Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 February 2020

Jesus ons Melgisedek

Melchizedek

Hebreërs 7:1-3

Wie was Melgisedek? Toe ek jonk was, het my ouma van hom gepraat. Ek het nie geweet wie hy is nie. Later het ek die Bybel deurgelees en by Heb. 7 gekom. Ek het dit nie verstaan nie. ’n Vriend en kollega het gesê dat Melgisedek ’n verskyning van Jesus in die Ou Testament is. Later het ’n vrou my na die oggenddiens gevra of ek glo dat Melgisedek Jesus is. Sý het dit geglo, maar ek het nie saamgestem nie.

Later het ek Gen. 14 gepreek en Heb. 7 ’n hele paar keer in my stiltetyd gelees. Ek het steeds gedink dat Melgisedek nie Jesus is nie. Noudat ek Heb. 7 vir my self bestudeer het, het ek tot ’n finale gevolgtrekking gekom oor wie hierdie skaduagtige karakter uit die Ou Testament is. Ons lees net twee keer van Melgisedek in die hele Ou Testament (Gen. 14:18-20, Ps. 110:4). Die Nuwe Testament praat slegs in Heb. 5-7 van hom. Om die verse voor ons te verstaan, sal dit help as ons die Ou Testamentiese agtergrond het.

Abraham se broerskind Lot het in Sodom gebly. Sodom se koning en die konings van die omliggende stede het vir twaalf jaar belasting aan Kedor-Laómer betaal. In die dertiende jaar het hulle besluit om nie meer belasting te betaal nie. Kedor-Laómer het toe met drie ander konings teen hulle opgetrek en hulle verslaan. Hy het die koning van Sodom en die inwoners van die stad gevange geneem. Lot was saam met hulle. Abraham het 318 slawe gevat en die konings agterna gesit. Hy het hulle ingehaal, hulle verslaan en Lot uit hulle hande gered. Hy het ook die koning van Sodom en die inwoners van die stad gered.

Toe hy met hulle terugkeer, toe ontmoet Melgisedek hom. Hy het uit Jerusalem (Salem) gekom, Abraham geseën en vir hom brood en wyn gegee. Hy het die Allerhoogste God geprys dat Hy Abraham gehelp het en sy vyande in sy hande oorgelewer het. Abraham het om ’n tiende gegee van die buit wat hy by die vier konings gevat het. Sodoende het hy sy respek aan Melgisedek bewys.

Party Jode in die eerste eeu n.C. het geglo dat Melgisedek ’n karakter uit die hemel is (dalk ’n verhewe engel). Hulle het geglo dat hy Belial (Satan) en sy bose geeste oorwin het om God se volk te red. Volgens die buite-Bybelse boek 2Henog, het Melgisedek Noag se vloed oorleef, sodat hy die priesterlike lyn kon voortsit wat van Adam se seun Set af geloop het. Melgisedek is as kind deur die aartsengel Migael hemel toe gevat, sodat hy ’n ewige priester kon wees.1

Buiten dat die detail van hierdie storie nie met die Bybel strook nie, hoef ons niks meer van Melgisedek te weet as wat ons in Gen. 14, Ps. 110, Heb. 5-7 lees nie. Noudat ek al drie hierdie gedeeltes bestudeer het, het ek tot die slotsom gekom dat Melgisedek nie Jesus is nie. Die outeur sê tog dat Jesus ’n ander priester is (v.11, 15). Dalk wonder jy oor v.3, 8 wat sê dat Melgisedek nie ’n begin, of einde het nie, maar dat hy ’n priester is vir ewig. Ek sal die verse verduidelik wanneer ons daar kom.

Ek sal nie die gemeente verdeel as jy op die ou end besluit dat Melgisedek ’n verskyning van Jesus in die Ou Testament is nie. Ek stem nie met jou saam nie, maar ek is bereid om ruimte te laat vir Christene wat op hierdie punt verskil. Persoonlik glo ek dat Melgisedek ’n gelykenis van Jesus is (v.3, 15). Hy is ’n skadubeeld, of ’n tipologie van die Seun van God, net soos die Ou Testamentiese priesters, offers, die tempel, ens. dit is (8:5, 10:1).

Hoe was Melgisedek soos Jesus en wat beteken dit vir ons?

 

1. Hy is ’n priester van die Allerhoogste God (v.1)

In die Christelike film, Time Changer reis ’n sekere Russel Carlisle in ’n tydmasjien van die jaar 1890 tot in die jaar 2001. Toe hy in die 21ste eeu kom, was hy verbaas oor dinge wat hy nog nooit in sy lewe gesien het nie. Alles was vir hom anders.

