Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 September 2019

Jesus, groot bo almal

Image result for highest mountain

Hebreërs 1:1-4

In 2010 het ek ‘n preek gehoor wat my baie beïndruk het. Dit het gegaan oor Jesus op die berg van verheerliking. Moses en Elia het aan Hom verskyn. Toe Petrus hulle sien, was hy verbouereerd en wou hy drie tente bou: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Skielik het die Vader se stem uit die hemel gedreun: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” (Matt. 17:5). Die dissipels was vreesbevange en het op hulle gesigte geval. Toe hulle opkyk, was Jesus alleen by hulle. Dit is asof die Vader vir hulle gesê het: ‘Jesus is in ‘n klas van sy eie. Moenie durf om Moses en Elia in dieselfde asem met Hom te noem nie. Hy is Jesus, groot bo almal.’

 

  1. Hy is die Profeet (v.1)

Volgens Heb. 1:1 is Jesus, nie Mohammed nie, die grootste Profeet (vgl. Deut. 18:15, 18, Hand. 3:22-23). Hy het die Vader aan ons kom openbaar (Joh. 1:18). Anders as die Ou Testament profete, het hy nie gesê: ‘So spreek die Here’ nie, maar: ‘Ek sê vir julle’. Hy is m.a.w. die Here wat deur die Ou Testament profete gepraat het.

Abel was die eerste profeet (Luk. 11:50-51). Hy het 4000 jaar voor Jesus se menswording gespreek. Maleagi was die laaste profeet voor Johannes die Doper. Hy het sowat 400 jaar v.C. geprofeteer. Dit is wat die Hebreërskrywer bedoel wanneer hy sê dat God lank gelede deur die profete gespreek het (v.1).

Hy het op baie maniere deur hulle gespreek (v.1). Met Moses en ‘n paar ander persone het Hy direk gepraat, terwyl Hy deur engele, drome en visioene met die ander profete gespreek het (Eks. 3, Num. 12:6-8, Dan. 7-10). Hulle het God se Woord deur middel van prediking, geskrifte, toneelspel, gelykenisse, ens. aan die volk oorgedra (Jes. 5, Jer. 36, Eseg. 4, Amos 7:15-17).

God het ook op baie tye deur die profete gespreek (v.1). Sy Woord het nie konstant na die volk toe gekom nie (bv. 1Sam. 3:1, Ps. 74:9). Hy het sy wil geleidelik aan die volk bekend gemaak. Die profete het nie hulle eie woorde verkondig nie, maar Gód s’n (v.1, 2Pet. 1:20-21). En tog was dit nie sy finale openbaring nie, omdat die Messias nog nie gekom het nie.

Sy Seun het in die laaste dae van die Ou Testament en aan die begin van die Nuwe Testament gespreek (v.1, 9:26, Hand. 2:17, 1Pet. 1:20). Net soos wat God die Ou Testament deur die profete afgehandel het, het Hy Jesus se Gees-geïnspireerde woorde in die Nuwe Testament deur die apostels laat opteken (v.1, Joh. 14:26, 16:12-15).

Wat is die les? Jesus is groter as die Profete. Hoe help dit jou? Oor die afgelope paar dekades is baie Christene deur die Hebrew Roots Movement beïnvloed. Talle Christene wil terugkeer na die wet van Moses met sy feeste en rituele. Soos die eerste lesers van Hebreërs, beroem hulle hulle op die erfenis van Israel. In die proses vergeet hulle dat God se finale openbaring in Christus gekom het (v.1). Hulle vergeet dat die Ou Testament feeste, die voedselwette, die Sewendedag Sabbat, die besnydenis en die res van die wet van Moses skadubeelde van Christus was (Kol. 2:16-17). En wie wil nou Jesus se skaduwee omhels as jy Hóm het? Eintlik is dit een van die hooftemas van Hebreërs (bv. 8:5, 9:23-24). Dit is ook een van die probleme met die Hebrew Roots Movement: hulle wil die skaduwees omhels. Hulle verstaan nie boeke soos Galasiërs en Hebreërs nie.

