf te dra. Hoekom wonder jy dan nog of Hy jou wil rein maak, of deur jou krisis wil help?

‘Maar hoekom help Hy my dan nie?’ wil iemand weet. Dalk is jy soos ’n siek kind wat lekkers vra, terwyl jy medisyne nodig het. Jy bid met ander woorde verkeerd (1Joh. 5:14-15). En as die Here vir jou moet gee waarvoor jy vra, sal dit jou benadeel.

Dalk toets die Here jou geloof om te sien of jy ernstig is oor wat jy vra. In daardie geval moet jy eenvoudig aanhou bid (Luk. 18:1). Dit mag egter ook wees dat daar iets is wat jou gebede verhinder. Meet jouself aan die volgende verse om te sien of daar iets is wat keer dat die Here jou verhoor: Ps. 66:18, Spr. 21:13, Matt. 6:14-15, Jak. 1:5-8, 4:2-3, 1Pet. 3:7. As daar iets verkeerd is, moet jy dit met die Here uitklaar en weet dat Hy jou daarvoor sál vergewe (v.13). Jy kan niks sê om die Here te skok nie. Hy kan die onreinste mense genees en weet buitendien van alles wat jy gedoen het. Bring dit net vir Hom, sodat Hy jou kan vergewe (Ps. 51). Hoekom sal Hy jou nié vergewe nie as Hy reeds vir jou sonde gesterf het (Luk. 23:34)?

 

2. Jesus kán jou help (v.16-26)

In die 1960’s was daar ’n Baptiste leraar wat populêr geraak het. Na afloop van sy preke het die gemeente se vroue rondom hom gekloek. ’n Bejaarde tannie het dit gesien en gesê: ‘Daardie man gaan tot ’n val kom.’ Sy was reg; dit hét inderdaad so gebeur.

       Jesus was nie so nie. Toe Hy populêr geraak het (v.15), het Hy nie mense se roem gesoek nie, maar Homself na eensame plekke toe teruggetrek om te bid (v.16). Hy het gemeenskap met sy Vader gesoek, asook krag vir die werk wat Hy moes doen. Hy kon natuurlik uit sy Goddelike natuur gewerk het as Hy wou, maar Hy het gekies om op sy Vader te wag en deur die krag van die Gees te werk (4:4, Fil. 2:6-7, Hand. 10:38). Om dié rede was sy hele bediening deur gebed gekenmerk (v.16, 3:21, 4:2, 42, 6:12, 9:18, 28-29, 11:1, 22:40-41, 23:34, Heb. 5:7). En tog het dit nie hoofsaaklik gegaan oor wat Hy by die Vader kon kry nie, maar eerder daaroor dat Hy by sy Vader wou wees.

            As ons kan leer om so te bid, sal dit ’n wêreldse verskil maak. Laat ons dan nie soos die Prosperity kerke bid om net dinge by God te kry nie, maar laat ons bid omdat ons ’n verhouding met Hom wil hê. Om net vir krag te bid sonder dat ons gemeenskap met God het, is om Hom soos ’n afgod te hanteer: ‘Hoe meer mense bid en hoe langer ons bid, hoe beter die kans dat Hy ons sal hoor’ (sien Matt. 6:7). Maar God is nie ’n afgod nie. Hy is ’n goeie Vader wat weet wat ons nodig het nog voor ons Hom vra (Matt. 6:8). Kom dus na Hom toe soos ’n kind na sy pa toe kom. Kom om by Hom te wees en dan sal Hy jou gee wat jy nodig het. Martyn Lloyd-Jones illustreer dit as volg:

Think of…an earthly parent who may be very busy on some occasion. He may be a man of great affairs—the head of a great business, or a great professional man, whose programme is unusually full. Someone wants to see him; but he sends out a message to say that he cannot see anyone, however important. Suddenly he hears a litte tap at his door, and he knows that it is his little child or grandchild who is there; immediately he stops working and opens the door. God is like that! God is our Father, and He is ready to listen to us, and to bear with us.’3

In die verse voor ons het die Vader vir Jesus krag gegee om siekes te genees (v.17). Hier is wat gebeur het:

            Jesus was besig om die Woord in Kapernaum te preek (v.17, Mark. 2:1-2). Die Joodse leiers het van Jesus gehoor (v.15) en van oral af gekom om te sien wat aangaan (v.17). Terwyl Jesus besig was om te preek, het vier mans hulle verlamde vriend op ’n draagbaar, of bed na Jesus toe gebring (v.18, Mark. 2:3). Omdat daar baie mense voor die deur was, kon die man se vriende hom nie by Jesus kry nie (v.19, Mark. 2:2, 4). Hulle het aan ’n buitemuur teen die trappe opgeklim en hulle vriend tot bo-op die huis se plat dak gedra. Nadat hulle die dakteëls verwyder het, het hulle hulle vriend tot voor Jesus se voete laat sak (v.19).

            Toe Jesus die man en sy vriende se geloof sien; dat hulle enigiets sou doen om hom by Jesus te kry; toe sê Hy: “Vriend, jou sondes is vergewe.” (v.20, vgl. 7:48).

