Coram Deo Cover Image

Coming soon...

27 February 2016

Hoe om ’n vals leraar uit te ken

Wolf amid sheep

Justin Peters het ‘n bekende DVD gemaak met die titel: ‘A Call for Discernment.’  Die DVD is vol van aanhalings en video snitte van populêre TV predikers.  Peters se doel met die DVD was om gelowiges teen vals lering te waarsku.  Sy titel spreek volumes oor Christene se onvermoë om vals lering uit te ken.  In my kort bediening het ek male sonder tal gesien hoe mense wat ‘n vlak kennis van die Skrif het, vals lering soos koeldrank opslurp.  Dit is skrikwekkend hoe baie mense nie besef hoe gevaarlik dit is nie.  Is dit toevallig dat Jesus direk na sy lering oor die smal en die breë weg, teen vals leraars waarsku?  Sy punt was eenvoudig dat talle mense wat op die breë weg is deur vals leraars daarheen gelei is.  Die ergste van alles is dat hulle dink die breë weg gaan hemel toe.  Daarom is dit lewensbelangrik dat jy vals lering moet uitken.  1 Johannes 4:1-6 help ons om dit te doen.

 

Toets hom (v.1)

Gestel jy koop ‘n tweedehandse kar. Die handelaar wat die kar verkoop weier dat jy dit toetsbestuur, en sê jy moet eers die geld in sy rekening inbetaal.  Sal jy nie agterdogtig wees nie?  Net so is dit vreemd as jy ‘n prediker aan die Skrif wil toets, en hy vir jou sê:  ‘Hoe durf jy jou hand aan die gesalfde van die Here slaan?’  Volgens Johannes is dit elke gelowige se plig om predikers aan die Skrif te toets.

 

Johannes waarsku God se geliefdes om nie elke gees te glo nie (v.1). Hulle moenie alles glo net omdat dit die Christen naam dra nie.  Hulle moet die prediker se woorde aan die Skrif toets soos wat ‘n mens metaal vir egtheid toets in die vuur (v.1, 1 Tessalonisense 5:20-21, 1 Korintiërs 12:10, 14:29, Openbaring 2:2).  Toe Johannes sy brief geskryf het, het baie mense die kerk verlaat om die gif van hulle vals lering in die wêreld te versprei (v.1, 2:19, 2 Johannes 7).  Die vals leraars was oral, en juis daarom moes die gelowiges ekstra waaksaam wees (v.1).

 

Toets Christelike predikers en outeurs aan die Bybel. Moenie naïef wees en alles vir soetkoek opeet net omdat dit ‘n Christelike baadjie aan het, of omdat die persoon hy is die ware Jakob nie.  Satan en sy agente kan hulleself voordoen as ‘n engel van lig.  Paulus skryf in 2 Korintiërs 11:13:15:  “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.  Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”  ‘n Vals leraar gaan nie vir jou sê hy is die duiwel se agent nie.  Toets hom.  Moet jou nie steur aan mense wat sê:  ‘Wie is jý om ‘n geleerde prediker te bevraagteken?... Jesus sê jy mag nie oordeel nie... Pasop dat jy nie die Gees uitblus nie’ nie.  Soos Johannes (v.1), sê Jesus jy moet die prediker toets (Matteus 7:15-20).

 

Moet egter nie selfregverdig of krities veroordelend wees, sodat jy almal wat nie 100% met jou saamstem nie as ‘n ketter bestempel (Matteus 7:1-5). As jy dit doen sal jy maklik ‘n liefdelose ‘heresy hunter’ word wat alewig ‘nit pick’ en fout vind.  Hoewel jy nie so moet wees nie, moet jy tog instaat wees om te onderskei en te beoordeel.

