Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 January 2013

Is jy reg(tig) gedoop?

Baptism x 2

Om die vraag reg te beantwoord is dit nodig om 'n regte definisie van die doop te hê.  Wat het die Bybelskrywers in gedagte wanneer hulle van die doop praat?  Die besprinkeling van babas of grootmense, grootdoop (watookal dit beteken), bekeringsdoop, sendingdoop, verbondsdoop, of wat?

Wie moet gedoop word?

Die Bybel leer nooit dat babas gedoop moet word nie.  Jesus sê dissipels moet gedoop word (Matteus 28:19).  In Handelinge 2:41 is dit dié wat die woord van die evangelie glo wat gedoop word.  Volgens Handelinge 8:12 is mans en vroue gedoop nadat hulle die evangelie geglo het.  Net so is die Etiopiër en Paulus gedoop ná hulle bekering (Handelinge 8:35-38, 9:18).  So met Cornelius, Lydia, die tronkwag van Filippi en hulle gesinne (Handelinge 10:44-48, 16:14-15, 30-34).  Handelinge 18:8 leer dieselfde orde – geloof dán doop:  “En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.”  Paulus skryf:  “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” (Galasiërs 3:26-27).  Is dit toevallig dat die doop in v.27 ná geloof in v.26 staan?  Of die orde in Efesiërs 4:5:  “...een geloof, een doop”?  Die punt is duidelik:  gelowiges moet gedoop word.

“Maar wat van die kinders in Handelinge 2:39?  En wat van gelowiges wat saam met hulle huisgesinne gedoop is?” vra iemand.  In Handelinge 2:38 sê Petrus dat die Jode hulle moet bekeer en gedoop word – dis die orde.  In v.39 sê hy dat die belofte van die Heilige Gees vir die geroepe Jode, hulle kinders, en die heidene (hulle wat daar ver is, vgl. Efesiërs 2:11-13) is.  Die roeping in v.39 verwys na die innerlike roeping van wedergeboorte.  Net as ons bereid is om te sê hierdie kinders ontvang die Heilige Gees deur weergeboorte kan ons sê dat hulle gedoop moet word.

Oor Cornelius se gesin in Handelinge 10:  dit is duidelik dat almal wat die Woord gehoor het ook die Heilige Gees ontvang het (v.44).  En dis juis ómdat hulle die Gees ontvang het dat hulle gedoop is (v.47-48).  Weer moet ons sê dat daar net babas gedoop sou wees as hulle ook die Heilige Gees ontvang het.  Handelinge 16:14-15 sê nie vir ons of daar babas in hierdie huisgesin was of nie.  Die geval van die Romeinse tronkwag in 16:30-34 is duideliker.  In v.31 sê Paulus en Silas dat die man in Jesus moet glo sodat hy en sy gesin gered kan word.  Paulus het sekerlik nie gedink die soldaat se gesin sal gered word op grond van sý geloof nie.  Volgens v.32 het Paulus die evangelie met hom en sy gesin gedeel.  En in v.33 word hy en sy gesin gedoop.  In v.34 is sy hele huisgesin bly.  Dit blyk dat almal wat gedoop is ook die evangelie gehoor en geglo het.  Daar is nie rede om te glo dat hierdie voorbeelde wys dat babas gedoop moet word nie.  Die antwoord op ons vraag (wie moet gedoop word?) is duidelik:  gelowiges.  As jy nog nie as 'n gelowige gedoop is nie, is jy nie reg gedoop nie.  Word gedoop.

Wat beteken die doop?

Die doop wys dat ons saam met Christus begrawe en opgewek is (Romeine 6:3-4, Kolossense 2:11-12).  Dit wys ons kry deel aan die lewe van die Drie-Enige God (Matteus 28:19).  Die water waarin ons gedoop word beeld iets uit van ons harte wat deur Jesus en die Heilige Gees gereinig is.  Lukas skryf:  “...Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (Handelinge 22:16).  Die water beeld ook uit dat Jesus jou gewete reinig met sy bloed (1 Petrus 3:21, Hebreërs 9:14, 10:22).  Soos die water jou bedek, beklee Jesus jou met sy geregtigheid:  “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” (Galasiërs 3:27).  By ons wedergeboorte is ons met die Heilige Gees gedoop (Titus 3:5-6, 1 Korintiërs 12:13).  Die waterdoop beeld hierdie geestelike doop uit.  Toe Cornelius en sy gesin met die Gees gedoop is het Petrus gesê:  “Niemand kan tog die water [terughou], dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?” (Handelinge 10:47).  Iemand wat 'n baba of ongelowige was toe hy gedoop is kan nie sê dat hierdie waarhede by sy doop uitgebeeld is nie.  Hy (ek bedoel ook sy) moet gedoop word.

Hoe moet jy gedoop word?

