Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 3:15-22

Ek verag dit as ’n leraar ’n groot foto van homself en sy vrou op hulle webtuiste, of kennisgewing sit. Ek kry die idee dat hý en nie Jesus nie, in die kollig is. In Luk. 3 is Jesus in die kollig en gee Johannes nie om dat hy in die agtergrond verdwyn nie.

1. Johannes se getuienis (v.15-20)

Bruce word skatryk deurdat hy sy maatskappy se toerusting op die kantlyn gebruik om ’n ekstra inkomste te verdien. Net so misbruik party predikers die evangelie om volgelinge vir hulleself te wen. Johannes was nie so nie. Toe mense hom vra of hy die Messias is, toe sê hy nee (v.15-16, Joh. 1:19-29). Vir hom het dit nie oor homself gegaan nie, maar oor Jesus. Daarom het hy gesê: ‘Die Messias is groter as ek’ (v.15-16, Joh. 1:15, 30).

Om dit te beklemtoon, het hy die beeld van v.16 gebruik: “ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”1 In Johannes se tyd het mense sandale gedra. Omdat hulle op stofpaaie geloop het, het hulle voete vuil geword. As jy dus by iemand gaan kuier het, moes ’n heidense slaaf jou sandale uittrek en jou voete was. ’n Joodse slaaf sou dit nie gedoen het nie; dit was benede hom.2

Johannes se punt is dat hy nie eers die status van ’n heidense slaaf het nie. In vergelyking met Jesus is hy laer as dit. As ons Jesus geken het soos Johannes het, sou ons dieselfde gesê het. Ons sou besef het dat ons sonder Jesus niks is, het, of kan doen nie (Joh. 15:5, 1Kor. 4:7). As jy jouself nie só verneder nie, sal die Hére jou verneder (Jak. 4:6). Daarom is dit beter dat ons Johannes se gesindheid aanneem. Hy het besef dat hy net met water doop, terwyl die Messias mense met die Heilige Gees en met vuur doop (v.16).

Wat beteken dit en wanneer gebeur dit? Vir die apostels het dit ’n tydjie na hulle bekering gebeur. Voorheen was dit nie nodig vir die Gees om by hulle te wees nie, omdat Jesus by hulle was (Joh. 16:7). Jesus is egter nie meer met ons in die vlees nie. Daarom gee Hy jou sy Gees sodra jy tot bekering gekom het (Rom. 8:9, 1Kor. 12:13, Tit. 3:5-6). ’n Mens ontvang Hom nie net eenkeer nie, maar jy kan en moet voortdurend met die Gees gevul word (Luk. 11:13, Hand. 2:4, 4:31, Ef. 5:18, Gal. 5:16, 25). Dit is Hý wat ons krag gee om die evangelie te versprei (Luk. 24:49, Hand. 1:8). As ons dit nié doen nie en net op ons eie ou gemeentetjie fokus, sal die Here sy krag onttrek en sal die goeie dinge wat ons in die gemeente geniet, daarmee heen wees.

Laat ons dus aanhou met ons uitreike by MES, ons ondersteuning van sending, ons gebede vir sendelinge (ook tydens die erediens), ons evangelisering van ongelowiges. Blaas die evangelievlam in hart aan as dit verflou het (2Tim. 1:6). Sodoende sal jy nie net ander verkwik nie, maar jouself (Spr. 11:25). As ons egter in onsself gekeer raak, staan ons die gevaar dat Jesus ons nie met sy Gees sal doop nie, maar met vuur (v.16).

Aan die een kant kan dit beteken dat Hy ons in die vuuroond van dissipline sal louter om ons van ons sonde te reinig (Mal. 3:2-3). Hy gee ons met ander woorde nie net die teken van reiniging soos Johannes nie (die waterdoop), maar Hy reinig ons harte. Aan die ander kant kan die vuurdoop na die hel verwys (sien v.9, 17). Om dit vry te spring, moet jy in Jesus glo wat in ons plek die vuurdoop van die kruis ondergaan het (Luk. 12:49-50).

Totdat ek my asem uitblaas, sal ek aandring dat jy jou tot die Here bekeer en Hom aanroep. Die rede hiervoor is omdat party mense in ons gemeente ongered is (hulle lewens wys dit). Ek sal aanhou pleit, omdat baie mense onverskillig is met hulle siele en hulle leraar meer daarvoor omgee as hulleself. As jy nie vir jou eie redding wil bid en sug nie, sal ek dit doen. Bowenal sal ek aanhou pleit, omdat Jesus jou geskep het en jy Hom jou lewe skuld. Ek sal aanhou pleit, omdat Jesus waardig is dat jy Hom sal liefhê, ken, en aanbid.