 

Daar is soveel vals profete dat jy om elke hoek en draai paraat moet wees (v.1). Hulle infiltreer Christelike boekwinkels, TV kanale, radio stasies, Sondagskole en jeug groepe, kerke, manne en vroue kampe, teologiese kolleges, sending organisasies, Bybelvertalingskomitees, ens.  Moenie sê:  ‘Ek probeer maar net oopkop wees’ nie.  ‘n Oop kop is ‘n teiken vir die duiwel se leuens net soos wat ‘n oop venster in die aand ‘n teiken is vir motte en ander goggas.

 

Hoekom moet jy predikers aan die Skrif toets? Want as jy dit nie doen nie, sal jy vir hulle leuens val.

 

Toets hom aan sy Christologie (v.2-3)

Op 8 Desember 2002 het Creflo Dollar gesê dat Jesus as onvolmaakte mens aarde toe gekom het, en nie as God nie.[1]  In dieselfde trant het Kenneth Copeland gesê:  ‘Why didn’t Jesus openly proclaim himself as God during his 33 years on earth?  For one single reason.  He hadn’t come to earth as God, he’d come as man.’[2]  Op 21 April 1991 het Copeland op TBN gesê:  ‘How did Jesus then on the cross say, ‘My God’?  Because God was not His Father any more.  He took upon Himself the nature of Satan.’[3]  Op 1 Desember 1990 het Benny Hinn dieselfde gesê op TBN.[4]  In Februarie 1987 het Copeland gemaak of hy namens Jesus praat en het hy gesê:  ‘They crucified me for claiming I was God.  I didn’t claim that I was God; I just claimed that I walked with Him and that He was in Me.’[5]  Kan dit wees dat die Heilige Gees so oor Jesus sou laster?  Volgens Johannes gee ‘n vals leraar se Christologie (sy lering oor Jesus se Persoon en sy werk) hom weg.

 

Hoe weet jy dit is die Heilige Gees wat deur iemand praat? Die Gees getuig van Jesus en verheerlik Hom (Johannes 16:14).  ‘n Prediker wat van af God kom glo nie net die korrekte feite oor Jesus nie (die duiwel glo dit ook, vgl. Markus 1:24, Jakobus 2:19), maar hy bely Hom hartlik en openlik (v.2).  Die vals leraars in Johannes se tyd het gesê Christus is ‘n geestelike wese wat nie waarlik mens was nie, maar net soos ‘n mens gelyk het.  Ander het gesê dat Christus in die Jordaanrivier op die menslike Jesus gekom het, en hom weer aan die kruis verlaat het.  Johannes het gesê dat ‘n leraar wat dít preek, nie van God af kom nie (v.3).  Die ware leraars het geglo dat Jesus Christus een Persoon is (v.2).  Hulle het bely dat Jesus die Goddelike Messias is wat volkome mens geword het (v.2, Johannes 1:1, 14, Hebreërs 2:17).

 

As iemand die Bybelse Jesus ontken, is hy ‘n vals leraar. (v.3). Die antichris se gees lei hom (v.3, 1 Timoteus 4:1).  Hierdie is die gees wat homself as christus voorhou, maar teen (anti) die ware Christus en die Vader is (v.3, 2:22).  Johannes se lesers het deur Daniël 11, Matteus 24, en 2 Tessalonisense 2 gehoor dat die antichris kom, en volgens Johannes was daar reeds baie van hulle in die wêreld (v.3, 2:18).

 

