Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 1:57-80

’n Paar jaar gelede is Pierre en Yolande Korkie deur Al-Qaeda gevange geneem in Jemen. Vir maande het hulle in die tronk gesit en gewag vir iemand om hulle te bevry. Dit is ook hoe dit met God se kinders in die Ou Testament was. Dit is asof hulle in die donker gesit en wag het vir die Messias om hulle te bevry. Kan jy dink watter vreugde dit was toe Johannes die Doper gesê het: ‘Die Messias is hier!’? Kan jy dan verstaan hoekom selfs Johannes se geboorte vir mense rede gegee het om bly te wees? Dit is nie dat dit oor Johannes gaan nie, maar eerder dat hy mense na die Messias gewys het. Hy was soos ’n bordjie wat sê: ‘Kaapstad 30 km,’ nadat jy reeds vir 16 ure op die pad was.

1. Johannes se geboorte (v.57-66)

Voor enige groot konsert sing daar ’n minder bekende sanger, voordat die beroemde sanger op die verhoog verskyn. Johannes was so: hy het die volk se harte vir die Messias se koms voorberei. Daarom was sy geboorte belangrik. Op die tyd wat God bepaal het, het Elisabet aan Johannes geboorte gegee (v.57). Haar familie en bure was baie bly toe hulle hoor dat sy ’n seuntjie gebaar het (v.57-58, 14). Hulle het geweet dat sy oud en onvrugbaar was, en het dus besef dat dit God se groot ontferming is dat sy ’n seuntjie gekry het (v.58, 7, 36).

Die mense het opgedaag vir Johannes se besnydenis (v.59). Die besnydenis was ’n simbool dat God die sonde uit sy volk se harte sou sny (Deut. 30:6). Soos die Here vir Abraham en Moses beveel het, is Johannes agt dae na sy geboorte besny (v.59, Gen. 17:12, Lev. 12:3). Op die agtste dag is ’n baba se vitamien K vlakke die hoogste, wat beteken dat die bloed gouer stol.

Nietemin, Elisabet se familie en bure het vir Johannes se besnydenis gekom. Hulle wou hom na sy pa Sagaria vernoem (v.59). Elisabet het egter gesê dat die kind se naam Johannes is (v.60, 13). Soos mense vandag nog doen, wou hulle weet hoekom sy hom nie ’n familienaam gee nie (v.61). Met behulp van tekens het hulle vir Sagaria gevra wat hý die kind wou noem (v.62). Sagaria was stom, omdat hy nege maande vroeër ongelowig was en nie die Here se Woord deur die engel Gabriël geglo het nie (v.18-20). Die feit dat mense tekens gebruik het om met hom te praat, wys dat hy ook doof was. Hulle het vir hom ’n houtbordjie met ’n waslagie oor gegee [Gk. pinakidion]. Hy het die naam ‘Johannes’ daarop geskryf (v.63).1 Almal was verbaas dat Sagaria dieselfde naam as Elisabet gekies het, selfs al was hy doof en kon hy haar nie hoor nie.

Onmiddellik het die Here sy tong losgemaak en kon hy praat. Sy eerste woorde na 9 maande se stilte was die loflied van v.67-79 (v.64). Die mense was met diep ontsag en vrees vervul toe hulle die wonderwerk sien (v.65). Oral in die omliggende streek het mense met groot afwagting oor Johannes en die gebeure rondom sy geboorte gepraat (v.65). ’n Mens kan byna sien hoe twee kinders in die bed lê en gesels, nadat die olielamp reeds uitgedoof is. Gesinne het rondom die etenstafel gesels; skaapwagters terwyl hulle hulle skape oppas; vroue op die markplein; bure oor die heining; mense by hulle vriende se huise; mans en vroue buite die sinagoge op die Sabbat (v.65). Mense het selfs daaroor gedink as hulle alleen was (v.66, vgl. Luk. 2:19, 51). ‘Wat (nie ‘wie’ nie) sal hierdie kind wees?’ het hulle gewonder. ‘Waarvoor is hy bestem?’ Mettertyd het die Here gewys dat sy kragtige hand op Johannes se lewe was (v.66, 80).

