Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 6:27-36

Jy kan enige vyand se naam met Malema s’n vervang, maar ek noem syne, omdat hy die meeste van ons omroer as hy rassehaat, grondgrype en moord blaas. Miskien pla hy jou nie juis nie. Die vraag is dan wie jóú vyand is. Is dit jou lewensmaat, ’n ouer, ’n kind, ’n broer, ’n suster, ’n familielid, ’n kollega, ’n boelie by die skool, of ’n vreemdeling wat die lewe vir jou moeilik maak? Volgens Jesus moet jy die persoon liefhê. Hoe en hoekom moet jy dit doen?

 

1. Hoe lyk onbaatsugtige liefde? (v.27-31)

Baie ma’s is ’n goeie voorbeeld hiervan as hulle in die nag vir hulle kinders opstaan. Of as hulle hulle kinders bad, aantrek, vir hulle ’n storie lees, hulle skool toe vat, vir hulle kos maak, of koek bak sonder om iets terug te verwag. Hulle liefde is onbaatsugtig, of selfloos.

       So moet jy Julius Malema en ander moeilike mense liefhê. Nie almal sal dit doen nie, maar net dié wie se harte en ore oop is vir Jesus en sy Woord (v.27, 8:8, 10, Op. 2:29). Liefde vir jou vyande is nie ’n kenmerk van ongelowiges nie, maar van gelowiges. Hierdie liefde gaan nie net oor ’n gevoel nie, maar verwys na ’n aksie waardeur jy prakties goed doen aan jou vyand. Moet dan nie die wêreld se sentimentele liefde met Bybelse liefde verwar nie. Sentimentele liefde sê: ‘Om te sê dat homoseksualiteit sonde is, wys jy is homofobies—jy haat gays.’ Bybelse liefde sê: ‘Omdat ek jou liefhet en nie wil hê jy moet hel toe gaan nie, sê ek dat jou leefwyse sonde is en dat jy jou moet bekeer’ (1Kor. 6:9-11).

       Daarmee probeer ek nie sê gays, of alle ongelowiges is jou vyand nie. ’n Vyand is eerder iemand wat teen jou is, jou aanval, die lewe vir jou moeilik maak, jou vervolg, of jou sleg behandel. In baie gevalle doen hulle dit spesifiek, omdat jy ’n Christen is (vgl. v.22). Die gemiddelde mens se reaksie hierop sal wees om terug te baklei. Maar volgens Jesus moet jy jou vyand liefhê en goed doen aan dié wat jou haat (v.27, 10:25-37, Eks. 23:4-5, Rom. 12:20, Spr. 25:21-22). Help jou vyand as hy ’n pap wiel kry, as sy kar sonder brandstof gaan staan, as hy honger is, of as hy dors het.

    Ek ken iemand wat dit gedoen het. Terwyl hy besig was om die evangelie te preek, toe gryp iemand ’n graaf en slaan die lamppaal bo sy kop. Hy het groot geskrik, maar het aangehou preek. Die man wat na hom geslaan het, het op die randsteen gaan sit. Toe my kollega klaar gepreek het, het hy vir sy vyand ’n Coke gekoop.

***

Onbaatsugtige liefde beteken ook dat jy jou vyand seën as hy jou vloek (v.28, Rom. 12:14, 1Pet. 2:23). Om hom te seën beteken nie dat jy sy sonde goedkeur nie, maar dat jy hom nie terugvloek nie. Dit beteken dat jy vir hom bid as hy jou sleg behandel, beledig, dreig, of valslik beskuldig (v.28, Gk. epēreazō). Dit is wat Henry Jackson vir sý vyand gedoen het. Jackson het ’n plaas in Zimbabwe gehad. Die regering het ’n informele vergadering met hom gehad en gesê dat hulle sy plaas gaan vat. Toe een van die regeringsamptenare ’n kort rukkie later siek word, het Jackson hom besoek en vir sy genesing gebid.1

Wat moet jy vir jou vyand bid as jy hom wil seën? Vra God om die Onse Vader in sy lewe te laat waar word: 

“Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied,

soos in die hemel, so ook op die aarde.

