Coram Deo Cover Image

Coming soon...

21 March 2013

Hulp vir geestelike groei

Tree with deep roots

1 Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.  2 Die goeie verkry ‘n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel ‘n slinkse man.  3 Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie. 4 ‘n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente. 5 Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.  6 Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed, maar die mond van die opregtes red hulle.  7 Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie; maar die huis van die regverdiges bly staan.  Ooreenkomstig sy insig word ‘n man geprys; maar ‘n verkeerde van hart sal verag word.” (Spreuke 11:1-7).

 

Hierdie verse is nie ’n handboek vir geestelike groei nie, en staan ook nie in ’n spesifieke volgorde van belangrikheid nie.  Maar ons kan iets oor geestelike groei hieruit leer.

 

Aanvaar tug (v.1)

C.J. Mahaney het 'n boek geskryf, waarin hy gelowiges aanbeveel om te vra dat ander Christene hulle moet teregwys.  “Dit kweek nederigheid”, sê hy, “want jy dink nie dat jy bo verdenking en kritiek staan nie – jy besef dat jy tekortkominge het.”  Koning Asa en Amasia kon nie teregwysing verdra nie, en het aggressief gereageer toe hulle getugtig is (2 Kronieke 16:10, 25:14-16).  Iemand wat dink dat hy nie gekritiseer kan word nie is so dom en dig soos 'n dier:  “...wie teregwysing haat, is dom.”  Psalm 73:22 gebruik dieselfde Hebreeuse woord:  “toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was ‘n dier by U.”  As ons die tug van God (soms deur die kerk of ons ouers) aanvaar, leer ons uit ons foute en kan ons verander (v.1a).  Tug leer ons kennis oor God, mense, die lewe en die wêreld.  Moenie jouself verskoon wanneer jy tereggewys word nie.  Moet ook nie tug verag, sodat jy alewig die maklike uitweg soek nie.  Moenie streef na 'n pyn vrye lewe nie.  Aanvaar tug.  Dit sal jou help om te groei.

 

Soek God se guns (v.2)

Jesus is God se geliefde Seun in wie Hy 'n welbehae het (Matteus 3:16).  Vrees God se frons meer as mense s'n, en soek sy guns meer as die glimlag van mense (v.2).  Deur sy kruisdood het Jesus ons oordeel verkry, sodat ons God se guns kon hê.  Dit is die evangelie in v.2.  Bou daarop.  As jy God se guns soek en Hom alleen vrees sal jy groei.

 

Verdiep jou wortels (v.3)

Goddelose mense is soos onkruid wat maklik uitgetrek word.  Die regverdige is soos 'n groot eikeboom met diep wortels.  Selfs die sterkste winde kan hom nie vernietig nie:  “Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie.” (v.3).  Die Here het vir Jeremia gesê:  “Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.” (Jeremia 1:10).  Wat God geplant sal hou.  Jy kan die regverdige gelyk met die grond sny; hy sal weer uitspruit soos 'n boom.  “Want vir ‘n boom is daar verwagting:  as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.  As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof – van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ‘n tak soos ‘n jong plantjie.” (Job 14:7-9).  Israel was maar 'n klein en niksseggende volkie.  Maar God het 'n takkie laat uitspruit uit die stomp wat afgekap was – Jesus (Jesaja 11:1).  Jesus is afgekap soos 'n boom, maar het weer opgestaan uit die dood.  Dit het al baie keer gelyk of die kerk op haar einde is, maar omdat haar wortels diep is, het sy weer uitgespruit.  Dit is omdat baie kerkgangers nie diep wortels het nie, dat hulle gou weer sterf:  “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.” (Matteus 13:21).  Verdiep jou wortels, sodat jy geestelik kan groei.

 

Kies 'n goeie maat (v.4)

Almal van ons het seker al 'n slegte predikantsvrou gesien; 'n vrou wat haar man se bediening verongeluk.  'n Vrou kan haar man maak of breek; sy geestelike groei bevorder of verhinder (en net so 'n man ook vir sy vrou):  “‘n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente.” (v.4).  As jy 'n lewensmaat soek, wil jy eerder uitkyk vir een met karakter, as vir een wat mooi is sónder karakter.  So leer v.4.  In 31:10 sê Lemuel se ma:  “Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.”  (sien Rut 3:11 vir 'n deugsame vrou).  Volgens Paulus is “die vrou is die heerlikheid van die man.” (1 Korintiërs 11:7) – of ‘die kroon’ soos Salomo in v.4 sê.  Agter elke suksesvolle man staan 'n goeie vrou.  As 'n man goed lyk by sy werk en in die samelewing, is dit baie dikwels as gevolg van 'n goeie vrou wat agter die skerms werk.  Sonder die klankman en administrasie personeel, kan die popster se konsert nie 'n sukses wees nie.  Die vrou doen baie keer die harde werk, sodat haar man die eer kan kry.