            Maar hoekom het Jesus die man vergewe as hy vir genesing gekom het? Dit blyk dat die man se siekte ’n direkte gevolg van sy sonde was. Dit is nie altyd die geval nie (Joh. 9:1-3), maar soms is dit (Joh. 5:14). Dink maar aan ’n man wat dronk bestuur, in ’n ongeluk beland, en verlam raak. Blykbaar het iets soortgelyk gebeur met die man in Luk. 5. As Jesus dan die sonde vergewe wat in die eerste plek sy siekte veroorsaak het, kon Hy maklik sy siekte genees het.

            Het jy ’n siekte, of ander krisis wat die direkte gevolg van een of ander sonde is? Bring dit vir Jesus. Vra sy vergifnis, asook vir die mense teen wie jy gesondig het. Bekeer jou. Maak restitusie. Dit mag wees dat die gevolge van jou sonde bly. Maar die Here sal jou vergewe en in sommige gevalle selfs die gevolge wegvat.

            Wonder jy of jou spesifieke probleem die gevolg van jou sonde is? As jy nie die Woord oortree nie en jou gewete jou nie pla nie, het jy niks om oor bekommerd te wees nie. Maar selfs al is daar iets waarvan jy nie bewus is nie, sal die Here dit uitwys, sodat jy dit kan bely en laat staan. Moet net nie opsetlik sondig soos die Joodse leiers nie. Toe Jesus die man se sonde vergewe het, toe dink hulle: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” (v.21, vgl. Mark. 2:6, Jes. 43:25). Maar dit is presies wat Jesus wou sê: ‘Ek is God. Hierdie man het my wet oortree en teen My gesondig. En tog kan ek hom vergewe.’

            Om sy Godheid te bewys, het Jesus die Joodse leiers se gedagtes bekend gemaak en die verlamde man met ’n woord genees (v.22-25, Joh. 2:24-25, Ps. 139:2, 4). As Jesus dan die moeiliker taak kon doen om ons te vergewe (dit het sy lewe gekos), kon Hy maklik die verlamde man laat loop het (v.23). En as Hy die siekte se oorsaak kan oplos, kan Hy maklik die simptome genees (v.23).

            Is jou sonde miskien die oorsaak van jou siekte, depressie, finansiële probleme, of ’n ander krisis in jou lewe? Vra die Here om die wortels van jou sonde uit te kap en vertrou Hom ook om die bitter vrugte daarvan uit te roei. Jesus is nie soos die meeste sielkundiges wat net met simptome werk nie, maar Hy kom tot by die wortels en kan dit in ’n oomblik verander as jy Hom vra. Die probleem is dat ons die situasie self wil oplos en dat ons nie na Jesus toe kom nie. So hardloop ons vir jare en selfs dekades in sirkels sonder dat daar ’n oplossing is.

            Dalk sê jy dat jou probleme te kompleks is, maar volgens Luk. 5 is Jesus God en kan Hy enigiets doen. As jy egter soos ’n donkie hardkoppig wil wees en jy nie jou probleme na Hom toe bring nie, moet jy op die harde manier leer (Ps. 32:9). As jy egter met vasberadenheid deur die dakteëls breek om by Jesus te kom en jou probleme voor Hom neerlê, sal Hy jou help (Spr. 28:13, 1Joh. 1:9). Hy sal vir jou wys dat Hy die Goddelike Seun van die Mens van Dan. 7:13 is, en dat Hy gekom het om die grootste probleem op te los, naamlik die vergifnis van ons sondes (v.24, Jes. 53:4-6, Ef. 1:7).

            Hy sal dit nie net wys deur jou te red nie, maar ook deur die pyn en probleme wat jou sonde veroorsaak het, weg te vat. Hier het Hy dit gedoen deur om voor ’n klomp getuies ’n verlamde te laat loop (v.24-25). In jou geval mag dit wees dat Hy ’n gebroke huwelik regmaak, of stukkende familieverhoudings herstel. Of Hy mag dalk jou depressie wegvat, vir jou ’n werk voorsien, of jou siekte genees. Waar Hy dít doen, moet jy saam met die verlamde die Here prys (v.25). Moet egter nie soos die skare vrees, verwonderd wees, en die Here prys sonder dat jy verstaan wie Jesus is nie (v.26, Mark. 2:12). Volgens Matt. 9:8 het die skare Jesus net gesien as ’n mens wat deur die krag van God ’n wonderwerk gedoen het. Later het hulle Hom as ’n profeet gesien (7:16). Hulle het egter nog nie besef dat Hy die Messias en die Seun van God is nie.

            Verwonder jy jou oor Jesus sonder dat jy dag na dag in ’n persoonlike verhouding met Hom leef? Dan is jy nie anders as die skare wat hulle vir drie jaar oor Jesus verwonder het, maar Hom op die ou ent laat kruisig het nie. As hulle maar net geweet het dat die einste kruis die plek is waar Jesus vir mense wys dat Hy hulle kán en wíl help.

            Laat ons dan nie soos Fritz die boemelaar wees wat ’n skatryk en gewillige familielid het, maar arm bly omdat hy te trots is om hulp te vra nie.


1  Aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Bybel.

2  Inligting verkry uit Lev. 14, asook uit ’n artikel wat Pieter du Plessis (medewerker en vriend) vir my aangestuur het: https://www.crossway.org/books/luke-hcj-3/

3  Martyn Lloyd-Jones, Romans: Exposition of Chapter 8:5-17—The Sons of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1974), 164