 

  1. Hy is die Seun van God (v.1)

Glo die Jehova’s Getuies dat Jesus die Seun van God is? Ja. Glo hulle dat Hy volkome God is soos die Vader? Nee. Maar net soos wat ‘n aardse pa en seun ewe veel mens is, is die Vader en die Seun gelyk. Om die Seun van God te wees, beteken nie iets anders as om God te wees nie (Joh. 5:18, 10:33, 36). Jesus en die Vader is een (Jes. 9:5, Joh. 10:30, 14:9).

Hy is die Seun van God in dié sin dat die Vader Hom voortgebring of gegenereer het (Joh. 1:14, 18, 3:16). Dit het nie op ‘n oomblik in tyd gebeur nie, maar dit was nog altyd so. Jesus is die Ewige Stroom wat uit die Ewige Fontein van die Vader ontspring. Omdat dit so is, skuld jy Hom dieselfde eer en aanbidding wat jy die Vader skuld (Joh. 5:23, 20:28, Fil. 2:10-11, Op. 5:11-14). Moenie dink dat die Vader groter is as die Seun, of dat die Vader en die Seun groter is as die Heilige Gees nie. Aanbid die Vader, die Seun en die Heilige Gees as één God.

 

  1. Hy is die Erfgenaam (v.2)

In die Bybelse tyd was die eersgebore seun die erfgenaam. Omdat Jesus die Eersgebore Seun van God is, is Hy ook die Erfgenaam (v.1-2, Matt. 28:18, Rom. 8:29). Hy het alles gemaak; dit is syne (v.2).

As jy aan Christus behoort, erf jy alles saam met Hom en is jy ryker as die rykste mens op aarde (Luk. 12:32, Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23). Besit jy baie in hierdie wêreld, maar jy lewe nie vir Jesus nie? Jy is arm (Op. 3:17). Is Jesus al wat jy het? Jy is ryk (Op. 2:9).

 

  1. Hy is die Skepper (v.2)

Die Jehova’s Getuies het die vreemde idee dat Jesus die eerste skepsel is en dat Hy ook die Skepper is. Maar volgens die Bybel is daar net twee kategorieë: as jy nie die Skepper is nie, is jy ‘n skepsel en andersom. Jesus is nie ‘n skepsel nie, maar die Skepper (v.2, Kol. 1:17). Niks het sonder Hom ontstaan nie (Joh. 1:3). Voëls, diere, berge, blomme, bome, wind, oseane, die son, die maan, die sterre, die mens, álles is deur Hom gemaak (v.2). Hy is die Woord deur wie God die wêreld geskep het: “En God het gesê...” (Gen. 1:3, 6, 9, 11, 14, 20, 24, 26, vgl. Ps. 33:6, Joh. 1:1, Heb. 11:3).

Dit impliseer weereens dat Jesus God is, aangesien net die ware God kan skep (Ps. 96:5, Jer. 10:11). Dit is ook net Hý wat mense in ‘n nuwe skepping kan verander (2Kor. 5:17). Het iemand al vir jou gesê: ‘Jy sal nooit verander nie?’ Is dit waar? Is jy nog dieselfde persoon as altyd wat eenvoudig nie jou ou gewoontes kan afskud nie? Jy het al probeer, maar dit werk nie. Jy kan jouself nie verander nie, kan jy? Moenie moedeloos word nie. Ek ken Iemand wat jou kán verander. Sy Naam is Jesus. Hy is nie net die God van die skepping nie, maar die God van die nuwe skepping.

 

  1. Hy is die heerlikheid van God (v.3)

Jesus is nie ‘n spieël wat God se heerlikheid weerkaats nie. Hy is eerder die helder sonstrale wat uit die son voortkom; die glans van God se heerlikheid (v.3, 2Kor. 4:6). As jy God se lieflike skoonheid wil sien, moet jy na Jesus kyk (v.3, Jes. 33:17, 2Tess. 1:10). Moses, Jesaja, Daniël, Esegiël, Stefanus, Paulus, Petrus, Johannes en Jakobus het sy heerlikheid gesien en soos dooies voor Hom neergeval (Eks. 34:18-23, Jes. 6:1-5, Eseg. 1:26-28, Dan. 10, Matt 17:1-8, Joh. 12:41, Hand. 7:55-56, 9:1-18, Op. 1:10-17). Op grond hiervan steur ek my nie aan visioene, of boeke waarin mense sê dat hulle Jesus gesien het en saam met Hom tee gedrink het, of op die gras gelê het nie.