Sy hand sal op jóú ook wees as Jesus jou hartsverlange is. Moenie sy hand wegklap as Hy dit uitstrek om jou te red nie, want anders sal Hy jou daarmee verpletter (Heb. 10:31). Vertrou eerder sy hand soos wat ’n slaaf sy Meester se hand dophou, totdat hy aan hom goed doen (Ps. 123:2). Sien die spykermerke van liefde in Jesus se hande (Joh. 20:27). Sien dat Hy jou naam in sy handpalm gegraveer het (Jes. 49:16). Laat hierdie dinge jou hart smelt, sodat jy Hom meer begeer.

2. Sagaria se loflied (v.67-80)

Sal ’n pa wat ’n nuwe baba het gedurig oor iemand anders se baba praat en vertel hoe wonderlik hý is? Net as die ander kind so spesiaal is dat sý kind gebore is om van die ander een te getuig en mense van hom te vertel. Dit is wat Sagaria gedoen het. Sy loflied gaan nie oor sy eie kind nie, maar oor Jesus. Waar hy sy eie kind noem, is dit dat hy gebore is om van die Messias te getuig.

Sagaria was vol van die Heilige Gees en het oor die Messias geprofeteer (v.67). Hy het die Here God van Israel geprys, omdat Hy sy volk deur die Messias met sy verlossing besoek het (v.68, 78, 7:16, Gk. episkeptomai). Hy het hulle nie net van ménse kom red nie, maar van sónde (v.68, Matt. 1:21). Hy was vir hulle soos ’n buffel se horings om hulle uit die leeu se bek te red (v.69, 1Kon. 22:11, 2Tim. 4:17, 1Pet. 5:8).

Die Messias was uit die huis van Dawid en daarom ook die regmatige Koning (v.69, 32). Dit is wat die Ou Testamentiese profete voorspel het (v.70, 2Sam. 7:12-13, Ps. 132:11, Jes. 7:14, 9:5, 11:1). Hy het gekom om sy volk van hulle vyande te red; uit die hand van dié wat hulle haat (v.71). Hiermee verwys Lukas nie na die Romeine nie, maar na die wêreld, die duiwel, sonde, die dood, en die hel (v.71, Joh. 8:34, 36, 16:33, Rom. 8:1, Kol. 1:13-14, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, 5:4-5).

Deur die Messias het God die verbond vervul wat Hy met ’n eed aan Abraham gesweer het, om sodoende sy barmhartigheid te bewys wat Hy aan ons voorvaders belowe het (v.72-73, 54-55, Miga 7:20, Heb. 6:13-14). Aan Abraham het hy ’n groot nageslag belowe en gesê dat Hy hulle in hom sal seën (Gen. 22:17-18). Dit het hy vervul deur Jesus wat miljoene sondaars uit alle nasies gered het (Gal. 3:14, 16, Op. 7:9). Duidelik het Jesus dan nie ’n nuwe godsdiens gebring nie, maar eerder die godsdiens van die Ou Testament vervul.

Prakties beteken dit dat Christenskap nie ’n ‘baba’ godsdiens is soos ’n Hindoe eenkeer vir my gesê het nie. Dit is die godsdiens van Abel, Noag, Abraham en Moses. Die godsdiens van die Ou Testament is nie Judaïsme, of iets anders nie. Dit is Christenskap.

Hoekom het God die Messias gestuur om ons te red? Volgens v.74 was dit sodat ons Hom kan dien. Dit gaan nie hier oor ’n vreesgevulde diens soos ’n slaaf wat onder ’n diktator dien nie (v.74, Sef. 3:15). Dit is eerder ’n blymoedige diens dat die Here ons uit die vyand se mag kom red het en ons die voorreg gegee het om Hom as ons Koning te dien. Moet dus nie vol vrees wees soos mense wat videos op sosiale media rondstuur en sê dat die regering ons gaan forseer om ’n entstof te neem wat die merk van die dier is nie. Waar is jou hoop in die Here? Waar is jou geloof? Het jy vergeet dat die Here nie sal toelaat dat die duiwel jou by Hom steel nie (Joh. 10:27-28, Rom. 8:31, 38-39)? Moet dan nie vrees nie (v.74, Jes. 41:10), maar dien die Here met heiligheid en opregtheid (v.75, Ef. 4:24).