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.” (Matt. 6:9-13).2

Bid ook dat God die persoon sal red en sal vergewe. Dit is wat Jesus gedoen het. In antwoord hierop het God ons en die rower aan die kruis gered (Matt. 27:44, Luk. 23:34, 39-43, Joh. 17:20). Net so het Hy ook vir Paulus gered toe Stefanus vir sy vyande gebid het (Hand. 7:58, 60, 22:19-20). En sal Hy jou nie antwoord as jy vir jóú vyande bid nie?

Om jou vyand waarlik lief te hê, moet jy jou wang draai as hy jou slaan (v.29). Die Griekse woord [siagōn] praat van ’n vuishou teen die kakebeen eerder as ’n klap deur die gesig.3 Dit beteken nié jy mag jouself nie verdedig as mense jou en jou gesin se lewens bedreig nie (Luk. 22:36). Hier gaan dit oor persoonlike wraak (Matt. 5:38-39). Moet met ander woorde nie ’n wrok dra, of mense wil terugkry nie (1Pet. 2:23). Laat jou vyand jou eerder weer slaan as wat jy terugslaan, of jou vriende kry om hom pap te slaan (Jes. 50:6, Klaagl. 3:30, Matt. 26:51-52). Ek bedoel nie jy moet onreg prys nie. Glad nie. Waar ’n man dus sy vrou, of kinders mishandel, moet jy die polisie sê, sodat hulle God se wraak teen die oortreder kan uitvoer (Joh. 18:22-23, Rom. 12:19, 13:4).

Die korrekte toepassing van hierdie vers is eerder dat jy nie jou kind vir karatelesse moet stuur om die boelie op die neus te slaan nie. Doen eerder wat my ma gedoen het. Toe ’n ouer seun my geboelie het deur elke pouse my toebroodjies te vat, het maak my ma vir hom ook toebroodjies gemaak. In latere jare het ek haar voorbeeld gevolg. Twee meisies het my dogter afgeknou. Toe ek daarvan hoor, toe bid ek en my dogter vir hulle en toe gee sy vir hulle lekkers. As die boeliegedrag onveranderd bly, kan jy met die skoolhoof, of die kinders se ouers gaan praat. In ernstige gevalle moet jy dit by die polisie aanmeld.

Wat moet jy doen as jou vyand jou sonder rede dagvaar (Matt. 5:40)? Probeer om buite die hof te skik en gee selfs meer as wat die persoon vra (v.29). Ly skade eerder as wat jy in ’n geveg betrokke raak en duisende Rande vir ’n prokureur moet betaal (1Kor. 6:1-8). Moet met ander woorde nie veglustig, of ’n bakleier wees nie.

***

Dan is daar ook die geval van mense wat by jou bedel. Natuurlik moet jy nie vir die persoon geld gee as jy weet hy is verslaaf nie. Jy moet jou vyand liefhê en hom nie van die wal af in die sloot help nie. Probeer liewer om glad nie geld te gee, tensy jy die persoon ken en weet dat daar regtig ’n behoefte is nie. As jy onseker is van die situasie, kan jy kos gee, behalwe as dit duidelik is dat die persoon nie wíl werk nie (2Tess. 3:10).

Verder moet jy nie iets terugvra as iemand dit van jou eis nie (v.30). Dit beteken nie mense mag by jou steel nie. Dit gaan meer waarskynlik oor iemand wat jou vir jou geloof vervolg. Dalk is dit die regering. In daardie geval moet jy nie soos baie mense wil skiet en baklei om jou goed terug te kry nie. Ly eerder verlies met die wete dat jy ’n beloning in die hemel het (Heb. 10:34). Dit is wat Henry Jackson gedoen het. Toe die regering sy plaas vat, toe verlaat hy sy eiendom sonder om te baklei. Sy vergewensgesindheid het baie deure vir die evangelie oopgemaak. Die Here het hom ook materieel vergoed en vir hom gesorg.

