Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 June 2012

Troos vir Christene wat twyfel oor hulle redding

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:28-30).

 

(1) God is goed in voorsienigheid (vers 28)

(2) God is goed in verkiesing (vers 29)

(3) God is goed in verlossing (vers 30)

 

'n Vriend van my het vir sy kollegas 'n bladsy uitgetik met tien redes waarom hy die leerstelling van die volharding van die gelowiges haat.  Hy het intussen van opinie verander.  Laat my toe om tien redes te gee waarom hy verkeerd was, en waarom 'n gelowige nie sy redding kan verloor nie.  [i] Daar is 'n goue ketting in v.29-30:  almal wat uitverkies is word ook bestem tot Christus-gelykvormigheid, geroep, geregverdig, en verheerlik.  Spurgeon het gevra hoe enigiemand kan glo daar in die hemel spinnerakke op party gelowiges se krone sal wees, omdat hulle dit nie gemaak het nie.  Watse troos bied v.28-30 vir gelowiges wat lyding ondergaan, indien 'n Christen sy redding kan verloor.  In Albert Barnes se woorde:  “For how would it be a source of consolation to say to them that whom God foreknew he predestinated, and whom he predestinated he called, and whom he called he justified, and whom he justified ‘might fall away and be lost forever?’” (uit sy kommentaar oor v.30 op E-Sword).

 

[ii] Let op dat die woord ‘verheerlik’ in 'n verledetydsvorm staan.  Hoe kan Paulus 'n verledetyd gebruik indien gelowiges nog nie verheerlik is nie?  Hy gebruik die profetiese verledetyd (soos die profete gedoen het, bv. Jesaja 53) om te wys hoe seker en vas dit is dat gelowiges verheerlik sal word.  [iii] In v.1 sê Paulus dat daar geen veroordeling oor is vir dié wat in Christus is nie.  Indien 'n Christen sy redding kan verloor dan is hierdie vers onwaar.  Ook in v.38-39 sê hy dat niks in hierdie skepping die Christen van God se liefde kan skei nie.  Maar indien 'n gelowige sy redding kan verloor maak hierdie verse nie sin nie.  [iv] Jesus self het geleer dat 'n Christen nooit sy redding kan verloor nie.  Luister na die volgende verse uit Johannes.

 

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (5:24).  Indien ’n Christen sy redding kan verloor moet ons sê:  party van dié wat in Jesus geglo het kom wél in die oordeel en gaan weer terug van die lewe na die dood.

 

“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.  Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.  En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.  En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (6:37-40).  Jesus doen altyd sy Vader se wil.  Die Vader se wil is dat Hy nie een van dié wat in Hom glo verlore laat gaan nie.  Indien ’n gelowige sy redding kan verloor, dan moet ons sê dat Jesus nie altyd sy Vader se wil doen nie.  Ook moet ons sê dat Jesus ’n leuenaar is, omdat Hy nie almal wat in Hom geglo het opgewek het op die laaste dag nie.

 

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (10:27-29).  My Griekse professor het gesê:  “Niemand kan jou uit God se hand uitruk nie, maar jy kan jouself uitruk.”  Hy was verkeerd.  Die rede hoekom niemand jou uit die Vader se hand kan ruk nie, is omdat die Vader groter is as almal.  Net as jy groter is as die Vader kan jy jouself losruk.

 

In Johannes 17 verwys Jesus na die uitverkorenes as dié wat sy Vader Hom gegee het.  Hy sal hulle bewaar, sodat hulle nooit verlore gaan nie.  “soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee...Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.  Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar... Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort...Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar.  Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word...Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar...Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” (17:2, 6, 9, 11-12, 15, 24).

 

[v] Jesus voltooi die werk wat Hy in ons begin het (Filippense).  Hy is ook die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12:2).  'n Gelowige wat sy redding verloor is 'n refleksie van 'n Verlosser wat nie sy werk kan voltooi nie.  [vi] In Efesiërs 1:13-14 sê die apostel Paulus dat gelowiges “...verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”  Met ander woorde, die Heilige Gees is die waarborg wat God aan ons gee dat ons hemel toe gaan.  Indien 'n Christen sy redding kan verloor was die Heilige Gees 'n slegte waarborg.  Om dít te sê grens aan godslastering om die minste te sê.  [vii] 'n Christen kan nie sy redding verloor nie, want ons word bewaar deur God self.  God het ons verlos “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5).