Wat behels dit? Dit gaan nie net daaroor dat jy jou Bybel moet lees en baie tyd in gebed moet deurbring nie. Om heilig en regverdig te lewe beteken ook dat jy jou belasting betaal, jou ouers eer, en sekermaak dat jou weduwee-ma goed versorg is (Matt. 17:24-27, Luk. 2:51, Joh. 19:26-27). Om heilig en regverdig te lewe, beteken nie net dat jy die slegte vermy nie, maar dat jy die goeie najaag (Ef. 2:10). Eintlik beteken dit nie eers jy net goed doen nie, maar dat jy aan die binnekant nuut is, sodat jy ’n vriendelike, lojale, en sagmoedige karakter het (Gal. 5:22-23).

Dit sal jy net regkry as jy onthou dat jy in die Here se teenwoordigheid lewe (v.75). Iemand wat só lewe sal ook uitsien na die hemel waar ons vir ewig in die Here se teenwoordigheid sal lewe (v.75). As dit jý is, het jy iets wat baie mense in kerke nie het nie, naamlik ’n verlange dat Jesus weer sal kom om ons van die wêreld te red (2Tim. 4:8). Vir jou is Christenskap meer as net ’n godsdiens. Dit gaan vir jou oor Iemand met wie jy ’n verhouding het; Iemand na wie jou hart verlang. Soos jy weet is hierdie Iemand se Naam Jesus.

Dit is Hý van wie Johannes die Doper getuig het. Johannes het gekom as ’n profeet van die Allerhoogste God om die Messias se koms aan te kondig (v.76). ‘Die Koning is hier! Die Koning is hier! Maak gereed om Hom te ontmoet!’ Dit was Johannes se boodskap (Luk. 3). Hy wou aan mense die kennis van die Verlosser en sy verlossing gee; dat Hy gekom het om sonde te vergewe (v.77, Luk. 3:3, Matt. 26:28, Joh. 1:29). Eintlik is dit skokkend dat God se eie volk nie hierdie boodskap van verlossing geken het nie.

Net so verbaas dit my dat mense in evangeliese kerke nie die evangelie ken as ek hulle vra of hulle gered is nie. Dus moet ons evangelie-prediking nie in die strate begin nie, maar in die kerk. Ons moet vir mense vertel dat God nie ’n kwaai ou man is wat in die hemel sit en maniere uitdink om mense te straf nie. Hulle moet weet dat Hy ’n barmhartige God vol ontferming is (v.78). Ons kan nie sy verlossing verdien nie, maar Hy gee dit gratis deur Jesus wat vir ons sonde gesterf het (v.77-78, Tit. 3:4-5). Die feit dat Hý die plan uitgedink het om ons te red, wys dat Hy meer as gewillig is om ons te vergewe (v.77-78).

Dit is die punt van John Bunyan se boek, The Jerusalem Sinner Saved.2 Volgens Bunyan moes die dissipels éérs die evangelie in Jerusalem preek, omdat Jerusalem die grootste sondaars was. Dit is húlle wat die profete doodgemaak het en die Messias gekruisig het. En tog het Jesus die goeie nuus eers na húlle toe gestuur. So het Hy gewys dat Hy met sy hele hart bereid was om sondaars te red en te vergewe, want as Hy Jerusalem kon red, kon Hy enigiemand red.

Ongelukkig is die probleem dat sondaars agterdogtig is. Soos húlle dit sien, wil die Here net straf. Daarom kom hulle nie na Hom toe om gered te word nie. Daarom moet ons nie nét die wet preek om mense van hulle sonde te oortuig nie, maar ons moet verder gaan en die evangelie van God se liefde in Christus preek. John Bunyan het gesê: ‘It is not the over-heavy load of sin, but the discovery of mercy…that makes a man come to Jesus Christ…Behold how the promises, invitations, calls, and encouragements, like lilies, lie round about thee!… Yea, he hath mixed all those with his own name, his Son’s name; also, with the names of mercy, goodness, compassion, love, pity, grace, forgiveness, pardon, and what not, that he might encourage the coming sinner.’3

Sê vir sondaars dat God die Messias gestuur het om ons uit die duisternis van die dood te red en om soos die son oor ons te skyn (v.78-79, Ps. 107:10, 14, 23:4, Jes. 42:7, Miga 7:8, Mal. 4:2, Matt. 4:16, Joh. 8:12, Ef. 5:14). Dalk kán jy nie vir ander vertel nie, omdat jy dit self eers moet ervaar. Jy is skepties en glo nie regtig dat die Here jou uit die donker kan red en sy lig oor jou kan skyn nie. As jy maar net bereid was om die Here te glo, dan sou Hy sy sterk arm aan jou openbaar. Jy sou agterkom dat geen sonde te veel, of te groot is dat Hy dit nie kan vergewe nie. Niks wat jy in die verlede gedoen het, of kán doen, is groter as die reddende genade van Jesus Christus nie. Wat keer jou om vandag na Hom toe te draai en jou sonde aan sy voete neer te lê?

