Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 February 2021

Jou Oorwinning in Jesus

Image result for jesus crushing serpent

Lukas 4:1-13

Toe een van ons ouderlinge laasweek oor versoeking gepreek het, het die Here my aangespreek. Hy het my gewys dat ek begin fokus het op my strategieë om sonde te oorwin eerder as op Jesus se kruisdood. Ek het toe besef dat die sleutel om versoeking te oorwin nie hoofsaaklik in strategieë lê nie (al is dit Jesus se strategieë). As dit immers die sleutel was, dan kan selfs ongelowiges hulle sonde oorwin.

 

Daarom lê die geheim nie ons strategieë nie, maar in Jesus se oorwinning oor Satan. As jy in Hom glo, dan wórd sy oorwinning joune. So lê jou oorwinning dan in Hom alleen en nie in iets wat jy doen nie. Eers as jy na Hóm gekyk het, kan jy jou strategieë begin toepas. Maar selfs dán moet jy deurgaans na Hom en sy kruisdood kyk, sodat Hý die duiwel onder jou voete kan vertrap (Rom. 16:20).

 

1. Voor die versoeking (v.1)

Geen weermag lê en TV kyk voor ’n oorlog nie. Hulle is eerder besig met strategiese beplanning en kry hulle wapens en manskappe gereed. Net so het Jesus Homself vir die stryd voorberei. Voor Hy sy bediening begin het, het Hy die Vader gevra om Hom met die Gees te vul en het Hy die Skrif gememoriseer (v.1, 4, 8, 12, 3:21-22, Ps. 1:2, Jes. 50:4, Matt. 22:29). As Hy wou, kon Hy uit sy Goddelike natuur gestry het. Hy het egter gekies om as mens deur die krag van die Gees en in afhanklikheid van sy Vader te leef, te stry, en te oorwin (Joh. 5:19, Hand. 10:38, Fil. 2:6-7). Daarom kan ons sê dat die duiwel Hom nie in sy Goddelike natuur versoek het nie (Jak. 1:13), maar in sy menslike natuur. Dit beteken dat Jesus ook óns versoekings verstaan, aangesien Hy self ’n mens was (Heb. 2:17-18, 4:15).

***

Die Heilige Gees het Jesus van die Jordaan af woestyn toe gelei om deur die duiwel versoek te word (v.1). Let op die ooreenkomste en verskille tussen Jesus se versoeking in die woestyn en Adam en die Israeliete s’n:

[a] Jesus en Adam

Satan het die eerste Adam in ’n tuin versoek om te eet. Hy het toegegee en is uitgewerp na ’n plek vol dorings en distels (3:38, Gen. 3:18, 24). Satan het die laaste Adam in ’n woestyn versoek om te eet. Hy het die versoeking weerstaan en die duiwel oorwin, sodat Hy ons na die Paradys toe kon terugneem. 

[b] Jesus en Israel

Die Heilige Gees het die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn gelei (Neh. 9:20, Jes. 63:10-11, 14). Net so het Hy Jesus vir 40 dae deur die woestyn gelei (v.1-2). Toe die Israeliete honger was, het hulle aan die versoeking toegegee en teen God gekla. Toe Jesus honger was, het hy die toets geslaag en op sy Vader vertrou. Die Israeliete het uit die woestyn oor die Jordaan in die Beloofde Land ingegaan. Jesus het die teenoorgestelde gedoen en uit die Jordaan na die woestyn toe gegaan om die duiwel te oorwin, sodat ons nou as nuwe mense in die Beloofde Land kan ingaan.

Die feit dat die Gees Jesus deur die woestyn gelei het, wys dat Hy soewerein was oor die versoeking. Jesus was nie ’n passiewe teiken vir die duiwel nie, maar het aktief uitgegaan om hom te oorwin. Omdat Hy hom dan oorwin het, kan Hy jou in jóú versoeking help. Gaan kla by jou ouer broer Jesus (Rom. 8:29) as die duiwel jou nie wil uitlos nie. Satan sidder voor Hom, is bang vir Hom, en sal vlug as Hy die woord spreek (Matt. 4:10-11, Jak. 2:19, 4:7).