Moenie vir ‘n prediker val net omdat hy oor Jesus praat nie. Wat sê hy oor Jesus?  Verkondig hy die ware Jesus van die Bybel of ‘n ander Jesus (2 Korintiërs 11:4)?  Verkondig hy Jesus as die ewige God (Johannes 1:1, 8:58)?  Jesus wat in elke opsig gelyk is met die Vader (Kolossense 1:19, 2:9, Hebreërs 1:3)?  Jesus wat die ware Messias is (Matteus 16:15-17)?  Jesus wat volkome mens geword het (Filippense 2:6-7)?  Jesus wat vir ewig God en mens sal wees (Romeine 9:5, 1 Timoteus 2:5, Handelinge 17:31, Daniël 7:13-14)?  Jesus wat deur die krag van die Heilige Gees uit ‘n maagd gebore is, sodat Hy nie half God en half mens is nie, maar volkome God en volkome mens – twee nature in een Persoon (Lukas 1:31-35)?  Jesus wat nie in sy natuur of dade met sonde besmet was nie, maar volkome heilig is (Hebreërs 7:26, 4:15, 1 Petrus 2:22)?  Jesus wat die straf vir ons sonde op Homself geneem het aan die kruis (Jesaja 53, Romeine 3:25)?  Jesus wat op die derde dag liggaamlik uit die dood uit opgestaan het (Johannes 20, 1 Korintiërs 15:4-8)?  Jesus wat die enigste Middelaar tussen God en mense is (1 Timoteus 2:5)?  Jesus wat nou aan die regterhand van God sit (Psalm 110:1, 1 Petrus 3:22, Hebreërs 1:3)?  Jesus wat in ‘n sigbare wederkoms na die aarde toe sal terugkeer (Handelinge 1:9-11)?

 

Soms ontken vals leraars nie prontuit vir Jesus nie. Maar hulle bely Hom ook nie direk nie.  Daar is sekere sentrale waarhede waaroor hulle eenvoudig stilbly.

 

So, hoekom moet jy ‘n prediker se Christologie toets? Want ‘n vals Jesus kan jou nie red nie.

 

Toets hom aan sy wêreldbeskouing (v.4-5)

Dit is moontlik vir ‘n ware Christen om in sonde te val. Tog kenmerk dit nie sy lewe nie.  Met ‘n vals leraar is dit anders.  Ons hoor gedurig in die media hoe liberale of prosperity predikers se seksuele skandes op die lappe kom, hoe hulle geld verduister, hoe hulle super luuks lewe, hoe hulle duur oorsese vakansies hou, en hoe hulle met die ‘ministry’ se geld multi-miljoen dollar privaat vliegtuie koop.  Hulle liefde vir die wêreld wys dat hulle nie enige belang of plek in die lewe hierna het nie.

 

Gelowiges moet waak vir vals leraars, maar hoef nie vir hulle bang te wees nie. Ons is van God af, en die Heilige Gees wat in ons is is sterker as die duiwel agter wie die bose wêreld aanloop (v.4, 5:19, 2 Korintiërs 4:4, Efesiërs 2:2).  Die Heilige Gees lei ons, sodat ons deur die vals leraars se leuens kan sien en die wêreld oorwin (2:20, 27, 5:4-5).  Omdat God sterker is as die duiwel (v.4), sal die vals leraars nie daarin slaag om gelowiges in die verderf in te lei nie (Matteus 24:24).  ‘n Vals gelowige het nie die Heilige Gees wat hom waarsku nie, en dus sal hy die duiwel se leuens volg (Matteus 24:11, 2 Tessalonisense 2:9-12, Jesaja 44:20, 2 Korintiërs 4:4).

 

Vals leraars oorwin nie die wêreld nie, maar is lief vir die begeertes van die sondige vlees, die lus om dinge te wil sien, die gejaag na rykdom, en ‘n obsessiewe trots in hulleself (v.5, 2:16, 2 Petrus 2). Soos hulle, is hulle volgelinge ook lief vir die wêreld (v.5).  As jy wil weet waar die karkas lê, moet jy kyk waar die aasvoëls draai.  As jy die vals leraar wil uitken, moet jy kyk waar die wêreld gemaklik voel en saamdrom (v.5).  Wie is die prediker vir wie die media prys?  Jesus het gesê:  “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.” (Johannes 15:19).