As jy hierdie pleidooi ignoreer, geld v.17 vir jou soos dit vir die Jode in 1ste eeu gegeld het: “Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.” In die 1ste eeu het koringboere hulle oes op die dorsvloer versamel. Osse het oor die koringare geloop om die saad uit die doppies los te breek. Die boer sou ’n hooivurk gebruik om die koring in die lug te gooi. Die wind het die ligter kaf weggewaai, terwyl die swaarder koring op die grond geval het. Die kaf is bymekaar gehark en in die vuur verbrand, terwyl die boer die koring in sy skure gebêre het.

Net so sal die Messias die regverdige soos koring in sy skuur vergader, terwyl hy die goddelose soos kaf sal verbrand (v.17, Ps. 1:4, 35:5, Mal. 4:1, Matt. 13:30). Hulle sal nie opbrand soos party glo nie. Ons weet dit, omdat Jesus van ’n ewige en onuitblusbare vuur praat (v.17, Matt. 25:41, 46, Mark. 9:48, Op. 14:10-11). Sommige beskou dit as die bangmaak stories van ou mense wat voor die era van wetenskap gelewe het. Maar volgens die Bybel is die hel ’n realiteit. As jy jou sonde erken en in Jesus glo, sal Hy jou van die hel red (Joh. 3:16, 1Tess. 1:10). Om Alec Motyer se woorde te gebruik: ‘The only way to flee from God is to flee to him’.3 Ek wil graag meer hieroor sê, maar my tyd is beperk. Laat ek dan net dít sê: As die Here vandag vir jou sê, ‘Ek praat met jóú!’ en jy meer wil weet—bel my, epos my, of kom sien my, sodat ek die goeie nuus met jou kan deel van Jesus wat gekom het om sondaars van die hel te red (v.18, 3, 6, 17).

Ongelukkig is dit net goeie nuus as jy jou bekeer. As jy jou nié bekeer nie, is daar slegte nuus (v.16-17, 9). Koning Herodes wou dit nie hoor nie, veral toe Johannes gesê het: ‘Jy doen sonde om jou broer se vrou te vat’ (v.19). Hy was dubbel skuldig aan bloedskande, omdat Herodias sy halfbroer Aristobulus se dogter was, en sy ander halfbroer Filippus se vrou (v.19, 1, Mark. 6:17, Lev. 18:16, 20).4 Daarby het Herodes nog ’n klomp ander sondes ook gedoen (v.19).

Om dieselfde rede wil mense in ons tyd nie die evangelie hoor nie. Hulle het nie ’n probleem as jy sê: ‘Jesus is lief vir jou en het ’n wonderlike plan vir jou lewe’ nie. Dit raak egter ’n probleem as jy sê: ‘Jou sonde is vir die Here afstootlik. As jy dit los en in sy Seun glo, sal Hy jou vergewe. Maar as jy daarmee aanhou, sal jy hel toe gaan.’

Daar het jy dan die hoof rede vir hoekom mense Jesus verwerp. Hulle haat dit as Hy sê: ‘As jy My dissipel wil wees, moet jy en jou meisie uitmekaar trek, is jou wilde partytjies iets van die verlede, en kan jou loopbaan nie nommer 1 in jou lewe wees nie.’ As jy dít vir hulle sê, sal hulle jou haat, sê dat jy eng is, jou soos ’n stopstraat ignoreer, jou uitskuif, jou vervolg, en in sommige gevalle die mense doodmaak. Dit is wat met Johannes gebeur het (v.20, Matt. 14:1-12, vgl. Hand. 4:27). En tog was sy lewe nie vir hom die belangrikste nie, maar wou hy so gou moontlik van die verhoog af kom, sodat die kollig op Jesus kon wees. “Hy moet meer word, en ek minder,” het Johannes in Joh. 3:30 gesê.

Ons gebrek aan Johannes gesindheid maak dat ons maklik seergemaak voel as mense ons nie raaksien, erken, of dankie sê nie. As Jesus egter vir ons die belangrikste was, sou ons nie omgegee het wat mense dink nie, solank Jesus in die kollig is (Fil. 1:17-18).

2. God se getuienis (v.21-22)

Die afgelope tyd het ’n paar mense my oor die 2020-Vertaling gevra. Mense wonder of dit ’n betroubare vertaling is, veral omdat dit op plekke van die Ou Vertaling verskil. Eintlik gaan dit oor verskillende Griekse en Hebreeuse manuskripte. Die vertalers soek die oudste en mees betroubare manuskripte. Dit is waar die verskille inkom. Maar die verskille tussen die Ou Vertaling en 2020-Vertaling se manuskripte is so klein, dat dit geensins ’n verskil maak aan die leerstellings van ons geloof nie.