 

2. Die versoeking (v.2-12)

[a] Veertig dae van versoeking (v.2a)

Water wat aanhou drup, kan rots laat erodeer. So is dit ook met aanhoudende versoeking en Jesus het dit beleef. Die duiwel het Hom nie net drie keer versoek nie, maar vir die volle 40 dae (v.2a—die Grieks staan in die voortdurende tyd). Miskien dink jy dat dit maklik was en dat Jesus hom van ’n myl af sien aankom het. Maar waar sê die teks dat Satan in sigbare vorm as ’n gedrog aan Jesus verskyn het? Onthou dat Jesus in elke opsig net soos ons versoek is (Heb. 4:15). Omdat die duiwel dan ’n onsigbare gees is (Ef. 2:2, 6:12), het Jesus hom nie gesien nie. Soos ek en jy, het Jesus nie eers ’n sagte fluisterstem op sy skouer, in sy ore, of in sy kop gehoor nie. Soos ons het Hy gedink dat Satan se versoekings sy eie gedagtes is. Toe Hy dit egter teen die Skrif meet, toe besef Hy dat dit die duiwel is wat Hom versoek.

Gaan dit soms so in jou gedagtes, sodat dit vir jou voel of jy dit nie meer kan hanteer nie, veral as dit vir maande, of jare aanhou? Jesus weet hoe om hierdie versoeking te oorwin. Vra Hom om jou te help. Ek wil jou veral aanmoedig om Martyn Lloyd-Jones se preke uit Ef. 6:10-20 te lees: The Christian Warfare en The Christian Soldier. Jy kan dit by Good Neigbours in Randburg, of by Augustine Bookroom in Pretoria koop. As jy verkies om daarna te luister, is dit gratis beskikbaar by die skakel hieronder. Ek twyfel of jy iets beter oor die onderwerp sal kry. As jy sy preke deurlees, of daarna luister en die raad volg, sal dit jou lewe verander.

 

[b] Die eerste versoeking (v.2b-4)

Iemand het verduidelik wat met ’n mens gebeur as jy vir 40 dae vas:

  • Op dag 1-3 is jy baie honger, raak jou tong wit, ruik jou asem sterk en het jy hoofpyne. Dit is omdat jou liggaam van die gifstowwe ontslae raak. Jy is met ander woorde besig om te ‘detox’.
  • Op dag 4 raak jy lighoofdig en voel jy swak.
  • Op dag 6-7 is jy wakkerder en voel jy sterker.
  • Op dag 9-10 is die hongerpyne so te sê weg en voel jy baie goed.
  • Teen dag 21-40 keer die hongerpyne terug, raak jou vet-reserwes op en begin jou liggaam aan sy eie weefsel teer.1

Duidelik het Jesus dus baie swak gevoel na Hy vir 40 dae gevas het (v.2b, Deut. 9:9, 18, 1Kon. 19:8). Om egter ’n kragtige bediening te hê, móés Hy eers vir 40 dae vas en bid. Daardeur het Hy gewys dat Hy God en sy wil meer as voedsel benodig (Joh. 4:34). En dit is tóé wat die duiwel Hom versoek het om sy natuurlike begeerte na kos in sonde te verander. Ons lees: “Die Duiwel het vir Hom gesê: ‘As u die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.’” (v.3).2 Die duiwel het geweet dat Gód klippe in iets anders kan verander (3:8, 19:40). As Jesus dan die Seun van was (3:22), moes Hy sekerlik klippe in brood kon verander (v.3). Dit is asof die duiwel gesê het: ‘U het lank genoeg vir U Vader gewag. Hy is nie betroubaar nie. Help Uself uit. U hét immers die mag om dit te doen. Buitendien is dit nie asof eet sonde is nie—veral nie nadat U vir 40 dae gevas het nie!’

Jesus het die duiwel uit Deut. 8:3 geantwoord en gesê dat dit nie brood is wat lewe gee nie, maar God (v.4, Matt. 4:4). Sonder Hom sal ons nie brood hê nie en sal selfs die brood wat ons het, ons nie versadig nie. Jesus het geweet dat sy Vader op die regte tyd uitkoms sal gee en daarom het Hy op Hóm gewag.

Hoor jy dalk die duiwel sê: ‘Die Here van jou vergeet. Hy gaan nie vir jou deurkom nie. Hoe lank bid jy al vir ’n lewensmaat, vir werk, vir gesondheid? Jy gaan jouself hier moet uithelp: trou met ’n ongelowige... besoek ’n palmleser... Ek weet dit is onwettig om geld op dié manier te maak, maar wat moet jy doen—jou kinders moet eet?’ Moenie vir die duiwel luister nie, maar vul eerder jou gedagtes met God se beloftes:

“Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie—ondeurgrondelik is sy insig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.” (Jes. 40:28-31).

“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.” (Jes. 41:10)

“As jy deur water moet gaan—Ek is by jou, of deur riviere—hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan—jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” (Jes. 43:2).

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.” (Matt. 6:33-34).

“Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe 'n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.” (1Kor. 10:13).

“Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie’” (Heb. 13:5).