 

  1. Hy is die ewebeeld van God (v.3)

Eintlik sê die Ou Vertaling dat Hy die afdruksel van God se wese is (v.3). Die Griekse woord [charaktēr] verwys na ‘n seël of ‘n stempel. Die afdruksel wat jy op die klei sien, is die ewebeeld van die stempel of die seël. Jesus is die ewebeeld van God (v.3). Hy is een wese [Gk. hupostasis] met die Vader en die Heilige Gees (Matt. 28:19, Joh. 10:30, 15:26, Rom. 8:9). Dit beteken dat Jesus waarlik God is (Matt. 1:23, Joh. 20:28, Hand. 20:28, Rom. 9:5, Fil. 2:6, Kol. 1:19, 2:9, Tit. 2:13, 2Pet. 1:1).

Soos die Vader en die Heilige Gees, is die Seun ewig (v.10-12, Ps. 90:2, Joh. 1:1, 8:58), almagtig (Joh. 1:3, 1Kor. 1:24), alwetend (Joh. 2:24-25, 16:30, 21:17, Hand. 1:24, 1Kor. 4:5), alomteenwoordig (Matt. 18:20, 28:20, Ef. 4:10), onveranderlik (Heb. 13:8), roemryk (v.3, Joh. 17:5), soewerein (Ef. 1:21-22, 1Pet. 3:22), genadig (Joh. 1:14, Rom. 16:20), barmhartig (1Tim. 1:2, Heb. 2:17), liefdevol (Joh. 15:9-10), heilig (Luk. 4:34, Joh. 6:69, Heb. 7:26), regverdig (Hand. 3:14, 7:52, 22:14), toornig (2Tess. 1:7-9, Op. 6:16-17, 14:19-20, 19:15), wys (1Kor. 1:24), waaragtig (Joh. 14:6), ens.

Moet daarom nie verkeerdelik dink dat ‘liewe’ Jesus nie omgee oor jou sonde, dat die Vader nie treur oor sondaars wat verlore gaan, of dat die Heilige Gees ‘n onpersoonlike krag is nie. Die drie Persone van die Godheid is in elke opsig gelyk.

 

  1. Hy hou die heelal in stand (v.3)

‘n Skoolhoof sukkel om ‘n duisend kinders stil te hou. ‘n Ma met vyf kinders sukkel om hulle te beheer. Hoe sterk moet Jesus wees as Hy die ganse skepping deur sy kragtige Woord in stand hou (v.3, Hand. 17:28, Kol. 1:17)? Sonder Hom sal die sterre en planete uit die hemel val, sal alle lewende wesens terugkeer tot stof en sal alles in die heelal disintegreer (Ps. 104:29).

Ons glo nie in die vals god van Deïsme nie. Volgens hulle het hy alles gemaak, homself onttrek en dit aan die wette van die natuur oorgegee. Die wêreld is m.a.w. soos ‘n horlosie wat opgewen is en besig is om uit te loop. Volgens die Bybel is Jesus persoonlik betrokke by die skepping (v.3). Hý plant wat die bome van die woud en stuur reën om hulle en die gras te laat groei (Ps. 104:14, 16, 147:8). Hy voer die voëls en die wilde diere van die veld (Ps. 104:21, 147:9). Hy bring elke aand die sterre uit en laat die aarde aan niks hang (Job 26:7, Jes. 40:26).

Hy beveel paddas, muggies, vlieë, virusse, hael, sprinkane, koeie, bere, leeus, vuur, sneeu, die see, visse, miswolke, stormwinde, die son, wurms, plante en meer (Eks. 4:11, 8:1-10:29, Num. 21:6, 1Sam. 6:7-12, 1Kon. 17:4, 6, 2Kon. 2:24, 17:25, Ps. 148:8, Dan. 6:22, 24, Jona 1:4, 17, 2:10, 4:6-8, Matt. 17:27, Mark. 4:39). Hy regeer oor die hele skepping en hou alles in stand (v.3, Ps. 103:19, 135:6). Moet dus nie dink dat Knysna sonder sy direkte ingrype gebrand het, of dat dit sonder gebed in die Noord-Kaap sal reën nie.