‘Maar wat van tekste soos 1Joh. 5:7-8?’ wil iemand weet. ‘Die Ou Vertaling sê dat die Vader, die Woord, en die Gees van Jesus getuig, terwyl die 2020-Vertaling net sê dat die Gees, die water, en die bloed van Hom getuig. Vat ons nie die Drie-Eenheid weg as ons die 2020-Vertaling se weergawe van 1Joh. 5:7-8 aanvaar nie?’ Nee, want baie ander verse leer hierdie selfde waarheid. Buitendien gaan die Gees, die water, en die bloed oor niks anders as die Drie-Eenheid nie. Kom ek wys dit vir jou.

Nadat Johannes die volk in v.1-14 gedoop het, het hy vir Jesus gedoop (v.21). Dit was ’n bekeringsdoop vir sondaars (v.3). Alhoewel Jesus nie ’n sondaar was nie, het Hy Homself met sondaars vereenselwig en aan ons sy geregtigheid kom gee (Matt. 3:15). Sy doop was ’n prentjie van die kruis waar die Vader se oordeel Hom soos ’n vloedgolf sou oorweldig (Mark. 10:38, Luk. 12:50). Die feit dat Hy weer uit die water opgekom het (Matt. 3:16), het gewys dat Hy weer uit die dood sou opstaan (Rom. 6:4, Kol. 2:12).

Sy doop herinner ons ook aan Noag se vloed. Die vloed het vir Jesus getref, sodat ons nou veilig in die ark van sy kruisdood is. Petrus het dieselfde verband tussen Noag se vloed en die doop gesien: “In die ark is net ’n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered. Die doop, wat ’n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as ’n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as ’n smeekgebed tot God om ’n skoon gewete op grond van die opstanding van Jesus Christus” (1Pet. 3:20-21).

Jesus se doop simboliseer verder dat Hy die Een is wat sou kom om sy volk te reinig (Tit. 2:14). Gelowige: wanneer laas was jy by Jesus vir reiniging (1Joh. 1:9)? Ongelowige: hoekom pla dit jou nie dat jou lewe en gewete so onrein is soos ’n vark wat in die modder gerol het, of dat jy so sal sterf en voor die Here moet staan nie? Bekeer jou en laat jou doop as teken dat die Here jou hart gereinig het (Hand. 2:38). Verstaan asseblief dat dit nie die doop is wat jou hart reinig nie, maar dat die Here dit doen as jy Hom aanroep. Daarom sê die Bybel jy moet Hom aanroep en vir ’n skoon gewete bid as jy gedoop word (Hand. 22:16, 1Pet. 3:21).

Bid ook dat God jou opnuut met sy Gees sal vul as jy gedoop word (Luk. 11:13, Hand. 2:38). Dit is wat Jesus by sý doop gebid het (v.21). Hoe weet ons dat Hy dit gebid het? Want dit was God se antwoord toe Hy die hemele oopskeur en soos ’n duif op Hom neerdaal (v.21-22, Jes. 64:1). Dit is asof Jesus gebid het: ‘U volk het teen U gesondig, maar daal asseblief neer en vergewe hulle. Verseël My as hulle Messias en Verlosser, sodat Ek hulle kan red’ (vgl. Joh. 6:27).

Maar hoekom het Jesus die Gees nodig gehad as Hy God is? As Jesus wou, kon Hy sekerlik uit sy Goddelike natuur wonders doen (Joh. 1:1-3). Hy het egter gekies om niks op sy eie te doen nie, maar om alles in afhanklikheid van sy Vader en deur die Heilige Gees te doen (Matt. 4:3-4, 12:28, Hand. 10:38, Fil. 2:6). Hiervoor het die Heilige Gees sy menslike natuur bekragtig toe Hy in die Jordaan gedoop is (v.22, Luk. 4:18-19).

Die Gees het ook op Hom neergedaal, sodat almal kon sien dat Hy die Messias is: die Gesalfde Priester, Profeet, en Koning (Messias, of Christus beteken ‘Gesalfde’). Dit is hoekom die Gees nie onsigbaar op Hom gekom het nie, maar in liggaamlike vorm soos ’n duif (v.22). Hoekom het Hy soos ’n duif gekom? Volgens Matt. 10:16 is duiwe opreg. So is dit met die Heilige Gees.

Die duif oor die doopwater herinner ons ook aan die skepping waar die Gees van God oor die waters gesweef het (Gen. 1:2). Of dit herinner ons aan Noag se ark toe die duif oor die vloedwaters gevlieg het en uiteindelik met ’n olyftakkie terugkeer het om te wys dat daar nuwe lewe na die vloed was (sien weer 1Pet. 3:20-21). In v.21-22 het die Gees dus aangedui dat Jesus die Een was wat gekom het om ’n nuwe skepping en nuwe lewe te bring.