Op grond van die betekenis hierbo beskryf, is besprinkeling of uitgieting nie die regte manier van doop nie.  Onderdompeling is.  Die eerste twee metodes van doop beeld nie die begrafnis en opstanding van Jesus uit soos onderdompeling nie (Romeine 6:3-4).  Tekste wat van die hoeveelheid water melding maak, wys ook dat onderdompeling die manier van doop was.  Soos Jesus was die Etiopiër in die water op gedoop te word (Matteus 3:16, Handelinge 8:36-39).  Hoekom kon Johannes en Filippus nie net water in 'n kruik geskep het om mense te doop nie?  Hoekom die ongemak van nat klere as jy net besprinkel hoef te word?  Johannes 3:23 sê spesifiek dat Johannes baie water gesoek het om mense te doop.  As hierdie argumente nie voldoende is nie, behoort die volgende een jou te oortuig.

Die Griekse woord vir doop (baptizo) beteken onderdompel of om heeltemal nat te maak (volgens Strong en Thayer se lexicons).  Daar is kinderdopers wat sal sê ek is verkeerd.  Hulle sal wys hoe hierdie Griekse woord ook gebruik word van Joodse reinigingsrites en wassinge, en dat dit dus nie altyd onderdompel beteken nie.  Maar hoe anders was 'n mens koppies en borde (wassinge in Markus 7:4) as om dit onder die water in te druk?  Jou eetgerei word tog nie besprinkel nie, of hoe?

'n Verdere beswaar vir die Griekse woord, is dat dit van 'n stamvorm kom (bapto) wat nie onderdompel beteken nie.  Hierdie argument is eenvoudig verkeerd.  Die stamwoord kom slegs drie keer in die Nuwe Testament voor, en in geen geval kan dit besprinkel beteken nie.  In Lukas 16:24 praat die woord van iemand wat sy vinger in water doop, in Johannes 13:26 van Jesus wat 'n stukkie brood in sous doop, en in Openbaring 19:13 van Jesus se kleed wat in die bloed van sy vyande gedoop is.  Om te dink die woord doop in hierdie verse beteken om water op jou vinger te sprinkel, om sous op die brood te sprinkel, of om bloed op 'n wit kleed te sprinkel, verg 'n sterk verbeelding en is vergesogd.  Die woorde baptizo en bapto beteken nie besprinkel nie maar om te deurdrenk of onderdompel.  En dit is ook die Bybelse manier van doop.  As jy nie onderdompel is nie is jy nie gedoop nie.  Word gedoop.

Maar impliseer die verbond en die besnydenis nie dat babas gedoop moet word nie?

Dit impliseer die teendeel.  'n Bietjie agtergrond oor die verbond is nodig om dit reg te verstaan.  'n Ander woord vir verbond is testament.  Die ou verbond is eenvoudig die ou testament.  'n Pa skryf sy seun se naam in 'n testament om aan te dui dat hy die kar sal erf as sy pa dood is.  God het ook 'n testament.  In die eerste testament (die ou testament) was die naam van sy uitverkore volk Israel.  Vir iemand om deel te wees van die volk moes hy 'n Jood gebore word.  Die besnydenis was die uiterlike teken dat hy deel is van die verbondsvolk en dat sy naam in die testament geskryf is.  In die testament het gestaan dat hy die Beloofde Land sou erf.  Indien hy nie aan God se vereistes (die Tien Gebooie) voldoen het nie, sou hy uit die land verdryf word.  Om die erfporsie te verkry moes die testamentmaker sterf (sien Hebreërs 9:16).  God het dus beveel dat diere geoffer moes word (dit was heenwysend na Christus wat geoffer sou word).  Maar hierdie eerste testament het nie gewerk nie.  Die volk het nie aan God se vereistes voldoen nie.  Dit was nodig vir 'n beter testament, 'n nuwe een (sien Hebreërs 8:7-8a, 13).

In die nuwe testament staan die name van al God se kinders.  En jy word slegs 'n kind van God deur weergeboorte.  God sny die sonde uit jou hart deur 'n geestelike besnydenis van die hart (Kolossense 2:11).  En dit is húlle wat in die hart besny is wat gedoop moet word (Kolossense 2:12).  In die testament staan daar dat God se kinders die ewige lewe en die hemel sal erf.  In die nuwe testament is daar nie 'n eksterne wet wat jy moet nakom om die hemel te erf nie, want die wet is op jou hart geskryf (sien Hebreërs 8:10).  Omdat die testamentmaker gesterf het is die erfdeel van die hemel ons s'n (sien Hebreërs 9:16-17).  God se nuwe testament werk.  Jesus het namens ons aan die vereistes voldoen, gesterf, en sy wet op ons harte geskryf sodat ons nooit ontrou sal wees aan die verbond nie.

Die besnydenis van babas in die ou testament beteken glad nie dat babas in die nuwe testament gedoop moet word nie.  Die waarheid is mense wat 'n geestelike geboorte ondergaan het en in die hart besny is, gedoop moet word.  En dis gelowiges, nie babas nie.  'n Christen wat nie ná sy bekering deur onderdompeling gedoop is nie is ongedoop.  Moenie bang wees vir wat jou familie en vriende gaan sê nie.  Moenie vasklou aan kerklike tradisie nie.  Die Heilige Gees se opdrag word duidelik uitgespel in die Skrif.  Word gedoop.

Kategorieë