 

Maar 'n slegte vrou – O gaats!  Het jy ooit gedink dat siekte en pyne die gevolg van 'n slegte vrou en huwelik kan wees?  Salomo sê dit kan:  “...een wat skande maak, is soos ‘n verrotting in sy gebeente.” (v.4b).  So 'n man kry skaam vir sy vrou.  Sy maak hom skaam deur haar woorde en dade (v.4b).  Hy wil nie in die openbaar saam met haar gesien word nie.  As ons hierdie prinsiep op 'n ander vlak kan toepas, moet ons sê dat geen gelowige ooit die hemelse Bruidegom (Jesus) deur sondige optrede moet beskaam nie.

 

Wees reg in jou hart en gedagtes (v.5-8)

'n Boom met slegte wortels dra slegte vrugte.  'n Boom met gesonde wortels dra sappige en smaaklike vrugte.  Dít is wat Jesus sê (Lukas 6:43-45).  En dít is hoe jou hart en gedagtes moet wees:  gesond.  Moet nooit sê dat iemand wat goddelose dinge sê en doen, diep in sy hart 'n goeie mens is nie.  Dit is nie waar nie, want 'n persoon se woorde en dade kom uit sy hart en gedagtes uit:  “Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog.” (v.5).  As jy wil sorg dat jy reg dink, praat en optree, moet jou hart reg wees.  En net die Heilige Gees kan dit deur die evangelie verander.  En slegs dán kan jy geestelik groei.

 

'n Prediker in Switserland het probleme opgetel in sy kerk.  Ander predikante wou hê hy moes afgedank word.  In 'n vergadering met die lidmate het hierdie ander predikante leuens vertel.  Die mense in die kerk het nie die teologiese verskille verstaan nie, maar hulle het geweet wat 'n leuen is.  Die ander predikante moes loop, en die prediker van die gemeente het sy werk behou.

 

'n Amalekiet het 'n leuen vertel oor Saul se dood, en het sodoende die doodstraf verdien (2 Samuel 1).  Twee ander booswigte het een van Saul se seuns vermoor, en dit as goeie nuus aan Dawid vertel.  Ook húlle het hulle lewens verloor (2 Samuel 4).

 

Jy sien, daar is mense wat kwaad bedink teen ander, maar op hulle eie bloed loer:  “Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed...” (v.6a).  Die regverdige kom vry deurdat hy die waarheid praat (v.6b).  In 'n situasie waar mense jou valslik beskuldig en wil beskadig, belowe die Here:  “Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Matteus 10:19-20).  Ja, die belofte was aan die apostels gemaak.  Maar die prinsiepe geld vir ons ook.

 

Die Here het vir Sodom omgekeer soos 'n wat 'n mens 'n sopbord uit die wasbak uithaal, en omkeer in die afdroog rak.  Dit is hoe die Here maak met die goddelose:  “Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie...” (v.7a).  “Ek het die goddelose gesien, ‘n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos ‘n groen inlandse boom.  Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.” (Psalm 37:35-36).  Waar is Sodom vandag?  Waar is Ninive en Babilon?  Egipte en Rome was supermagte, en is vandag net nóg 'n plek op die kaart.  Die klip van Daniël 2 (Jesus se Koninkryk) het die wêreldryke verpletter.

 

Die regverdige is anders.  Wanneer die storms kom, dan staan sy huis:  “...die huis van die regverdiges bly staan.” (v.7b).  Is dit nie wat Jesus gesê het nie:  “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.” (Matteus 7:24-25)?  Paulus sê:  “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Efesiërs 6:13).  As die Here jou vestig sal jy groei.  Maar as sy gesig teen jou is, het jy nie 'n kans nie.

 

As my ou skoolvriend van iemand gehou het, het hy gesê:  “Daardie ou praat sense.”  Insig (‘sense’) begin by goeie en gesonde denke:  “Ooreenkomstig sy insig word ‘n man geprys; maar ‘n verkeerde van hart sal verag word.” (v.8).  Verdraaide denke lei tot verkeerde aksies, besluite en woorde.  Gevolglik lei dit tot veragting en skande (v.8b).  As jy dan 'n goeie reputasie wil behou, moet jy nie net jou woorde en dade probeer verander nie, maar jou hart en gedagtes.  Dink reg.  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed...” (Romeine 12:2).  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Filippense 4:8).  Nóú is jy eintlik eers reg om te begin praat oor geestelike groei.

Kategorieë