Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 7:1-17

Een van my vriende in die Kaap het my vertel van ’n gemeente in Vredendal wat tien begrafnisse binne twee weke gehad het. Die gemeente het maar 80 mense in totaal.

’n Kollega het die afgelope twee weke vyf begrafnisse gehad waarvan een sy ma s’n was. ’n Ander kollega het op een dag ’n man en sy vrou se roudiens waargeneem. Een van ons leraars het onlangs Covid opgedoen. Kort na hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy sy pa en sy oom se begrafnisse bygewoon. ’n Ander leraar in ons assosiasie het vertel dat Covid byna ’n hele gesin in sy gemeente uitgewis het.

In ons eie gemeente het verskeie mense geliefdes weens Covid verloor. Party van ons mense het erg siek geraak, terwyl ander lig daarvan afgekom het.

Maar ten spyte van hierdie voorbeelde hou ek voet by stuk dat Jesus groter is as Covid.

 

1. Die centurio se slaaf (v.1-10)

Toe ek in die laerskool was, het ons by my nefies in Rustenburg gaan kuier. Terwyl ons daar was, het hulle familie aan sy pa se kant daar gekuier. Ek was jaloers, omdat ek my nefies vir myself wou hê. Die oudste neef het geïrriteerd geraak en vir my gesê: ‘Hou op jaloers wees. Ek is nie net jóú nefie nie.’

Die Jode was soos ek met my nefies was: hulle het gedink dat die Messias net húlle s’n is. Toe Jesus in Lukas 7 die Romeinse centurio se slaaf genees het, het Hy gewys dat Hy die Messias en Verlosser van alle nasies is en ook van die armes. Dit het in Kapernaum aan die noordkus van die See van Galilea gebeur nadat Jesus op ’n gelykte vir die skare gepreek het (6:17-18). Kapernaum was Jesus se tuisdorp nadat Hy uit Nasaret weg is (Matt. 4:13).

In Kapernaum was daar ’n Romeinse centurio of hoofman oor ’n honderd soldate (v.2). Sy slaaf was siek en op die punt om te sterf (v.2). Hy was verlam en het vreeslik gely (Matt. 8:6). Hy was ’n baie waardevolle slaaf (v.2). Toe die centurio van Jesus hoor, het hy die ouderlinge van die Jode gestuur om te vra of Hy die siek slaaf sal genees (v.3). Die Grieks van Matt. 8:5 [parakaleō] impliseer dat hy Jesus nader geroep het en Hom gesmeek het. Matteus laat dit klink of die centurio self gekom het, maar as ’n mens dit met Lukas vergelyk, sien jy dat hy deur boodskappers gekommunikeer het.

Die centurio het net van Jesus gehoor en Hom nie gesien nie. Tog het hy die gerugte geglo, naamlik dat Jesus siekes kan genees. Toe die ouderlinge by Jesus kom, het hulle op grond van die centurio se karakter gepleit. ‘Hy is waardig,’ het hulle gesê (v.4). ‘Hy is goed vir die Jode en het ons aanbiddingsplek of sinagoge gebou’ (v.4-5). Die kanse is goed dat die centurio ’n godvresende was; iemand wat die Joodse geloof aangeneem het, maar nie besny is nie (vgl. Hand. 10).

Jesus het ingestem om die centurio se slaaf te genees (v.6, Matt. 8:7). Dit het Hy gedoen, nie omdat die centurio waardig was of omdat die Jode reg gevra het nie. Hy het dit eenvoudig gedoen omdat Hy barmhartig is en vir mense omgee. Dit is ook hoekom Hy ons help: nie omdat ons waardig is of altyd reg bid nie, maar omdat Hy gewillig, almagtig en goed is. God maak ons krom gebede reguit en was dit met sy bloed (Rom. 8:26-27). Gewoonlik sê Hy ja en gee Hy presies waarvoor ons vra (Matt. 7:7-11). Soms sê Hy nee of wag, maar dan is daar ’n goeie rede daarvoor.1

Hy genees byvoorbeeld nie altyd die siek persoon vir wie ons bid nie. Dit mag selfs wees dat Hy die persoon hemel toe vat. In daardie geval word Jesus se gebed wat Hy in Joh. 17:24 gebid het, verhoor: “Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.”2 Om in die hemel te wees, is beter as om gesond te word en verder in ’n wêreld vol siekte, sonde, hartseer, pyn en dood voort te leef. Om by Jesus te wees, is verreweg die beste (Fil. 1:23). Dit is beter om aan Covid te sterf en in die hemel te wees as om daarvan genees te word en sonder Jesus op die aarde te leef.