Vers 31 som die gesindheid op wat ons moet hê: “Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle.” Jesus sê nie hier wat Rabbi Hillel (110 v.C. – 10 n.C.) voor Hom gesê het nie. Toe ’n heiden sê dat hy hom tot die Joodse geloof sou bekeer as Hillel hom die wet kon leer, terwyl hy op een been staan, het Hillel gesê: ‘Moenie dit wat vir jou afskuwelik is aan ’n ander doen nie; dit is die hele wet en die res is ’n interpretasie daarvan.’4

Hillel se lering is negatief, terwyl Jesus ’n positiewe opdrag gee. Hillel sou sê: ‘Net soos jy nie wil hê iemand by jou moet steel nie, moet jy nie sý goed steel nie.’ Maar dit is moontlik om iemand anders se goed uit te los, terwyl jy nog steeds niks goed aan hom doen nie. Dit is nie wat Jesus hier sê nie. Hy bedoel nie net jy moenie kwaad doen nie, maar dat jy goed moet doen. Buiten vir die feit dat jy nie iemand se goed moet steel nie, moet jy jou eie goed met hom deel. Moet daarom nie net vra wat jy nié wil hê ander aan jou moet doen nie, maar wat jy wíl hê hulle moet doen. Wil jy hê hulle moet vir jou iets leen wat jy nodig het? Wil jy hê hulle moet met jou deel? Wil jy hê hulle moet jou vergewe? Wil jy hê hulle moet jou nie terugkry as jy teen hulle gesondig het nie? Wil jy hê hulle moet jou slegte skuld afskryf? Wil jy hê hulle moet vir jou bid? Doen dieselfde vir hulle (v.31).

 

2. Hoekom moet jy so liefhê? (v.32-36)

Jan en sy vrou praat nie met mekaar nie. Hulle groet mekaar nie as hulle in die oggend verby mekaar stap nie. Patsy en Joanne doen dieselfde by die werk. Omdat Joanne haar nie groet nie, sê Patsy: ‘Dan doen ek maar dieselfde met haar.’

Moenie soos Jan, sy vrou, Joanne en Patsy wees nie. Moenie net dié mense groet, liefhê, goed doen en geld leen wat dit vir jou doen nie. As jy dít doen, is jy nie anders as ongelowiges nie (v.32-34, Matt. 5:46-47)? As jy net lief is vir dié wat jou liefhet, wys jy dat die lewe vir jou oor jouself gaan. In effek sê jy: ‘As jy gaaf is met my, sal ek dieselfde vir jou doen. Maar as jy aan my slegte kant kom, sal jy my wraak voel.’ En wat baat dít jou (v.32-34)? Moet die Here jou halfgebakte liefde op die oordeelsdag beloon (Matt. 5:46)?

Ware krediet is nie om jou geld teen rente uit te leen, of net te leen as jy weet die persoon sal dieselfde vir jou doen nie (v.34). Ware krediet is eerder om vir die arm persoon, of vir die een wat behoefte het, te leen (v.34, Deut. 15:8, Lev. 25:35-37). As hy dan later sy bes probeer om jou terug te betaal en sy sente bymekaar moet skraap, moenie die geld uit hom wurg nie. Wees barmhartig en skryf die skuld af (v.34). Die Here sal jou terugbetaal (v.34-35, Spr. 19:17).

***

Ter opsomming sê Jesus jy moet jou vyande liefhê, goed doen en leen sonder om terug te verwag (v.35). Wat is die persoon se behoefte en hoe kan jy aan hom goed doen (v.35, Ef. 2:10, 1Tess. 5:15, Tit. 3:14)? Doen dit en oorwin die kwaad met die goeie (Rom. 12:21). Deur dit te doen, wys jy dat jy ’n Christen is (v.35). Jesus bedoel nie dat liefde vir jou vyande jou ’n Christen máák nie. Hy praat hier met mense wat reeds dissipels is en God as hulle Vader het (v.20, 36).

Hoe word mens dan ’n Christen; wat moet jy doen? Daar is nie iets wat jy kan doen nie, maar jy moet vertrou op iets wat Gód gedoen het. En wat is dit? Hy het mens geword en die straf vir ons sonde gedra toe Hy aan die kruis gesterf het. Sien jóú sonde in sy oop wonde; in die bloed en spoeg wat van Hom afdrup. Sien jóú sonde in die spykers deur sy hande en voete. Sien jóú sonde in die dorings wat in sy skedel insteek. Sien jóú sonde as die Vader Hom verlaat en Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46).