Die Vader het ook getuig dat Jesus sy Seun, die Messias en die Verlosser is (v.22, Ps. 2:7, Jes. 42:1). Dit beteken nie dat Jesus dit eers by sy doop geword het nie (Luk. 1:32, 35), maar die Vader het dit nou bekendgemaak (Joh. 12:28-30). Dit is asof Hy wou sê: ‘Jesus is my unieke Seun! Net soos ’n aardse pa en seun dieselfde natuur het, deel Ek en my Seun dieselfde natuur. Ons is Een (Joh. 10:30). Hy is God net soos Ek (Joh. 1:1, 5:17-18, 10:33, 36, Heb. 1:3). Ek het Hom van ewigheid af liefgehad (v.22, Joh. 17:24, 1Joh. 4:8).’

Kan jy sien hoe die getuienis van die Gees, die water (doop) en die bloed (kruis) nie die Drie-Eenheid uit 1Joh. 5:7-8 verwyder nie, maar dat dit daarvan getuig? Al drie Persone was immers by Jesus se doop en by sy kruisdood teenwoordig (v.21-22, Heb. 9:14). Net so is al drie Persone in elke area van ons lewens betrokke:

Jou Skepping

Die Vader het beveel dat jy geskep moes word, die Seun het dit uitgevoer, en die Heilige Gees het jou laat lewe (Gen. 1:1-3, 2:7, Job 33:4, Ps. 104:30, Joh. 1:1-3).

Jou Verlossing

Die Vader het jou gekies, die Seun het vir jou gesterf, en die Heilige Gees het jou wederbaar, jou ’n kind van God gemaak, en jou as sy eiendom verseël (Gal. 4:4-6, Ef. 1:3-14, Tit. 3:5-6, 1Pet. 1:2).

Jou Doop

Jy is in die Drie-Enige God se Naam gedoop (Matt. 28:19). Daardeur het jy gewys dat Hy in jou lewe en jy deur Hom.

Jou Deelname in die Kerk

Die Vader het die Seun as Hoof aan die kerk gegee, terwyl die Gees jou deel van sy liggaam kom maak het (1Kor. 12:13, Ef. 1:22-23, 4:4-6). Die Vader, die Seun, en die Heilige Gees het aan jou ’n gawe gegee om in die gemeente te dien (1Kor. 12:4-6).

Jou Persoonlike Verhouding met God

Nadat die Seun sy Vader vir die Gees gevra het, het Hy Hom in ons harte kom uitstort (Joh. 14:26, 15:26, Hand. 2:33). So woon die Drie-Enige God nou in jou, is Hy altyd by jou, en ervaar jy sy liefde (Ef. 3:14-19, Joh. 14:16, 23). Om spesifiek te wees is dit die Vader se liefde, die Seun se genade, en die Gees se nabyheid wat jy ervaar (2Kor. 13:13).

Wat jou persoonlike verhouding met God betref, is die Drie-Eenheid ook betrokke as ons bid. Ons bid tot die Vader, deur die Seun as ons Middelaar, in die Heilige Gees wat ons help om te bid (Ef. 2:18, Rom. 8:26-27, 34, 1Tim. 2:5, Jud. 20).

***

Eintlik skyn die kollig dan op die drie Persone van die Drie-Eenheid en nie op Jesus alleen nie. En tog fokus ons op Jesus, omdat Hy die Vader aan ons openbaar (Joh. 1:18). Daarom wil die Heilige Gees ook ons oë oopmaak om Jesus te sien (Joh. 16:14, 2Kor. 3:18). Dit is jammer dat Hy nie altyd in kollig is nie, selfs onder mense wat hulleself Christene noem. Ek weet dit, want as mense by ons gemeente wil aansluit, vra ek hulle vir ’n getuienis van redding. Baie van hulle bely dat hulle gered is, maar Jesus is geheel en al afwesig in hulle getuienis. Dit is asof hulle dink hulle kan sonder Jesus na die Vader toe kom en kan sonder Hom vergewe word. Martyn Lloyd-Jones het dit goed opgesom: ‘There is a great deal of so-called Christianity which is quite Christ-less.’5

Jesus moet weer die ereplek inneem; nie net in ons prediking, lofgesange, eredienste, en sogenaamde godsdienstige aktiwiteite nie, maar in ons gedagtes, gesprekke, vriendskappe, gesinne, en alledaagse lewens. Hy moet met ander woorde weer in die kollig wees.


1  Tensy anders vermeld, kom aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Afrikaanse Bybel.

2  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 114-5. Sien ook Robert H. Stein, The New American Commentary: Luke (Nashville, Tennessee: B&H Publishing Group, 1992), 135

3  Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah (Leicester, England: Inter-Varsity Press, 1993), 108

4  James Orr (ed.), International Standard Bible Encyclopedia (1939), inskrywing onder ‘Herod’. Verkry by https://www.internationalstandardbible.com/T/tiberius.html

5  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 46