 

[viii] Jesus het gesê dat dié wat in Hom glo die ewig lewe het (Johannes 6:47).  En indien iemand die ewige lewe het en sy redding verloor, dan was sy lewe nooit ewig nie.  Efesiërs 2:6 sê God het ons “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus”.  Deur ons eenheid met Christus sit ons reeds saam met Hom in die hemele.  Kan dit wees dat iemand wat in die hemele sit uitgewerp word en hel toe gaan?  [ix] God het belowe dat almal wat in Jesus glo die ewige lewe het (Titus 1:2,1 Johannes 2:25).  Omdat God nie kan lieg of sy beloftes kan breek nie kan 'n gelowige nie sy redding verloor nie.  [x] As gelowiges is ons die liggaam van Christus.  Kan dit wees dat die Hoof 'n gebreklike liggaam het?  Kan dit wees dat die linkerarm geamputeer is?  Is dit moontlik dat die liggaam in die hemel sonder 'n groottoon is, of dat die liggaam net één nier het?  Sekerlik nie.

 

Iemand maak dalk beswaar en sê:  “Die bogenoemde leerstelling hits sonde aan.  Om te sê dat 'n gelowige nie sy redding kan verloor nie sal daartoe lei dat mense sê:  ‘Heiligmaking is nie deel van die goue ketting nie en aangesien ek nie my redding kan verloor nie kan ek sondig soos ek wil.’”  O nee my vriend.  God het ons nie bestem om te sondig soos ons wil nie – Hy het ons bestem om soos Jesus te wees (v.29).  En hoe kan iemand wat dood is vir sy sonde nog aanhou om daarin te lewe (6:1-2).  Iemand wat aanhou in sy sonde is nie dood vir sonde nie, en is daarom nie gered nie.  En iemand wat nie die heiligmaking najaag nie, sal nie vir God sien nie (Hebreërs 12:14).  Buitendien is dit nie waar dat heiligmaking nie deel is van die goue ketting nie.  As regverdigmaking die wegspringpunt en verheerliking die wenstreep is, dan is heiligmaking die resiesbaan.  Verheerliking is die voltooing van heiligmaking.  Daarom praat die Nuwe Testament partykeer van heiligmaking as heerlikheid.  “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Korintiërs 3:18).  Ons groei in heiligmaking – van heerlikheid tot heerlikheid.  Die feit dat party mense gewigsprobleme het beteken nie dat die kos skuldig is nie.  En die feit dat party sondig lewe omdat hulle dink hulle kan lewe soos hulle wil, beteken nie dat hierdie leerstelling skuldig is nie.

 

Wat sal die effek wees indien 'n persoon glo 'n gelowige kán sy of haar redding verloor?  Die persoon sal vrees.  Hy sal gedurig wonder of hy dit tot die einde toe gaan maak.  Hierdie persoon sal ook nie enige sekerheid van redding hê nie, want hy weet nooit of hy dalk sal wegval voor die einde nie.  Indien 'n persoon dink dat hy op grond van sy vrye wil gered en behou word, moet hy vir homself vra:  “Wat as my vrye wil in die hemel wankel soos wat dit op aarde kan gebeur?  Kan ek nie ook soos die duiwel in die hemel sondig en uitgeskop word nie?”  As jou redding oop aarde nie seker is nie, hoekom moet dit in die hemel seker wees?  Verder is dit so dat die persoon wat glo jy kan jou redding verloor die Skrif weerspreek.  Jesus het gesê die huis op die rots kan nie val nie.  Die persoon wat sê 'n Christen kan sy redding verloor sê die huis op die rots kán val.  As jy die Skrif op één gebied opponeer, wat verhinder dat jy dit binnekort op ánder gebiede sal teenstaan?  Laastens sal die een wat glo jy kan jou redding verloor trots wees en homself op die skouer klop indien hy volhard het.  Wat is die verskil tussen hom en die persoon wat sy redding verloor het?  Sy sterk wilskrag, volharding, en stamina.  Dit is nou as jy jou redding kan verloor.  “Maar wat van Hebreërs 6:4-6 en soortgelyke verse?  Ek sal in die volgende twee dele hierdie verse uitlê.  Maar vir nou kan ons dít sê:  God is goed in verlossing.

 

Kategorieë