Glo God se beloftes en vra Hom vir krag om ‘nee’ sê vir die versoeking. Omdat Hy self die oorwinning behaal het, kan Hy jou help.

 

[c] Die tweede versoeking (v.5-8)

Mens kry honde wat jou weer sal storm as jy hulle die eerste keer in die tande geskop het. Net so het Satan nie gevlug toe Jesus hom die eerste keer weerstaan het nie. Hy het Jesus na ’n hoë berg toe gevat en Hom in ’n enkele oomblik die koninkryke van wêreld in sy geestesoog gewys (v.5, Matt. 4:8). Hy het gemaak of dit syne is en of hy dit aan Jesus sou gee as Hy voor hom neergeval het om hom te aanbid (v.6-7). Dit is asof die duiwel vir Hom gesê het:

‘Is dit regtig nodig om volgens Ps. 22 en Jes. 53 te ly voordat die nasies U sal aanbid? As U dinge op mý manier doen, kan ek U baie pyn spaar. Dan hoef U ook nie te wag nie, maar sal die nasies dadelik voor U neerbuig. Komaan! Doen wat elke suksesvolle politieke leier doen: aanbid my en die koninkryke sal U s’n wees! Ek sal my agente opdrag gee om U opponente te boelie en te onderdruk; om hulle name swart te smeer; om propoganda te versprei. Ek sal U ryk maak, sodat U die top posisie kan “koop”. En as iemand nie wil saamwerk nie, sal my agente hulle stil-stil laat verdwyn. So, is dit ’n ooreenkoms?

Maar dit was ’n leuen; nie net omdat die duiwel dit nie vir Hom sou gee nie, maar omdat hy dit nie kón gee nie. Alhoewel die duiwel regeerders onder sy mag hou (Dan. 10:13, Joh. 12:31, Op. 13:2), behoort die koninkryke nie aan hom nie, maar is dit Gód s’n om te gee aan wie Hy wil (1Sam. 15:28, Jer. 27:5-6, Dan. 2:21, 4:17, 25, 32, 5:21). Jesus het dus gewag om vir die nasies te sterf, sodat die Vader aan Hom die koninkryke kon gee (Ps. 2:8, Dan. 7:13-14, Matt. 28:18, Op. 5:9). Hy het geweier om die duiwel te aanbid, maar het sy lof, aanbidding, en gehoorsaamheid vir die Vader gereserveer (v.8, 22:42, Deut. 6:13, 1Sam. 7:3, Joh. 6:38).

Dit is ook hoekom Jesus die duiwel in die woestyn, deur sy lewe, en aan die kruis oorwin het: sodat ek en jy sy ewige Koninkryk en die nuwe aarde kan erf en sodat ons God alleen kan dien (v.8, Matt. 5:5, 25:34, Op. 7:15, 22:3). Kyk na wat die Vader jou bied, sodat jy kan ‘nee’ sê vir die duiwel se piriet [Eng. fool’s gold]. Onderskei die duiwel se stem as hy deur die wêreld vir jou sê: ‘Your Best Life Now! Gaar op, sodat jy in luuksheid kan aftree (Luk. 12:16-21)! Lewe vir die oomblik! Koop nóú! Jy gaan nie weer hierdie aanbod kry nie! Die voorraad sal opraak! As jy nóú koop, dan gee ons jou a, b en c verniet! Hoekom wag as jy dit nóú kan hê?’

Maar wat as jy voor einde Februarie aan Covid, of iets anders sterf—wie s’n sal jou goed dán wees? Is dit regtig die moeite werd om die Koninkryk te mis, omdat jy eers die plesiere van hierdie lewe wil geniet (Mark. 8:36, 1Joh. 2:15-17)? Armsalige sot!

 

[d] Die derde versoeking (v.9-12)

Teleportasie beteken dat jy skielik verdwyn en weer op ’n ander plek verskyn. Astrale projeksie is wanneer iemand se gees sy liggaam verlaat en ’n ander plek besoek. ’n Visioen is wanneer die Heilige Gees aan iemand ’n realistiese ervaring van die geesteswêreld gee. Die Bybel gee voorbeelde van al hierdie dinge (2Kon. 5:26, Eseg. 8:3, Hand. 8:39-40, 2Kor. 12:2-3, Op. 4:1-2, 21:9-10).