Sien dit vir die eerste keer, of sien dit as jy afgedwaal het en Hom deur jou sonde bedroef. Moenie gevoelloos van die kruis af wegstap nie, maar sien sy liefde vir jou wat groter as sy eie lewe is.

Sal jy jouself nie vandag aan Hom toewy nie? Sal jy Hom nie vra om jou weer in sy huis te verwelkom nie? Kom deel in die fees van ’n God wie se hart oop is vir sondaars. Sing tot die Een wat slegte en ondankbare mense goed behandel (v.35). Hy gee sonskyn en reën oor mense wat Hom verwerp en kla as Hy hulle liefhet: ‘Hoekom reën dit nie méér nie… Nou reën dit te veel!’ (v.35, Matt. 5:45).

Dank Hom wat ons liefgehad het en vir ons gesterf het, nie omdat Hy enige potensiaal in ons gesien het nie, maar eenvoudig omdat Hy ons liefhet. Hy het ons liefgehad en Jesus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was; toe ons goddeloos was en sy vyande (v.35, Rom. 5:6, 8, 10).

Is jy ’n kind van God? Wees lief vir die moeilike mense in jou lewe en doen goed aan hulle (v.35). Ontferm jou en wees barmhartig aan dié wat dit nie verdien nie (v.36). Dit is wat God met ons gedoen het, reg? Hy het ons nie die hel gegee wat ons verdien nie, maar is elke dag goed vir ons (v.36). Hy is vol barmhartigheid (2Kor. 1:3). Hy vind nie ’n plesier daarin om ons te straf nie, maar doen dit met ’n swaar hart en huil selfs terwyl Hy dit doen (19:41, Jes. 15:5, 16:9, 11, Klaagl. 3:32-33, Hos. 11:8-9). O, hoe min is ek soos my Vader; hoe min na-aap ek Hom (v.36, Ef. 5:1).

Paul Tripp vertel hoe die Here hom dit gewys het. ’n Man in sy gemeente was voortdurend krities oor sy bediening en het selfs ’n ander mense teen hom begin opsweep. Uiteindelik kon Paul dit nie meer hou nie en het hy besluit om met die man te praat. Hy was gereed om die man aan te vat.

‘Wat gaan jy vir hom sê?’ het Paul se vrou gevra. Toe Paul sy gedagtes met haar deel, toe sê sy: ‘Dit klink of jy die man haat. Jy moet eers na jou eie hart kyk voor jy met hom praat.’

Paul het besef dat sy vrou reg is. Hy het inderdaad die man gehaat. Toe hy sy hart ondersoek, toe sien hy wat fout is. Hy het ’n droom en ideaal vir die gemeente gehad en hierdie man het in die pad gestaan. Paul wou hê dat mense hom as ’n suksesvolle prediker moet sien, maar hierdie man het sy planne in die wiele gery. Die feit dat die man sy droom nie ondersteun het nie, het hom kwaad gemaak.

Toe Paul sy afgodery en selfbelangrikheid raaksien, het hy dit bely. Hy moes ook erken dat die Here hom hierdie doring in die vlees gegee het om hom te verneder. Toe hy uiteindelik die man gaan sien het, was dit duidelik dat hy gereed was om te baklei. Paul het egter nie baklei nie, maar hy het sy sonde bely. Die man was verbaas en het toe sy eie sonde bely.5

Mag die Here ons help om soos Jesus lief te hê: nie omdat daar iets lieflik in Julius Malema of enige ander vyand is nie, maar omdat Hy ons karakter so verander het dat ons nie anders kán as om lief te hê nie.


1  https://www.news24.com/drum/news/zim-farmer-prays-for-land-grab-snatcher-report-20170728

2  Aanhalings uit die 2020-Vertaling.

3  Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988), 149

4  Vry vertaal uit Talmud, Shabbat 31a. Verkry by https://www.sefaria.org/Shabbat.31a.6?lang=bi

5  Paul Tripp, War of Words (Phillipsburg, New Jersey: P&R Publishing, 2000), 210-3