Net so is priesters vir ons: dit is ’n hele ander wêreld wat ons nie ken nie. Laat ek dus kortliks verduidelik, sodat ons v.1 kan verstaan. God het die Israeliete uit Egipte gered. Hy wou naby hulle wees, maar daar was ’n probleem: hulle sonde. Omdat Hy ’n heilige God is, kon hulle met nie met sonde voor Hom kom nie. Hy het priesters gegee om ’n volmaakte bok, of skaap te offer, sodat die sondaar nie vir sy sonde sou sterf nie. Die priester het vir die Here gevra om die offer te aanvaar en die oortreder se sonde te vergewe.2

Daar was egter offers voordat daar priesters in Israel was. God het diere geoffer om Adam en Eva se naaktheid te bedek. Abel het diere vir die Here geoffer. Noag en Job ook. Daar was ook priesters lank voor Israel priesters gehad het. Melgisedek het bv. honderde jare voor Aäron geleef. Hoe het Melgisedek ’n priester geword? Die Allerhoogste God het hom gekies (v.1). Ons weet nie vir wie hy offers gebring het, of vir wie hy gebid het nie. Die belangrikste is eerder dat hy ’n priester was en dat die Here hom aangestel het.

Melgisedek was ’n prentjie van Jesus wat ook deur die Allerhoogste God aangestel is om ’n Priester te wees (v.21, 26). As Priester het Hy Homself vir ons sonde geoffer (Matt. 20:28). Jesus is die Priester en die Offer (v.17, 9:26). Hy bid ook vir ons (v.25, Jes. 53:12, Luk. 23:34). Hy herinner die Vader aan die offer wat Hy vir ons gebring het en vra Hom dan om ons te vergewe, te help en tot die einde toe te red. Mark Jones sê: ‘[Christ] simply has to show the palms of his hands to his Father to receive from him anything he wishes, according to the promises made to him.’3

Die meeste mense verstaan dit nie. Hulle dink dat húlle ’n offer moet bring om God se guns te wen: kerkbywoning, diens in die kerk, gebede, Bybelstudie, finansiële bydraes, goeie werke, evangelisasie, ens. Hulle verstaan nie dat God volmaak is en dat Hy nie onvolmaakte offers aanvaar wat met onrein motiewe en sonde gemeng is nie. Dit is soos om ’n gebreklike, of ’n blinde lam te offer. Hy aanvaar net die volmaakte offer wat Jesus aan die kruis gebring het.

Moet daarom nie vir die Here offers bring om sy guns te probeer wen nie. Hy soek dit nie (Hos. 6:6). Hou eerder deur die geloof vas aan die offer wat Jesus vir jou sonde aan die kruis gebring het.

Dalk sê jy: ‘Ek wil eers ’n sekere sonde los voor ek met die Here regmaak.’ Weereens omseil jy Jesus se offer en probeer jy om sonder die kruis reg te maak met die Here. Jy kan nie. Jou pogings is nie voldoende nie. Kom daarom soos jy is (sonde en al) en glo dat Jesus die groot Priester is wat jou na die Vader toe bring, sodat Hy jou sonde kan vergewe en jy in ’n regte verhouding met Hom kan staan. Moenie soos ’n siek persoon wees wat sê: ‘Ek wil myself eers genees voor ek dokter toe gaan’ nie. Kom eerder na die dokter toe, sodat Hý jou kan genees (Luk. 5:31-32). As jy jouself kon red, dan het Jesus verniet gesterf (Gal. 2:21).

 

2. Hy is ’n priester-koning (v.1-3)

Toe ek op hoërskool was, het ons skoolhoof Aardrykskunde vir my gegee. Hy was die hoof, maar hy was ook ’n onderwyser. Ek is ’n herder en ’n skaap; ’n lidmaat en die leraar van die gemeente.

In ou Israel het dit nie so gewerk nie: jy kon nie die koning en ’n priester wees nie (2Kron. 26:16-21). En tog was Melgisedek ’n priester en ’n koning (v.1-3). Jesus is ook so: Hy is ’n Priester en ’n Koning (Ps. 110, Sag. 6:13, Heb. 5, 7, Op. 19:16). Eintlik is Hy nog ’n Profeet ook (1:1-2, Hand. 3:22-23). Alles wat die Bybel oor Jesus sê, pas in een van hierdie kategorieë: Priester, Profeet en Koning. Jy kan maar gaan kyk; jy sal sien dat dit so is. Hoe bevoordeel sy ampte jóú en ánder mense wat in Hom glo?

 

As Priester

Ons het reeds gesien dat Hy Homself as offer gegee het om jou te red. Hy bid dat die Vader sy offer sal onthou en jou sal help (v.25). Hy het hierdié week vir jou gebid toe jy versoek is, toe jy sonde gedoen het en vergifnis nodig gehad het, toe jy deur ’n beproewing gegaan het, toe jy bang was, toe jy getwyfel het, toe jy die evangelie met iemand anders gedeel het en die regte woorde nodig gehad het, toe jy die Bybel gelees het en wou verstaan wat jy lees, toe jy gebid het en ’n antwoord verwag het, toe jy ander bedien het, ens. (Joh. 17).