Dit is egter nie hoe Jesus in v.9 op die tempel se dak gekom het nie, want volgens Mark. 1:13 was Hy vir die volle 40 dae in die woestyn. Hy het Homself eerder in sy geestesoog op die hoogste punt van die tempel gesien staan. Dit was byna 140 meter van die bo af tot onder in die Kidron vallei.3 Volgens Josefus (37-100 n.C.) het ’n mens duislig geword as jy afkyk.4

Die duiwel het laat Jesus Hom indink hoe Hy van die tempel se dak afspring en die engele hom volgens Ps. 91 vang voordat Hy die grond tref (v.9-11). ‘U sal almal se held wees,’ het hy Hom laat dink. Maar Jesus het besef dat Satan Ps. 91 verkeerd gebruik. Volgens die konteks sou God die Messias veilig hou as Hy by Hom geskuil het en op Hom vertrou het—nie as Hy vir die duiwel geluister het en roekeloos was nie. Buitendien wás die engele daar en hét hulle Hom beskerm, selfs al kon Hy hulle nie sien nie (Mark. 1:13).

Maar daar is ’n groter les as dit, naamlik dat Satan ons soms met die Bybel versoek! Dink gerus aan hoe mense mense die Bybel aanhaal om rassisme en homoseksualiteit te regverdig, of om te sê dat ’n mens lewe kan spreek, dat Jesus nie God is nie, of dat dit die Here se wil is dat alle gelowiges ryk is (Gen. 9:25, 1Sam. 18:4, 20:41, 2Sam. 1:26, Spr. 18:21, Joh. 14:28, 2Kor. 8:9).

Ken daarom jou Bybel goed, sodat jy kan weet of iemand se lering vals is. Memoriseer verse en drink die Bybel in soos koeldrank, sodat jy dwaling en versoeking kan bestry (v.4, 8, 12, Ps. 119:11, Ef. 6:17). Moenie alles glo wat mense sê nie, maar meet hulle woorde aan die Skrif (Hand. 17:11). Lees die konteks, bespreek dit met ander gelowiges, hoor wat Christene deur die geskiedenis gesê het, en luister fyn na die prediker se woorde; na wat hy nié sê nie. Is daar onderwerpe waaroor hy eenvoudig nie praat nie (bv. God se heiligheid, sonde, of die hel).

Volgens v.12 het Jesus die duiwel uit Deut 6:16 geantwoord en gesê dat ons die Here nie moet uittart, of toets nie. As jy bv. skuld maak wat jy nie kan bekostig nie, kan jy nie sê: ‘Die Here sal voorsien’ nie. Of as jy opsetlik met ’n ongelowige trou, kan jy nie sê: ‘Ek sal bid dat die Here hom, of haar red’ nie. Doen eerder in die eerste plek wat die Bybel sê, sodat jy die Here kan vra om jou te seën.

 

3. Na die versoeking (v.13)

Het jy al ooit gedink dat jy ’n sekere sonde oorwin het, maar dan bekruip dit jou as jy dit die minste verwag (bv. Gal. 2:11-12)? Net so het Jesus nie op sy louere gerus toe Hy die duiwel verdryf nie, omdat Hy geweet het Satan sal terugkeer (v.13). Dit het inderdaad so gebeur (Matt. 16:21-23, 27:40-43, Luk. 20:20, Heb. 4:15).

Wees dus waaksaam, want soos die duiwel Jesus versoek het, sal hy jóú versoek. As jy ’n ongelowige is, weet jy nie eers dat die duiwel besig is om jou aan die neus rond te lei en dat jy onder sy mag is nie (Ef. 2:2, 1Joh. 5:19). Hy is besig om jou hel toe te lei. Vra die Here om jou uit Satan se hand te red (Hand. 26:18, 2Kor. 4:4, 6, Kol. 1:13-14, 1Joh. 3:8).

Is jy ’n gelowige? Moenie wanhopig raak as die duiwel se versoekings jou soos golwe slaan nie, maar skuil agter die Rots van Jesus Christus en staan op sy oorwinning wat Hy 2000 jaar gelede oor die duiwel behaal het: in die woestyn, asook deur sy lewe, kruisdood, en opstanding. In ’n sekere sin is dit dan nie jóú stryd om te wen nie, maar deel jy in die oorwinning wat reeds behaal is. Dit is soos toe die Springbokke in 2019 die wêreldbeker gewen het. Suid-Afrikaners het gesê: ‘Óns het die wêreldbeker gewen,’ al het baie van hulle nog nooit in hulle lewens rugby gespeel nie.


1  Foster, aangehaal in John Piper, A Hunger for God (Wheaton, Illinois: Crossway Books, 1997), 202-3

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

3  John MacArthur, The MacArthur Study Bible: English Standard Version (Wheaton, Illinois: Crossway, 2010), note on Matt. 4:5

4  Flavius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews (Grand Rapids, Michigan: Kregel Publications, 1960), 15:11:5, p.335

Kategorieë