Dalk sê jy: ‘My sonde hou my terug. Ek moet dit eers los voordat ek na die Here toe kan kom.’ Jy dink verkeerd. Hoe gaan jy van jou sonde ontslae raak sonder Jesus? Daarom is die oplossing nie dat jy self moet probeer om dit te los nie, maar dat jy dit na Jesus toe moet bring, sodat Hý jou kan bevry. Vra Hom om jou voete op die regte pad te lei (v.79, Ps. 23:3). Totdat jy dit nie doen nie, sal jy nooit vrede hê nie (v.79). Jy sal altyd met God, ander mense, en jou skuldige gewete stry.

Dit is jammer dat baie mense dit eers ontdek as hulle 25, 30, 40, of ouer is. Moet asseblief nie jou kinders hierdie onreg aandoen nie, maar leer hulle van kleins af die Bybel soos Johannes dit in die woestyn geleer het (v.80, vgl. Gen. 24:63). Moet hulle nie net morele lessies leer nie (‘Dawid was dapper; wees dapper’), maar leer hulle van Jesus en die evangelie. Sê vir hulle: ‘God het Goliat deur Dawid oorwin. Sy mag is groot. In die Nuwe Testament het Hy sy groot vyand die duiwel aan die kruis oorwin. Almal van ons het teen die Here gesondig. As ons egter na Hom toe draai, tot Hom bid, in Hom glo, en Hom vertrou, sal Hy ons vergewe.’ As jy jou kinders só leer, sal hulle nie net fisies groei nie, maar waarskynlik die Here ontmoet en geestelik groei soos bome wat langs riviere geplant is (v.80). Dan sal Jesus op ’n jong ouderdom reeds hulle hoop en hartsverlange wees.

Dit laat my dink aan ’n jong seun wat ek ’n paar weke gelede ontmoet het. Sy pa het my vertel hoe hy tot bekering gekom het. Toe hy klein was, het hy ’n diep sonde oortuiging ervaar. Hy het die evangelie geken, maar het vir sy pa gesê: ‘I don’t get it dad. I don’t know how to believe.’ Sy ouers het aangehou om die evangelie met hom te deel en vir hom te bid. Hulle het spesifiek gebid dat die Here sy oë sal open en aan hom geloof sal gee (Fil. 1:29, Ef. 2:8).

Toe die seun 10 was, het hulle ’n spesiale uitreik by hulle kerk gehad. Die kinders is in groepe verdeel. Die jong seun het aandagtig geluister hoe iemand die evangelie in ’n video verduidelik. Toe die video klaar was, het sy pa by die venster uitgestaar. Skielik het sy seun langs hom gestaan. Die gesprek het so geklink:

Seun: It happened dad!

Pa: What are you talking about?

Seun: I get it! I believe!

Pa: What happened!?

Seun: After I heard the gospel explained in the video, I went to the bathroom and locked myself in the toilet. I prayed to the Lord, and told him: ‘Lord, if you will save me, I will serve you.’ And He did! He saved me, dad! I believe!

Vandag is die seun 14 jaar oud. Hy is ernstig oor die Here en volg Hom met sy hele hart.

Laat ons nie nét die Here vra om die kinders in ons gesinne en in die gemeente te red nie, maar laat ons Hom vra om dit te doen terwyl hulle jonk is. Vir dit om te gebeur moet ons die voorbeeld stel en vir hulle wys dat Jesus oook die hoop en verlange van óns harte is.


1  Johannes P. Louw & Eugene A. Nida (Ed.), Greek-English Lexicon of the New Testament Based on Semantic Domains: Vol. 1 (Cape Town: Bible Society of South Africa, 1989 [1988]), 6.60, p. 61 en Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 97

2  John Bunyan, The Jerusalem Sinner Saved (London: The Hand and Bible, 1691). Verkry by http://www.bunyanministries.org/works/vol1/03_jerusalem_sinner_saved.pdf

3  John Bunyan, Works: Vol. 1 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1991), 286, 298. Aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), 120