 

Toets ‘n prediker aan sy wêreldbeskouing. Leef hy eenvoudig, of wys sy duur smaak en luukse leefstyl dat die wêreld vir hom belangrik is?  Hou hy van rowwe partytjies?  Voel hy ongemaklik rondom vroue wat sleg aantrek, of soek hy juis hulle geselskap uit?  Het hy films op sy rak wat by jou vrae laat?  Het hy ‘n probleem met hoe die wêreld lewe (Romeine 12:2), of sê hy soos die wêreld dat saambly nie sonde is nie, dat aardse  rykdom die goeie lewe is, dat gays so gebore is, dat baie drank aanvaarbaar is vir mense wat oor 18 is, ens. (v.5)?  Verskil sy leefstyl opmerklik van die ongelowige s’n, sodat selfs húlle moet sê:  ‘As jy ‘n ware Christen wil ontmoet is dit hy’?

 

Hoekom moet jy ‘n prediker aan sy wêreldbeskouing toets? Want jy beskadig jouself as jy ‘n man volg wie se lewe nie sy boodskap ondersteun nie.

 

Toets hom aan sy Skrifbeskouing (v.6)

‘n Teoloog het vir ons vertel hoe ‘n liberale professor ‘n vergadering by UNISA moes open. Om ‘n punt te bewys het hy die Bybel eenkant toe geskuif en uit ‘n ander boek voorgelees.  Soos elke ander vals leraar was die Bybel vir hom maar net nog ‘n boek, eerder as die Woord van God.  Volgens Johannes sal ‘n persoon se Skrifbeskouing vir jou sê of hy ‘n vals leraar is of nie (v.6).

 

Die apostels en hulle lering kom nie van die wêreld nie (v.5), maar van God (v.6). Ware gelowiges soek die apostels se lering (v.6).  Die vroeë kerk het hulleself hieraan toegewy (Handelinge 2:42).  Jesus het gesê:  “Die wat uit God is, luister na die woorde van God... My skape luister na my stem... Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” (Johannes 8:47, 10:27, 18:37).  Vals leraars en gelowiges soek nie die apostels se lering nie.  Hulle bevraagteken en verdraai dit, en sê dis nie genoegsaam nie (v.6, 2 Korintiërs 4:2, Openbaring 22:18-19).  Hulle weier om hulle daaraan te onderwerp, en sê die Bybel is outyds en geld nie vir vandag nie.  Die Gees van waarheid help ons om die apostels se geskrifte (die Nuwe Testament) van die duiwel en sy vals leraars se leuens te onderskei (v.6, 5:6, Johannes 16:13, 8:44, Handelinge 17:11).

 

Toets ‘n prediker aan sy Skrifbeskouing. Preek hy die Skrif?  Kan jy jou Bybel oopmaak en duidelik daarin volg wat hy sê?  Lees hy ‘n vers, maar verwys in die res van sy preek nie weer na die Bybel nie?  Is Bybelverse in sy preke yl gesaai soos gras in die Namib woestyn?  Streel hy mense se ore (2 Timoteus 4:3-4)?  Doen hy moeite om te sê wat hulle wil hoor (v.5)?  Vermy hy verse oor selfverloëning, heiligheid, die finale oordeel, ens.?  Is die Bybel vir hom genoeg, of soek hy meer omdat hy dink dis irrelevant?  Staan Bybelse prediking sentraal in sy bediening?

 

Drie jaar gelede het ek ‘n verslag geskryf, en mense teen vals lering gewaarsku. Toe ‘n ander predikant dit lees het hy gesê ek is liefdeloos.  Maar is dit liefdeloos om jou kind teen slegte invloede te waarsku?  Is dit liefdeloos om iemand teen gevaar te waarsku?  Hoe is dit liefdeloos om iemand teen die duiwel en sy agente te waarsku?  Hoe is dit liefdeloos om iemand uit die pad te stamp as jy die trein van vals lering teen ‘n spoed sien aankom?

[1] John MacArthur, Strange Fire, pp.282, 47

[2] Ibid

[3] Ibid, p.47

[4] Ibid, p.282

[5] Ibid, p.48

Kategorieë