Jesus wil hê ons moet weet dat Hy die enigste Rots is waarop ons kan bou. Waarop anders kan jy vertrou as alles weggevat word: die ekonomie, jou werk, jou geld, jou gesondheid, jou geliefdes, jou lewe? In die centurio se geval het die siekte van sy geliefde slaaf hom na Jesus toe gedryf. Al het die Jode gedink die centurio is waardig (v.4), het hy geweet dat hy onwaardig is en dat Jesus nie onder sy dak kan inkom nie (v.6). Hy het homself nie as belangrik beskou nie. Gevolglik het hy nie self na Jesus toe gekom nie, maar boodskappers gestuur (v.7). Hy het geweet dat Jesus nie teenwoordig hoef te wees om die slaaf te genees nie, maar dat Hy hom met ’n woord kan genees (v.7, Gen. 1:3, Ps. 107:20, Joh. 1:1, Heb. 1:3). Hy het ook geweet dat Jesus van God af kom en dat hy gesag het om siek mense te genees. Hy self was onder die gesag van die keiser. As hy dus vir ’n soldate of slaaf ’n opdrag gegee het, het hy geluister (v.8). Sy onderdane het geweet dat hy die keiser se gesag agter hom het.

Net so het enige siekte gewyk as Jesus praat, omdat God se gesag met Hom was. Die centurio het indirek bely dat Jesus die Seun van God en die Messias is (vgl. Mark. 15:39). Alhoewel Jesus Hom vir 33 jaar as mens aan die Vader ondewerp het (Joh. 14:28, Fil. 2:7), weet ons dat Hy as God gelyk is met die Vader (Joh. 5:18, 10:30, 20:28, Fil. 2:6).

Jesus het Hom oor die centurio se geloof verwonder en vir die skare gesê dat niemand in Israel so ’n groot geloof het nie (v.9, Matt. 8:10). Die Jode het baie wonderwerke gesien, maar nie geglo nie. Toe die centurio net van Jesus se wonders hóór (v.3), toe weet hy dat Hy van God af kom (v.8). In reaksie op die centurio se geloof het Jesus sy slaaf genees (v.10, Matt. 8:13).

Is dit nie waarvoor die meeste van ons tydens Covid en ander siektes bid nie: ‘Here, genees asseblief my geliefde en spaar sy lewe’? Dit is egter nie die belangrikste les in Lukas 7 nie. Lukas fokus nie op die slaaf wat genees is nie, maar op Jesus wat wonderwerke kan doen. Hy probeer vir ons wys dat Jesus die Messias en die Seun van God is. Jesus is groter as Covid en probeer om daardeur te wys wie Hy is.

Hy is die groot Geneesheer wat party mense deur dokters en medikasie genees. Soms genees Hy hulle wonderbaarlik en bonatuurlik in antwoord op mense se gebede. Ek dink byvoorbeeld aan ’n Zulu Baptiste prediker genaamd William Duma (1907-1977). Hy het vir siekes en selfs sterwendes gebid, sodat hulle dadelik genees is.3

Ek self weet van ’n paar gevalle waar siek mense dadelik en kragdadig gesonde geword het in antwoord op gebed. Een van my kollegas het in 2007 ’n beroerte gehad. Die linkerkant van sy liggaam is geaffekteer. Toe een van sy vriende vir hom bid, is hy daar en dan genees. Die genesing was volkome, volmaak en blywend.

My ma het galstene gekry en moes vir ’n operasie gaan. Sy het baie sleg gevoel en het vir die gemeente gevra om vir haar te bid. Toe sy later in die week vir toetse gaan, toe is die galstene weg. ‘Waar is die stene?’ het die dokter verbaas gevra. ‘Dit het seker uitgekom,’ het sy geantwoord. ‘Galstene kom nie uit nie,’ het hy gesê. ‘Dan het die Here ons gemeente se gebede verhoor,’ het sy gesê.

’n Man en vrou in die Kaap se dogtertjie was ernstig siek. Daar was ’n abses in haar neusholte. Dit was besig om na die brein toe te versprei. Die operasie sou ’n baie delikate een wees en kon baie nadelige gevolge hê. Die ouers het my vriend gevra om vir hulle te bid. Hy het niks snaaks gedoen nie, maar hulle eenvoudig vorentoe geroep en tydens die erediens vir hulle gebid. Toe die dogtertjie twee dae later getoets word, toe is die abses weg.