 

  1. Hy is die Priester (v.3)

In die Ou Testament het die hoëpriester offers gebring om die volk van hulle sondes te reinig. In die Nuwe Testament is Jesus die Hoëpriester, asook die offer wat ons van ons sondes reinig (v.3, Joh. 1:29, Heb. 4:14, 10:21, 1Pet. 1:19).

Het Hy jóú sonde verwyder (Ps. 103:12, Kol. 2:14)? Om te weet of jy gereinig is, kan jy jouself vra of jy ‘n skoon gewete het (Hand. 15:9, Heb. 10:22, 1Joh. 1:7, 9). Indien nie, is jy nog so vuil soos ‘n vark wat in die modder gerol het.

 

  1. Hy is die Koning (v.3)

Hy is nie enige Koning nie, maar Een voor wie elke keiser, koning en president sal buig: die Koning van die konings en die Here van die here (Fil. 2:10-11, Op. 19:16). As Koning het Hy opgevaar hemel toe en aan die regterhand van God gaan sit (v.3, 13, 12:2, Ps. 24:7-9, 110:1, Hand. 1:9-11, 2:33-35). Hy het gaan sit om te wys dat Hy eens en vir altyd die prys vir ons sonde betaal het (v.3, 9:25-26, 10:10-14).

Hy het aan die regterhand van die Vader gaan sit om te wys dat Hy die krag van God is wat saam met Hom regeer (v.3). God is die Majesteit in die hoogte (v.3, 8:1, 1Kron. 29:11, Job 37:22, Ps. 96:6, 104:1, Jud. 25). As Koning is Jesus ook vol majesteit (Ps. 45:4, Jes. 6:1-5, Miga 5:3, Sag. 6:13, 2Pet. 1:16, Op. 1:12-17).

Die mense in ons ‘selfie-kultuur’ verstaan dit nie. Ons dink te veel van onsself, omdat ons nog nie die Koninklike majesteit van Jesus erken het nie. As ons het, sou ons onsself voor Hom verneder het: ‘man is never sufficiently touched and affected by the awareness of his lowly state until he has compared himself with God’s majesty’ [Johannes Calvyn, aangehaal in Mark Jones, God Is: A Devotional Guide to the Attributes of God (Wheaton, Illinois: Crossway Publishers, 2017), 115].

 

  1. Hy is groter as die engele (v.4)

Waar mense in die Bybel te doen gekry het met engele, was hulle vreesbevange (bv. Matt. 28:2-5). Die Jode het ook ‘n hoë siening van engele gehad, omdat God die wet deur hulle gegee het (2:2, Deut. 33:2, Hand. 7:53, Gal. 3:19). Die Hebreërskrywer se punt is dat Jesus groter is as die engele én as die wet wat deur hulle gekom het (v.1-14). Terwyl Hy op die aarde was, was Jesus vir ‘n kort tydjie minder as die engele (2:9). Ná sy hemelvaart het die Vader Hom ver bo hulle verhef, sodat die Naam wat Hy geërf het (‘Here’ volgens Fil. 2:10-11) voortrefliker is as húlle s’n (v.4, Ef. 1:21, 1Pet. 3:22).

Die engele kom nie naby Jesus nie. In vergelyking met sy heerlikheid is hulle minder as wurms en laer as die stof. Hulle buig voor Hom en bedek hulle gesigte vir die helder glans van sy heerlikheid (v.6, Jes. 6:1-2, Op. 5:11-14). As húlle dan so ver benede Hom is, moet jy asseblief nooit die indruk skep dat Jesus, Mohammed en Boeddha op dieselfde vlak is nie. Jesus is nie net ‘n beter Profeet of Leermeester as hulle en die res van die skepping nie—Hy is God self.

Kategorieë