 

As Profeet

Hy het die Heilige Gees gestuur om jou die Bybel te leer (Joh. 16:13-15). Hý is die Een wat jou nuwe dinge oor Homself leer; wat jou oë oopmaak, sodat jy vir die eerste keer iets in die Bybel raaksien; wat jou help om die Vader se wil in ’n spesifieke situasie te ken.

 

As Koning

Hy is soewerein oor alles wat in jou lewe, die wêreld en die geskiedenis gebeur (Matt. 28:18, Ef. 1:22). Hy het Satan, die wêreld en die vlees oorwin en is die Een wat jou beskerm (Matt. 6:13, Joh. 16:33, Kol. 2:14-15, 1Joh. 3:8).

Dalk sê jy: ‘Ek beleef intense aanvalle. Hoe kan ek glo dat Hy die vyand oorwin het?’ Dalk is jy gered, maar jy speel op die vyand se voorstoep. Of dalk ís jy gered en laat die Here die vyand toe om jou te teiken, sodat jy kan groei en meer bruikbaar kan wees (Job 1-2, 2Kor. 12:7). Moenie dink dat Jesus nie Koning oor die vyand is nie, maar vra eerder hoe erg dinge kón gewees het as Jesus hom nié oorwin het nie, maar hom vrye teuels gegee het om te doen wat hy wil.

 

3. Hy seën dié wat onder hom is (v.1)

Ek ken ’n ouer leraar wat al sy oproepe en e-posse met die volgende woorde eindig: ‘Every blessing’. ’n Goeie vriend van my sê dikwels vir my: ‘Die Here seën jou.’

Net so het Melgisedek [die meerdere] vir Abraham [die mindere] geseën (v.1, 7, Gen. 14:19). Die Here het Abraham reeds in Gen. 12:2-3 geseën. Melgisedek het net die seën erken wat die Here reeds vir Abraham gegee het. Deur Jesus doen Hy dieselfde. Omdat Jesus in ons plek aan die kruis vervloek is, seën die Vader ons met die seën wat Jesus verdien (Gal. 3:13-14). As jy in Jesus glo, is jy geseënd. Ek bedoel nie net dat jy dinge soos sonskyn, reën, kos en ander seëninge ontvang wat ongelowiges ook kry nie (Matt. 5:45). Ek bedoel eerder dat die Vader jou deur Jesus seën met verlossing, vergifnis, aanneming in sy familie, geestelike groei, antwoorde op gebed, ’n plek in die hemel en elke moontlike seën wat bestaan (Ef. 1:3).

Die laaste boodskap in die Ou Testament was ’n vloek, terwyl die Nuwe Testament met ’n boodskap van seën begin en eindig (Mal. 4:6, Matt. 5:3-12, Op. 22:14, 21). Eintlik eindig al die Nuwe Testamentiese briewe met ’n seën. As jy aan die Here behoort, is jy gelukkig en geseënd. Ons moet dit vir mekaar toebid: ‘Die Here seën jou.’ Dit is nie net ’n formule nie, maar ’n gebed wat die Here beantwoord, omdat Jesus dit deur sy kruisdood vir ons gekoop het.

 

4. Hy is die koning van geregtigheid (v.2)

In Rut 1:2 lees ons van ’n man wie se naam ‘Elimeleg’ was. Eli beteken ‘God’, terwyl meleg ‘koning’ beteken. My broer het ’n seun wie se naam Zedec is. Dit kom van ’n Hebreeuse woord [tsedek] wat ‘geregtigheid’ beteken.

Dit is ook wat Melgisedek [meleg + tsedek] beteken: regverdige koning, of koning van geregtigheid (v.2). Soos Melgisedek, is Jesus die Koning van geregtigheid (Ps. 72:1-4, Jes. 53:11, Jer. 23:6, Hand. 3:14, 7:52). Op die laaste dag sal Hy die wêreld in reg en geregtigheid oordeel (Hand. 17:31).

Sal jy die finale oordeel slaag? Of is jy ’n korrupte mens met ’n sondige rekord en ’n vuil hart? Kla jy oor die korrupte regering, terwyl jy net so korrup is (net op ’n kleiner skaal)? Jy kan nog die gereg ontduik, maar hoe sal jy die Koning van Geregtigheid se alsiende oë ontwyk? Hy is ’n verterende vuur (12:29). As jy in sy hande val, is dit neusie verby. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God (10:31).