Omtrent 2 maande gelede, toe word een van my vriend se bejaarde lidmate oornag doof. Sy kon skaars iets hoor. Omdat daar die Sondag nagmaal was, het sy en haar man besluit om kerk toe te gaan. Sy het vir my vriend gesê dat sy niks kan hoor nie, maar dat sy daar wou wees vir die nagmaal. My vriend het hom voorgeneem om tydens die erediens vir haar te bid. Dit het hy gedoen, terwyl hy ook vir ander siekes gebid het. Toe hy sy oë oopmaak, toe steek die tannie haar hand op. ‘Ek kan hoor!’ het sy gesê. Haar gehoor is heeltemal herstel.

Buiten dat Jesus sy grootheid deur genesings wys, wys Hy dit deur toe te laat dat mense siek word. Hy doen dit, sodat hulle Hom kan ken en hulle tot Hom kan bekeer. Ek dink aan ’n man wat kanker gekry het. Sy kanker het hom na die Here teo gedryf. Toe ek die evangelie met hom gedeel het, toe sê hy: ‘Ek het dit nog nooit so verstaan nie.’ Ek het later ’n boodskap van sy vrou gekry om te sê hoe dankbaar hulle is dat ek die evangelie so mooi aan hulle verduidelik het.

My vrou se pa het op sy sterfbed tot bekering gekom. My oupa het op sy sterfbed tot bekering gekom. Hy het vir my pa gesê: ‘I am going to see Jesus. He might not say: “Well done, good and faithful servant,” but I am going to see Him.’

’n Man in Polokwane het goddeloos opgetree en sy vrou geslaan. Skielik het hy baie siek geword. Die leraar van sy gemeente het een van die ouderlinge gestuur om die evangelie met hom te deel. Die man het tot bekering gekom. Hy het gesond geword en geestelik gegroei, sodat hy later ’n ouderling in sy gemeente geword het.

Een van ons lidmate het in 2019 siek geword van middeloorontsteking. Terwyl sy op haar siekbed was, toe besef sy sy is nie gered nie. Die Here het in haar lewe gewerk, sodat sy tot bekering gekom het.

Ek ken ’n man wat baie gedrink het. Ek het verskeie kere die evangelie met hom gedeel. Hy wou nie sy drank los nie. Uiteindelik het hy in ’n motorongeluk beland en verlam geraak. Daarna het hy tot bekering gekom.

Party mense kom nie op hulle siekbed tot bekering nie. Hulle is reeds gered, maar sien Jesus op maniere wat hulle Hom nie voorheen gesien het nie. Joni Eareckson Tada het as jong meisie haar nek gebreek en verlam geraak. Vandag is sy 71. By ’n konferensie het sy haar getuienis gegee en van ’n dieper genesing gepraat; die genesing van haar siel. Sy vertel hoe die Here dinge in haar lewe kom uitwys het. Sy kon dit bely en meer soos Jesus word.

John Piper sê: ‘There are things to be seen in the Word of God that our eyes can only see through the lens of tears.’4 Hierdie waarheid kom uit Ps. 119:71: “Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.” Moenie net bid dat jy veilig deur Covid en ander siektes sal kom nie, maar vra die Here wat Hy vir jou wil leer. Vra Hom om jou meer van Homself te wys.

Daar is gevalle waar Jesus Homself aan mense openbaar deurdat Hy hulle na Hom toe te neem. Gelowiges wat van Covid of ander oorsake sterf, weet meer van Jesus se goedheid en genesende krag as enige van ons.

Jesus wys Homself ook vir mense as Hy hulle lewens kortknip en hulle in die hel laat beland. Daar spot hulle nie meer nie. Hulle weet dat Hy die heilige, soewereine, regverdige en almagtige God is. Weet jý dit? Glo jý in Hom? Vertrou jy Hom as jou Verlosser? Aanbid en gehoorsaam jy Hom as jou Here? Het jy Hom lief as die Een wat jou aan die lewe hou; as die Een wat sy lewe vir jou afgelê het? Indien nie, wil ek jou aanmoedig om te vra dat Hy Homself aan jou sal openbaar. Soek Hom in sy Woord en deur gebed. Vra die Gees om jou oë te oop te maak, sodat jy Hom kan sien (Ps. 119:18, Hand. 16:14, 2Kor. 4:6). Dan sal jy weet dat Hy groter as Covid is—nie net om dit keer nie, maar om mense daardeur tot bekering te bring.

 

2. Die weduwee se seun (v.11-17)

Ek het ’n predikant hoor sê: ‘My doel is nie om by elke begrafnis mense in die hemel in te preek nie.’ Ek probeer juis om dit te doen, omdat die dood geneig is om mense se ore oop te maak. Hoeveel te meer sal hulle ore nie oop wees as Jesus iets buitengewoon doen soos om ’n dooie op te wek nie? Dit is wat Hy in die verse voor ons gedoen het.