En tog is daar vir jou hoop as jy jou sonde erken, berou het en vergifnis vra. Moenie net bely dat jy finansieel korrup is (of nie), maar erken dat jy in die diepte van jou wese ’n stukkende mens is. As jy op Jesus en sy kruisdood vertrou, sal die Vader die vuil klere van jou besoedelde hart en jou sondige lewe uittrek en jou met die skoon klere van Jesus se geregtigheid bedek (Rom. 3:28, 5:1, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9). So sal jy die oordeel vryspring en eendag in die nuwe hemel en aarde woon waarin geregtigheid aan die orde van die dag is (2Pet. 3:13).

 

5. Hy is die koning van vrede (v.1-2)

Het jy al die Arabiese woord salaam gehoor? Wat beteken dit? Vrede. Wat van die Hebreeuse woord shalom? Dit beteken ook vrede. Die naam Salome beteken ook vrede.

Wat beteken Jerusalem? Stad van vrede (Ier + Shalom). Melgisedek was die koning van Salem, of Jerusalem (v.1, Ps. 76:3). Hy was m.a.w. die koning van vrede (v.2)—dalk omdat hy ’n vredevolle karakter gehad het en iemand was wat vrede gemaak het.

Jesus is so. Hy is die Prins, of Koning van vrede (Jes. 9:5-6, Ps. 72:7, Sag. 9:9-10). Hy is die Een wat ons sonde weggevat het om vrede tussen ons en God te bewerk (Ef. 2:14-17). Het jy vrede met God? Getuig jou gewete daarvan? Of is jy nog sy vyand, omdat jy die wêreld liefhet en in sonde lewe (Jak. 4:4, 1Joh. 2:15-17)? Ek praat nie net met ongelowiges nie, maar met gelowiges wat om een of ander rede kwaad is vir God, of met dié wat van Hom weggedwaal het. Ek bring vandag vir jou goeie nuus van vrede: vrede as jy ophou om teen die Here te baklei, as jy die wit vlag van bekering waai en as jy voor Hom neerbuig en sy voete soen (Ps. 2:12). Dit is die beste ding om te doen, want jy kan nie teen die Here wen nie.

 

6. Hy is ’n priester vir ewig (v.3)

Enige goeie berader leer om te luister na wat die persoon voor hom sê. Hy moet egter ook luister na dít wat die persoon nié sê nie. Mense se stilte spreek volumes.

Die Hebreërskrywer het dit opgemerk toe hy Gen. 14 lees. As ’n priester se geslagsregister so belangrik was in die Ou Testament (v.5, Esra 2:62-63), hoekom het Melgisedek nie ’n geslagsregister nie (v.3)? Hoekom weet ons nie wie sy pa of ma, seun of dogter was nie (v.3)? Hoekom sê die Bybel niks van sy geboorte, of sterfte nie (v.3)? Was hy dalk soos Henog en Elia wat nié gesterf het nie? Volgens v.3 is hy ’n priester vir ewig (v.3). Is hy soos die gelowiges in Op. 5:10 wat vir ewig op die nuwe aarde priesters sal wees?

Ek is nie presies seker wat v.3 alles beteken nie. Wat ek wel weet, is dat Melgisedek in ’n sekere opsig ’n skadubeeld van Jesus is (v.3, 15). Wat Jesus se Goddelike natuur betref, het Hy nie ’n geslagsregister of ’n ma nie, terwyl Hy in sy menslike natuur nie ’n pa het nie (Joh. 1:1, Matt. 1:18-25). Hy het geen begin of einde nie, maar is ’n Priester vir ewig na die orde van Melgisedek (v.3, 16-17, 25, Joh. 8:58, Heb. 1:10-12).

Omdat Hy ’n Priester is vir ewig en omdat Hy altyd vir jou intree, kan jy nie jou redding verloor, of in die toekoms uit die hemel geskop word soos die duiwel nie. Jy kan net jou redding verloor as God gelieg het toe Hy gesê het dat Jesus ’n ewige Priester is (v.17, 21), of as Jesus nie meer die Vader se wil uitvoer nie en ophou om vir jou te bid. En as dít kan gebeur, dan is Jesus soos die Zimbabwese land kommissaris van wie ons Donderdag gehoor het.

Hy het ’n boer gedreig dat die regering sy plaas gaan wegvat. Later het hy gesê dat die boer sy plaas kan terugkry. Die boer het geweet dat daar ’n slang in die gras is, want kort daarna toe reël die land kommissaris dat iemand vals klagtes teen die boer inbring, sodat hulle hom lewenslank in die tronk kon sit en sy plaas vir hulleself kon vat.

Die Here is nie so nie: as Hy iets belowe, doen Hy dit. “En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.” (1Joh. 2:25).


1  G.K. Beale & D.A. Carson (Ed.), Commentary on the New Testament Use of the Old Testament (Grand Rapids, Michigan: Baker Academic, 2007), 967

2  Later in die geskiedenis het priesters ook die Woord van God vir mense geleer (Esra 7, Mal. 2:7).

3  Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 223

Kategorieë