Nadat Hy die centurio se slaaf genees het, het Hy saam met sy dissipels en ’n groot skare na die dorpie Nain toe gegaan (v.11). Nain was omtrent 40 km van Kapernaum af; suid-wes van die See van Galilea. Dit bestaan vandag nog. Toe Jesus naby die stadpoort kom, toe dra mense ’n man op ’n draagbaar om hom te begrawe (v.12). Hy was die enigste seun van ’n weduwee (v.12). Die weduwee het ’n redelike skare by haar gehad (v.12). Toe Jesus haar trane sien, toe besef Hy dat sy alles verloor het en dat daar niemand was om vir haar te sorg nie (v.13). Die vrou se nood het Jesus tot in sy ingewande beweeg (v.13, Gk. splagchnizomai).

Jesus voel ook jou pyn en nood by ’n geliefde se begrafnis (Jes. 63:9, Heb. 4:15). Hy kan nog steeds dooie mense opwek as Hy wil en doen dit soms in antwoord op gebed. John Welch (1522-1622) het vir ’n jong student gebid wat vir 50 ure dood was. Die dokters het hom dood verklaar, maar Welch het gebid totdat die man opgestaan het.5

Toe 17 jarige Litta gesterf het, het die polisie haar doodsertifikaat uitgereik. William Duma het vir haar gebid en die Here het haar opgewek.6

Gewoonlik is dit nie die geval nie. Eers by die wederkoms sal Jesus die dooies finaal opwek (Joh. 5:28-29). In Lukas 7 het Hy die weduwee se seun opgewek as ’n s voorskou van wat kom. Daarom het Hy vir haar gesê om nie te huil nie, omdat Hy van plan was om haar seun op te wek (v.13). Dit het as volg gebeur:

Jesus het nader gekom en aan die draagbaar geraak (v.14). Die dooie het Hom nie onrein gemaak nie (Num. 19:11), maar Hy het die dooie rein gemaak. Deur ’n woord te spreek het Hy die dooie laat lewe (v.14). So het Hy sy mag oor lewe en dood gewys (Joh. 10:18). Die dooie het regop gesit en gepraat (v.15). Jesus het hom vir sy ma teruggegee (v.15). Die mense was vreesbevange en het God verheerlik (v.16). Hulle het oral vertel wat Jesus gedoen het (v.17). Hulle het Hom ’n groot profeet genoem, omdat Hy soos Elia en Elisa ’n dooie laat lewe het (1Kon. 17:17-24, 2Kon. 4:18-37). Hulle het besef dat God deur Hom werk en dat Hy sy volk besoek het (v.17). Tog het hulle nog nie besef dat Jesus die Here is nie (v.13); Immanuel, God met ons (Matt. 1:23).

Besef jy dit? Dan sal ’n Christen se begrafnis vir jou anders wees as ’n ongelowige s’n. Jy sal nie onbedaarlik huil soos die Moslem vrou toe sy gehoor het haar man is dood nie. Jy sal nie wanhopig huil soos die ongelowiges by ’n begrafnis wat ek moes waarneem nie (1Tess. 4:13). Ons trane is eg en ons pyn is diep. Maar ons het die hoop dat ons Jesus gaan sien en dat ons met ander gelowiges herenig gaan word (1Tess. 2:19-20, 4:14-17). As ons geliefdes aan Jesus behoort het, gaan ons hulle weer sien.

Laat ons mekaar met hierdie woorde bemoedig (1Tess. 4:18). Jesus het reeds die dood oorwin en daarom het Covid nie die laaste lag nie (Heb. 2:14-15, Op. 1:18). Jesus het. Hy is groter Covid. Laat ons dan soos wyle tannie Etrechia de Villiers sê: ‘Julle moenie op my begrafnis huil nie. Dit moet ’n dankdiens wees. Daar moet baie kos wees. Dit is mos ’n fees, omdat ek by die Here is.’


1  Sien my preek hieroor by https://baptistekerkkemptonpark.com/persoonlike-probleme-onbeantwoorde-gebed/

2  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

3  Kevin Roy, The Story of the Church in South Africa (Carlisle, UK: Langham Global Library, 2017), 175-82

4  Don Kistler (ed.), Feed My Sheep: A Passionate Plea for Preaching (Morgan, PA: Soli Deo Gloria Publications, 2002), 262

5  John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 132-4

6  Roy, ibid., 178